Die ding van lappe

Mari Weber (Foto: Verskaf.)

Mari Weber van Tzaneen skryf:

Of jy nou ’n gewillige of onwillige huisvrou in hierdie dae is – jy het een ding agtergekom, ’n lap is ’n moet. Vir skottelgoed, werkoppervlakke, lastige oepsies, spieëls, meubels, stowe en nog ’n swetterjoel ander daaglikse herhalende dinge.

Ek weet dat ek my kinders grensloos irriteer omrede ek hou van ’n lap in my hand, of eerder, ’n skoon, nát lappie in my hand.

Nou kyk, met die jare het mens maar jou gunsteling tipe lappies beproef, en jy hou daarby. Die soort wat nie donse op die spieëls los nie, die best een wat koeldrankblertse tjop-tjop opsuig, ’n ander wat nie strepe op die kombuisoppervlak los nie, en so aan en so meer. ’n Lap vir elke geleentheid kan mens amper sê. Met die afsondering beland ek toe midde-in ’n paar kom-klaar-met-wat-jy-het-lappe.

Soos seker die meeste van ons, bevlieg ek lustig die skoonmaaktaak en bewerk my drie lappe dat hulle sing van lekkerkry. Sake loop mooi, tot so in die middel van week drie, toe begin hulle handdoek ingooi. Die kombuis-een konk eerste in, want hoe kry mens ’n sieslap skoon anders as met ’n paar druppels Jik in warm water?

Ek werk versigtiger met die ander twee – die naaste koswinkel hou nie lappe aan nie, en ek sien nie kans vir die groot virusblootstelling in die kruideniersaak by die winkelsentrum nie.

Tot ek vir die soveelste keer my laplaai ooptrek om weer vadoeke te ruil, en sien daar lê ’n paar haal-nie-die-paal-lappies heel onder, en dink: mens kyk nie in dié dae ’n gegewe lap in die bek nie.

Stoei-stoei bewerk ek die nuwelinge, en weet weer waarom hulle in die diepte bly lê het. Ja, ek weet mens kry van daai blou rolletjielap wat jy kan weggooi sonder slegvoel – my Australië-kind gebruik dit. Maar mens benodig ’n lap met oemf hier in Afrika. ’n Lap wat se skering en inslag kan hou, maand in en maand uit, en wat nie slymerig raak met die gebruik nie. Bo-aan vorentoe se kooplysie, dus, is lappe.

(Foto: Pixabay.)

Terloops, waarom gebruik mens jou ou vadoeke vir skroplappe? Dit lyk immer triestig op die draad. Onthou, ek kom uit ’n tyd wat ’n vrou se waarde amper aan die spierwit van haar vadoeke en die Glodina Black Label-babadoeke op die wasgoeddraad geken is.  En nee, niemand in die huis ruil ooit afdroogvadoeke nie, almal bly hulle gebruik al streep daar ’n blerts beet oor die een hoek. Nog ’n taak, soos die asbliksakke ruil en suikerpotte vul, wat blykbaar mý naam op het.

Die laaste ding van lappe: jul verbintenis met mekaar hou blerriewil nooit op nie. As jy die emmer vloerwaswater dankbaar uitskiet, trek die jiggielap saam deur die lug en plaps op die gras. Grootoog beskou jy dit – ag nee hel, dan trek jy maar weer jou plastiekhandskoene aan, tap die wasbak vol en seep daai grillerige lap in. Terwyl jy vryf en vryf, sê jou hart dankie vir die eenmaalperweek-huishulp. Want as jy Maandagmiddag van die skool af kom, hang hierdie einste jiggielap punt in die wind op die draad, skoon en reg vir volgende keer se gebruik.

Lappies, lappe, vadoeke – sonder julle kan ek nie, en ek wonder wie kan?

  • Weber werk by Hoërskool Merensky se bemarkingskantoor en ‘n vryskutskrywer vir verskeie publikasies.

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae