Dr. Conrad Steenkamp, uitvoerend hoof van die Afrikaanse Taalraad (ATR), skryf:
Die ATR verwelkom die robuuste debat verlede week in die parlement oor Erfenisdag en die rol van inheemse tale en kultuur in die Suid-Afrikaanse samelewing. Dit is verblydend dat Afrikaans asook ander inheemse tale op dié vlak beredeneer word, het die ATR in ʼn verklaring gesê.
Die voortdurende aanvalle op Afrikaans as taal het veral aftrek gekry, nadat Vuyisile Malomane, die ANC-LP, die EFF gekritiseer het omdat hulle tydens die sing van die volkslied gewoonlik gaan sit as Die Stem-gedeelte gesing word.
Afrikaans gaan egter om veel meer as Die Stem en die ATR beaam, onder meer, die stellings van Ganief Hendricks, Al Jama-ah-LP oor Afrikaans se bande met die Kaapse Moslemgemeenskap en die vroeë gebruik van Arabiese skrif vir die taal. Die meerderheid van die sprekers van die taal is nie wit nie.
Die populistiese politici wat die taal so graag as etniese slaansak gebruik, ignoreer egter willens wetens die diverse herkoms én toekoms van Afrikaans.
Hulle ignoreer ook die waarde wat miljoene eerste-, tweede- en derdetaalsprekers aan die taal heg. Hulle verdelende optrede weerspreek daarmee die doel van Erfenisdag, naamlik om die land se eenheid by wyse van ʼn inklusiewe diversiteit te vier. Dit sluit Afrikaans in, die derde grootste en mees diverse taal in die land.
Die regering moet ʼn leidende rol speel en ʼn voorbeeld stel om alle kulture en tale te omarm en om Suid-Afrikaners sodoende te verenig – wat tog die doel van Erfenisdag is. Die sentraliteit van Engels ten koste van die inheemse tale en kulture moet bevraagteken word. Eentaligheid van die staat en opvoedkundige instellings moet eenvoudig hokgeslaan word.
Meer as simboliese optrede is nodig om ons tale tot hul reg te laat kom.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
3 Kommentare
Daar is net een witmantaal in Suid Afrika – dit is Engels.
Snaaks hoe lief die ANC regime vir dié taal is.
Laat ek gaan sit vir die volkslied en net staan as ek die Stem sing…… ek sal al dieselfde dag voor ‘n regter wees.
Die stelling dat dit die regering is wat n leidende rol moet speel om alle kulture en tale te omarm en om alle Suid Afrikaners sodoende te verenig grens aan die absurde, aan wensdenkery. Hoe op dees aarde kan enige regdenkende Afrikaner verwag dat dit moet gebeur wanneer die regering n aanslag voer om die Afrikaner juis uit te sluit. Die onus om ingesluit te word berus dus op die Afrikaner self, maar wie onder leiding van die VF en die se frontorganisasies dan nou juis die aanslag om die Afrikaner uit te sluit, uitbuit vir isolasie by die VF… Lees meer »