Lesersbrief: Dankie vir die studiekosteverhoging

Hoofgebou by die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit Foto: Maryke Laas, NWU

Hoofgebou by die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit Foto: Maryke Laas, NWU

Aimee le Roux skryf:

As huidige NWU-student dink ek is ek een van die min mense wat verlig is oor die 8%-studiekosteverhoging. Ek woon nou al 21 jaar in Potch en het die hartseer ander kant van die muntstuk van ‘goedkoop’ studiekoste eerstehands ervaar. Ons almal wil tog so graag deesdae net nie ‘n ‘arm-en-’n-been’ betaal vir enigiets nie en raak ook sommer boos indien enigeen durf om ons kosbare appel én ons ei te eis. Maar wat van die hardwerkende enkel ma wat ‘n brief ontvang dat sy moontlik haar werk kan verloor saam die talle ander wat geen sekerheid het oor hul toekoms in hul beroep nie.

Goedkoop koop bly maar altyd duurkoop, die verskil is net dat die universiteite die arme ou studente en hul menswaardigheid so moet koester en beskerm dat hulle met hul gekweekte tonnelvisie nie die implikasies van #FeesMustFall besef nie.

Die samelewing indoktrineer so ‘n verbruikersmentaliteit in ons dat ons die apatiese vermoë ontwikkel het om met geweld ons eie selfsug na te jaag. Ons stap by die winkel in en koop veel eerder die R50-koffie as wat ons R100 betaal vir die ‘fair trade’-koffie wat nie van slawehandel gebruik maak om hul bone te bekom nie. Ek raak naar as ek dink ‘n etiket soos ‘fair trade’ moet bestaan, omdat dit impliseer die oorgrote meerderheid produkte, wat nie hierdie etiket op het nie, gebruik steeds slawehandel en ander onetiese praktyke om tog net vir die verbruiker die heel goedkoopste produk en diens te lewer.

Ons koop ‘n radio vir R80 en loop breë-bakkies huis toe sonder om te besef daardie R80 is nie naastenby ‘n ware weerspieëling van die produk se waarde nie. Die materiale in daardie radio word van minstens 3 kontinente ingevoer, heel waarskynlik op ‘n vierde kontinent vervaardig en deur ‘n desperate, onderbetaalde verkoopspersoon aan jou verkoop, met die hoop dat sy skrale kommissie hom tot by sy volgende druppel-in-die-emmer salaris sal hou.

Ons verwag dieselfde van ons universiteite, maar ons is nie bereid om onsself op ‘n stoel neer te plak en hard te werk vir daardie 75% gemiddeld om 50% afslag te kry op ons studiegelde nie. Wie wil nou vir ‘n beurs werk as jy eerder jou speelgoed uit die kot kan gooi en die kot aan die brand kan steek omdat jy met naïwiteit glo dat jy dieselfde voordeel sal trek met tantrums as met harde werk?

Ek sê dis tyd vir elke student om te besef jou universiteitskostes is nie ‘n ‘Black Friday’-uitverkoping nie. As jy op soek is na ‘n instansie wat bereid is om menswaardigheid te minag sodat jy goedkoop kan swot ten koste van almal behalwe jouself, is #MyNWU dalk nie die plek vir jou nie.

#MyNWU, dankie dus vir die kosteverhoging. Dankie dat julle nie val (en faal) onder die druk van dié met tonnelvisie ten koste van jul werknemers en instandhouding van spogkampusse nie. Dankie dat ek die voorreg het om soveel hulpbronne en geleenthede tot my beskikking te hê. Dankie dat my studiekostes nie ten koste van hardwerkendes verlaag word nie.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jan ·

Goed uiteengesit. Maar dan sal daar natuurlik altyd die kansvatters en opportuniste wees, veral as dit mekaar opsweep om in hulle massas (getalle?) ongeag, dieselfde resultate te vereis. Hulle wil nie van die realiteite hoor of bewus gemaak word nie, en dit pas die belhammels, wat die mense net nog harder laat skree en betoog.

Wie ·

Ek wil net weet wie is jou ONS? Ek neem kennis van jou skrywe, maar namens wie praat jy hier?

Oosie ·

Wat ‘n puik stukkie werk! Dis mos hoe ‘n Puk moet dink! U slaag wonderlik daarin om te veralgemeen sodat niemand ‘n klip kan gooi nie en tog kom die waarheid baie duidelik deur. Iemand wat nie tussen die lyne kan lees of die skrywe mooi verstaan nie is, om dit platweg te stel, onnosel. Sukses met die studies! Ek het ook daar studeer en my oudag-herinneringe is baie aangenaam om te koester.

Swakstudent ·

Ek verstaan die skrywer se oogpunt, maar die feit van die saak is dat universiteitskostes alreeds baie hoog is, en dus onbekostigbaar word vir baie mense. Daar is baie redes daarvoor, oa. ernstige daling in regeringssubsidies vir die unis al oor jare, swak administrasie van die studenteleningsstelsel, afskeping van ekonomiese prioriteite, ens.ens. Daarby kan mens ook goed sit, soos lae skoolstandaarde wat veroorsaak dat baie studente maar eintlik nooit gaan deurkom nie.

Die belangrike punt is dat indien jong mense nie kan studeer en DAN DAARNA ook ‘n goeie werk kry nie, is dit die einde van Suid-Afrika. Ongelukkig is die Feesmustfall mense se gedrag baie telleurstellend, en van die uitlatings is so banaal dat mens maar net kan oopmond staan in verbasing.

Ek voel wel dat Universiteite eintlik maklik die leiding kan neem hier. Hulle kan baie meer innoverend wees met kursus aanbediening en kwalifisering as tans. Die voordele hiervan is dat koste en studiedurasie kwaai kan afneen, maar dat geen kwaliteit ingeboet hoef te word. Daarby, kan mens dalk sekere akademiese vryhede dalk effens afskaal, soos kongresbywonings en oorsese reise.

As niks gedoen word nie, sal die kwaliteit van onderrig in elk geval agteruit gaan, en niks werd wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.