Die dag toe dit bier gereën het

Pynappelbier (foto: Lapa-uitgewers)

Lorinda Gerber van Pretoria skryf:

’n Staat van algehele afsondering landwyd word afgekondig en almal skarrel soos miere rond wat ’n walm Doom geruik het.

Inkopies word verwoed gedoen. Ons spring ook weg en kry net die nodigste, onder meer, ’n boksie wyn. Die spanning bou op en dié aand sit ons tot middernag en kuier in afwagting op die amptelike begin van die afsonderingstydperk.

Maar so is ons boksie wyn toe in een aand gedaan.

Dié naweek is ons maar droëbek. Matte word geskrop en gewas. En toe daar niks meer oor is om skoon te maak nie, pak die onrustigheid ons beet. Ons word sommer vies oor die onregverdigheid van die afsondering en vaar erg uit teenoor mekaar.

En toe kom Maroela Media tot ons redding…

Jy kan pynappelbier by die huis maak! Die middag ná werk (noodsaaklike diens wat ek doen), is die hele kombuis besaai met die pynappels. Bokse vol. Dis net skille, sap en blare waar jy kyk.  Die versapper is warm gewerk.

Nou moet ons wag dat dit afkoel, voordat die gis bygegooi kan word.

’n Temperatuurmetertjie word aan ’n liniaal vasgeplak en afgesak in die brousel in. Die ding skree net “high” die hele tyd. So begin die son sak en die drom word deur die nag “verpleeg”. Uiteindelik is die brousel koel genoeg om gis te ontvang.

Van toe af word die drom beter verpleeg as enige persoon in ’n hoësorgeenheid. Dis toegewikkel in ’n dik handdoek, knus tussen die oond en die wasbak. Die oond word aangeskakel om meer hitte te voorsien. Daar word selfs met die biertjies in wording gepraat …. Maar ons “pasiënt” raak net al hoe meer kritiek.

Die bier wil nie gis nie.

Niks gebeur nie. Ons raak ongeduldig, bekommerd en angstig. Ons besluit om te proe. Dis dik en gisserig en laat my dink aan my oorlede Ouma se gisbrood. Ons gaan lees oor bier, gis en brouery.

Mens moet glo nie voor die tyd daaraan karring nie. Los dit en laat staan dit.

Met die afkondiging van die afsondering se verlenging, besluit ons om die bier nou maar te bottel.  Google sê die suiker wat ná die tyd bykom, gaan dit nog verder laat gis. So word die mengsel eers deur ’n sif gegooi, dan deur ’n doek gedruk en gebottel.

Binne ure het ons ’n klomp 2 ℓ-bottels vol, maar nog is daar geen einde aan die weduwee se kruik nie.

Ons ontdek ’n vergete 5 ℓ-waterbottel. Nou is alles gebottel, gesuiker en in die kas. Dit smaak vorentoe! Ons teug te heerlik aan dié nuwe smakie. Vandag gaan ons braai en ons eie bier drink!  Ons voel baie trots.

Ek maak ’n aartappelgereg.

Toe ek die kas oopmaak om die rasper uit te haal, vang my oog die 5 ℓ-bottel. Die ding is so rond soos ’n ballon. Ek tree versigtig agteruit en roep my lewensmaat (alias Bierbarrones). Sy haal die 5 ℓ-bottel uit die kas en maak dit staan op die wasbak.

Nou, julle moet een ding verstaan. Ons kombuis is nie groot nie. As jy by mekaar wil verby, dan moet jy jou maag intrek en jou asem uitblaas. ’n Gedagte skiet my te binne en ek wil gou voorstel dat sy eerder die bottel buite oopmaak, want ons het al ’n klein insidentjie gehad met 2 liter koeldrank wat uitgespuit het.

Met my mond oop om die waarskuwing te uiter, klap die skoot.

Alles gebeur in stadige aksie. Die prop skiet teen die plafon vas. Bier spuit uit die bottel soos ’n vulkaan wat kwaad is. Ons dik, vet gemmerkat probeer weghardloop (hy is altyd in die kombuis op soek na ietsie om te kou), maar hy bly op een plek en lyk soos ’n strokiesprentkarakter met dieselfde postuur.

Uiteindelik vat sy pote grond en hy skiet soos ’n blits by my verby. Ek het regtig nie geweet daardie dik lyfie kan so vinnig beweeg nie. Nou, wat op, moet af…

En toe reën dit pynappelbier in die kombuis! Alles is nat. Die bier drup van ons hare af, loop van die mure af en vorm plassies op die vloer.

Ons loer grootoog vir mekaar.

Ons weet nie of ons moet lag of huil nie. Ons begin stadig tot verhaal kom en toe is daar nog ’n slag. Die krag het uitgeskop, want die bier loop in die kragproppe in. Toe begin ons lag. Lag vir die bier wat van ons wimpers afdrup, lag oor die honde en katte wat nêrens te bespeur is nie, lag van al die skrik en lag omdat ons kan lag.

Argieffoto (Foto: Security, Pixabay)

Totdat ons natuurlik begin besef dat ons so pas 5 liter bier verloor het!

Ons babakatjie is die eerste een wat braaf genoeg is om te kom kyk wat gaande is. Sy ontdek ’n paar bierdeurweekte katpille en slurp dit op. Ek tel haar vinnig op, want sy’s so klein, sy sal haarself permanent aan die vloer vasplak.

Buite kry ons ons bostonterriër.

Sy uitpeuloë lyk asof hulle byna op sy wange hang. Hy’t skoon die bewerasies en is papnat van al die bier. Ons Jack Russel, wat alles eet en drink, begin die bostonterriër met mening skoon te lek.  Ná ’n gespook, kry ons die stoof aan die gang. ’n Aartappelgereg met pynappelbier is nie te sleg nie.

Ons skrop nou al twee dae lank aan die kombuis. Ons het goed ontdek wat ons gedink het jare terug al weg is (veral onder die yskas, stoof en vrieskas).

Die bure bo het van die balkon af geroep om te hoor of ons oukei is. Die hele omgewing ruik na ’n brouery, maar ons kombuis was nog nooit so skoon nie. Ek het nou al twee keer hare gewas, maar bespeur nog steeds ’n pynappelgeurtjie. Moet sê, my hare blink mooi!  Ek sal ook nooit weer na ’n pynappel kan kyk, sonder om te begin lag nie.

Maar ons is nie afgesit nie.

Môre gaan ons appels koop en Hunter’s Dry maak. Ek gaan egter voorstel dat ons dit dalk in ’n ander vertrek sit (ek is seker ál ons vertrekke gaan ná die afsondering silwerskoon wees).

Ons het nou net die krag aangekry. Maar wie het nou krag nodig as jy pynappelbier het?

Moet sê, die ergste wat ek moes skoon kry, was die speserye. Daar is nou nie meer verskillende soorte nie, slegs een geur: Pynappelbier-spesery ….

Ons katte het mekaar skoon gelek en lê nou al vir 12 uur lank en slaap. Hul ogies lyk soos pynappeltjies ….

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
MAGDA

Oh siel, ek het nou kliphard geskater vir die vertelling. Ek sien in prentjies en kon die petalje voor my sien afspeel. Dankie vir die lekker kwaratyn lagsessie. Laat weet asb hoe die Hunters uitwerk.

Frans

Baie dankie-lanklaas so lekker gelag .

Leon

Moenie die proppe styf toe maak nie. Los ‘n plekkie om stoom af te blaas. My pa het pynappel bier gemaak en lemoen wyn. Dis soos gemmerbier. Jy los ‘n lugaatjie vir asem uitblaas.

Scalla

Goeie storie, dankie om te kon lag, glo dit het al met klomp mense gebeur, self ondervinding gehad met n blik kondensmelk wat droog gekook het en soos spaghetti van die plafon gehang het.

Genis

Ons het eenkeer pynapple bier in 3x2liters present gekry… ons het dit in die kombuis gesit langs die stoof, die naweek weggegaan… Sondag middag terug gekom, al 3 het ontplof, dit was n taai petalje in die kombuis…