Lesersbrief: Die Wind deur my speke

fietsry

Foto: Lincerta/Pixabay.com

Petro Struwig skryf:

Met dié dat die Augustuswinde so onplesierig was en so lank aangehou waai het vanjaar, het ons eers vandeesweek weer ernstig begin fietsry. Ons het die fietse uit die buitekamer gaan opdiep, die  bande weer styf gepomp en ons somerfietsryklere en waterbottels gaan uitgrou. En vanoggend het ons so skuins na vyf, so gly -gly op die modderige plaaspaadjie, uitgery met die fietse. Ek het sommer swaar en ongebalanseerd gevoel op die fiets, na die lang winter se leeglê.

Maar toe ons eers op die teerpad kom, het dit effens beter gegaan. Ons het op die Vredepad uitgery. Dit het die vorige aand gereën en dit was ‘n heerlike oggend. Agter ons rûe het die son opgekom en voor ons was ‘n lang afdraend en die blou berge…

Voordat ek begin fietsry het, was ek skuldig daaraan, dat as ek fietsryers langs die pad kry, ek myself gereeld voorgeneem het dat dit nou een sport is waarvoor ek myself nooit sal inlaat nie. As jy so in die hitte van die dag by ‘n fietsryer verbyry en jy die geswete lywe sien en die verbete uitdrukkings op hul gesigte, het dit na ‘n uitmergelende spulletjie gelyk.

Maar dan moet ek darem dadelik kwalifiseer: ‘n mens kry fietsryers en fietsryers. Jy kry ernstige fietsryers en jy kry sosiale fietsryers, soos ons. Ons ry net as die weer lekker is en ons ry om bietjie oefening te kry en as ek moet eerlik wees, ek ry eintlik net om buite te wees.

Om nou weer terug te kom na daardie oggend na die reën en die laang afdraende, die blou berge voor ons en die vleie om ons… Ek dink daar is min dinge op aarde wat lekkerder is as daardie soort ervarings wat mens partykeer op ‘n fiets kan beleef. Op ‘n kol vlieg ‘n kleinerige voëltjie vir ‘n ruk langs my in dieselfde rigting en ek “vat die dice” en ek en die voëltjie jaag resies – en tot my verbasing, vlieg die voëltjie onder my uit.

Die vleie het geilgroen geword vandat ons laas gery het, die sigslote was vol water en groot plasse water het oral gestaan. Daar was so baie voëls. ‘n Hele spul tarentale het op ‘n mankolieke plaashek by Maaltydspoortje gesit en skreeu, die flappe se sterte het intussen al weer lank en breed geword en ons het tot ‘n bruin jakkalsvoël in die pad gekry wat seker ‘n feesmaal gehad het met die baie doodgeryde paddas in die pad. Hy het so verbete gesluk aan die paddas dat hy nie eers opgevlieg het toe ons verbykom nie.

En dan was daar natuurlik die pienk vleilelies wat mos soos amarillas lyk. Plate  van hulle tot doer onder die groot ou wilgerbome. Jy wil net kyk en kyk en kyk.

Ek moet sê, as jy omdraai en teruggaan huistoe, nadat jy die oggend ‘n draai gemaak het by “lelievlei”, is daar min dinge in ‘n gewone dag wat jou sommer kan onderkry. Nog minder die bekommernisse oor môre. Die belastingaanslag kan maar kom, die kragrekening kan maar nog hoër wees as die voriges en die hooftrekke van die nuus op jou foon kan maar inkom.

Jy trek net jou skouers op, maar die dag kry jou nie sommer van koers af nie.  Hy kry ook nie maklik die huppel heeltemal uit jou stap uit nie.

Want jy het mos vanmôre vir ‘n slag weer ordentlik gekyk na die lelies en die voëls…  En jy het van naby gesien hoe die Here in oorvloed vir die  bruin jakkalsvoël sorg. En as dit by klere kom, stem jy mos volkome saam: “selfs Salomo in al sy heerlikheid” sou  tweede gekom het vanoggend, as hy moes meeding met daardie  pienk vleilelies.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Fietsryer van Centurion ·

Dankie vi hierdie wonderlike verfrissende ervaring,…… aan ons fietsryers inni stad. Ek beny dit!

Marli ·

Ek is gelukkig genoeg op in die platteland te bly en die plaasboere in die omgewing laat ons toe om daar te ry. Ons ry langs die Krokkodilrivier en Kruger Wildtuin se heining af en sien gereëld Buffels, Olifante, Waterbokke, Seekoeie en so af en toe ander wild. Met die droogte lê daar gereëld karkasse en ons juig as dit gereën het en daar meer water in die rivier is. Ons is voorwaar bevoorreg.

Reinhardt ·

Daar het vandag ‘n paar nuwe roetes rondom Tafelberg oopgemaak. Kan nie wag om vanmiddag hulle aan te durf nie!

Dit is hoekom ek so lief is vir die Kaap, jyt n stad en dan 1km verder is jy in die natuur, nog een km verder is jy in die see. Alles van die beste in een plek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.