Lesersbrief: Ek is ʼn Afrikaner-kosak

Andries Opperman skryf: 

Andries Opperman. Foto: Verskaf

As jy lief is vir punk, dan is die kans goed dat jy staan vir vryheid, ongebondenheid, los van instellings. Jy hou van harde aggressiewe rockmusiek. Jy kan dalk heel moontlik ook ʼn Mohawk-haarstyl dra.

Deur die geskiedenis was die Mohawk-styl deur verskillende volke gedra. Die 101ste valskermafdeling van die Amerikaners het tydens die Tweede Wêreldoorlog hul hare so gesny om hul vyande te intimideer.

Nog ʼn volk wat bekend is vir hierdie haarstyl is die Kosakke. Kosak-soldate het vir dieselfde rede so ʼn haarstyl verkies. Aggressie. Weerstand. Vryheid.

Hulle het in ongeveer die 14de eeu tot stand gekom en toe vir die volgende bietjie meer as 600 jaar ʼn vryheidstryd gestry. Die Kosakke se soeke na onafhanklikheid word in hul naam weerspieël. “Kosak” beteken “vry man”.

Die Kosakke was waarskynlik ʼn kombinasie van Komane, Russe, Oekraïners, Belarusse en Turke. Vlugtende lyfeienes, oftewel feodale slawe, het ook by die Kosak-gemeenskappe ʼn tuiste gevind. Hulle het dikwels hulself gevestig by buiteposte, of die grense van Oos-Slawiese lande. Daar het hulle geboer en op jagekspedisies gegaan in die berge van Suid-Rusland. Hulle het ʼn nuwe lewenswyse gevind.

Lui dit ʼn klokkie?

Deur die eeue was hulle deur Tartare, Turke, Pole, Russe en byna elke volk rondom hulle aangeval en misbruik. Dikwels deur hul eie toedoen. Tog het hulle vir honderde jare as unieke volk oorleef. Hoe het hulle dit reggekry?

Geloof

Die Kosakke is byna fanaties Oos-Ortodoks Christelik. Enige iemand wat by hulle wou aansluit, moes homself as ʼn vry man, ʼn Kosak, verklaar, maar homself ook bind in onderwerping aan die Christelike geloof. Hulle het hulself Christen-soldate genoem, beskermhere van die Ortodokse geloof. Hulle het geglo dat sonder hul ortodokse geloof, hulle nie ʼn identiteit het nie. Dit het hulle saamgebind en visie gegee.

Federale gemeenskappe

Die Kosakke het vir lang tye hulself in federasies gegroepeer. Die gemeenskappe het soms verskillende etniese variasies gehad. Elke gemeenskap het sy eie regering en plaaslike weermag gehad wat die unieke omstandighede op grondvlak geken en verstaan het.

Demokrasie

Veral in die vroeë geskiedenis van die Kosak, het elke gemeenskap sy eie raad verkies. Hierdie demokratiese strewe het die Kosakke vir baie jare onderskei van hul buurvolke. ʼn Rada, oftewel ʼn Raad, verkies ’n leier. Alhoewel hierdie leier besonder baie mag gehad het, was hy dikwels baie kort aan bewind. Sekere gemeenskappe het ’n 1 jaar-beperking geplaas op die regering van die leier. Die Kosak-strewe na vryheid was nie net vryheid van ander volke nie, maar ook van interne tirannie. Elkeen wou self beskik oor sy lewe en gesin.

Opvoeding

Kinders is deur hul ouers geleer om te oorleef. Dit het behels dat die kinders behendig moes kon jag en perdry. Die gemeenskap het ook saam militêre oefeninge vir die kinders laat doen. Tog was die klem nie net op oorlewingsvaardighede geplaas nie. Die Kosakke het ʼn hoë agting vir geleerdheid gehad en ʼn akademiese kultuur gekoester. In 1654 reis Makarios, die Patriarg van Antiogië deur die Oekraïne. Sy seun, diaken Allepscius skryf die volgende: “Reg oor die land van Rusland, dit is tussen al die Kosakke, het ons ʼn merkwaardige eienskap waargeneem wat ons bewonder. Almal van hulle, en selfs ook die meerderheid vrouens en dogters, kan lees en ken die erediensorde sowel as die kerklike melodieë. Daarby doen hul priesters moeite om die weeskinders te versorg en op te voed en laat hulle nie toe om onopgevoed en onversorg in die strate rond te drentel nie.”

Gesin

Die ortodokse geloof word in die gesinsbeskouing ook waargeneem. Die Kosak-gesinne was dikwels groter as dié van die volkere rondom hulle. Die gesinshiërargie is dikwels oorgedra na die slagveld. Merkwaardig was dat die dogters nie alleen dieselfde akademiese opleiding as die seuns ontvang het nie, maar dikwels ook dieselfde militêre opleiding. Die vrouens was formidabele swaardvegters wat dikwels hul huise en kinders teen rowerbendes verdedig het terwyl die mans op jagtogte of slagvelde was.

Selfbehoud

By tye was hulle blote plunderaars, maar ʼn eienskap wat duideliker na vore kom in hul geskiedenis, is een van bereidwilligheid om tot bloede toe weerstand te bied teen enige volk, ongeag hoe groot, wat hulle hul godsdienstige en kulturele identiteit wou ontneem. Hulle was oor die eeue heen buitengewoon bereidwillig om met ander volke en stamme saam te werk om gemeenskaplike militêre doelwitte te bereik soos, byvoorbeeld, om saam met die Wit Soldate teen die Bolsjewiste te veg, selfs al was die imperialiste ook by tye hul vyand. Maar die moment wat ʼn bondgenoot gepoog het om hulle te dwing om te assimileer, het daardie bondgenoot aggressiewe teenstand ontvang. Die Kosakke was bereid om tot die dood toe weerstand te bied vir hulle eie voortbestaan. En hulle was effektief met weerstand bied.

In die Kosakke se goeie eienskappe vind ek solidariteit. Ek is ʼn Afrikaner-kosak. ʼn Vry man. Los my mense uit!

  • Andries Opperman is ’n dosent in Chinees by Learning Chinese in South Africa.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Dirk Louw ·

Ek vind dit baie interesant en insiggewende geskiedenis. Ek dink ons so vrede op aarde gehad het as almal so was .
Gedenk skenking aan GOD ons Almagtige Vader en Skepper van alles.

Jannie ·

Dit is goed geskryf. Ek het baie respek vir die Kosakke. Ons het ook egter ons eie trotse kultuur en eie identiteit met n baie sterk protestantse grondslag. Die haarstyl vind nie heeltemal aanklank by my nie aangesien ek my eie identiteit het, en ook agv die feit dat dit n baie gewilde styl onder die amerikaanse negers is. Met die res stem ek volkome saam en kan ek myself mee vereenselwig.

Feite ·

Mense se vryheid kan net onderdruk word indien hulle dit toelaat. Die rede hoekom mense dit toelaat is hoofsaaklik toe te skryf aan n tekort aan onbaatsugtige en geloofwaardige, daadwerklike leierskap van hulle leiers. Net soos n vrou n man kan maak of breek, so kan leierskap n volk maak of breek. Selfaangestelde leiers sal altyd tekort skiet aan geloofwaardige daadwerklike leierskap. Volkere wat gebore leiers en nie gemaakte leiers nie, opgelewer het, het bo ander volkere uitgestyg en vry geraak. Sonder doelgerigte daadwerklike leierskap sal mense na individuele vryheid neig, soos dat diegene wie die vermoe het, sal emigreer. “Los my mense uit”, verg dat woord by daad gevoeg word, anders dien dit net as uitdaging en aansporing vir die vyand om jou en jou mense nie uit te los nie!

Andries ·

Feite, netso. Gaan loer gerus by AfriForum Oos-Moot se Facebook blad hoe ons daad by die woord voeg.

FRANK ·

In die mid 1965 het die Kosaka in die Kaapse Goodwood Landbou skou op getree.As klein seuntjie onthou ek goed hoe hul onderdeur die perd se pens geklim het terwyl hul voor die Hoof paviljoen gejaag het.My pa het dit afgeneem met 16mm camera..Het die Boere toe al met hul saamgewerk en uit genooi????

John ·

… veral die ortodokse godsdiens en gebruike spreek tot die hart. Russiese prinse wat meer as 1 000 jaar gelede in Kiev regeer het, het ‘n afvaardiging na antieke Christelike kerke en Jerusalem gestuur om ou gebruike na te vors wat daarna in hul kerke toegepas is. Is daar nie mense wat sulke kerke hier wil begin sien nie? En weg met die jollers…

Somme ·

Jip . Baie van die’ oosblok lande se “offspring” is hier tussen ons en was sedert Suid Afrika onder ons . Eerder – ons onder hulle . See manne , goudsoekers ens . Lyk baie soos ons . Ammoniete , Moabiete , Girgasiete , Hewiete , Feresiete , Amoriete en Kanaaniete . Hulle is nie net ewe skielik weg nie . Dis soos om te se die Hollanders , die Engelse en Franse Hugenote het verdwyn

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.