Die datum wat ons lewe onherroeplik verander het

Hermien Brittnell van Oudtshoorn skryf: 

Hermien Gouws.

Augustus, die 15de. ’n Datum wat ek veel eerder sou wou vergeet as herdenk. Maar die realiteit is dat hierdie datum nie sommer net uitgevee kan word asof dit nie bestaan nie. Op Saterdag 15 Augustus 2015, vandag presies 5 jaar terug, is Ouma Mien en Oom Ruben op ons familieplaas wreed vermoor.

Wanneer Augustusmaand aanbreek, voel ek die seer heelwat feller aan my lyf en gemoed. Ek laat myself toe om te dink aan wat daardie dag gebeur het. Ek onthou Ouma se telefoonoproepe aan ons die Saterdagoggend so om en by elfuur, twaalfuur. Die seuns was nog klein en het in ons kamer op die mat gespeel met die wintersonnetjie wat lekker inloer by die vensters.

Ek en Ouma het vreeslik gesukkel om met mekaar te gesels. Hul Telkomlyne was gedurig buite werking as gevolg van kabeldiefstal. Ek onthou die telefoon het aanmekaar uitgesny. Ouma het eerste gebel, daarna het ek haar teruggebel toe die lyn uitsny. Sy het later die oggend weer gebel. Sy was gedetermineerd om met “die seuntjies” te praat en het so tussendeur die gekraak op die Telkomlyn met hulle gesels. Ouma was emosioneel – iets wat glad nie in haar aard was nie – veral nie oor die telefoon nie. Ek onthou sy het in ’n stadium by my verskoning gemaak dat sy nog nie my grys mus gebrei het nie omdat sy eers die babakombersie vir Janco en René se Pedrie wou klaarmaak (skoonsus René was toe so ses maande swanger met hul eersteling, Pedrie).

Ek onthou ook my gevoel van onvergenoegdheid oor die swak telefoonverbinding. Ek het al dikwels gewens ek kon hierdie laaste gesprekke met Ouma oorhê – dat ons net behoorlik met mekaar kon praat. Maar dan besef ek ook weer wat se voorreg dit was om wél met haar te kon praat. Agterna het ek besef – en ek is steeds oortuig hiervan – sy het ons gegroet. Sy het geweet daardie Saterdag was haar laaste dag op ons aarde. En soms voel ek skuldig omdat die res van die familie nie hierdie kans gekry het om te groet nie. As die oudste kleinkind en Ouma se naamgenoot het ons ’n ander soort spesiale band gehad. En ja, alhoewel Ouma altyd baie regverdig was teenoor al haar kleinkinders, was ek seker maar haar witbroodjie. Oom Ruben weer het “elke kind laat voel soos sy witbroodjie” – soos nefie Dirk dit so mooi gestel het op hul begrafnis.

Saterdagaand, êrens ná seweuur, terwyl ek besig was om die seuns in die bed te sit, het skoonpa Bertus aan ons kombuisvenster se ruit geklop. Nou nog, as iemand teen die ruit klop, gee my maag ’n nare draai. Skoonma Mona het by die seuns in die kamer kom sit. Toe ek uitstap, en vir Reynhardt en dominee Deon in ons gang kry, was my eerste gedagte: Pappa en Mamma! Ek was altyd meer onrustig oor hulle op die dorp as oor Ouma en oom Ruben op die plaas.

Ek wou dáár wees! Op die plaas saam met my ouers. Saam met die mense van Ida wat almal so omgegee het vir ons familie. Ek wou dáár wees waar Ouma en oom Ruben nog was. Wonder bo wonder het ek deurgekom toe ek my pa op sy selfoon bel – daar was gewoonlik ’n baie swak of geen selfoonsein op die plaas. Ek onthou die verslaentheid, ek onthou my ma se hartseer, maar rustige stem. Ek onthou die geraas wat ek in die agtergrond kon hoor en my pa wat sê twee van die moordenaars is toegesluit binne-in die polisie-van sodat die plaasgemeenskap nie by hulle kan uitkom nie. Ek onthou my ma wat sê hulle mag nie ingaan in die huis nie. Ek het my niggie Helena gebel – haar ouers is drie jaar vantevore wreed aangeval in hul huis in Ugie, waartydens tannie Linie dood is. Oom Chris het wonderbaarlik oorleef. Ek het gedink dit moet verskriklik wees vir haar en haar broers en oom Chris om weer deur sulke trauma te gaan. Ek onthou ek het my broers gebel, van my ander ooms en tannies. Ek wou met my mense praat!

Die 15de Augustus. ’n Datum wat ons as familie se lewens onherroeplik verander het. Oom Ruben was die oudste van ses kinders. Ons almal – ooms, tannies, niggies, nefies – het ten minste elke tweede jaar met Kersfees saamgekuier op die plaas. Almal het geweet wat in die ander se lewe aangaan. Ek verlang só na hierdie tye van net sáámwees. Sonder voorbehoud, sonder vooroordeel. Waar jy net jouself kon wees tussen die mense wat jou ken van jou geboortedag af. Geen agendas, net begrip en aanvaarding.

Ruben Gouws.

Ek sien in my gedagtes waar ons almal laataand in die sitkamer kuier – oom Jaco en oom Johann se koppe wat knik, oom Ruben en Reynhardt wat gesels. Ouma wat sit en brei of boek lees of blokraaisels invul tussendeur die gesels – Ouma het graag tot laatnag saam met ons gekuier. Ek onthou Tannie Linie se teemaak voor slaaptyd, tannie Lana se nighties, niggies en nefies wat flieks kyk in die TV-kamer of in oom Ruben se woonstel, my ouers se drie luie op die landlyn om te sê hulle is veilig terug in die dorp. Jak de Priester se CD wat saggies speel. Die trane loop steeds as ek Sally Williams Nougat van Jak de Priester hoor. Dit en Tussen Treine van Richard van der Westhuizen en Lochner de Kock is vir my sinoniem met Pinevale en oom Ruben.

Wanneer ons as familie nou bymekaar is, praat ons nooit oor wat daardie dag gebeur het nie. Ek wonder dikwels of die res van die familie ook beelde in hul koppe het? Of ons beelde ooreenstem? Of die werklikheid van daardie aand erger was as dit wat ek in my gedagtes sien? Ek wonder dikwels oor wat presies daar gebeur het. En as ek geweet het, sou dit dinge vir my beter maak? Of erger?

Ouma en oom Ruben het mooi, goeie lewens gelei. Hulle het maar, soos almal van ons, ook hul “geite” gehad, maar hulle het nooit iemand anders te na gekom nie. Hulle het werklik geglo in die goedheid van alle mense en het dus ook nooit in vrees gelewe nie.

Ek het lankal vrede gemaak met wat gebeur het. Ek aanvaar dat die moord op Ouma en oom Ruben ook ’n doel het – alhoewel ek steeds van tyd tot tyd vir God vra: Hóékom? Die enigste sinvolle antwoord vir my tot op hede is dat sulke traumatiese gebeure ons as Christene se geloof toets.

Dominee Deon het daardie Saterdagaand aan ons gesê dat God belowe Hy sal nooit sy kinders verlaat nie. Ek troos myself in die wete dat God die heeltyd tydens daardie angswekkende Saterdagaand by Ouma en Oom Ruben was – dat Hy hulle nie vir ’n sekonde alleen gelaat het nie. Daar waar hulle nou is, voel hulle geen pyn, geen angs. Net ewige vrede.

Dit is ons wat agterbly, wat verlang, wat hartseer raak, wat onthou…

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Piet

So hartseer. Les vir ons amal, moenie jou werknemers soos dier hanteer nie dan sal hulle nie soos diere op tree nie

Lorayne

My hart breek vir julle en soveel ander soos julle Hermien. . . Mag God julle versterk en vertroos, en mag daar vrede in jou hart kom.

Kokerboom

Dit bly ongelooflik hatseerr. Mag GOD se vrede jul troos

minniemuis

Sjoe hoe huil ek nou snot en trane saam jou…..ek is doodseker Ouma smile nou en se dis my witbroodjie daai♥

Die Goodwoodianer

Innige simpatie met julle. Die wonde word net wéér oopgekrap met die tik van die horlosie. Sulke wreedheid teenoor onskuldige, weerlose mense. Elke dag nuwe gevalle van onbenullige moorde en martelary. Gemeenskappe en families uitmekaargeskeur… vir wat?

So moeilik soos dit mag wees – ons moet aanhou Glo en Vertrou. En paraat wees ten alle tye teen die bose.