Lesersbrief: ‘Daar is miet in die meel, Ma’

Charné Kruger. Foto: Verskaf.

Charné Kruger van die plaas Brusselsput buite Kenhardt skryf:

Ek het ‘n paar Saterdae terug die voorreg gehad om my onlangse skrywe oor Habakuk te deel met die vroue van Kenhardt. Die tema van die aand was “Hoop in donker tye”.

Met die lees van die stuk moes ek ‘n paar keer die trane sluk, want dit wat ek neerpen, kom uit die hart.

Ná die tyd, terwyl ons koffie drink, kom een van die ouer tannies op my afgepyl – só vinnig dat dit kompleet gelyk het asof haar Zimmer frame ‘n 3 ℓ-enjin in het.

Sy vat my aan die arm en trek my af na haar toe, want die ouderdom en swaarkry het haar al kromrug gery.

“Dankie my kind, dat jy vanaand vir ‘n ou vrou ook hoop gegee het.” En met die trane wat nog vlak lê, huil ons albei amper weer saam, want jy sien, ten spyte van die samesyn en klets en kuier, is hierdie groepie vrouens ook dié wat hul mans en seuns moet dra wanneer nog ‘n leë wolk verbygaan.

Die tannie vertel my, sy het so ʼn rukkie terug by haar seun op die plaas gaan kuier – hulle boer tussen Kenhardt en Brandvlei – en toe dit by middagete kom, vra sy hom wat sy vir hulle kan gaarmaak.

Sy woorde aan haar was, “Die spens is leeg en daar is miet in die meel, ma. Maar ons het darem vleis.”

Ek huil die waterproof-maskara van my wimpers af.

Die tannie vertel verder dat sy gelukkig beskuit saamgeneem het plaas toe, en watter lekker middagete was dit nou nie. Braaivleis, boerbeskuit en koffie!

Soos ek terugry plaas toe ná die vroueaand, knipoog die sekelmaan vir my. Ek stop op my gewone plek langs die grondpad, skakel my bakkie af en daar in die Boesmanland se nagstilte kan ek nie help om aan ou Job te dink nie. Job en ek kom al ‘n lang pad saam (maar dit is ‘n storie vir ‘n ander keer).

Foto: Vlad Kutepov/Unsplash.com

Hoeveel aanslae het ou Job nie beleef nie, net soos ons en enige iemand anders, want jy sien, die droogte is nie net droogte soos ek en jy daaraan dink nie. Dis emosionele droogte, geestelike droogte en so gaan die lys aan. En ek dink die aanslae sal nie stop voor ons heeltemal naak gestroop is van dit wat ons verhinder om weer die weg na ware geluk, na God, na ons siele gevind het nie.

Soos ek verder ry, bekyk ek weer die sekelmaan, en sien dit is ‘n vriendelike knipoog, so asof dit vir my iets wil sê.

En daar slaan ‘n gedagte die koue uit my lyf!

“Daar is miet in die meel, ma.”

En ek antwoord die tannie sommer hardop daar waar ek oor die eerste motorhek ry.

“Maar my tannie, ek sou darem daai pap vir my hoenders in die seeppot gekook het!”

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Amelia Steenkamp ·

Dankie Charne,ek geniet jou skrywes,huil saam en bid saam.

humor ·

Gedurende die 1950 jare was die koshuislewe nie van die maklikste nie. Ons moes maar telkens die miet op die rand van die bord uitskep.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.