‘Die man wat voor my sit, is Freddie se moordenaar’

Freddie Tolman (52) is op 17 Desember 2014 buite Hartenbos vermoor. Ses aanvallers het hom in ʼn lokval gelei en ʼn stomp in die pad geplaas. Hulle het op hom losgebrand toe hy nie stilgehou het nie. Een van die verdagtes is amper twee jaar ná die voorval vasgetrek en gister tot lewenslange tronkstraf gevonnis (lees die berig hier).

Freddie Tolman

Tolman se vrou, Mariana, het die onderstaande brief geskryf na afloop van die hofverrigtinge:

Gister is sy moordenaar lewenslank tronk toe gestuur! Voordat ons die hofsaal binnegestap het, het die reën oor Mosselbaai neergesak. Vir my was dit op daardie oomblik so simbolies van al die trane wat ons al gestort het en ek het gewens die reën kon al die hartseer en pyn van ons afspoel. Die gesuis van die reën op die dakke, die onstuimigheid in my gemoed…

Dit was so verblydend dat geregtigheid tog nog plaasvind in hierdie tye en dit gee mens hoop vir die toekoms van Suid-Afrika. Wat jammer is, is dat sy medepligtiges nog daarbuite is en aangaan om te moor en roof en dat hy hulle beskerm! Hy is geletterd, was drie jaar op universiteit, het ’n werk gehad ten tyde van die voorval en is die pa van twee tieners. Wat dryf ’n mens om so iets te doen? Volgens Regter Henney is dit “greed”.

Wat ek ook in hierdie tye waargeneem het, is dat Mosselbaai SAPD die beste is. Ek sal graag name wou noem, maar is bang ek laat iemand uit. Hierdie mense het verskriklik baie ure ingesit om die skuldige vas te trek en bewyse te kry. Ek weet ook hulle sal nie rus voordat almal wat betrokke was agter tralies is nie. So is ek ook dankbaar vir adv. Christhénus van der Vijver, die staatsaanklaer, wat oortuig was die bewyse is voldoende om mnr. Booi agter tralies te sit.

Hierdie man het elke dag voor my in die hof gesit. Net ’n bank het ons geskei. Vir my was hy maar net nog ’n mens wat in die hof is. By tye het ek hom so jammer gekry. Gewonder wat sy omstandighede was dat hy tot so ’n daad moes oorgaan. Hy was elke dag geklee in ’n rooi hemp met ’n swart sweetpaktop en broek. Netjies. Roelof het selfs opgemerk dat hy ordentlik lyk. Hy het stip voor hom gekyk. Geen emosie getoon. So nou en dan het hy omgekyk as iemand die hof binnekom. Ons het oogkontak gemaak. Ek kon hom net bejammer. Dit het als verander die dag met die ondersoek ter plaatse. Hy was weer op ons plaas, hy het verby my gestap, ek kon aan hom raak! Hy het tot gestaan en “pee” baie naby waar die voorval gebeur het! Die vermetelheid! Ek was gewalg, naar!

Gister en eergister het ek begin merk hy is onrustig. Hy sit kop onderstebo, vryf sy hande. Selfs bleek gelyk. En vir die eerste keer in hierdie drie weke dring dit tot my deur dat hierdie man wat voor my sit vir Freddie vermoor het! Freddie se moordenaar! Hy is die oorsaak vir al ons trane en pyn. Is dit moontlik om so iemand NIE te haat nie? Ek wil hom haat, maar wat maak dit van my? Ek is ’n Christen, ons haat nie! Ons vergewe! Ek is wel kwaad vir hom. Baie kwaad! Gaan ek hom vergewe? Net die tyd sal leer… Gaan ek vergeet… nooit!

Dit maak my woedend dat die moorde op ons boere nie gestop word nie. Kwaad dat die regering nie optree nie. Elke keer as ek hoor van nog ’n boer wat vermoor is, herleef ek ons trauma. Beleef ek die magteloosheid en verslaenheid. My hart bloei vir die families wat nou deur als waardeur ek en die seuns is, moet gaan. Ek weet wat hul pyn is, hul vrees, die trauma, die onsekerheid, die vrae? Niks wat mens sê of doen, maak dit beter nie. Jy moet maar net bly hoop, glo en vertrou. Jy moet maar net opstaan, jou kop lig, die wêreld in die oë kyk, sterk wees en aangaan.

’n Riem onder die hart was die medeboere van die omgewing wat met vonnisoplegging in die hof was, hul spontane handeklap nadat regter Henney die uitspraak gelewer het. Dit wys net ons boere kan saamstaan. Dankie aan almal van julle! Mens kan maar net hoop dat alle Suid-Afrikaners, nie net die boere nie, ’n slag sal saamstaan om misdaad te stop!

Ek, Eugene Tolman en Roelof Tolman is as gevolg van hierdie onsinnige daad ontneem van baie drome, ons is deur baie pyn en lyding, ons moes baie moeilike uitdagings in die gesig staar, ons moes baklei om staande te bly. Die afgelope drie weke was traumaties. Uitmergelend. Ons is getap. Ons is blootgestel tydens die hofsaak, ons moes getuig, ons diepste gevoelens openbaar, die trauma herleef. Daar is nog baie vrae. Dalk, eendag, kry ons die antwoorde. Ons kan nou weer aangaan met ons lewe. In ’n mate berusting kry.

Dit was nie maklik om te kom waar ons nou is nie. Al wat ek weet is dat ons dit nie sou regkry sonder die Genade en krag van Bo en die ondersteuningsnetwerk van familie en vriende wat ’n laer om ons getrek het nie. Dankie vir julle.

Ons sal voortgaan om Freddie se motto te leef: Die lewe is ’n lied.

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae