Lesersbrief: Die ANC se 2019-manifes ‘soek jou pensioen’

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

Pieter-Ben Roos skryf: 

Die vrye mark en die ANC-doelwitte gaan vir die volgende vyf jaar weer daadwerklik met mekaar stoei.

Ek skryf vandag hierdie blog uit kommer oor die ANC se aanval op die vrye mark en kapitalisme in Suid-Afrika. Punt 5 in die manifes van 2019 beskryf dat die regerende party investering binne die volgende vier jaar met R1,4 triljoen verhoog. Die vraag is waar hierdie geld vandaan gaan kom?

ʼn Basiese eenvoudige konsep van die ekonomie is dat mense meer spaar as dit vir hulle meer aantreklik is om te spaar. Die regering verstaan duidelik nie hierdie konsep nie.

Ons owerheid wil vanjaar nuwe asem in die idee van voorgeskrewe finansiële bates blaas. Die stelling klink op sigself amper administratief van aard, maar dit kan ʼn verlammende effek op die waarde van ons pensioene hê. Suid-Afrika se 16 miljoen pensioenbetalers het verseker dat die land, volgens die ekonoom Mike Schüssler, oor die agtste grootste pensioenpot ter wêreld beskik.

Ons pensioene word bestuur en bewaar deur finansiële reuse wat gereguleer word deur wetgewing. Pensioenfondse is vir ons kommunistiese regering ʼn goudmyn van kapitaal en dit wil lyk of dit die regering se oogmerk is om aan hierdie instansies voor te skryf waar om ons pensioene te belê.

Dit kom neer op die nasionalisering van pensioenfondse waarvoor mense hul hele lewe lank werk.

Die rede waarom die regering op hierdie fondse inzoem, is dat die ANC se manifes ʼn belofte maak dat die ANC R100 miljard in swart nyweraars en besighede in swart besit wil investeer. Dit is ʼn enorme bedrag kapitaal wat nêrens anders as by privaat burgers gekry kan word nie.

Die voorgestelde bates of “prescribed assets” wat deur regulasies ingestel word, gaan gebruik word as ʼn rookskerm vir geforseerde investering in staatsbeheerde entiteite. My verwagting is dat dit gedoen gaan word onder die valse voorwendsel dat die regulasies ten doel het om maatskaplike en ekonomiese groei te bevorder. Die geleentheidskoste om in nielewensvatbare entiteite te investeer, is ondenkbaar.

My vraag is dan die volgende: Indien staatsbeheerde en swart nywerhede die ekonomiese toets van langtermyn-winsgewendheid kon deurstaan, waarom sou dit vir die regering nodig wees om ons finansiële instansies te forseer om daarin te investeer? As hulle suksesvol was, sou dit vanself gebeur.

Elke pensioenbetaler verdien om te weet sy pensioen is veilig. Ons moet waaksaam wees voor die regering soos ʼn dief in die nag ons hard verdiende gelde verkwis.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

John ·

Om eerstewèreldregte op te eis en uit te deel met ‘n onderwèreld-mentaliteit… Dit is presies hoekom almal vir die staats wil werk; selfs mekaar vermoor vir ‘n pound seat.
Wie gaan hier geld kom stort sonder om iets terug te verwag… CR noem dit beleggings. Wat wel hier gestort sal word is regte egte rommel wat nie meer elders aanvaar word nie… en glo my… ons regering sal dit aanvaar hopende dat die jagters skatte daarin sal ontdek; dalk net een van die queen se krone wat uit die mode geraak het…

Johan ·

Vir die ANC is die finansiële wêreld maar net ‘n melkkoei met ‘n onuitputlike bron van geld.(wat ‘n kommerwekkende gedagte) Die meeste besluite word nie noodwendig tot voordeel van die land geneem nie. Maar tot politieke voordeel van die ANC as organisasie en tot nou toe, tot finansiële voordeel van ‘n handjievol elite.

AJ. ·

Sou dit gebeur, wie gaan dan vir ons sorg? Dan sal ons ook moet tevrede wees met n` staats toelaag elke maand. Hierdie regering dink net aan homself en al sy Comrades.

Ora ·

As ek na alles om my kyk, ekonomie, dienslewering, kriminaliteit, die soustrein wat voortstoom ongeag.. dan is ek bly my dae op aarde is nie meer so baie nie. Erg om te sê, en ek sidder van my eie woorde, maar vertroue en hoop in die regering bestaan nie meer in my gemoed nie.

Gemaskerde Sopbeen ·

Ek is geen ekonoom nie, maar…………..wat verhoed die regering om die Reserwebank te nasionaliseer…….en dan voorskriftelik te raak oor waar tot 30% van Suid Afrika se pensioenfondse hulle geld moet belê? Dit kan Eskom, Sanral, SABC, Prasa, SAL…of enige van daai wees…en WEG is jou en my pensioen!! Ek het hierdie vrae alreeds baie keer gevra,…en GEEN antwoorde gekry nie…

Almal dra 'n jas wat die regering pas. ·

Vat watookal jy nou reeds kan en belê dit oorsee. Luister maar na Dawie Roodt en Magnus Heystek. Hulle het hierdie vraatsige regering se planne lankal ontbloot.

Boer-in-die-Wind ·

Goeie strategie en raad. (Reeds gedoen.)

Ek onthou as kind met die Rhodesie krisis die gesegde dat daar net twee tipe ex-Rhodesiers is – die wat hul geld betyds die land uitgevat het en die wat wens hulle het.

Gys ·

Die antwoord is maklik. Eintlik so maklik dat n vraag nie eens nodig is nie.

NIKS keer hulle nie. Die laaste kans wat ons gehad het om dit te keer was in 1992. Maar toe stem almal mos JA vir “vrede en voorspoed” en “eie skole en woonbuurtes”. En almal glo die “wigte en teenwigte” en “magsdeling” feeverhaaltjies.

Kerneels ·

As jy HR vra of ons pensioene “veilig” is, kry jy die antwoord:
“Ontpan, niemand kan aan jou pensioen raak nie, ook nie die regering nie. Mense wat hierdie berigte skryf, wil paniek saai” …rerig??????
En ons moet maar hierdie “paaiery” sluk veral as jy weet jou pensioen is by ñ welbekende maatskappy wat na bewering “hegte bande” met die regering het!!!!!!!!!
So wat staan mens te doen………………………………………

Johan ·

Verseker behoort elke lid van die Pensioenfonds bekommerd te wees. Hier is n strategie wat besig is om momentum te kry. Die beginsel is dat daar nog talle fondse is wat triljoene oor beskik en dit is die “herstel planne” van die “base”.
Ons medies is so te praat in sy maai in, dan pensioene gryp, grond volgende dan en tussen in is hul besig met wetgewing om die kerke aan bande te plaas. Alles wat vir jou en my saak maak is hierbo ingesluit. Kyk ook na wetgewing wat jou kind se regte in hul hande gaan plaas. Dit is om die draai!!! Drakonies en vernietigend!!!
Indien ons nie wal gooi, begin deelneem aan openbare optrede nie, verandering af dwing nie, gaan ons treur jare betree wat ongekend is. Ek wil meedeel, word wakker, dit is tyd dat elkeen van ons opstaan en n verskil begin maak!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.