Deur Juran van den Heever
My vrou kyk my gisteraand bekommerd aan toe die nuus deurkom: “die Mafikeng kampus brand af”. Ek was toe al lankal bewus daarvan en reeds besig om op epos met kollegas daaroor te praat. My vrou wil weet hoe kom hierdie betogers daarmee weg, hoe kry hulle dit reg? Hoekom keer niemand hulle nie? Hoekom berig die media net oor die een kant? Hoekom swot hulle nie net nie?
Dit is vrae wat oor die meeste normaaldekende Suid-Afrikaner se lippe kom, maar die begrip lê verder as wat ons dink.
Ek gebruik ʼn metafoor wat my sommer daar in die badkamer byval om dit aan my vrou te verduidelik. Daar is ʼn skool in die stad met 1200 kinders en 50 van hulle is groot boelies waarvan al 1200 kinders weet. Sodra die 50 boelies om ʼn hoekie die geleentheid kry om ʼn kind by te kom en te boelie, drom almal saam om dit te sien, almal praat daarvan en almal bespreek dit. Maar nie een van die 1200 kinders doen iets nie. Die hoof vind later daarvan uit, maar het nie konkrete bewyse nie. Hy sal die boelies moet betrap, maar hy is ook besig met ander sake. Die boelies kom elke keer daarmee weg.
Die boelies skep sensasie, die boelies het sekere denkwyses en die boelies is so groot gemaak. Jy sal hulle nie sommer verander nie, maar jy moet hulle in ʼn stelsel probeer inwerk. ʼn Boelie kan ophou boelie as jy hom sekere verantwoordelikhede gee.
Iemand het nou die dag ‘n ware ding op Twitter getwiet. Hy het getwiet die antwoorde van die kampusgeweld lê eintlik op die kampus self. Daarmee bedoel hy die hoogste gekwalifiseerde mense in ons land woon en werk op die kampusse en hulle is veronderstel om die antwoorde te hê. Navorsing word gedurig gedoen oor al hierdie kwessies wat rondom ons afspeel. Waarom pas hulle dit nie in praktyk toe nie? Dit is tog sekerlik nie ʼn nuwe kwessie nie.
Ek sukkel om in my kop telling te hou van hoe ver die boelies nou al voorloop en met hoeveel punte die kampusbesture agter is. Die ding wat my egter die meeste pla, is as die boelies te veel raak, begin die slagoffers ingee en ʼn vreeslike ding gebeur.
Kampusbesture, die antwoorde lê in jul geledere. Gaan dink bietjie, stof daardie navorsing af. Ons kon nog altyd met planne vanuit ons akademici iets regkry. Doen dit weer.
- Juran van den Heever is verbonde aan Solidariteit en bestuur nuus, inhoud en sosiale media vir die vakbond.
Stem, die groot verantwoordelikheid le op die kampusbesture se skouers wat nie net fisies teenwoordig is nie maar ook kundig teenwoordig met sosiale wetenskappe. Orde kan egter alleen heers waar daar institusionele waardes en norme heers soos onder andere respek vir die lewe, waardering vir die estetiese, waardering vir die eie kutuurhistoriese en ook in die breere. die begrip en liefde vir die volksverband en die erkenning en respek vir orde en gesag. en dan veral Godsverbondenheid. Maar hoe realiseer dit in n konglomoraat van uiteenlopende en selfs botsende entiteite wat sonder keuse saan gedwing word?
Hoekom word daar nie kampusbestuurders aangestel soos daar bv. hospitaalbestuurders aangestel word nie. Die professor is dalk ‘n genie in sy vakgebied, maar is nie noodwendig ‘n goeie bestuurder nie. ‘n Voltydse kampusbestuurder sal meer aandag daaraan kan gee om die “boelies”te ontbloot en hoef nie noodwendig ‘n hoogs geletterde persoon te wees nie, maar moet bestuursvaardighede hê.
Hospitaalbestuurders is nie dokters nie, maar is verantwoordelik vir die bestuur van die hospitale.