Die evangelie aan die armes

Argieffoto

Argieffoto

Deur Lana Hitge

Ongeveer 2 000 jaar gelede het twee volgelinge van Christus een middag drie uur tempel toe gegaan om te gaan bid. By die tempelpoort het ’n man, wat van sy geboorte af verlam was, gesit en vir die tempelgangers gevra vir geld. Hierdie twee manne het egter nie vir die verlamde man geld gegee nie. Hulle het nie eers by die verlamde man gaan sit en die evangelie met hom gedeel nie. En hulle het ook nie gereelde opvolgbesoeke aan hierdie verlamde man gebring om sy vertroue te wen sodat hulle die evangelie mettertyd met hom kon deel nie.

Nee, een van die ouens het bloot die verlamde man gevra om hulle in die oë te kyk. Hy het die verlamde man se hand geneem en vir hom die grootste geskenk gegee wat hy gehad het: “Geld het ek nie; maar wat ek het, gee ek vir jou: in die Naam van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop!” (Handelinge 3:6).

Was hierdie wonderwerk bloot net bedoel om God se krag aan die skare te wys? Was die verlamde man se vermoë om weer te kan loop Petrus se eindoel, of was daar meer?

Ek is oortuig dat hierdie wonderwerk ’n metafoor is vir hoe Christene die evangelie aan armes moet verkondig. Want sien, nadat Petrus hom aan die hand geneem het, was hy nie net in staat om te loop nie. Hy het nou ook die vermoë gehad om te kan werk vir ’n bestaan en dus het hy nie meer nodig gehad om in die tempelpoort te bedel nie. Hierdie man kon nou begin verstaan wat dit beteken om weer in staat te wees om te leef volgens God se oorspronklike skeppingsopdrag: “Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en dit op te pas” (Genesis 2:5). Nou het Petrus en Johannes ’n oop deur om aan hierdie (voorheen verlamde) man die goeie nuus te vertel dat Jesus Christus se sterwe en opstanding nie net was om hom van sy sondes te verlos nie, maar ook om hom te lei in ‘n proses van herstel na sy beeld.

Ek glo dat daar honderde mense vandag in ons land is wat “in die tempelpoort sit” omdat hulle as gevolg van verskillende redes “verlam” is en dus nie kan werk nie. Ek kan nie help om te wonder nie hoeveel keer ons as Christene die evangelie met hierdie mense deel, net om dan (onbewustelik) subtiel die boodskap aan hulle te gee dat hierdie vrymaking nie werklik vir hulle bedoel is nie, omdat ons hulle herhaaldelik in die “tempelpoort” besoek met ’n kospakkie in die hand, in plaas daarvan om ons hande na hulle uit te steek en om hulle op te help, omdat ons weet dat God almagtig is om dit wat hulle weerhou daarvan om God se skeppingsopdrag uit te voer te herstel.

Wat sal gebeur as ons besluit om die armes “in die tempelpoort” te vra om ons in die oë te kyk? Wat as ons ons hande na hulle uitsteek en hulle ophelp deur hulle aan te spoor om produkte te maak deur hulle Godgegewe talente te gebruik? Ons kan dan liewer die hulpbronne wat ons sou gebruik om aan hulle kospakkies te voorsien, gebruik om hierdie produkte by hulle te koop. Ek weet dat hierdie beginsel werk, want God het vir elke mens genoeg kreatiwiteit gegee om, as hy eers besef dat sy talente werklik waarde voor God het, hierdie talente te kan gebruik om te lewe en te werk tot eer van God.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Edward James Shawe Snr ·

Dit is ware woorde. God het ons almal tallente gegee om te gebruik. Ons byvoorbeeld. Ek,my voutjie en my seun wat geklassifiseer is met Marfan sindroom, werk daagliks in tuine. Sodoende plaas kos op die tafel en dit hou ons op ons aftrede ook aktief. Daarvoor dank ons God vir die geleentheid om selfonderhoudend te wees.

Elvira Burger ·

Briljant gestel. Die gebeure is verseker in die Skrif om ons leiding te gee en die skrywer het duidelik baie insig in die veld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.