Lesersbrief: Dis hoekom ’n Fransman van Bretagne Afrikaans leer praat het

Fabien Lécuyer (Foto verskaf)

Fabien Lécuyer skryf:

Ek is van Bretagne af. Dit beteken, ek kom van ʼn provinsie van Frankryk af wat verskil van die res van my land.

Bretagne is ʼn Keltiese provinsie in die noordweste van Frankryk, waar drie tale gepraat word.

Die eerste is Frans, wat natuurlik in Frankryk gepraat word. Die tweede is Bretone, ʼn tradisionele taal uit die streek. Bretone is die Keltiese neef van Wallies en Iers. Die derde is Gallo, wat ook ʼn tradisionele taal is, maar dit is ʼn neef van Romeinse tale.

My belangstelling om Afrikaans te leer, het begin by my eie kultuur.

Die geskiedenis van die Boere het my verstom. ʼn Bevolking wat uit Nederland gekom het en na die ander kant van die wêreld verskuif het. Hierdie bevolking is heeltemal anders as Europese bevolkings wat hulle in die VSA gaan vestig het, of die Franse wat in Quebec gaan woon het.

Die Afrikaanse mense het hulle eie taal gemaak, wat die grondslag van hulle eie identiteit en etno-godsdienstig-kultuur geword het. Boonop is dit deur Afrikaans wat die Boere van Nederlandse oorsprong, asook Duitse-, Skandinawiese- en Franse Hugenotebevolkings sal kan integreer. Want hierdie Afrikaans is nie meer die oorspronklike Nederlands nie, maar die pot waarin die bevolkings van Noord-Europa kan saamsmelt danksy ʼn taal en ʼn godsdiens.

Hierdie geskiedkundige daad is fassinerend vir ʼn Breton soos ek. In Frankryk is die staat baie gesentraliseer. In Frans sê ons Jacobin, wat beteken dat alle besluite in Parys geneem word.

Frankryk is nie ʼn nasie nie, dit is ʼn vergadering van volke wat verower is deur die konings van Frankryk en daarna deur die Republiek wat nooit opgehou het om hierdie volke te probeer assimileer met ʼn kultuur en taal wat destyds vir hulle baie onbekend was nie

In 1914, toe die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het, het die meeste van die soldate wat na die front gegaan het nie Frans gepraat nie (of dit nie reg gepraat nie). Hulle het almal ʼn plaaslike taal gepraat: Bretons, Gallo, Oksitaans, Baskies, Picard, Normandies, Elsassies en selfs Wes-Vlaams (ʼn taal wat baie na aan Afrikaans is). Dit is selfs veilig om aan te neem dat die Hugenote, wat hulle op ʼn sekere tyd in Suid-Afrika gevestig het, nie Frans as huistaal gepraat het nie.

(Foto: Aaron Burden/Unsplash)

As hulle Provensaals was soos dié wat wingerdstokke rondom Kaapstad geplant het, is dit amper 100% seker dat hulle nie Frans gepraat het nie, maar Oksitaans Provençaals − ʼn taal na aan Katalaans en Spaans. Hierdie taal is ook een van die enigste twee minderheidstale wat die Nobelprys vir Letterkunde gewen het saam met die bekende skrywer Frédéric Mistral (die ander is Jiddisj, met Isaac Bashevis Singer).

Die Franse staat is dus baie gesentraliseer en poog om ons plaaslike tale stadig dood te maak. In Suid-Afrika is daar 11 amptelike tale, in Frankryk is daar net een. Ons moet veg om ons plaaslike tale lewendig te hou. Soms is ons ongelukkig selfs gedwing om geweld te gebruik met aanvalle teen die staat. Die Wes-Vlaamse taal, wat sekerlik as ʼn soort kleinniggie van Afrikaans beskou kan word, het byvoorbeeld amper uitgesterf. Die erkenning daarvan deur die Franse nasionale departement van onderwys aan die einde van verlede jaar, laat die hoop ontstaan dat dit in skole onderrig sal word. ʼn Handjievol weerstandsvegters gaan voort om dit lewendig te maak en dit vir kinders te probeer leer.

Dus, al weet ek dat Afrikaans aangeval word deur die ANC-staat en deur hegemoniese Engels, bewonder ek die Boere se gees van verset en die hardkoppigheid waarmee hulle hul taal en kultuur wil red. Hou aan met jou stryd! Jou stryd is regverdig en as jy dit verloor, sal jou kinders geassimileer word in die Anglo-Saksiese hegemonie, die voorkamer van die groot wêreld-dorp. Hulle sal nie meer Boere, of selfs Suid-Afrikaners wees nie, hulle sal uitruilbare dele van ʼn “gemiddelde”, smaaklose globale kultuur wees.

Ek het juis Afrikaans geleer omdat ek die kultuur van die Afrikaners wil leer ken en die Afrikaners wat toegee aan die sirenes van gemak, dit wil sê Engels, skaam maak.

Je veux apprendre l’Afrikaans car je veux connaître la culture des afrikaaners et faire honte aux afrikaaners qui cèdent aux sirènes de la facilité, c’est à dire de l’anglais.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

annie ·

As mens hardkoppig genoem moet word omdat jy die wil van die Hemelvader nastreef, goed so! Aan wie se kant sou Hy wees? Diegene wat ‘n toring van Babel vir eenvormgheid en Nuwe Era-menseregte bou of die gehoorsames? Soros ea wat so slim probeer wees en almal op aarde tot selfs net een geslag probeer afwentel, oppas!

Nettie ·

Dis vir my interessant hoe baie mense praat van die “nodigheid” van Engels, as besigheidstaal. Maar nie besef dit gaan lankal nie meer oor die besigheidswereld nie, maar ‘n totale assimilasie in ‘n eenvormige Babeloniese wereld. Waarin ek geen deel wil he nie.

Die “empire” het nooit sy streke laat staan nie. Hulle wou die voortrekkers dwing om te verengels, hulle wou Transvaal dwing om te verengels, hulle het die Kaap gedwing om te verengels, en nou wil hulle die hele Suid-Afrika dwing om te verengels.

ABDP ·

Fabien, ek wil vir jou die mooiste Afrikaanse woord kom gee, DANKIE Fabien, baie baie dankie. Ek besef ons word raak gesien en mag jou taal ook raakgesien word. Sterkte met julle uitdagings. mag jou taal ook die magtige tale terugdruk om sy plek vol te staan.

Martie Smartie ·

Daar’s nou ‘n Fransman wat gerus ‘n Afrikaner kan word, ons sal hom met ope arms verwelkom!

groenboer ·

Hierdie Fransman skryf beter Afrikaans as meeste Afrikaanse moedertaalsprekers…

Nettie ·

Sjoe. Watter pragtige brief. Baie baie dankie! Vir jou skrywe, die insigte wat jy bied, die inligting oor Frankryk, maar veral vir jou moeite om Afrikaans te leer praat en ons te probeer verstaan. Watte eer. Dit maak my nederig. Ek’s ‘n Franse Hugenoot afstammeling, definitief uit die wynprovinsies daar, en ek het nooit besef dat my voorouers dalk nie noodwendig Frans as huistaal gepraat het nie! Dis baie interessante inligting.

Sonder dat jy dit dalk besef, noem jy ook ‘n baie, baie diep waarheid. Dat Afrikaans die “pot” is wat die Noord- en Wes-Europeers kan saambind. Dit gaan in die afsienbare toekoms realiseer as ‘n profesie wat jy hier gemaak het. Ek is 100% oortuig dat jou roeping om Afrikaans te leer ken, van God self af gekom het.

Ek hoop jy deel meer gereeld briewe met ons, staaltjies inligting oor Frankryk en jou pad met Afrikaans en die Boere. Geniet jou naweek, Fabien!

Wendy ·

Daar is baie mense wat graag Afrikaans wil leer. Ek is een van hulle

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.