Lesersbrief: Die maklike pad

Foto: @denyszhylin/Unsplash.com

Anoniem van George skryf:

“Julle kies die maklike pad”. Dis woorde wat deesdae gereeld oor ons pad kom en as ek eerlik is, is dit woorde wat ek self menigmale geuiter het.

Desember 2017 sit ek en my vriende om ons kampvuur met Stilbaai se golwe wat neffens ons breek. Vir die eerste keer in ʼn lang tyd is ons opgewonde oor ons land. Cyril Ramaphosa het pas die ANC-president geword. Daar is hoop en ons vier dertigjariges klink ʼn glasie met plegtige beloftes dat ons nooit ons land sal versaak nie. Ons liefde vir Afrikaans, sonskyn en ons huise is groter as enige krisis.

Hoe naïef was ons nie?

Spring na Augustus 2018 en ek is moeg. Moeg navorsing gedoen, moeg om wakker te lê aand ná aand om deur die visum-voorwaardes in my kop te sif, moeg om woonbuurte op Google Earth te bekyk, om die skole deeglik na te vors.

My gevoelens ry wipplank. Die een oomblik spring ek op en af van opgewondenheid, die volgende vloei die trane. Die bekommernis oor my weduwee-ma wat ek moet agterlaat, die onbekende voor en die ontwrigting van my kinders lê swaar op my hart.

Hoe mis ek nie daai vrou in Stilbaai nie. Die vrou wat teruggekyk het in die ablusieblok se spieël met ʼn vonkel in haar oë, vol vertroue dat ons land uiteindelik op die herstelpad is. Daardie vrou is dood. Sy is nek omgedraai deur rassisme, misdaad en hulpeloosheid. Daar is geen hoop meer nie, die vonkel is vervang met vrees. Nou is ons op pad landuit.

Boereverraaiers, vlugtelinge, bangbroeke, noem ons wat jy wil, dit is in elk geval etikette wat ons self om ons nekke hang. Breekpunt is bereik, daar is nie meer ʼn ander keuse nie. Ek wil my kinders in ʼn land grootmaak waar hulle nie gehaat word omdat hulle wit is nie, waar daar nie openlik aanmoediging is om van hul wit velletjies tuinkompos te maak nie. Ek wil in ʼn land bly waar ek kan gaan bad sonder om my alarm te stel en my veiligheidshek te sluit. Ek wil iewers bly waar elke geluid my nie laat ys nie. Ek wil die sand op my Afrika-skoene afskud en ʼn nuwe holte vir my kaalvoet vind.

Dinge het in die laaste agt maande so verander. Agt maande was al wat dit gevat het om ons psiges te breek. Die eens “maklike pad” voel skielik soos die enigste pad en ek het geleer dat dié pad allesbehalwe maklik is. My hart is aan skerwe vir alles wat ons gaan verloor, vir my ma wat haar kleinkinders dalk een keer elke twee jaar gaan sien, vir my taal wat tussen die Engels gaan verdwaal. Ek huil vir my mense, vir my kinders wat weggeskeur word van alles wat hulle ken, ek huil vir my Afrikanerbroers en -susters wat geen ander heenkome het nie. Ek huil vir elke kind wat moet leer om ʼn wapen te gebruik. Ek huil vir elke slagoffer van die wrede misdade wat deesdae ons land besoedel.

Vir nou is die enigste woord wat by my opkom, jammer. Ek is so jammer dat dít is hoe ons land geword het. Jammer dat ons en ons kindertjies gestraf word vir dinge waarmee ons niks te doen gehad nie. Ek is jammer dat die regering ʼn blinde oog draai en voorgee asof ons rassistiese doemprofete is. Meer as alles, is ek jammer vir my mamma. Ek belowe, as ons kon bly, sou ons. As ons gedink het daar is hoop, het ons nie gepak nie. As ons gedink het iets sou verander, selfs ietsie kleins, sou ons dit nie eers oorweeg het nie.

Ek is jammer, so jammer.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

41 Kommentare

Ek en Katkind ·

Voel julle hartseer, maar my hart is soos die mense op die Titanic. It will go on… Ek is te lief vir my land. Dis MYNE EN JOUNE en ons sal dit terugkry.

Christo Meintjes ·

Moenie jammer voel of wees nie. Jy neem die regte besluit en doen die regte ding. Ek myself wil ook nie meer deel wees van hierdie vals en vrot Suid Afrika wat ons nou huidiglik beleef en nog in die toekoms gaan beleef nie. Ongelukkig het ek nie genoeg geld nie en is oppad na aftree ouderdom wat dit nie vir my en my geliefdes moontlik maak om die land te verlaat nie. Mag God ons genadig wees,want ek is so seker dat slegte dinge vir ons as Suid Afrikaners oppad is met die ANC wat aan bewind is en aan bewind gaan bly na die 2019 verkiesing wat besaai is met die meerderheid korruptes wat net aan hulle sakke dink en nie aan Suid Afrika en ‘n voorspeodige toekoems nie . Helaas ons enigste voorspoedige toekoms is die Ewige Koningkryk wat Jesus gaan kom oprig met Sy terugkeer waar die ewig lewe met ewige vrede en liefde sal heers. Al waarvoor ek kan jammer sê is dat ek so ‘n negatiewe boodskaap aan almal oordra wat maroela media se artikels en hierdie pos gaan lees in plaas van ‘n baie meer positiewe boodskap wat Jesus sou wou hê ons elke dag aan almal moet oordra. Ek is jammer ek sien al die negatiewe raak in Suid Afrika,maar dit is die realiteit.

Dankie Maroela ·

NEE MAROELA moet dit plaas .. duisende mense vlug landuit, .. hierdie pragtige mens het dit net verwoord .. as jy vir GOEIE nuus soek, moet jy maar kerk toe gaan Sondag … ons gun dit almal .. maar ons KANNIE meer ons kop wegdraai van die REALITEIT nie . DANKIE MAROELA MEDIA dat jy hierdie SEER in ‘n jong vrou se hart ook uitdrukking aan kan gee .. DANKIE want almal voel so, en hulle voel soos verraaiers, maar eintlik wil hulle net weer VEILIG leef ..

Nika ·

Anoniem… ek dink elkeen van ons voel soos jy. Jy is nie die enigste een wat sak en pak wil weg kom van die situasie af nie, mense wat kan vlug is gelukkig en geseënd om dit te kan doen. Hier is baie van ons wat agter moet bly want dit is nie so maklik vir ons om oor te gaan nie. Mag God die genadig wees en bystaan wat agterbly en mag Hy saam julle reis na jul nuwe bestemming.

Petrus ·

Baie dankie dat jy ook my hart so mooi saam met joune kon vasvang. Ek huil vandag vir my en vir jou.

Chicken ·

Dit is hoe meeste van ons voel, en gelukkig is ouderdom nog aan julle kant. Ons wat ouer is se uitdagings is groter om te emigreer. Ons het darem nie meer klein kinders nie, maar vrees ook vir ons eie lewens soos ons ouer raak, en ook vir die van ons volwasse kinders.. BAIE STERKTE< en laat die mense julle noem wat julle wil . weet net julle doen dit vir 'n BETER lewe, julle het nie nodig om iets aan iemand anders te verduidelik nie. Dit gaan NIE hier beter gaan nie, uit desperaatheid kyk ons ook maar na enige land wat persone bo 50 vat .. sterkte met julle emigrasie. .. as ons die kans kry, is ons ook weg …

Basson ·

Voorspoed, jy doen die regte ding. Geen rede om verskonings te maak!
Ek ja, jy is reg – minderhede se toekoms is al klaar in die cul-de-sac, oppad na die doodloop. AL die tekens is daar van die tirannie waarin ons ons bevind. Inteendeel word dit hardop gese ook, maar ons nasie bly naief. Ek dink soms ons het ‘n ‘self-saboterings/vernieting’ geen wat ons bewus van moet wees, en moet bestuur.
(My twee kinders is ook oppad na ‘n nuwe toekoms – ons wit afrikaanse minderheid betaal ‘n baie duur prys itv ‘familie-verbrokkeling’, nasate met wie ons geen verhouding gaan he ens. Maar troos jou daaraan, ek sien dit baie soos die Hugenote moes gevoel het, so dalk maar tyd om nuwe wortels te gaan groei erens. )

marco polo ·

Jy gaan nog baie huil en dink aan al die lekker wat jy moes agterlaat, die vriende en familie, en die begrafnisse wat jy nie kan bywoon nie. Maar lees net nou en dan die nuus uit SA, dan sal jy onthou waarom jy die pad gevat. Probeer inskakel by jou nuwe omgewing en kry iets wat lekker is om te doen. Ek voel jou pyn en wil so graag weer terugkeer na ‘n SA wat werk en waar mense gerespekteer word vir wat hulle is, nie hul velkleur nie, maar ek is bevrees dis net ‘n droom. Intussen leef ek maar met die herinnering van hoe dit was en verlang na my mense. En biltong. Beste wense, jy neem die regte besluit, die ou, werkende SA is nou net geskiedenis. Groete uit China

Rasper ·

Die skrywe kon wragtig ek gewees het. Die brief verwoord presies dit wat ek en my vrou deurgaan. Ons het gesoek na buitelandse oplossings, terwyl ons ook gehoop het vir iets meer as “kulturele selfbeskikking” of “wiggies en teenwiggies”. Ek is steeds trots Afriforum lid, maar ons soek meer as dit. Vanoggend toe lees ek op United Liberty Alliance se webblad ‘n werkbare oplossing van hoe om die Kaap af te stig. My verstand sê dit gaan nie so maklik wees nie. Maar dit het dadelik hoop gegee. Iets waaraan ek en die skrywer van hierdie mooi, maar hartseer, artikel kan vashou. Iets waarvoor ons kan werk. Ek weet nie wie lees hierdie kommentare nie, maar as daar rolspelers is, asb., daar gaan baie meer mense oorsee gaan, as daar nie iets meer op die tafel kom as kulturele vryheid nie.

Casper Labuschagne ·

Nagenoeg twee tot drie miljoen wit mense sal nie kwalifiseer om land uit te gaan nie. Tensy SA kan omdraai op die pad waar ons nou heen gaan, lê daar groot probleme voor en wat in Zimbabwe of Venezuela gebeur het, is nie vergesogte moontlikhede nie. Diegene wat hier vasgevang sal wees, sal verseker die hulp en ondersteuning van miljoene uitgewekenes in die buiteland nodig hê.

John ·

… en George is so ‘n lekker plek… Een slag se betogings en almal wil vlug. Bloudruppelwater en skoon lug. Soveel twyfel beteken net een ding: Moenie. As ‘n man of vrou nagte wakker le of hy/sy die regte persoon as lewensmaat kies, los uit. Ouers is beslis besig om hul kinders se toekoms te verwoes deur hul eie vrese oor te dra. ‘n Dokter wat gedurende die groot pes besluit het om nie saam met sy familie te vlug nie, maar om gelowig en versigtig vas te byt waar hy is, was die enigste wat oorleef het om die gruwelike verhaal te vertel. Ek was in die buiteland en die ergste wat mens daar kan tref is onoorkomelike heimwee… Dis meer vernietigend as ‘n bom… dis ‘n stadiger dood as oudword en pynliker as ‘n lem deur jou hart. Jy wil nie gaan nie. Moenie!!

CG ·

John. Hierdie is die mees insiggewende kommentaar wat ek in ‘n baie lang tyd gelees het! Dankie hiervoor. Ek het dit gelukkig nog nie self beleef nie, maar weet dit dat vir my ook sal geld. Ek sterf liewer hier geweldadig, as om deur heimwee weg te kwyn… Hoop jou insig word ter harte geneem.

Kaspaas ·

Ek weet waarvan jy praat John. Ek ken George, dis pragtig. Ek het ook lank in Engeland gewerk, lank terug toe dit nog nie so hier gegaan het soos nou nie maar die tekens al daar was. Daar kon ek dit kwalik langer as drie maande uithou voordat ek eers weer moes kom asem skep in SA. Die verskil, op baie vlakke, tussen SA (en Europa) was vir my net te groot. Plekke soos Sjina en Australie ken ek nie.
Maar dan is daar dele van die VSA waar die verskil nie so groot is nie .Die mense is oor die algemeen soos ons gewoond is,en so ook die omgewing. Ek sou aanbeveel dat mense dit in ag moet neem voordat hulle besluit om buiteland toe te verhuis. Want om in die buieland te sit en terug aanmekaar terug te verlang is ook nie juis die oplossing nie. En natuurlik het almal nie dieselfde voorkeure nie, maar prober eers bepaal of jy darem n redelike kans het (en dit is moeilik!) om aan te pas voordat jy hierdie erg ontwrigtende saak aanpak.

Pieter ·

Ja, een van my beste vriende het ook getwyfel, toe maar gebly, en is so rukkie terug doodgeskiet voor sy huis.

(Wat ek wil se is jou simplistiese binere benadering is nie noodwendig reg (of verkeerd), dis net nog ‘n opinie wat maar in die pot gegooi moet word)

Anoniem ·

Familie van ons het ook onlangs na Australie geemmigreer. As ons net na die fotos kyk waar hul kinders sonder vrees in die mooi en skoon parkies speel dan besef jy waarmee ons elke dag te doen het hier in Suid-Afrika. Hier kan jy nie van jou werk af na jou huis ry sonder om twee keer agter jou te kyk en seker te maak niemand wil jou leed aandoen nie. Jy kan nie in jou huis sit sonder om seker te maak elke hek en deur is gesluit en die alarm is aan nie. Ek is ‘n jong blanke Suid-Afrikaner wat niks te doen gehad het met apartheid nie.. Ek het my hele lewe lank maar ook hard gewerk en geveg vir dat ek wou hê. Ek het goeie kwalifikasies en ‘n werk, maar ek self kan nie my eie eiendom bekostig nie. Ek het ‘n besluit gemaak dat ek nie kinders wil hê vir solank as wat ek nog in hierdie land woon nie want dit sal net n straf wees. Die ongelukkige ding is dat ek ook nie genoeg geld het om nou te emmigreer nie, en die kanse dat ek met my kwalifikasies ‘n werk oorsee gaan kry is ook maar skraal. Hulle het genoeg van ons, hulle soek mense wat praktiese werk kan doen met hul hande, Dis so hartseer dat ons hierdie debat moet hê. Ons het ‘n pragtige land en nou moet ons sit en kyk hoe dit verniel word.

Henry ·

Sedert meeste van ons voorouers die ou beskawing in Europa verlaat het om na die onbekende, mees suidelike punt van ‘n agtergeblewe vasteland te verhuis, het meeste van ons blykbaar ook vergeet dat ons bloot die produk van immigrante is wat reeds laaaaank gelede besluit het om huis en haard te verlaat, op soek na ‘n beter toekoms.

Dat die voorsate dit uit noodsaak gedoen het, is in meeste gevalle ‘n feit.
Vergeet maar van die sprokies oor skatryk oupa’s, familielede en kastele wat agter gelaat is. Die piete wat sulke rykdomme besit, was bevoorreg genoeg om nie ‘n skuif na ‘n donker vasteland te maak om in die proses hul goeie en geborge lewens koebaai te sê en om van vooraf ‘n beskawing tussen onbekendes te vestig nie.

Ons is nasate en kinders van immigrante.
Om die nuwe wêreld waarin bewoners van hierdie planeet hulle in die 21ste eeu bevind, te ontgin/te verhuis, is ‘n gegewe en toon geen ooreenkoms met die donker, onbekende “nuwe wêrelde” waarheen ons voorsate verhuis het nie. Internet, toeganklikheid tot eerstehandse inligting mbv persoonlike besoeke om “nuwe wêrelde” te ondersoek, is enkele voorbeelde van die alhoe kleinerwordende wêreld waarbinne ons leef en wat soos nag en dag van ons voorouers s’n verskil.

So, wees nie bevrees nie. Indien jy kan en wil, lê ‘n nuwe, veiliger(?) en beter toekoms vir jou en wag om elke hoek en draai.

La’ waai meraai!

:-)

Liberaal ·

Moet nie jammer se nie, julle stel maar net als uit. Liberaliste wat julle gaan beskuldig van rassisme as julle nie julle taal en kapitaal afgee nie sal julle inhaal, maak nie saak in watter land ookal nie. Linkses het SA klaar gevang, Europa is nou op liberaliste se lys. Amerika en Australia gee bietjie weerstand, maar die massamedia probeer hard om hulle ook te ‘hervorm’ met die tyd. Die lang arm van liberalisme is wereldwyd aan die gryp.

Rasper ·

@CG. Sterf jy eerder hier geweldadig. Regtig. Maak jy daardie besluit namens jou kind? Die afgewaterde statistieke van die polisie is uit. 54 Moorde per dag. En verder @John. Fine, ons bly, nie net die skrywer nie, maar ek wil “eintlik” ook bly. Wat nou? Wat is die plan? Of karring ons voort en hoop jy is nie vandag se “54” nie. Maar Kaap afstig, of selfbeskikking wil niemand na luister nie. Want sien, my aftree huisie is nie daar nie. Maar ek wil ook nie hier alleen bly nie. Want dit maak die kans dat ek deel is van die volgende 54 soveel groter. So die plan is blykbaar om almal hier te hou totdat ek die emmer skop, want dan is dit hulle probleem. Ons kinders se probleem. So wil ek nie redeneer nie. Dan wens ek eerder almal wat wil oorgaan sterkte toe. En die wat bly, sal ek bly aanmoedig om selfbeskikkingsplan te ondersteun.

Henry ·

Dankie Rasper!
Jy sê presies dit wat ek weens lengte beperkinge nie kon byvoeg nie.
Terloops. Ons gesin het vir 15 jaar in verskillende dele van die planeet gewoon en gewerk.

CG ·

Rasper. Die kern van die probleem van die skryfster is dat sy geen hoop meer het dat iets kan beter gaan nie. Die ideaal van selfbeskikking is juis daardie hoop wat ons nou nodig het. Saam met jou gefrustreerd oor die gebrek aan werk aan daardie idiaal. Ek is spesifiek ongekrap net Solidariteit en Kie wat net voortploeter in plaas van om daadkragtig selfbeskikking na te streef. Dit is hoekom mense moed verloor.

Gerhard ·

As selfbeskikking iewers was waar dit na ‘n alternatief gelyk het sou mense nooit gedink het aan emigreer nie. Die probleem is dit is nie en dit is omdat daar nie genoeg daaraan gewerk word nie.

Calamarie ·

Ek sit in my kar en lees die artikel. Ek sit in my kar omdat ek wag vir my seun om klaar te maak met skool vandag, omdat hy na n spesiale skool toe gaan ver van my huis af. Ek sit in my kar omdat ek nie geld het vir petrol om terug te ry huis toe nie. En terwtl ek in my kar sit kyk ek vir almal wat verby loop, wznt 2 weke terug wad daar n kapong voor die skool. n Maand terug het ek n werks offer in NZ gekry en ek het dit aanvaar sodat my seuntjie en dogtertjie buite kan speel, n toekoms kan he en sonder vrees kan lewe. Sodat ons in die aand kan slaap sonder dat ons alarm sal af gaan en vrees in hul klein lyfies gesit word. Moeg om heeltyd oor my skouer te kyk, moeg om vir n beter betalende werk te soek sodat ek n beter man vir my vrou kan wees en beter pa vir my kinders. Daar sal ek, my vrou en kinders wees wat ons wil wees en doen wat ons harte begeer. Nie vesgevang in ons eie huis nie en ook nie slawe vir die ekonomie nie. Dis vir my familie.

M ·

ekt respek vd skrywer , sy beskuit en opinie.

ek voel net dat ons vir n rede gebore word in n land en om daar n verskil te maak. ons verlede was verkeerd, die aprtheid het dekades se skade gemaak… eks skaam oor dit….
vir die van ons wat agter bly… volg die Here se wil vir jou lewe… Hy beskerm ons, nie n sekere land en sy mense nie….

ek sal altyd in Afrika bly, so trots op my land en se mense…. en ja, ekt HOOP baie hoop…. my hoop is in die Here en nie in mense of in n land nie.

ek sal nie vlug nie, ek sal veg …. en NIE TEEN MENSE nie …. maar teen die geveg wat ons nie kan sien nie…. teen die bose magte in d lug….

Liewe M ·

Dit is goed as jy so voel.
Em het ook hoop vir my toekoms saam my man en kinders. Ons toekoms om die Here te dien en te loof.
Felukkig is die Here nie net in SA nie. Ons kan hom enige plek in die WÊRELD verheerlik.
Die lnd waar ek woon is NIE belngriker as my lewe en my verhouding met God nie.

Mense moet oppas dat hulle nie n land liewer het as vir God nie….

Gerhard ·

Dit neem 2-3 jaar om aan te pas in ‘n nuwe land. 99% van mense sal nooit terug trek SA toe nie, want dit bly erger daar as enigiets in enige normale land. My raad aan enige persoon nou sal wees pak tou tas en trek as jy kan. Daar is nou geen meer hoop in SA nie.

Wens ons kon gaan ·

…ek sal graag wil gaan…oorbegin iewers anders.
Het familie in Aus en NZ en hulle is so vreeslik gelukkig. Met AFRIKAANSE vriende saam wie hulle kuier en n sorglose lewe leef.
Ongelukkig is ek en my man nognie op dieselfde plek in ons gemoed nie. Hy is nog vol moed en hoop en vertroue…
En ook vol onsekerheid en kommer vir die “onbekende / die oorbegin”
Ek sal maar nog geduldig wag.

Verlang Eerder ·

… elke dag/ jaar wat jy wag, maak dit moeiliker om daar aan te pas en jouself te vestig. Jy kan altyd later terugkom, maar jy kan nie altyd later gaan nie.

MTSteyn ·

Reeds verskeie kere genoem, maar die gly of bly gesprek bestaan uit soveel diverse menings soos die hoeveelheid lede wat daaraan deelneem. En geen van die deelnemers is 100% korrek of verkeerd nie.

Met die Groot Trek was daar presies diesefde gesprek, met presies dieselfde vernynige kommentaar; so ook na afloop van die Boere Oorlog met die wat na Argentinie gegaan het, en van wie die helfte later teruggekom het en die ander helfte aangebly het. Ook na PW Botha se Rubicon toespraak was daar glyers en blyers.

Persoonlik, en met 10 jaar se werk en leefervaring in Europa, sal ek Suid-Afrika nou verlaat, al gaan skuil ek en my familie net oorsee vir ‘n tydperk (amper soos Baba Jesus en sy familie wat in Egipte – van alle plekke!! – gaan skuil het tot dinge in Sy geboorteland ‘makliker’ vir Hom geword het).

Ken Hom in jou besluit, en vergeet van mense se menings.

Sheney ·

Dit is bitter moeilik om jou lewe op te pak en jou voete te vind in n ander land. Jou familie agter te los en om in die vreemte in ander land jouself te bevestig. Ek is al 2 jaar uit suid afrika en kan gelukkig kom kuier in sa maar elke keer wat ek op die vliegtuig terugkeer na my sa vakansie voel ek n gedeelte van my hart is gelos in sa. Is ons spuit? Nee ons is nie. Was dit maklik? Nee! Ons is suid afrikaners in hart en siel en sal dit in enige land maak werk. Ons het nie gevlug nie maar dit as n goeie werksgeleentheid gesien en n goeie ondervinding vir ons kinders. Ja my kinders is vandag in n engelse skool maar tuis praat ons afrikaans. Ons is veilig, my kinders speel in die park en ons doen inkoopies sonder om ons handsak om om lyf vas te bind. Ek se ja doen dit! Doen jou navorsing waarheen julle wil gaan en julle sal nie een dag spuit wees nie. My kinders is voor in die skool ipv sa skole. Daar is lig aan dit ander kant van die tonnel en kinders is baie aanpasbaar. My kinders geniet dit hier en ons maak julle met ons waardeer en liefde groot. Go for it. Dit sal moeilik wees in die begin maar die storm sal rustiger raak en jou hart in n veilig land!

Philip ·

Daar is altyd hoop, dis net jammer dat die wit Suid Afrikaners kies om dit nie meer te sien nie, meskien as ons ophou om elke dag optestaan en te kies om na die negatiewe te kyk en te kla oor als wat verkeerd is, en n slag kyk na wat ons het om voor dankbaar te wees, en n besluit te neem om positief te begin wees en begin om ander te help om positief te wees en n besluit te maak om nie net te gaan le en kla nie maar optestaan en ons hoop in God te plaas mag dinge dalk begin beter gaan, ons mag dalk n klein groepie wees, maar daar is baie voorbeelde waar klein groepies met die regte attitude die grootste verskil gemaak het. Maar dit begin by jouself, dis n besluit wat elkeen self moet neem, maar dit wat jy glo en spreek sal gebeur, goed of sleg.

Frank ·

Só goed geskryf. Ons is ook met 3 kinders landuit in Januarie, dit is seer alle kante toe… bly óf ry.

Boereplaas ·

Ons is ook onlangs landuit – Indien julle wonder wat julle vir julle mense wat in SA agterbly kan doen om hulle (en die land) nog enigsins ‘n kans te gee?
Sluit asb aan by AFRIFORUM en skenk R100 per maand. Ek doen dit. Dit is ons enigste kans.

De Wet ·

Nee wat, suidelike Afrika is in my bloed. Ek sal nooit in ‘n eerstewêreld land kan bly nie. Veral nie Europa nie, dalk nog in die VSA, maar dan ook net vir n paar maande. Maar daar is ook geen manier wat ek in SA in n stad gaan oud word nie. Daarvoor is die Karoo se klein dorpies net te lekker. Buitendien, my glas is altyd half vol, nooit half leeg nie. Dis nou maar net hoe ek is, kan dit nie help nie.

Waldo ·

Julle moes juis nie by Stilbaai gesit het nie. Julle moes n motorfietstoer deur die Karoo en Namibië se agterpaaie gedoen het. Dan sou julle BESLIS nooit padgee nie. Maar sterkte met die emigrasie, eerder julle as ek. Ek (en my motorfietse) sal maar hier bly.

marco polo ·

Ek ry lekker motorfiets in China. In die klein dorpies word jy soos n filmster behandel. Meeste mense op die platteland kry nooit kans om n buitelander te ontmoet nie, maar as jy hulle die kans gee, is dit net fotos neem en geselsies aanknoop. Ek sou graag in SA wou gery het, maar dis soos dit is.

Amelita ·

Ek huil snot en trane, want ek is n ouma wie se 2 dogters en keinkinders daar ver in Ausralia is my hart gebreuk, maar tog ook dankbaar dat ek weet hul veilig is, n toekoms het.
Ek huil oordat my droom van ouma wees, koekies bak, storie boek lees, weg geneem is vanaf my deur mense wat ek as Christen moet lief he, maar wat ek nou op die tyd in my lewe haat.
Ek vra hoekom, waarom ons familie so opgebreuk is.
Ek kan die Here net dankie se dat ek hulle 1 keer n jaar kan sien.

Gideon ·

Wonderlike artikel, ek en my vrou woon reeds 13 jaar lank in Canada, ‘n nuwe lewe bring nuwe vriende en ondervindinge. Indien jy die geleentheid kry, doen dit. Met die regte gesindheid is enige iets moontlik.

Pinghanling ·

Inderdaad, die regte gesindheid kan ‘n verskil maak hier… en daar.

2 weke ·

was een keer vir 2 weke landuit. dit was genoeg vir my om te weet, nie weer nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.