Depressie: Op pad na herstel

depressie

Foto: Mentalhealth.com

Deur Anita Kok

My naam is Anita … ’n vrou en ma van vier kinders. My lewe het nie uitgedraai soos ek gedroom en gedink het dit sou wees nie. Ja, daar was vreugde, teleurstellings maar ook seer. Fisieke seer wat jou lewe uiteenruk, en ’n rou seer laat wat nie wil heel nie. ’n Seer wat ’n mens later net leer om mee saam te leef.

Jy het nie ’n keuse in hierdie seer gehad nie … Dit het vir my gevoel die lewe deel klappe aan my uit waaroor ek geen beheer het nie, ek kon nie eens koes om die klap vry te spring nie.

Die seer in my het ’n uitwerking gehad op alle gebiede van my lewe: op my huwelik, op my verhouding met ander én met myself. Maar veral op my verhouding met my kinders. Ek was 19 jaar oud toe ek my eerste baba ná twee weke aan die dood moes afstaan. Die dokters het destyd gesê sy is dood nadat sy vrugwater gesluk en dit haar longetjies septies gemaak het. Sy was so ’n pragtige ou klein dingetjie. ’n Mensie wat ek in die wêreld gebring het en nooit eens regtig kon vashou nie, maar so oorweldigend liefgehad het. Ek het wel ’n sielkundige gaan sien, maar die seer hier so diep in my gaan bêre asof dit net nooit gebeur het nie.

Die Here het my geseën met nog drie kinders. Twee dogters en ’n seun. My tweede dogter en middelste kind het op die ouderdom van dertien jaar baie siek geword. Vader het haar vir nog dertien jaar vir ons geleen.

Die dag toe sy gesterf het, het my hele lewe ook gesterf. Daarby was ook die vreeslike skuldgevoel dat ek my ander twee kinders so afgeskeep het. Ek was so vasgevang in my vrees dat sy dood sou gaan dat ek nie eens met hulle bespreek het wat besig is om in ons gesin te gebeur nie.

Twee jaar ná haar dood was ek nie net in hierdie seer web nie, maar ook in die web van depressie. Ek het my pligte gedoen onder groot protes, want ek wou net doodgaan en nie meer lewe nie. Hulle moes my net uitlos.

In hierdie tyd het my seun begin leer om ’n pastoor te word. Ek moet erken dit was ook die tyd waarin ek nie meer met Vader gesels of gebid het nie. Ek het nie meer geweet wat was die ergste in my lewe nie, die feit dat ek so hartseer is en seer het of die feit dat ek so depressief is.

Ek is nie van nature ’n depressiewe mens nie, daarom het ek nie geweet hoe om dit te hanteer nie. Ek is na my huisdokter en toe ek daar vir hom gesê het ek is “op my opste” het God ingetree. Ek was soos ’n drenkeling wat nie eens meer gespook het om bo die water te bly nie. Ek kon maar verdrink het.

My seun het disleksie, dus moes ek hom help met sy studie. Dis net hier waar Vader weer die kans gekry het om met my te kan praat. Dis hier waar Hy my gewys het, Ek die Here jou God is hier, Ek hou jou vas. Laat My net toe om jou te troos en te heel.

Ek het uitgereik na God toe, want ek het niks gehad nie – niks waarop ek kon terugval nie. Geen plan B om uit hierdie gat te kan klim nie. Hierdie gat was ’n bodemlose put, ek kon nie eens vastrapplek kry nie, en die rou seer hier binne my was al net so ’n diep gat. Met my gesprekke met God het Hy my stap vir stap, tree vir tree, trappie vir trappie laat uitklim uit die gat.

Sien, God is die Rots waarop ons huis gebou is. My huis was op die Rots gebou die dag toe ek as vyfjarige my hartjie vir Hom gegee het, en in my lewe was Hy altyd daar gewees. Ek wou Hom daar hê en toe ek die Rots nodig gehad het om vastrapplek in my lewe te kon hê, was Hy daar gewees. Hy het my kom uithaal daar waar ek was. Ek moes nie eers uitklim en na Hom toe gegaan het nie, Hy het na my toe gekom en my daar kom haal waar ek besig was om te verdrink.

Ons, ek en Vader, het al ’n pad gestap vandat my tweede dogter dood is. Hy lei my na genesing. Dit was en is ’n proses. Ek moes my verhouding met Hom anders begin sien; ek moes begin vergewe het. Elke dag vat ek sy Vaderhand en vertrou Hom dat Hy my sal lei na waters waar daar rus is.

  • Anita Kok is een van die sprekers by die kongres “ʼn Hoopvolle toekoms”-vrouekongres wat op 29 Oktober vanjaar in Rustenburg aangebied word. Stuur ʼn e-pos na [email protected] vir meer inligting oor dié geleentheid.

 

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Wiebo ·

Dit klink maklik, maar om uit so n gat uit te kom……………………. Dis hel en almal se net “jy het vir jouself die gat gegrawe, kom self daaruit”

Adele ·

Ek weet presies wat jy se Wiebo. Mense oordeel baie baie vinnig. En dan is daar natuurlik nog die wat wil se dis nie so erg nie. “Get yourself together”. Ek sukkel met depressie van ‘n jong ouderdom af en sukkel nogsteeds. So my innige mee gevoel met almal wat hiermee sukkel. En moenie vir ander mense luister nie.

Joann ·

Ek gebruik al 37jr.medikasie vir depressie. Gaan goed maar kry soms n dip. Mense moet net besef dat depressie n siekte is soos enige ander siekte en dat dit n helse siekte is. Net jy en God kan jou help, vat dit dag verdag,bid en vertrou.

Ella ·

Ek wens daar word baie meer inligting op ‘n gereelde basis aan ons land se mense beskikbaar gestel. Nog steeds hoor jy gereeld die opmerking: Ruk jou reg! Onkunde van die publiek oor hierdie siekte help lyers van die wal in die sloot.

Danielle ·

Bid vir ons Hemelse Vader om te help met die pyn en wanhoop, in die Naam van Jesus Christus van Nasaret. Bid so vir genesing, beskerming en krag. Dit is al wat vir my gehelp het. Ek het my man en enigste dogter gelyk verloor. Daarna het ek twee huisinbrake oorleef, my huis verloor en kanker gekry. Dit het alles in twee jaar gebeur. Net Hy kan ‘n mensewrak weer reg maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.