Lesersbrief: Denel dryf my broer oor die rand

man-kyk-by-venster-uit

Foto: Noah Silliman/Unsplash.com

Hennie Reyneke van Frankryk skryf:

Onlangs het my broer, Pieter Reyneke, sy eie lewe geneem by sy werkplek: Denel.

Pieter was ʼn briljante sagteware-ingenieur, wat sy werk altyd baie geniet het. Hy was ‘n saggeaarde persoon wat nooit gespog of gekla het nie – ‘n stil presteerder.

Ongelukkig het dinge drasties agteruit gegaan toe die Zumas en Guptas by Denel betrokke geraak het. Nie lank daarna nie, was Denel in finansiële moeilikheid. Personeel is verminder, en dié wat agtergebly het, moes ʼn al hoe groter werkslas dra.

Asof die geweldige werksdruk nie genoeg was nie, het Pieter en sy kollegas gevrees dat hulle enige oomblik hul werk kon verloor. Daar was ook sprake dat Denel glo slegs twee derdes van hul salarisse sou betaal. Pieter was baie bekommerd dat hy dan nie sy huis sou kon betaal nie, en nie sy vrou en kinders sou kon onderhou nie. Verder het Denel Pieter en ander werkers se goedgekeurde verlof vir Desember 2018 eenvoudig ingekort.

Pieter was een van die min mense in sy span wat werklik verstaan het hoe om die ingewikkelde programmering te doen. Dus het hy nóg meer verantwoordelikheid en druk as die res van sy span ondervind. In die laaste paar maande voor Pieter dood, moes sy span ʼn groot projek klaarmaak voor ‘n bepaalde sperdatum. Ná maande se ernstige slaapverlies, kon Pieter nie die sagteware aan die gang kry nie, en het hy geglo dat sy brein hom in die steek begin laat. En dis wat hom toe ook oor die rand gedryf het.

Ná sy dood is daar gevind dat die sagtewareprogram in elk geval nooit sou kon gewerk het nie omdat die hardewaregedeelte van die projek foutief was.

Dit het ook aan die lig gekom dat Pieter se oortydstate, wat hy formeel aan die departement van menslikehulpbronnebestuur (MHB) oorhandig het, nooit geprosesseer en betaal is nie. Dis natuurlik totaal onwettig vir ʼn maatskappy om ‘n werker so baie ure te laat werk, en om hom dan nog boonop nie daarvoor te betaal nie.

Ná Pieter se dood, het ʼn span mense van Denel af Pieter se privaat woning binnegegaan, en inligting van sy persoonlike rekenaar en telefoon af verwyder.

Denel het aangebied om vir die begrafnisblomme en begrafnisboekie te betaal. Die blomme was regtig pragtig, maar ongelukkig spreek dit hulle nie vry van hul groot aandeel in Pieter se dood nie.

Pieter was ʼn onselfsugtige en dierbare mens wat altyd tyd gemaak het om almal om hom te help, maak nie saak hoe besig hy was nie. Voor Denel hom uitgebrand het, was hy altyd positief en het hy kans gesien vir alles, en het elke dag nuwe dinge aangepak.

Pieter, ek is baie lief vir jou en mis jou so…

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

ano ·

Ai Hennie dit is absoluut hartverskeurend. Mag julle berusting vind.

Anoniem ·

Dis onverskoonbaar van Denel. Laat hulle betaal. Nie dat dit die man sal terugbring nie maaar wat van sy familie? So nodeloos en dit deur korrupsie en onbevoegdheid van andere. Ai! Wat ‘ n jammerte.

Deon ·

Baie tragies. En daar is baie ander werkers wat daagliks deur ongenaakbare werkgewers onder druk geplaas word. Jou lewe en geluk is ononderhandelbaar, bedank en vind nuwe geleenthede.

Chris Ws ·

Al wat ek hierop vir die familie kan se is: hou moed want die wiel draai.Sterkte.

Naamloos ·

Dit is so dat die witmense wat oorgebly het in van die SOE’s, toegegooi word met werk sonder oortydbetaling. Hulle kan oortyd insit en moet dan korttyd insit, maar wie kan korttyd insit as jy nie eers jou werk in ‘n voldag kan klaarmaak nie? My seun werk nou al 28 jaar vir Telkom, hulle het in al die gevalle waar hulle mense afgelê het geweier dat hy ‘n pakket vat omdat hy in hulle IT afdeling werk, Op die huidige oomblik het daar so min van hulle oorgebly dat hy nou 11 mense se werk moet doen… WIE KAN DIT VOLHOU??!

Magaretha van heerden ·

Dit raak n al groter probleem by talle werke waar die hardwerkende persone se oortyd nie geproseseer word nie. Iemand loop met die geld weg. Erens is die admin in chaos en dit kan nie alles op anderskleuriges geblameer word nie. Inteendeel die blankes is nou net so skelm as enige ander een. Wat n skande. Dan hou hulle hul ook nog vreeslik godsdienstig voor. Hulle moet net weet God slaap nie. Die Woord se die arbeider is sy loon werd. Ek kan maar net se : “kom Here Jesus, kom!” Die mensdom is boser as in Noag se tyd.

pinkie ·

Dis hartseer. ‘n Verhaal wat hom deesdae in vele huise afspeel.

Herman ·

Dis so aan die orde van die dag deesdae in SA, terwyl groot koppe lekker verder rinkink en of baie betaal word of skatryk word deur aandele.

ap ·

Ja en zuma gupta spog oor al hul skelm streke , hoop hul tyd kom ook , ons land verdien beter leiers

apie ·

Dankie dat u hierdie deel. Mense in nood moet praat. En mense wat kan help, sluit asseblief aan by instansies wat hulp verleen. Tyd vir oorweeg is daar nie meer nie. Sterkte aan almal

Johannes ·

Dit is die verhaal van vele voorheen effektiewe profesionele blanke werkers by SOE’s.
Sterkte aan almal.

Jeremia ·

Skryf ‘n boek hieroor indien moontlik. Dit is die verhaal van duisende wat nog werk het in hierdie land en gedwing is om sake aldaar aan die gang te hou. Uitbranding is sekerlik een van dié grootste dilemmas wat pligsgetroues kan beleef
Al my opregte simpatie aan die gesin én familie.

Staan saam ·

Ons moet saamstaan, mekaar ondersteun en vir ons eie land werk waar ons lewe en wet en orde sal handhaaf.

Charmain ·

Innige simpatie met jul verlies. Dit is voorwaar tragies, dankie vir jou moed om te deel. Talle werkgewers misbruik die getroue werknemers wat uit pligsbesef en persoonlike verantwoordelikhede sal doen wat hul gesê word – en meer. Dan is daar die konstante dreigement dat daar enige tyd werkloses is wat jou plek kan inneem. Sulke spanningsvolle omstandighede vir die voetsoldate; en wat bly vir die gesinslewe oor? Dit terwyl die hoogs besoldigde “bestuur” hul luukse lewens kan lei. Maak mens siek.

Deneller ·

Ons het die gemors al in 2014 begin sien gebeur. Geen praat, smeek, dreig of redeneer is na geluister nie. In ons afdeling het ons ons geestesgesonheid probeer behou deur al die goeie goed van die verlede te laat voorleef. Alles self betaal. Ons het spanboue, braais, speletjiesdae ens. bly doen om die spanning te breek. Ons het die swaard oor ons koppe geïgnoreer sovêr ons kon en ons werk gedoen. Dit is bitter jammer dat so-iets moes gebeur. Gaan sy sterfte iets verander? Kan nie sien dat dit gaan nie.

Anoniem ·

Ek werk by ‘n groot, bekende maatskappy waar daar vroeër groot klem gelê is op “work/life balance”. Ons word deesdae blykbaar nog steeds aangewys as “employer of choice”.

Deesdae gaan dit by ons net dieselfde. Al hoe meer groot base en voetsoldate, al hoe minder “bekwames” wat die wa deur die drif moet trek. Finansies jaar na jaar slegter. Bekwames vlak voor (of reeds oor) die rand van uitbranding.

Dis nie so maklik om ander werk te soek nie, want werk is skaars daar buite. ‘n Bleek velletjie maak dit nie makliker nie, al is die bekwames hoogs gekwalifiseerd met dekades goeie ondervinding.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.