Lesersbrief: Die Gelofte: Mijne broeders en medelandgenoten…

Van Rooy van den Berg skryf: 

Dit lyk of daar deesdae onder Afrikaners ’n nuwe waardering is vir die Gelofte wat Die Voortrekkers in 1838 voor die slag van Bloedrivier afgelê het. Duisende van daardie Voortrekkers se nasate (en ander Afrikaners wat hulle met daardie deel van ons geskiedenis identifiseer) het in die jare tot vandag toe weer en weer hierdie Gelofte afgelê en bevestig. ’n Pragtige getoonsette weergawe van die Gelofte, gesing deur bekende Afrikaanse kunstenaars, word vandag wyd gespeel en waardeer. Baie van die Gelofte-weergawes wat gebruik word begin met die woorde: “Hier staan ons…”

Dit is wel bekend dat Andries Pretorius (die kommandant) en Sarel Cilliers (die geestelike leier) van die kommando wat opgetrek het teen Dingaan, in hul denke en besinning oor die aflê van ’n gelofte, ooreengekom het dat die kommando ’n gelofte aan die Here sal aflê op die voorwaarde dat die hele kommando, almal, moet instem daartoe. Almal het toe wel ingestem en ooreengekom om die Gelofte af te lê. Hierdie kommando wat die Gelofte by Wasbank afgelê het en daarna elke aand tot by Bloedrivier, was eensgesind en verbonde aanmekaar. Dit word bevestig deur die Gelofte te begin met die woorde: “My broers en medelandgenote”.

Die verskeie weergawes van die Gelofte, bevestig hierdie verbondenheid. Jan Bantjes het tydens die optrek teen Dingaan ’n joernaal bygehou. Hy vertel dat “…de Hoofd-Kommandant degenen die de Godsdienst zoude verrigten, by malkander komen, en verzocht hen, met de gemeente te spreken dat zy allen volyverig in geest en in waarheid, tot God mogten bidden, om zyne hulp en bystand…” Bantjes noem hierdie strafkommando ’n gemeente wat almal saam in gees en waarheid is.

Andries Pretorius verwys ook sewe dae ná die slag van Bloedrivier in ’n brief aan De Zuid-Afrikaan na hul eensgesindheid en ooreenkoms met mekaar wanneer hy skryf “… dat wy alhier onder elkander besloten hebben, om den dag onzer overwinning…” Hulle was ’n eenheid wat saam besluit het.

Sarel Cilliers se weergawe van die Gelofte begin met die woorde: “Mijne broeders en medelandgenoten, hier staan wij thans…”

Die Gelofte wat vandag algemeen gebruik word, is ‘n rekonstruksie van die weergawe van Sarel Cilliers. Hierdie rekonstruksie is deur G.B.A. Gerdener in sy biografie oor Sarel Cilliers gedoen en later deur die digter W.E.G. Louw in Afrikaans vertaal, en word al baie jare op Geloftedag weer deur Afrikaners afgelê en bevestig:

“My broers en medelandgenote,
Hier staan ons voor die heilige God van hemel en aarde om ‘n gelofte aan Hom te doen…”

Sarel Cilliers se “My broers” sluit baie nou aan by Bantjes wat praat van die gemeente, en die term “Broers” dui op hierdie Voortrekkers se ankers in die Christendom en bevestiging dat hulle nie net geloofsgenote is nie, maar dat hulle mekaar vertrou soos broers. Dit bevestig ook iets van vroeër geslagte Afrikaners se nabyheid aan mekaar – hulle beskou mekaar in elk geval as familie, as broers en susters, ooms en tannies, neefs en niggies…

Met die “medelandgenote” doen Cilliers weg met die term Immigrante-Boeren waarmee die Voortrekkers partykeer na hulself verwys het as mense wat getrek (migreer) het uit die Kaapkolonie. Hulle sien hulself reeds as bewerkers en bewoners van die land, selfs waar hulle daardie reg op die slagveld moet gaan verdedig.

Verder is dit interessant dat volgens Cilliers se weergawe (en basies ondersteun deur Bantjes en Pretorius) word die Here nie hier aangespreek nie. Daar word oor die Lewende God in die derde persoon gepraat, amper soos Ps. 23 begin: “Die Here is my herder…” Diegene wat die Gelofte aflê doen hierdie belofte aan die Here terwyl hulle mekaar aanspreek. Terwyl hulle ’n gelofte aan die Here doen, gaan hulle ook ’n verbond met mekaar aan:

“My broers en medelandgenote,

Hier staan ons voor die heilige God van hemel en aarde om ‘n gelofte aan Hom te doen, dat as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons dié dag en datum elke jaar as ‘n dankdag, soos ‘n Sabbat, sal deurbring, en dat ons ‘n huis tot sy eer sal oprig, waar dit Hom ook al behaag, en dat ons aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte, want die eer van sy naam sal verheerlik word, deur die roem en die eer van oorwinning aan Hom te gee.”

Die aanhef “My broers en medelandgenote” is ’n onlosmaaklike deel van die Gelofte. Waar ons as Afrikaners voor nuwe uitdagings staan in Suid-Afrika, gaan ons op 16 Desember weer landwyd Geloftefees vier, en die Gelofte weer aflê. Ons bely weer daardeur ons totale afhanklikheid voor die heilige God van hemel en aarde, maar terselfdertyd bevestig ons die band tussen ons Afrikaners, en verbind ons ons weer eens in vertroue aan mekaar as broers en susters, as families, as medelandgenote, as volk.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

KapteinHond ·

Ek glo dit sal beter in die land gaan as ons die geloftes wat ons voorouers aan Vader gemaak het onderhou

Ratel ·

Daar is vir my drie pertinente probleme met die gelofte:
1. Dat die mense met God die “as Jy dit doen sal ons dat doen” speletjie gespeel het.
2. Dat dit daaroor gegaan het om ander mense dood te kan maak. “Die vyand in ons hand gee” klink amper poëties maar dit het oor die doodmaak van mense gegaan.
3. Dat ek, as trotse Afrikaner en Suid-Afrikaner, vertel word dat dit beter met die land sal gaan as ek, wat die gelofte geheel en al nie ondersteun nie, dit tog net sal ondersteun.

Kobus ·

(1) Die Voortrekkers wat die Gelofte afgelê het het GEEN speletjie gespeel nie!
(2) Vir die wat die geskiedenis ken, sal weet die eerste moorde het alreeds in Jan van Riebeeck se tyd voorgekom.
Nadat Piet Retief vreedsaam vir onderhandelinge gegaan het om grond te bekom, was hy en sy 65 manne deur Dingaan se Impi’s vermoor.
Die moorde op die Voortrekkers was voorgesit en Dingaan se krygers het die nag van 17 Februarie 1838, die Voortrekkers aangeval langs die Bloukransrivier en 185 kinders, 56 vroue en 40 mans vermoor.
Die Voortrekkers se Bloedrivier Gelofte het nie daaroor gegaan om dood te maak nie, dit het gegaan om beskerm te word teen die oormag en om nie uitgewis te word nie, asook om ‘n oorwinning te besorg aan die Voortrekkers om die moordenaars te oorwin.
(3) Die gelofte het niks te doen of dit beter of slegter met die land sal gaan nie, dit is ‘n Gelofte aan God wat eerbiedig moet word.

Ratel ·

Dankie Kobus.
1. Ek is net glad nie in die spasie van “bargain” met God nie. Ek dink persoonlik nie ons is in ‘n posisie om met Hom / Haar te onderhandel wat ‘n uitkoms soos Bloedrivier of enige ander uitkomste betref nie. Doen U hierdie dan onderneem ek / ons daardie… Die woord “speletjie” was bloot my poging om die beginsel te verduidelik.
2. Die Voortrekkers was vry om te besluit of hulle “beskerm” wou word deur wapens op te neem. Ek staan egter by punt 1.
3. Ek stem saam met jou punt “Die gelofte het niks te doen of dit beter of slegter met die land sal gaan nie”. Ek stem egter nie saam met die idee dat mense ‘n gelofte met God aangaan wat my bind nie.

Pieter ·

Gelofte is enige kans om die ANC hool te oorleef, hul wanbestuur gaan spoedig lei tot anargie. God sal ons red, alleen dié wat op Hom vertrou en geen geskil met sy ware naaste het nie.

“en dat ons ‘n huis tot sy eer sal oprig”, waar is die huis tot Sy eer? Niemand praat daarvan nie. Voortrekkermonument is ‘n sontempel, nie tot eer van ‘n jaloerse God nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.