Lesersbrief: Die prys vir vryheid is ewigdurende waaksaamheid

Annemarie Gerber van Centurion skryf:

Argieffoto van die konflik in Oekraïne. (1 Maart, Kharkiv) (Foto: Sergey BOBOK / AFP)

ʼn Geliefde professor by Tuks het ons graag herinner: “Die prys vir vryheid is ewigdurende waaksaamheid.”

Ek het dit later in die weermag deel van my instruksie gemaak en vandag, in my huidige werk, gebruik ek dit as motiveringsrede wanneer die groot projekte begin.

Vryheid en vrede hou hande vas. Hulle loop saam. Die gewone mens in Suid-Afrika verskil nie veel van die ouens in Oekraïne nie. Almal wil ʼn lewe maak, kan gaan waar jy wil en besluit soos wat jy wil. Vryheid (en vrede) is binne dae van die gewone mens in Oekraïne weggeneem en danksy die wêreld se beheptheid met sosiale media raak ons rusbanktoeskouers tot in die fynste besonderhede.

Konflik is in ʼn groot mate sielkundige oorlogvoering. Die infanteris wat voor loop se ingesteldheid is beter wanneer hy goed opgelei is. Sy wil om te baklei is meer sekuur as sy pelotonleier voor loop, die bevelvoerder in dissipline optree en die generaals met wysheid bevele uitvaardig. Wanneer die eerste skote klap, raak gewone (goed opgeleide) manne dapper wanneer hulle deur goeie wapentuig beskerm word – in hulle hande, van agter, aan die kante en van bo.

Daar was ʼn tyd toe Suid-Afrika sy grense jaloers bewaak het, en mans en vroue opgelei en gereed was om die konvensionele en onkonvensionele vyand die stryd aan te sê. Met verloop van tyd het die persepsie van vryheid, en daarmee saam vrede, in ʼn “wokeness” verander.

In die inkopiesentrum naby my loop oorgewig soldate sonder “hoofdeksels” met skoene waarvan die veters halfmas vas is. Die geweld van Julie 2021 waai rooi vlae oor die konvensionele en onkonvensionele gereedheid van ons weermag. Militêre voertuie word roekeloos afgeskryf en Jan Alleman dink grappies uit om die situasie te bespot. In ons naïwiteit glo ons dat niks ons hier aan die suidpunt van Afrika raak nie.

Vryheid staan nie alleen nie. Sy ander been se naam is verantwoordelikheid. Word verantwoordelikheid versaak, sal vryheid mettertyd ook omval. Professor Acron se woorde klink helder op: “Die prys vir vryheid is ewigdurende waaksaamheid”… selfs in Suid-Afrika.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marius ·

Dit is so waar! Ek was in my jong dae self ‘n trotse soldaat in die SAW, trots op my uniform en die toerusting aan my toevertrou, goed opgepas. Terloops, ek onthou vir Prof Acron – het self by hom klasgeloop. Wat ‘n merkwaardige man.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.