Daddy se brief aan Anneke

Daan Mostert het die onderstaande brief aan sy 12-jarige dogter Anneke geskryf nadat sy op Sondag 12 Julie haar eie lewe geneem het. Maroela Media publiseer die brief onveranderd.

Hallo Annekels

Hallo Appap

Anneke Mostert. Foto: Instagram

Anneke Mostert. Foto: Instagram

Jy weet natuurlik jy het vir Pappa en Mamma en die res ‘n paar harde skoppe en punches gegee noudat jy koel en kalm besluit het jy wil nie meer in hierdie wêreld wees nie. Nogal op ‘n Sondag en terwyl ons vir ‘n kort tyd weg van die huis sou wees. Dit is die hardste skop wat jy kon gee en nou is ons almal teen die grond. Plaas dat ek die slaansak vir jou gekoop het waarvoor jy gevra het, dan het jy dalk nie vir ons geslaan nie.

Maar is Pappa OK?

Lyk ek vir jou OK?

Dit lyk of Pappa Pappa se hare uit Pappa se kop wil trek. Oeps, ek sien Pappa het nie hare om te trek nie.

Anneke, Pappie het nie meer hare om uit te trek nie. Jy het jou Pa nog nooit sien huil nie. Nou weet Pappie nie hoeveel ek nog kan huil nie want trane help net ‘n kort rukkie en dan kom die ongelooflike pyn om sonder jou te wees weer terug. Stopayne werk nie

Moenie weird raak op my nie, Stinkerd

Pappa sal nooit die oomblik vergeet toe jy gebore is en veral toe jy jou ogies die eerste keer vir Pappa oopgemaak het nie. Dit voel soos nou die dag. Jy het intens na alles rondom jou gestaar. Jy het ook die kobra se spoeg op die plaas oorleef op die ouderdom van twee jaar en Pappa en Mamma se gebede is verhoor. Pappa het geweet gebede word verhoor en die goede oorwin altyd die kwade.

IS SO Pappa…

Pappa bevestig voorts dat jy die mooiste oulikste slimste meisie in die wêreld was. Pappa het elke oomblik saam met jou geniet. Gelukkig was daar baie baie. Jy het die mooiste gesing, die mooiste klavier gespeel, die vinnigste gehardloop, die beste gedoen in karate, die beste geski by Harties, al het jy op 1 Mei so hard van die ski geval dat jy jou ribbes gekraak het. Jy was in fisiese pyn. Jou regte maatjies by die skool het jou tas gedra en jou beskerm teen doelbewuste stampe van boelies. Pappa het nooit kon droom dat al hierdie dinge jou hartjie ook so seer kon maak nie. Vir Pappa en Mamma het dit altyd gelyk of jou skouertjies breed was om die stampe en stote van die wrede wêreld te hanteer. Die Here het geweet wat in jou hartjie aangaan, Pappa en Mamma nie. Pappa het met die Here geraas en gevra hoekom Hy toegelaat het dat jy hierdie besluit neem. As Almagtige Skepper sou Hy dit sekerlik kon vermy. Ons het nog nie die Antwoord gekry nie. Ons bid elke dag vir krag en Genade van Liewe Jesus wat ook baie lief om net te kan aangaan. Dit is net moontlik stukkie vir stukkie.

Dis hoe dit werk hierrond Ploepa

Jy weet jy kon Pappie se arm draai as jy met ‘n skuins koppie na my gekyk het, voetjies gekruis, armpies agter die rug en gevra het “Daddyyyyy!!!!!”. Dan het ons saam Argentian toe gegaan voor skool vir ontbyt, laaste keer 25 Junie, saam gaan draf (ongelukkig vir my het jy my die afgelope tyd gewen, maar darem vir my bo die bult gewag) ons was saam Kaap toe om vir Ouma Hester en Oupa Krisjan te gaan kuier en saam met Pappa te gaan as Pappa ‘n bier by die Blou Piet in Blouberg wou gaan drink. Ons het ‘n pizza gedeel en jy WOU in die yskoue water van Blouberg swem. In Maart was ons saam met Oom Johan en Oom Naas plaas toe. Jy het dit geniet om te stap en die wêrel te verken. Die laaste keer het ons ‘n lang pad in die kloof op gestap. Jy was gefassineer deur die baie skoenlappers en het foto’s geneem van voetspore van diere. Jy was bekommerd een was dalk ‘n luiperd. Soms het ons net winkel toe gery om iets vir Mamma te koop. Jy kon altyd daarin slaag om ‘n bubbly sjokolade, wit of bruin, uit my te kry.

Nou by Sabi River Sun het jy gekereoke, tree top challenge gedoen, river rafting, forel visvang(al wou jy eers nie), micro light vlug, en laaste Donderdagoggend ontbyt. Jy het ook jou cappuccino bestel waarvoor jy so lief was. Myne was nie so lekker soos joune nie.

Jy en Mamma was toe reg dat “Piet Boor” die skurk was in die laaste episode van “Terug na Egipte”. Ek het gedink dis dalk Giel Swiegers (Piet Boor was vir my te obvious). Ek sal nooit jou lag en plesier vergeet toe jy my R50 gevat het wat op die spel was in die laaste episode wat ons gekyk het die aand van die 10de nie. Ek het jou probeer oortuig om R10 onmiddelik te vat en die res af te betaal maar jy wou niks hoor nie. Dis my meisiekind!

Moenie weird raak op my nie Pappa. Kan Pappa my vergewe?

Ja my kjend. Pappa vergewe jou, maar moenie inchip nie, laat ek net gou klaar praat:

Ten slotte Anneke ,jy het almal met wie jy kontak gemaak het se lewens geraak en ten goede verander. Pappa, mamma, Daantjie, Heinie, Tanisha en almal anders wat baie lief was vir jou. Die lewe sonder jou sal nooit nooit dieselfde wees nie. Ek weet jy is nou in die Hemel

Nee Pappa verstaan nie, ek is by Liewe Jesus. Ek is baie gelukkig. Sien Pappa later

DIE EINDE

Klik hier vir alle vorige berigte oor Anneke Mostert op Maroela Media.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Shana ·

dis die mooiste brief wat ek nog gelees het. Ek sit in snot en trane….. Baie Sterkte en Liefde aan die familie

Treurgrond ·

Pragtige pragtige brief van ‘n pappa aan sy dogter. Anneke hierdie tannie het net jou gesien in die koerant toe die tragesie gebeure gebeur het maar laat ek jou se Anneke jy het hierdie tannie se hart geraak – hierdie tannie het gehuil oor ‘n dogtertjie van 12 jaar oud wat deur depressie gegaan het. Kan ek se ek weet hoe jy gevoel het – jip Anneke die tannie kan want jy voel net helemal alleen – jy het die wereld om jou wat lief is vir jou maar jy voel nog steeds net alleen. Hierdie tannie weet net jy is by ons Liewe Jesus. Rust net in vrede Anneke.

anon ·

hoe sit ek nou en huil my dogter is 13 sys disleksie word bja gespot by skool en deur haar stief suster ek as ouer dink aan jul deur di hartseer tyd

Bianca ·

Sjoe…..woordeloos…. my hart krimp in mekaar in…. asemloos sit ek hier… My gebede dra ek op aan die familie. Mag God julle dra deur hierdie moeilike tyd…

Pieta ·

Daan… My (en almal anders) se innige simpatie is met julle. Ek is self ‘n pappa van ‘n 7 jarige dogtertjie, en ek kan nie myself in dink hoe hartseer jy en jou gesin is nie. Elke woord en gedagte wat jy geskryf het getuig van die liefde wat jy vir jul klein een gevoel het. Wees gerus dat sy gespaar is van die sondige wêreld wat ons elke dag moet aanpak. Weet dat Anneke nou speel en baljaar aan die voete van ons Hemelse Vader, en dat julle pyn better sal word, maar haar gees by julle sal bly. Sterk staan en mag God se liefde julle dra…

Ruan ·

Ai mense dit is ontsettend erg. Die hoop van hereniging in die hiernamaals beskaam nie. My gebede is by julle Daan.

mid ·

Hoofde vat hande met leerders en wys hulle wat gebeur as iemand iets se en dit nie regtig bedoel, en as n grap beskou en n ander persoon dit erenstig opneem.Almal is nie altyd emmosioneel sterk

Mareen French ·

Dit is absoluut so hartseer en my hart gaan uit na die ouers. Die seer in die Pa se brief is hartroerend. So jammer vir hulle!

Rachelle Els ·

Huil ek nou dat die trane spat. Hierdie pappa se diep…diep rou seer krap so aan my hart in hierdie brief. Hoe sy hartseer ruk in jou eie binneste. Daan en familie ons verstaan nie een nie maar ons dink aan julle elkeen. Asb praat daaroor en hou haar lewendig deur na ander in dieselfde situasie uit te reik en hierdie wrede veragtelike boelies vas te vat. Ek bid vir julle vir genade. My gedagtes bly met julle. Sterkte!!!

Vanessa Kruger ·

Ag my hart is so seer. Wanneer gaan skole iets aan die geboelie doen? Daar is duisende kinders wat net so stukkend is soos wat Anneke s’n was! En almal ignoreer hulle nog ‘n dag keer op keer?

Magda ·

O nou rol die trane. Dis vreeslik hartseer, baie sterkte aan die familie. Julle is in ons gebede

joey schoeman ·

So hartseer, dis die seerste seer wat daar is. Daan ek is daardeur, weet hoe voel julle as ouers. God se Genade is so Groot, Hy dra ons deur en Sy Liefde is so Groot, Hy omvou ons met Sy Liefde. Bid vir julle. Sterkte.

annoniem ·

Sterkte aan die Familie van Anneke! Dink aan julle en bid vir julle! Mag die Here julle hierdeur dra en julle styf vas hou! Liefde Annoniem

Just a Thought ·

Hierdie familie is in my gebede. Dis is baie hartseer en ek voel regtigdit non verhoed gewees het.

Town Cryer ·

I have no words. This world is in a shambles. My heart goes out to these parents, brothers and other family & friends.
Keep the faith.

Anita ·

Lekker speel by Jesus se voete, mooie Anneke.

Daar loop baie ouers daar buite rond wat weet hulle bloeitjies “sort” ander kinders uit met die vuis of mond en is baie trots daarop. Handhaaf ‘n balans en gee jou kind ‘n ordentlike opvoeding. Daar is ‘n groot verskil tussen om ‘n leier of ‘n gemene boelie te wees. Skole moet hierdie gedrag met die nodige takt en dringendheid vasvat.

Hierdie pragtige meisie kon nog gelewe het.

Z bc ·

Pragtige en hartroerende briefie van Pappa aan sy dogter, maar tog maak dit ‘n mens so oë ook oop oor hoe vanselfsprekend ons ons kinders aanvaar en hoe ons elke dag dink die outjies kan nie seer kry nie en dat hulle elke dag ‘n “lekker” dag het en dan pak ons ons probleme van die dag af by die huis sonder om 2 keer te dink om regting met die kinders te sit en te gesels om belangstelling te toon oor hoe hulle dag regtig egtig was………rus sag kleine meisie. Al jou hartseer en pyn, fisies en emosioneel, is nou weg. Baie sterkte aan al die geliefdes wat agterbly. Mag julle vertroosting vind in die wete dat julle meisiekind een van die mooiste blomme is wat nou in God se tuin groei.

Gizelle Vigliotti ·

Dis ‘n hartseer tyd waardeur die familie gaan ek wens ek het woorde gehad wat als so beter maak, maar hoe kan enige iemand die woorde he, dit wat gebeur het sal vir ewig ‘n vraag teken wees, ons kani beoordeel nie die Here het sy redes! Pappa niks en niemand kan julle hartseer weg vat nie maar die Here sal julle deur die moeilik Tyd dra met Anneke in sy arms! Pappa jou brief raak ‘n mens se hart want deur jou brief kan ons ‘n klein persepsie kry van wie Anneke was en vir my klink sy soos ‘n engel wat baie vreugde en liefde vir julle gebring het, ek dra jou en jou gesin op in my gebede! Sy is nou gelukkig en is jou beskermengel! R.I.P Anneke

Hannelie ·

Sjoe my hart is baie seer, hierdie pappa dra baie swaar aan sy dogter se afsterwe. Anneke jy moes baie lank hieroor gedink het en baie swaar gekry het onder boelies. Jy weet my kind, soms wens ek ek kan al hierdie boelies in die wêreld net wegwens. Die lewe sal dan soveel makliker wees vir baie kinders wat geteiken word deur hulle. Maar mens kan hulle nie wegwens nie. Jy moes net met pappa en mamma gepraat het. My meisiekind is in die hoërskool, haar laaste jaar, sy is ook geboelie deur meisiekinders. Hulle kan baie wreder wees as seuns, glo my! Ek kon nie glo al die goed wat hulle praat en doen nie. Ek het soms gevoel ek gaan skool toe en gaan neem sommer reg in eie hande!! Maar na ons meisiekind met my gepraat het, het ons besluit ons los dit nie daar nie. Ons kon nie, want hierdie kinders gaan nie ophou tot hulle jou siel en jou menswees tot in die grond afbreek nie!

Ja ek voel ook skole moet strenger optree teen boelie gedrag. En sulke kinders se ouers glo mos botter kan nie in hul spruite se monde smelt nie. Maar mens moet vir hulle bid, want dit is eintlik hulle wat aanvaarding in die samelewing soek. Hulle soek hul “sagte” teikens, want hulle voel hulle wil iets beteken. Maar Anneke jy het liefde geken my kind, jy het aandag gekry, ek kan sien in jou pappa se briefie. My hart gaan uit na Anneke se ouers, dit is ‘n swaar las wat jul moet dra. Baie sterkte mag Jesus elke treë saam jul loop in hierdie hartseertyd xxx

Sarita Rademeyer ·

Wil net vir al die ouers weer herinner – onthou net dat iemand wat depressief is dinge baie anders beleef. As jou kind kla oor bv. boelies maak doodseker daar is nie dalk chemiese depressie wat behandeling nodig het nie. Uit my ervaring pleeg iemand nie selfdood sonder ernstige depressie nie. Omstandighede kan n bydraende faktor wees, maar moet asb nie blind wees vir die vreeslike siekte nie. Slegs medikasie kan dit beheer. God het fantastiese dokters vir ons op aarde geplaas om hiermee te help. As jy n kopseer het drink jy tog n disprin.. maar om een of ander rede dink mense dat die komplekste orgaan in ons lyf (die brein) self met regkom! Ek is moeg vir die stigma wat steeds aan depressie kleef. Mag hierdie tragedie ons oe oopmaak vir die siekte en hopenlik n paar lewens red!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.