Lesersbrief: Centurion-grondeis: ReTHro gaan voort om inwoners te help

centurion-grondeis-2019-02-05-01

‘n Kaart van die woonbuurte wat by die grondeis in Centurion ingesluit is. Foto: Reint Dykema.

Hetta Scholtz van die inwonersvereniging van The Reeds, Thatchfield en Rooihuiskraal (ReTHro) skryf:

Die Randjesfontein-eis, P0144, wat deur Zulu Kleinbooi Mahlangu en 38 ander eisers op groot grondgebiede in die Centurion-omgewing ingestel is, is reeds aan sommige van die inwoners van Centurion bekend.

Die inwonersvereniging  van The Reeds, Thatchfield en Rooihuiskraal (ReTHro), wat van die grootste gedeeltes wat geëis word insluit, is al ʼn rukkie besig met die teenstaan van die grondeis. ʼn Paar komiteelede het die belangegroepvergadering by Leriba Lodge, wat deur die plaaslike grondeisekommissie gehou is, op 10 Desember 2018 bygewoon. Daarna het ReTHro begin om die inwoners bewus te maak van die eis en ook om die eis, deur middel van navorsing, te betwis. Ná verskeie vergaderings deur van die wyksraadslede belê is, is besluit op samewerking tussen die verskillende gebiede se inwoners. Die Centurion Land Claims Committee, onder leiding van Hugo Erasmus, en die Heuweloord-inwonersvereniging met Veroshney Ramjas as verteenwoordiger, het besluit om met ReTHro saam te werk en só ʼn verenigde front te vorm.

Lede van die ReTHro-komitee het op 4 Februarie 2019 met AfriForum by hul kantoor in Kloofsig vergader, nadat AfriForum hulp aangebied het in die grondeisestryd. ReTHro is dankbaar vir hul aanbod en sal hande vat met AfriForum. Hulpbronne kan gekombineer word en op dié manier die inwoners die beste hulp bied.

Mense gaan nie gevra word om te kies tussen die twee organisasies nie, aangesien hulle saamwerk. ReTHro gaan voort in sy stryd om inwoners se belange te bevorder, en inwoners kan nog steeds op ReTHro se webwerf die mandaatvorm aflaai en invul. Dit kan geskandeer word en na [email protected] gestuur word. Meer inligting kan ook op die webwerf bekom word.

Op 12 Februarie om 19:00 word ʼn vergadering by die Rooihuiskraalgemeente van die Hervormde kerk, op die hoek van Santie- en Konstantynstraat in The Reeds, gehou.

Benadeelde of belanghebbende inwoners word uitgenooi om die vergadering by te woon waar meer inligting oor die proses en die pad vorentoe verskaf sal word. Die wyse van samewerking met AfriForum sal dan bespreek word. Vrae sal ook dan beantwoord word.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.