Lesersbrief: Covid-19: ’n Krisis vir globaliste?

Gerhard Bothma van Bellville skryf:

gerhard-bothma

Gerhard Bothma. Foto: Verskaf.

Verskeie kommentators het op Maroela Media en in ander media die mening uitgespreek dat globalisasie ’n ernstige terugslag gekry het met die Covid-19-pandemie. Op die oog af wil dit inderdaad ook so voorkom.

Op stuk van sake het ons almal gehoor en gelees hoe die een land ná die ander sy grense sluit, selfs in Europa waar nasionale grense maar redelik vae skeidslyne begin word het. Skielik het regeringsleiers wêreldwyd van die globale arena onttrek om laer te trek in hul onderskeie lande.

Lees mens egter wat sommige voorstanders van globalisme sê, word dit duidelik dat hulle nog lank nie handdoek ingegooi het nie. Inteendeel, dit wil voorkom asof hulle hierdie krisis gebruik om juis groter integrasie te bepleit.

The Guardian berig onlangs dat voormalige Britse eerste minister, Gordon Brown, wêreldleiers aanmoedig om ’n tydelike globale regering te skep wat die Covid-19 en gepaardgaande ekonomiese krisis kan aanpak. Volgens Brown is daar ’n groot behoefte aan ’n taakspan met uitvoerende gesag en bestaande uit wêreldleiers, gesondheidsdeskundiges en die hoofde van internasionale organisasies om die krisis aan te pak. Geen land kan dit eiehandig doen nie; daar moet ’n gekoördineerde, globale respons wees. Aldus Brown.

En in The Wall Street Journal skryf Henry Kissinger dat regeringsleiers grootliks die krisis probeer hanteer op ’n nasionale grondslag, maar dat die virus nie grense erken nie. Geen land kan alleen die virus of die ekonomiese gevolge daarvan oorkom nie. Nasionale inisiatiewe moet gekoppel word aan globale samewerking. Nuwe tegnieke en tegnologieë (soos universele entstowwe) moet ontwikkel word wat wêreldwyd ingespan kan word om aansteeklike siektes van hierdie aard doeltreffend hok te slaan.

Ook in die Duitse nuustydskrif Der Spiegel skryf Bernhard Zand dat ’n krisis soos die Covid-19-pandemie die nodigheid van een of ander vorm van globale regering beklemtoon. Om so ’n krisis te oorkom, vereis kommunikasie en koöperasie wat oor nasionale grense strek.

Oor die afgelope klompie jare het die projek van globale integrasie veral in Europa effens opdraand begin kry met, onder meer, Brexit en groeiende kritiek teen ongebreidelde immigrasie en onenigheid oor handelsooreenkomste. Uit bogenoemde aanhalings wil dit egter voorkom asof globaliste nou ’n tweede asem gekry het met die pandemie. Vir eers is politieke en ekonomiese integrasie op die agtergrond geskuif en word die paniek wat met Covid-19 gepaardgaan, gebruik om groter integrasie en samewerking ten opsigte van gesondheid wêreldwyd te bepleit. Maar, soos globaliste ongetwyfeld weet, sal ander aspekte van globalisasie, soos die ekonomie en politieke samewerking, weldra weer betrek moet word.

Globalisasie gaan om die sentralisasie van mag en beheer. In tye van ’n krisis en paniek is mense meer bereid om buitengewone stappe te aanvaar ten einde die krisis te oorkom. Nou, meer as ooit, het globaliste ’n ongekende geleentheid om die instel van ingrypende beheermaatreëls te regverdig. En kyk net hoe verskeie lande alreeds presies dieselfde tipe drastiese maatreëls ingestel het sodat die bewegingsvryheid van ruim ’n derde van die wêreld se bevolking tans streng beheer word. Die sentralisasie van mag en beheer blyk skielik binne bereik van die globaliste te wees.

Dat die Covid-19-pandemie die status quo ontwrig het, is seker. Dit beteken egter nie dat die projek van globalisasie ontspoor het nie. Inteendeel, dit wil voorkom asof die krisis nuwe geleenthede geskep het vir die globaliste om eerstens op grond van hierdie “vyand van die mensdom” groter samewerking te bepleit en tweedens die komende ekonomiese verval wêreldwyd te gebruik om ’n meer geïntegreerde ekonomiese en politieke orde daar te stel.

Oproepe vir die een of ander vorm van ‘n globale regering belowe niks goeds vir minderheidsgroepe wat strewe na groter selfbeskikking en die desentralisasie van mag nie. In die post-pandemie wêreld sal Afrikaners harder moet saamwerk om hul kulturele voortbestaan te verseker.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jacobus ·

Die pandemie, ten spyte van grenssluitings is perfekte teëlaarde vir globalisme in die negatiefste sin. Die biljaarděrs en sg leiers met globale ideale sien hier geleentheid waar gedurende lang tydperke van inperking en daarna jy ‘n atmosfeer van vrees kan skep waar almal behalwe die sg redders klein pionne word van ‘n groter geheel (Vader behoed ons). Die absolute mag verlaag die waarde en regte van die gewone ou. Die mag skep ook die geleentheid op die duim op die ‘laagdenkende’ mindere te hou.
Die huidige krisis pas die ‘heersugtige’ mense soos ‘n handskoen. Pasop!

Zacharias ·

Goeie stuk Gerhard.
Sal graag wil sien wat gebeur as die virus wél uit ‘n laboratorium kom… Dit gaan dinge ernstig omkrap vir globaliste… hulle sal moet kant kies.
Maar as dit natuurlike oorsprong het slaan jy die spyker op sy kop…

Ibtisaam ·

Nee wat. Die tradisionele “wêreldleiers” kan maar terugstaan vir hoe ons hier, in die “ontwikkelende” lande die virus aanpak. Die idee dat grootskaalse liefdadigheid die enigste manier is om die maatskaplike en ekonomiese impak van die ding te verminder, is nie ‘n konsep wat in hulle arrogante, liberale verwysingsraamwerk bestaan nie. Ek dink mense gaan laer trek, al is dit regionaal, en “local” gaan weer “lekker” raak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.