Die trein van die lewe, ’n virus en hoop

Karin Venter. (Foto: Verskaf.)

Karin Venter van Pretoria skryf:

Die laaste paar jaar vertel ek vir almal wat wil hoor van die trein…

Die trein van die lewe waarop ons noodgedwonge sit. Die trein van die samelewing, van die werk, van verwagting – die sneltrein wat die lewe uit jou tyd op aarde wegdruk en elke laaste oomblik van jou dag en gedagtes vereis en opeis.

Ek praat van die trein wat mense met leë oë en hartseer glimlagte deur die lewe laat gaan omdat hulle nie kan bybly nie. Die trein wat maak dat klein kindertjies by oumas moet bly en gesinne dalk slegs ’n uur per dag vir mekaar het.

Die trein wat aanhou versnel en al vinniger beweeg en sy passasiers bly saamsleep as hulle nie saam wil of kan versnel nie, al is dit teen ’n pas waarteen niemand kan volhou en aanhou nie. Dis die trein wat nie self sal kan stop nie en op ’n groot ramp afstuur, want sy wiele is nie gemaak om so vinnig te ry nie.

Dis hierdie trein wat my naar maak omdat dit wat moes mooi wees, so gou verby jou beweeg dat jy nie eens kans kry om te kyk nie, want jy moet aanhou bly beweeg.

Die trein wat nie tyd het vir die Koninkryk van God nie, want dit sal jou aandag van “versnel” aftrek.

My beskeie mening is dat passasiers een van twee keuses het om te oorleef indien hulle nie saam die trein in die afgrond wil ry omdat die spoor nog nie klaar gelê is nie:

Keuse 1: Spring af. As jy kan. In my kop is dit die entrepreneurs wat maar netso ’n baie druk lewe het, maar darem die negatiewe impak daarvan op hul families kan beperk waar moontlik. Ja, jy sál seerkry. Maar op die lang termyn is die kanse op oorlewing dalk beter.

Keuse 2: Die trein se passasiers moet saam besluit dat die spoed verminder moet word. Elkeen moet die wil hê om stadiger te reis en geduldig wag dat die spoor gebou word soos die reis vorder. Maar wat is die kanse dat mens ’n hele samelewing – wat nog te sê van die wêreld – sou kon oorreed om die spoed net bietjie te verminder sodat almal kan bybly?

Dit voel vir my asof die nuwe koronavirus besig is om hierdie trein – die gejaagdheid van ons bestaan – drasties tot stilstand te ruk. Ja, daar is reeds ’n noodtoestand met groot gevolge wat begin inskop het en waarvan ons nog lank die skade sal sien en sal moet herstel.

Foto ter illustrasie. (Foto: @m_rags/Unsplash.)

Maar…

Ek let op mense bestee nou meer tyd saam met hul families en dierbares. Ons is almal saam op hierdie sneltrein wat dreig om te ontspoor, dus begin ons waarskynlik besef hoe weerloos almal is.

Ons begin weer die waarde van saamstaan en saam planne maak besef. Ons besef ook hoeveel nuwe geleenthede reeds uit hierdie krisis spruit om te gebruik.

Mense breek noodgedwonge weg uit hul dag-tot-dag-roetine en sien en waardeer weer die as vanselfsprekende dinge en mense om hulle raak.

Mense besef weer hoe waardevol ’n gemeenskap is en dat ons nie nodig het om so te jaag en ’n mal bestaan te maak net om te lewe en te oorleef nie. Mense besef nou jy hoef nie altyd (ver) te reis werk toe en/of vir lang vergaderings nie, want ons het die nodige hulpmiddels en tegnologie.

Mense begin weer dink aan nuwe oplossings om dinge makliker te doen wat dalk ons hele werkwyse permanent kan beïnvloed vir goeie uitkomste op die lang termyn.

Ja, mense is op hul knieë, want hulle kan nou nie meer op hulself staatmaak nie.

Is dit ’n ramp? Ja.

Maar daar is ook hoop. Daar is saamstaan en daar is saambid.

My hart juig, want die trein is inderdaad besig om stadiger te beweeg – vir meer tyd vir jou Skepper en sy Koninkryk, jou gesin en gemeenskap. En wat ons nodig het, sál Hy byvoeg.

Die koronavirus kan dalk nog net ‘n wonderwerk word.

  • Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frans ·

Luister na Elvis Presley se ‘We call on Him’ on Youtube vir inspirasie en oordenking.

Asgat ·

Ek sit hier en snik agter my rekenaar, ons moet onbetaalde verlof vat vir die tyd wat die “lockdown” is. Ons word Desember maande gedwing om ons verlof te vat want die maatskappy maak toe… Nou sit almal met 5 dae verlof beskikbaar. Ek bel die eiendoms agent en word meegedeel die eienaar kan niks doen nie en sal dit dalk oorweeg om die deposito te gebruik maar hy kan dit nie belowe nie… ons moet maar uitkyk vir ander verblyf. Dan die kommer oor hoe ek my dogter gaan kos gee en elektrisiteit koop. Ek en ek is seker talle meer van ons wat ons geld elke maand weggee vir die Taksman en ons hart in ons werk sit, is nou in die gemors. Alles waarvoor ek so hard gewerk het vir niks.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.