Lesersbrief: Die leer van transformasie

hugo-kruger-frankryk

Hügo Krüger. Foto: Verskaf.

Hügo Krüger van Frankryk skryf:

Die Amerikaanse skrywer Thomas Sowell het in sy boek Intelectuals and Race ʼn baie goeie verwantskap getrek tussen die tendense van die destydse eugenetici aan die begin van die vorige eeu en vandag se multikulturaliste in onder meer Amerika. Hy lig uit dat sterk idees verantwoordelik was vir die onderdrukking van swart mense in Amerika, die Jode in Europa en ander groepe elders. Nou ja, Suid-Afrika is natuurlik nie afgesonder van dié verskynsels nie.

Vandag kan jy met uitsondering géén intellektueel by ʼn Suid-Afrikaanse instelling kry wat nié transformasie probeer goedpraat nie. Dit sluit grondwetkenners, joernaliste en professore in. Diegene wat kritiseer word uit die samelewing verwerp en kry nie naastenby genoeg publisiteit in die media nie. Inteendeel – dit wil voorkom asof transformasie eintlik ʼn beleid is wat intellektueel geskape is, net soos die eugenetiese  ideologie voor 1945, of die kulturele rassisme in Suid-Afrika tydens die tweede kryg en 1994.

Laat ons nie vergeet dat Madison Grant se boek The Passing of the Great Race die enigste Engelse boek in Hitler se besit was nie, of dat Verwoerd in ʼn stadium as ʼn groot denker beskou is nie. Vandag word hulle idees, met reg, as rassisties of agterlik beskou – maar dit met groot ironie.

Ons aanvaar dit moeilik, maar politici was nog altyd produkte van die ideologiese tydsgees waarin hulle leef. Die werk van die intellektuele was nog altyd om hul instellings se beleide te regverdig en só word industrieë vir hul idees uitgebrei. Transformasie is in hierdie geval geen uitsondering nie.

In Suid-Afrika word morele argumente, onder meer die regstelling van apartheid, gebruik om die ANC se transformasiebeleid te regverdig, en die DA het ook onlangs op hierdie perdjie begin klouter. Die grondwet word aangehaal asof dit ʼn ad infinitum-bron van moraliteit is en die joernaliste gaan krap in die verlede om die huidige bestel aan te moedig. Nogeens word wit skuld  bevorder in die bemarking van idees, en dubbele standaarde maar net aanvaar. Stilbly is mos maklik!

Die transformasiemark word verder verskerp deur enige meningsverskil te verontmenslik. Dit is reeds heilig verklaar. Is dit nie nou ironies nie, aangesien skole nie meer slegs een godsdiens mag bevorder nie?

Transformasie vereis geen bewyse nie omdat dit ʼn staatsgeloof geword het, en die skole en universiteite dien as niks meer as indoktrinasiesentrums nie. Natuurlik is hierdie fariseërs en skrifgeleerdes altyd vrygestel van die kritiek wat hulle vir die ongetransformeerdes gee, want dis hulle wat mos bekwaam genoeg is om vir ons ou oningeligtes voor te skryf wat en hoe ons mag dink.

Die hartseer is natuurlik dat alle ideologiese doktrines almal deur realiteite vernietig word en dat samelewings vir jare daarna nog skade kan lei. Die eugeniste se rasegtheid is deur die Tweede Wêreldoorlog verwerp, die kommuniste deur hul armoede en massamoorde,  en die rassisme van apartheid het Afrikanerseuns deur ʼn bosoorlog saam met hom gevat.

Dit laat ’n mens wonder watter offergawe ons nie nóg vir transformasie sal gee nie?

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

alwyn burger ·

Al transformasie wat natuurlik is, is dit wat die produk van ñ evolusionêre proses is. Transformasie hier in Suid-Afrika is onnatuurlik–iets wat met spoed moet geskied. Hier is dit ñ politieke proses wat hoofsaaklik “verslegting”tot gevolg het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.