Lesersbrief: Die Kerkstraat-bom – 37 jaar later

Johan du Toit Böning skryf: 

Bron van foto onbekend.

Ek was op 20 Mei 1983 in die polisiekollege in Pretoria toe ons net voor 16:30 ʼn geweldige knal gehoor het. Ons het nie onmiddellik geweet wat gebeur het nie. Binne ’n kort bestek is ons ingelig dat daar ‘n bom in Kerkstraat ontplof het en dat ons moet kom help.

Met ons aankoms op die toneel in Kerkstraat by ’n kafee voor die Nedbank-plein, het ʼn skokkende gesig ons begroet. Dié hoë gebou het hoofsaaklik burgerlikes gehuisves, maar was ook, onder meer die hoofkwartier van die Suid-Afrikaanse Lugmag.

Ek onthou vandag nog die aaklige reuk van verbrande mensvleis… Ek sien nog die stukke mensvleis wat in die bome daar naby gehang het, ’n uitgebrande voertuigwrak, lyke, gesmelte teer wat dui op die intense hitte van die ontploffing en die duisende glasskerwe, baie daarvan bebloed, wat die toneel besaai het. Ek onthou nog hoe van die glasskerwe in palmbome ingesny het, sommige van die jonger palmbome byna deurgesny. Mens kan jou skaars die spoed en geweld van die glasskerwe wat rondgevlieg het, voorstel.

Ek besef vandag dat ʼn bom een van die lafhartigste maniere is om mense te vermoor – bomplanters het geen ontsag vir enigeen se lewe nie en jou teiken is enige iemand, ongeag wie dit is, juis omdat jy geen beheer het oor wie daar is as die bom ontplof nie.

Ek onthou die professionele optrede van die polisie, soos die streng afsperring en beveiliging van die toneel, die optrede van uiters bekwame senior polisiebestuur en deskundiges wat die toneel vir bewyse gefynkam het en die speurwerk en intelligensie-insameling wat onmiddellik van stapel gestuur is.

Ek het later verneem dat die bom, van ongeveer 40 kg plofstof, bestem was om teen 16:30 te ontplof, aangesien dit huis-toe-gaan-tyd was en die meeste mense dan op straat sou wees. Genadiglik het die bom ʼn paar minute voor die tyd afgegaan – ek het later verneem dit was weens foute wat die twee bomplanters met die afstandbeheerde toestel gemaak het. Beide die bomplanters, Ezekiel Maseko en Freddie Skosana, was onder die 19 persone wat dié dag gesterf het. Die lewensverlies sou waarskynlik meer as dubbeld soveel gewees het indien die bom op die bestemde tyd afgegaan het.

Nou, byna vier dekades later, onthou ek (benewens die hartseer en trauma) veral my eerste indrukke met verwysing na die professionele gedrag en uiters bekwame vermoëns van die destydse polisiemag. Dit het my gemotiveer om myself beter te bekwaam om ʼn professionele polisieoffisier te wees. Ek het gesien hoe belangrik dit is om ʼn toneel te beveiliging en af te sper sodat deskundiges hul werk veilig en ongesteurd kan doen. By bomontploffings is daar altyd die moontlikheid van verdere ploftoestelle. Om dus na so ’n toneel as ʼn polisielid te gaan, is lewensgevaarlik, maar ons beskerm en ons dien, dit is wat die polisie moet doen.

As ʼn jong polisielid destyds was hierdie my eerste en erg traumatiese blootstelling aan terreur, moord en doodslag. Daarna het honderde tonele gevolg, waaronder ander bomontploffings, handgranaataanvalle, skietvoorvalle, grusame moorde tydens onluste (soos halssnoermoorde) en plaasmoorde.

Ongelukkig maak dit jou emosioneel afgestomp as ʼn persoonlike verdedigingsmaatreël, maar elke toneel van hierdie omvang laat ʼn letsel wat jou meer beïnvloed as wat jy aanvanklik gedink het.

Ons is nou in ʼn nuwe bedeling waar sekere dele van die geskiedenis op die agtergrond geskuif word, dus waarom moet die Kerkstraat-bomaanval gedenk word?

Die hartseer is dat die ANC nog nooit ʼn openbare verskoning gegee het vir hierdie moorde nie, hoewel hulle kort ná die Kerkstraat-bom verantwoordelikheid aanvaar het. Die plasing van die bom was goedgekeur deur die ANC-topstruktuur, waaronder OR Tambo (na wie, ironies genoeg, die grootste lughawe in ons mooi land vernoem is), ʼn persoon wat verantwoordelik is vir (in hierdie geval) 17 onskuldige slagoffers wat blatant vermoor is en 217 mense wat ernstig beseer was.

Die ANC beroep hulle op internasionale humanitêre reg, hulle beskuldig die vorige regering van oorlogsmisdade, maar hulle versuim om hand in eie boesem te steek.

Die ANC het voor die Waarheids-en-Versoeningskommissie aangevoer dat dit ʼn militêre teiken was en op grond daarvan is geen vervolging teen hierdie moordenaars wat die opdragte gegee het, ingestel nie. Die feit is dat die ANC se teiken die besige Kerkstraat was waar hulle doelbewus die bom geplant het voor ʼn kafee om met huis-toe-gaan-tyd soveel as moontlik burgerlikes te kon vermoor. Die teiken was nie spesifiek nie, want jy het nie beheer nie, jy besef dat baie onskuldige mense van alle rasse kan sterf, maar jy staan traak-my-nie-agtig daarteenoor en gaan voort om soveel as moontlik onskuldige slagoffers hierdeur te teiken.

Die Kerkstraat-bom was bloot ʼn lafhartige moord en poging tot moord op onskuldige burgerlikes. Dit was ʼn gruwelike misdaad waarmee die ANC skandalig weggekom het.

Hoekom moet ons dan hierdie dag herdenk? Wel, om dit na te laat, om dit te vergeet, kan beskou word as stilswyende aanvaarding…

Ons kan nooit hierdie lafhartige moorde aanvaar nie, dit skree ten hemele.

 

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Megan Swart ·

Dagsê Nadia
Dit is inderdaad 37 jaar. Ons vra om verskoning vir die vingerfout. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

sterk soos n beer ·

ja dit was onnodig gewees om die bom te laat ontplof en die anc het nog nie eens omverskonings gevra nie.

koos10 ·

Nie net daardie bom nie, alle bomme. Ek het ‘n laerskool vriend in die Amanzimtoti bom ontploffing verloor. Hy en sy ouers was van Pretoria en het gaan vakansie hou. Probeer jy bietjie ‘n hele laerskool troos. Dis was in 1983 en ek dink nou nog daar aan.

sterk soos n beer ·

in durban was daar junie 1986 ook in woonstelblok ontplof gewees

Joggie ·

Is dit nie hartseer dat daai mense nou ons land regeer nie?

MakersMark ·

Ongelukkig word die lafaards gemors wat die bomme geplant het as helde opgehemel.

Raadslid ·

…. en die liberaliste skreeu ” Viva Madiba”.

Hoofseuns haal Mandela aanhalings aan.

Aanhalings wat Mandela in elk geval net van gelees het en sonder erkenning links en regs gebruik het.

Behalwe vir die organisering met die plant van bomme was Nelson Mandela niks anders as ‘n terroris nie.

Michael 1 ·

Ek wonder hoeveel mense weet wie die ikoon is wat veragot word wat die opdrag gegee het vir die kerkstraat bom

Alexz ·

Ek het die Sterland bom met sowat 3minute vrygespring toe ek daardie aand na die hoekkafee geloop het vir ñ wegneem ete. Die gebeure van daardie aand spook tot vandag toe by my en ek is al 60jr oud.

Henk ·

Ek was n vakleerling by die SAS en het die ontploffing gehoor tot by ons werkswinkels in Silverton .

Barbara ·

Ja sulke dade word nie veel oor gepraat nie, die ANC praat en leer ons kinders net oor apartheid maar niks oor hul dade nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.