Die gesig van geweld en mishandeling

mishandeling

Foto: Stefano Pollio/Unsplash.com

KH Booise  van die Paarl skryf:

In haar soms starende en uitdrukkinglose oë, sien ek gebrokenheid en uitsigloosheid. In haar tenger liggaam en arms wat soms slap langs haar sye hang, sien ek hooploosheid en moedeloosheid. In haar uitgestrekte hande sien ek ’n gevangene en waar sy soms vlugtend hardloop, sien ek ’n ontwortelde mens.

Dít is die beeld van baie vroue, die beeld van geweld en mishandeling.

Dieselfde vrou is ’n beeldhouer van nasiebou en die sleutel tot generasies wat nog sal kom. Dis dieselfde vrou wat hartstoglik bemin was, wat nou hartstogtelik baklei vir erkenning en bestaansreg, wat beskerming geniet binne een van die mees toonaangewende Grondwette ter wêreld, maar wat nou uitgelewer is aan die hand van een wat homself sien as superieur bo die vrou …

Ja, ék, as man.

’n Vrou sien op na ons as die gesagsfiguur, die selfopofferende een wat sorg vir brood en botter op die tafel. Die een wat selfverantwoordelikheid demonstreer om medeverantwoordelikheid by ons seuns te kweek. Ja. die een wat beheersd optree in konfliksituasies om kinders se konflik- en probleemoplossingsvaardighede te ontwikkel en te verbeter.

Dis ons as mans wat die helde is in die oë van ons kinders – want ons is vreesloos, ons toon waagmoed, ons is planberamers, ons fouteer en erken en ons is meesterbouers van ons kinders se karakter.

Maar wat is die teendeel van wat ’n vrou en ’n kind in ons as mans sien?

Met die mond waaruit liefde en wysheid kom, verkleineer en verneder ons. Met die hand wat teer en sorgsaam moet wees, pers ons die laaste asem uit die liggaam. Met die arm wat teer en liefdevol moet omvou, breek ek die nek wat ek eenmaal gekus en liefkoos het.

Met die knie waarop ’n kind veilig en beskermend moet sit, word ’n tenger liggaampie se ingewande saamgepers soos ’n wingerdkorrel wat gepars word. En die koppie, waaroor daar eens so liefderyk gestreel was, word slegs ’n skedel – gebreek deur ’n hand van ʼn man. En, in die starende oë van liefde en hoop, verbleek ’n gesiggie van ’n kind wat net kind wou wees.

Om man te wees te midde van geweld en mishandeling, vra moed en durf.

Dit vra van ’n man om sy mond te gebruik en hom uit te spreek teen geweld en mishandeling. Dit vra ’n hand om ’n ander hand te neem en te sê, ek is jammer, laat ons saam die pad van vergifnis loop.

Dit vra ’n arm om te omarm en te sê, ek toon begrip. Dit vra ’n bors om deernis te toon, ’n voet om ’n standpunt te demonstreer, ’n hand om hulp aan te bied. Dit vra ’n oog om die pyn en realiteit raak te sien. Maar, veral, vra dit ’n oor om die noodkreet van ’n vrou en ’n kind te hoor.

Geweld vra nie ’n kleur nie, dit maak ons soms kleurblind.

Wat geweld vra is: Dit moet stop by my!

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

John ·

… en hoekom? Waar is jou Bybelse opdragte… Sonder respek vir die Vader en Sy wette kan ons, ons blou praat en grootse toesprake hou. Goddeloosheid regeer. Sondae is mense tyd, o, en vroueregte tyd, terwyl die kinders sonder toesig alleen bly. Wit en swart is die kluts kwyt.

Jerry ·

Dit is nou n skrywe so uit die hart uit. Ek sien wat jy sien, die noodkrete van die kwesbaarstes uit n siek samelewing met n geweldadige kultuur, ek sien ook n goddelose “failed state” en die wil van goddelose massas, ek sien dat die goddeloses se goddeloosheid en boosheid hulle straf en dat die goddeloses deur hulle eie onheil verswelg word, ek sien ook dat die goddeloses se boosheid niemand ontsien nie en alles en almal met onheil verswelg, ek sien dat diegene wat op vliegtuie wat kom land klim en vlug die gelukkiges is om te ontsnap van n boosheid wat vir geslagte lank onheil oor die land gaan bring, ek sien dat die boosheid die water so gaan besoedel dat geen mens of dier die water sal kan drink nie en dat selfs plante nie sal groei nie, ek sien dat die boosheid hierdie siek samelewing vir geslagte lank gaan straf voordat die onheil wat hulle deur hulle goddeloosheid oor hulself gebring het, hulle sal vernietig! Diegene wie goed doen se goedheid volg hulle en beskerm hulle en laat hulle toe om op die vliegtuie te klim en vat hulle weg van die boosheid, maar die wat kwaad doen se kwaad volg hulle, die kwaad hou hulle vas en vernietig hulle!

Andre ·

Wat het geword van die opvoeding van kinders deur hul ouers. Die skole kan dit nie doen nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.