Die seuns van soldate

hugo-kruger

Hügo Krüger. Foto: Verskaf.

Deur Hügo Krüger

Ons staan op die strand van Normandië, waar die Amerikaanse generaal Dwight D Eisenhower die geallieerde magte gelei het tot die verowering van die Derde Ryk. Dit was die maak-of-breek-geveg vir die Westerse beskawing gewees.

Ek is wel nie hier om oor geskiedenisboeke te gesels nie, maar eerder om ʼn gesprek te voer met my vriende wat my vergesel het: Dmitri Rusakov, ʼn Russiese fisikastudent wie se pa gedien het in Afghanistan toe die Sowjetunie ʼn volmagregering probeer beskerm het; Pushpander Sing Rathore, van Radjastan in Indië, wat uit ʼn familie kom wat hulself daarop roem dat hulle die laaste grenspos vir hindoeïsme teen die Islam is. Sy pa het ʼn paar jaar terug uitgeklaar by Kasjmir. En saam met hulle is ek, ʼn Afrikaner van Suid-Afrika wie se pa in die grensoorlog gedien het, in Angola en Suidwes, asook die Soweto-onrus.

Nie een van ons het in ʼn oorlog gedien nie, en heel waarskynlik, as dit 25 jaar vroeër was, sou ons mekaar seker gehaat het omdat ons kerke, tempels, politici en ideologiese idees dit sou geregverdig het. Ons lewensbeskouing verskil vandag nog hemelsbreed, maar iets bring ons saam op hierdie koue môre in Frankryk. Dit is ʼn soortgelyke koue as toe die Amerikaanse kommandosoldate die vlag gehys het, nadat hulle dit gewaag het om teen die Duitse masjiengewere in te hardloop.

pushpander-sing-rathore

Pushpander Sing Rathore. Foto: Verskaf.

Ons praat nie eintlik veel nie, want ons al drie begryp dat daar ʼn sekere waarheid is aan die woorde van Eisenhower wat op die gedenkplaat van Omahastrand staan: “Slegs ʼn soldaat wat in ʼn oorlog gedien het, kan die onnoselheid en sinneloosheid daarvan insien.”

Ons stap aan na die bunkers waar die Duitse soldate probeer wegkruip het. Die merke van die Amerikaanse kanonkoeëls is nog steeds in sekere rotse vasgevang – om te dink mense het in ʼn stadium gedink dit is nodig. Die wreedheid is duidelik. In die Derde (oftewel Ontwikkelende) Wêreld verstaan ons die situasie effens beter as die hedendaagse Wes-Europeër, want hulle ouers was nie in ʼn oorlog nie.

Verder praat ons oor die huishoudings waarin ons grootgeword het. Hoe ons pa’s al drie uiters lief was vir kinders en ons nooit gedwing het om enige sport te beoefen of te studeer nie – tog sit ons al drie nou in Frankryk, besig om onsself te bekwaam in hoogs gespesialiseerde rigtings: materiaalwetenskappe, kernfisika en nanotegnologie. Dit is iets wat ons ouers nooit behoorlik kon doen nie, want hulle lewe was ontwrig deur diensplig en gereelde kampe. Ons verwyl ons jongmenslewe deur onder meer deur Europa te toer, terwyl hulle op die slagveld was om doodsvrees in die gesig te staar.

Maar ons besef wat die trauma behels het. Ons al drie het gesien hoe ons pa’s soms militant kon optree en hoe die aanpassing by die siviele lewe ná ʼn “harde tyd” soms moeilik was. Dit is duidelik dat ons ma’s dit ook verstaan het, want hulle het altyd gesê ons moet geduldig wees met ons pa’s.

dmitri-rusakov

Dmitri Rusakov. Foto: Verskaf.

Ons stap in diep stilte en gaan drink ʼn glasie bitter rooiwyn by die restaurant. Ons luister na die woorde van die Duitse sanggroep Sleipnir vir die Duitse soldate:

“Ich glaube fest daran, egal was man auch erzählt, ich weiss, du warst ein guter Mann.”

Ek glo vas daaraan, wat enigiemand my ook al sal vertel, ek weet, jy was ʼn goeie man.

Die wyn is tot ʼn mate bitter, want die erkenning wat ons al drie se ouers gekry het vir hul diens is verklaar deur die bitter koue, op hierdie ysige wintermôre.

 

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Theuns ·

Ek haal my hoed af vir die drie manne wat mekaar op alle terreine aanvaar het en daar nie ‘n sweem van rassisme is nie! Ek sien dieselfde karrakter einskappe in die personeel wat vir NASA werk en dat hulle gedryf word om hul drome te bereik en te beleef! Terselfder tyd maak hulle ook die aarde ‘n beter plek en reik hulle uit na die sterre! Dink net wat in Suid Afrika bereik kan word as ons almal mekaar aanvaar en ons kennis gebruik om ons omgewing te verbeter? Maar in die land moet ons net die heeltyd keer om nie deur rassisme verslind te word nie, om nie vermoor te word nie, om Vryheid van spraak inteboet en armoede te beveg terwyl die Regering net steel soveel as hulle kan! Is daar hoop?

SkarrelKind ·

Theuns, ek stem 100% saam met jou. My swaer werk in die skeepsbeveiligingsbedryf, waar”soldate” van regoor die wêreld saam werk. Hulle sien nie kleur of geloof of seksuele voorkeur raak nie – hulle werk saam soos een ‘n groot span. Ek bewonder altyd die stories wat hy kan vertel en wens alle mense kon so saamwerk, sonder oordeel.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.