Lesersbrief: Dáár lê die wortel van die Afrikaner se demografiese penarie

bouwe-van-der-eems

Bouwe van der Eems. Foto: Verskaf.

Bouwe van der Eems van Milnerton skryf:

Op Solidariteit se Facebook-blad plaas Flip Buys op 28 Augustus ʼn artikel waarin hy verduidelik dat die Afrikaner, soos die meeste Westerse volke, demografies in die moeilikheid is. Die geboortesyfer onder Afrikaners is te laag om die langtermyn-voortbestaan van die gemeenskap te verseker.

Hierdie nuus is al ou nuus. In 1945 het ʼn deputaatskap van die Gereformeerde Kerke ʼn verslag gepubliseer met die titel “Selfmoord van ʼn Nasie”, waarin gewaarsku is teen die gevolge van die dalende geboortesyfer onder Afrikaners.

In 2001 publiseer Pat Buchanan die boek met die titel Death of the West waarin uiteengesit word hoe die Westerse volke stadigaan uitsterf. Die Kanadese skrywer Mark Steyn vertel op sy YouTube-kanaal dat die demografiese uitwissing van Europa die grootste storie van ons tyd is, maar totaal deur die hoofstroommedia geïgnoreer word.

Ons kan dankbaar wees dat Flip Buys, 77 jaar ná die verslag van die Gereformeerde Kerke, nie meer hierdie storie ignoreer nie. Verder onderneem Flip Buys die volgende in sy artikel: “Daarom gaan Solidariteit en AfriForum voor die jaareinde meer inligting bekendmaak oor die demografiese werklikhede van die land, en moeilike maar praktiese oplossings voorstel.”

Die oorsaak van die demografiese probleem is ten diepste ʼn godsdienstige probleem. Die waardes van die Westerse volke is deur die Christelike godsdiens gevorm. In die eerste hoofstukke van die Bybel word die huwelik ingestel en aan die eerste egpaar word die opdrag gegee om te vermeerder en die aarde te vul. Verder word in Deuteronomium 6 aan ouers die opdrag gegee: “Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.” Omdat kinders en opvoeding ten diepste ʼn godsdienstige saak is, het die Westerse volke gegroei en daardeur het die Christelike godsdiens oor die hele wêreld versprei.

Soos die Westerse volke sekulêr geword het, het die redes om uit te brei of te bly voortbestaan, verdwyn. Die enigste doel wat oorgebly het, is om gerieflik te leef en af te tree. Omdat opvoeding nie meer ʼn godsdienstige doel gehad het nie, het ouers daardie taak oorgedra aan die sekulêre staat. Die sekulêre staat het daardie taak met vreugde oorgeneem om daardeur te verseker dat die volgende generasie vir die huidige regering sal stem.

As die demografiese probleem ten diepste ʼn godsdienstige oorsaak het, sou mens verwag dat hierdie saak hoog op die agenda van kerke sal wees. As mens egter na die webwerwe en Facebook-blaaie van die Afrikaanse susterskerke kyk, is daar geen teken daarvan nie. Soos in die hoofstroommedia, word die probleem ook in die kerke geïgnoreer. Dis ʼn tragiese situasie dat die organisasie wat besluit het om nie die probleem te ignoreer nie, ʼn vakbond is.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Adri ·

“Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.”Hier le die probleem. Ouers ignoreer dit. Het net tyd vir hulle self. dit is hoe die sekulere wereld en die satang werk. Vernietig die gesin, dan kry jy die gemors waarvan die skrywer praat. dan kan bg aanhaling uit die Bybel nie meer plaasvind nie. Ouers en toekomstige ouers moet wakker word. Ons moet almal permanent op ons kniee wees en bid vir genede en hulp van bo.

John ·

Die outeur brei nie uit nie… Dis ‘n uiters veelkantige probleem en die Afrikaner en sy Christenskap is deur die eeue van vele kante bedreig, selfs deur ander Christene soos uit Engelse geledere. Die Roomse Kerk tree ook nou weer na vore om ‘n sosialistiese nuwe-wereld-orde na te jaag. Dis waar dat Afrikanergetalle merkbaar gekrimp het toe die ekstra gesinskamer-mentaliteit saam met geboortebeperkingsmiddels in die mode gekom het, maar die 28 000 dooies in die ABO’s het die jong volk soos beplan ‘n erge doodsteek toegedien. Die uitwerking van 1994-onderhandelaars se omarming van vreemde gelowiges as nuwe landsbase word vandag in ons skole gesien. Waarheen vlug ouers met hul kinders wat indoktrinasie in die gesig staar? Is Christenselle ons voorland om sekularisering te ontkom? Die vyand is slu en dit is die eerste keer dat die slang uit sy gat seil nie. Dis mos hoekom die Hugenote hierheen gevlug het… maar baie nasate het hul geloof versaak en sal eerder boedel oorgee as om vir hul geloof te stry. Die Jesuite-pouse se besluit om alle wereldgelowe en -bygelowe gelyk te stel, bring ‘n gruwelike dimensie na die komende era. Groot slange-beelde pryk deesdae in die vatikaan… die duiwel is nou die baas daar… en Trump die gehate vyand…

Benito Odendal ·

Op sy kop John !!!…..Die moderne sosialistiese duiwels se sluwe gemaksones of ” convenient shoppies ” het kouse oor ons koppe getrek…….nes die verbode vrug in die paradys !!!!!……Die ” vrugte ” aan daardie “boom ” is en was om ‘n rede verbode…..dit veroorsaak godsdienstige morele en waardes se verrotting !!!…….Wie die bome is wat die wortels van kwaad laat skiet of wat die vrugte is wat onheil versprei……weet OF herken ons dalk nie omdat hul soooooo goed , soooo subtiel en soooo gemaklik lieg en bedrieg !!!!

JC ·

Dankie John; ook baie dankie aan die skrywer van hierdie artikel.
Sien asseblief ook in die verband Mnr. Flip Smit se artikel met die effe vreemde titel -kopkopkopkopkopkopkopkopkopkopkopkop- in die Beeld van 19 Augustus 2017. Ek beskou die hele petalje uit die oogpunt en probleem van die verskynsels van Hiper- individualisme, “multikulturalisme” – lees “selfmoord” en die “verbruikersmania” kultuur en samehangende materialisme wat die weste se lewens oorgeneem het, en soos die skrywe tereg se, die onttrekking uit die Kerke en soortgelyke kultuur-godsdienstige instansies, wat die Weste oorgeneem het stelselmatig sedert die einde van die Tweede Wereldoorlog. Ek self is een van vele betreklik jongerige Afrikanermans wat enkellopend is en vir wie die uitsig van ‘n gesin bitter skaars lyk. Ons pleeg hara-kiri; en ons het niemad om te blameer daarvoor maar onsself nie. Oplossing? Ek weet nie…

Hendrik ·

Na jou vorige skrywe stem ek hierdie keer nogal saam met jou. Ek sien natuurlik uit wat die Solidariteitsbeweging se jaareinde verslag.

Bouwe van der Eems ·

Dankie vir die woorde. Hoop om eendag met jou ‘n koppie koffie te drink en dan bespreek ons die vorige artikel.

michiel durand ·

Dankie dat Solidariteit en Afriforum 77jaar later aan oplossings begin werk – Egter: Is daar iemand by Solidariteit en Afriforum wat meer as 10 kinders het? Voorbeeld is tog beter as praat.

Frans C ·

Onder https://businesstech.co.za/news/general/145347/how-south-africas-white-population-has-declined-every-year kan ‘n mens sien hoe die blanke bevolking jaarliks gekrimp het van 2005 tot 2016.
Dit in teenstelling met die toename in alle ander bevolkingsgroepe.
Daar is mi verskeie faktore wat bygedra het tot die afname,waaronder die veroudering van die blanke bevolking,die verslegtende ekonomiese klimaat,die uittog van blankes uit Suid Afrika weens hoë vlakke van misdaad en die regering se beleid van SEB en AA,wat
indiensnname vooruitsigte van Blankes onrusbarend laat daal het.

‘n Ander mi baie belangrike faktor wat dikwels oor die hoof gesien word was dat daar onder die NP mense was wat van mening was dat blanke immigrasie uit Europa veral uit Oos Bloklande ‘n gevaar vir die Afrikaner sou inhou en dat anders denkende Blankes
die Afrikaner sou begin oorheers.

So het die immigrasie uit stamlande aansienlik,tot nadeel van die Blanke bevolking afgeneem.Die afname in blanke bevolking is dus mi nie ‘n godsdienstige probleem nie,want die opdrag vervat in die Bybel was gerig nie aan die Blanke bevolkings,wat toe nog heidene was, maar aan die mensdom in die algemeen,met ‘n belofte in Gen.12
1 Die Here het vir Abram gesê: “Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys.
2 Ek sal jou ‘n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou ‘n man van groot betekenis maak, en jy moet tot ‘n seën wees.

Kreool Afrikaner Vlakvark ·

Die Homo sapiens sapiens is een van vele spesies op die evolusie tydlyn. Ek voorspel dat die “witmense” en “swartmense” bedreigde spesies is. Weens grootskaalse migrasie sal daar seker geen toekomstige land wees wat nie uiters multikultureel gaan wees nie. Die mensdom beweeg na koperkleurigheid. Waarom my siening? Nasies kom en gaan, volkere kom en gaan, tale kom en gaan. Spesies kom en gaan. Die menslike spesie is geen uitsondering nie. Inteendeel, die rot as soogdier mag eendag die wêreld oorheers. Nou wonder ek met welke argumente gaan ek verguis word?

“Omdat kinders en opvoeding ten diepste ʼn godsdienstige saak is, het die Westerse volke gegroei en daardeur het die Christelike godsdiens oor die hele wêreld versprei.” Wat van die Chinese en Indiërs? Ek twyfel of die Christelike geloof die hoofdrywer vir die groei en uitbreiding van volke is, eerder gierigheid, strewe na mag en aansien, handel en die strewe om oorlewing (beskikbaarheid van bronne). Laat ons nie ons tyd mors om die Afrikaner se toekoms in watte toe te draai nie. Hy sal oorleef solank dit die Skepper behaag.

Disselboom ·

Sien is glo of Solidariteit se “moeilike maar praktiese oplossings” oor demografie ‘n reguit oproep vir meer kinders gaan wees – verwag dalk eerder ‘n sosio-politiese ontleding oor moontlike getalle-konsentrasies deur verhuising en sulke dinge. En hoewel die Solidariteit-topbestuur heelwat Gereformeerdes insluit, is die verwagting nie vir veel meer as ‘n bedeesde algemeen-Christelike verwysing nie. Hoop om verras te word.

Johan Neuteman ·

Bouwe haal aan dat Flip Buys wel regstreeks na die geboortesyfer verwys; en mnr Van der Eems doen ‘n goeie ding om die saak op te haal. Daar word darem ook vanuit kerke gewerk aan christelike onderwys, soos die GKSA se universiteit, AROS, wat onderwysers oplei, soos wat die AP Akademie ook doen. Daar is ook die Instituut vir Christelike Onderwys en die BCVO (CVO-skole). En dit lyk vir my Doxa Deo het ook skole by van hulle kerkkomplekse.

Frans C ·

Dit gaan sleg in Venezuela met ‘n bevolking van ongeveer 32 miljoen.waar 88% van die bevolking Christene is en daar ‘n Sosialistiese party aanbewind is.In 2014 het ‘n peiling bewys dat 75 % van die bevolking van menings is dat korrupsie soos by ons hoogty in die regering vier.
Tog is die amptelike werkloosheidsyfer veel laer teen ongeveer 7.5% as in Suid Afrika.
‘n Mens moet jou dus afvra waarom Christene in die twee lande toelaat dat hul deur korrupte regerings geregeer wrd.

Kaufman ·

Dankie dat jy aandag op hierdie belangrike probleem plaas. Jy is in die kol, dit is die heel grootste probleem wat ons het en self geskep het. Nie net die kwyning van Christenskap nie maar eerder die dien van die geldgod dat mense eerder aan materieele dinge spandeer as aan kinders.

Petrus ·

Sien ook met groot verwagting uit na Afrikforum en Solidariteit se “moeilike maar praktiese oplossings”.

Wat nie hier genoem word nie en wat waarskynlik ‘n meer negatiewe invloed het as Afrikaners se lae geboortesyfer is die tempo waarteen jong, produktiewe Afrikaners emmigreer (gewoonlik met klein kindertjies of net voor hulle kinders begin kry). As ‘n praktiese werkbare plan vir Afrikaners se voortbestaan binne die vinnnig veranderende demografiese werklikhede van Suid-Afrika nie binnekort gevind kan wordnie sal die stroom jong Afrikaners wat die land verlaat nie gestuit word nie en dit sal selfs vinniger ons einde beteken as lae geboortesyfers.

Christen ·

Al die kommer is puur verniet. Die eindtydse profesieë van die Bybel is besig om voor ons oë in vervulling te gaan en niemand kan dit stop nie. Die boodskap moet dringend uitgaan: Elkeen van ons moet sy/haar saak met Christus in orde kry. Dis laat op God se horlosie vir hierdie verlore mensdom. Ons moet wederkomsgereed wees en die reddende Evangelie van Christus verkondig , tydig en ontydig…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.