Dissipline in skole?

Argieffoto

Deur Alten du Plessis 

Die onlangse mediaverwikkelinge rakende die Hoër Jongenskool Paarl se beweerde toediening van lyfstraf, ’n praktyk wat al vir 23 jaar in Suid-Afrika onwettig is, en die gevolglike reaksie op sosiale media, het ’n paar vrae rakende dié taboemetode en die skoolstelsel by my laat ontstaan.

My ondervinding

Hoewel ek nie ’n leerder aan die Hoër Jongenskool was nie, het ek in my graad 7-jaar aansoek gedoen om daar skool te kan gaan. Ná afloop van die aansoekprosedure is ek genooi om ’n onderhoud met die vakhoof van Afrikaans te kom doen. Tydens hierdie onderhoud het my pa – bewus van die aantygings van lyfstraf wat daardie tyd reeds gemaak is (en aangehits deur die feit dat ek kennisse binne die skool gehad het wat reeds aan lyfstraf blootgestel was) – reguit die vraag aan die onderwyser gerig oor of lyfstraf nog by die skool toegepas word.

Daardie tyd, soos nou, was die antwoord dieselfde: die skool ontken enige sulke aantygings en, indien daar waarheid sou steek in enige sulke beweringe, die betrokke personeellid onmiddellik aan die toepaslike dissiplinêre proses onderwerp sal word.

Die huidige situasie

Uit wydverspreide mediaberigte verneem ek dat daar tot soveel as ses leerders is wat aantygings van lyfstraf teen, onder andere, die adjunkhoof maak wat agt jaar gelede reeds by die skool was toe ons verseker is dat geen sulke praktyke by die Hoër Jongenskool plaasvind of geduld sal word nie.

Weer eens was die skool se onmiddellike reaksie een van verontwaardiging en ontkenning – met die voorsitter van die Oudskolierebond wat selfs sover gegaan het om te sê dat hy “versteur” is deur hierdie aantygings.

’n Vinnige soektog deur die opmerkings op ’n verskeidenheid plasings oor hierdie beweringe op sosiale media, skilder egter ’n heeltemal ander prentjie. Vind hieronder ’n “keur” van hierdie opmerkings:

  • “As jy dit nie kan vat nie… verdien jy nie die eer van die blou blazer Ons almal het dit gemaak, en ek glo ons het nie te sleg uitgedraai nie.” – Charl Serdyn
  • “Die seuns in HJS weet presies hoekom hulle moet buk. Myne was daar en het geen probleem daarmee gehad nie!” – Salome Bouwer
  • “… Arme kinders aangerand? Regtig? ’n Plat hand tussen die skouers? Ag, shame, mamma se arme bloedjie…” – Erika Nortier
  • “I went to Paarl boys [sic], and let me tell you as an old boy I 100% agree, I was on the receiving end of a plank in the dungeon. And let me tell you that is completely acceptable…” – Jayson Wolfaardt
  • “Hierdie hele situasie is ’n skande. Ek is skaam as ’n Old Boishaaier [sic]… Die ouers wat gaan klag lê het moet asb. hulle onopgevoede self met hul onopgevoede kinders vat en land uit trek sommer. Julle is aandag soekers… Mnr R Visagie en kie wat in ons tyd ons sommer met die hand bygekom het, het 100% my respek en ondersteuning.” – Dawie Smit
  • “Skool waar die kinders nog geleer word wat die woord respek beteken… bou so voort HJS!” – Adalene Visser

Wat duidelik blyk uit hierdie opmerkings, is dat, hoewel die skool die bestaan van lyfstraf ontken, ouers en oudskoliere bewus daarvan is en dit ondersteun.

’n Kultuur van dissipline

Die hoofverdediging vir die aanwending van lyfstraf as strafmaatreël, deur oudskoliere en ouers wat, soos bo vermeld, die bestaan daarvan erken, is dat dit die beste manier is om dissipline in so ’n omgewing te handhaaf. Die probleem wat egter met hierdie argument bestaan, lê in die implisiete boodskap wat deur die beoefening van hierdie praktyk aan leerders oorgedra word. Deur aan te hou om onwettige straf toe te dien, word ’n minagting van die reg onder leerders gekweek.

Dit is tog onmoontlik om terselfdertyd “dissipline te handhaaf” en die wet te breek? Noodwendig moet die breek van ’n wet die “dissipline” in só ’n aksie ontsluit, uitsluit.

Die sukses van HJS

Die tweede mees oorstemmende argument vir die voortgesette toediening van lyfstraf deur belanghebbendes voorgehou, lui dat die sukses wat HJS behaal, beide in opsigte van respek en andersins, as gevolg van die toediening van lyfstraf is.

Die ooglopende probleem met hierdie manier van argumentering is die totale gebrek aan ’n kousale verband. Laat ek verduidelik: is HJS die enigste skool in die land waar respek geleer word? Is HJS die enigste skool in die land waar die meerderheid van leerlinge meeste van die tyd respekvol optree? Die antwoorde op beide hierdie vrae is natuurlik nee. In ag genome dat lyfstraf nie by elke skool waar respek gehandhaaf word, toegepas word nie, moet die vraag gestel word of sukses by HJS behaal word as gevolg van die toediening van lyfstraf of ten spyte daarvan?

Ter illustrasie van hierdie punt: Almal wat in die 1950’s grootgeword het, het sonder veiligheidsgordels in motors rondgery. Die wat nog lewe, het uit die aard van die saak nie gesterf nie. Sou mens kon sê dat hulle oorleef het omdat hulle nie veiligheidsgordels gedra het nie, of ten spyte daarvan? Met nuwe navorsing, kan ons daadwerklik sê dat dit ten spyte daarvan is.

Nuwe navorsing rakende lyfstraf blyk dieselfde resultate te toon. Egter, of daar met die navorsing saamgestem word of nie, kan die volgende logiese stelling gemaak word: Gegewe die feit dat ander skole dieselfde, of selfs beter, resultate behaal sonder om lyfstraf toe te dien, wil dit voorkom asof HJS se sukses ten spyte van, liewer as gevolg van, lyfstraf is.

“Giftige manlikheid”

Een van die gonswoorde wat mens dadelik op universiteit mee gekonfronteer word, is die sogenaamde toxic masculinity (“giftige manlikheid”). Aangesien ek ook in ’n seunskool was, het ek lank teen die bestaan van hierdie mantra vasgeskop. Nadat ek egter die kommentaar gelees het wat sê dat seuns wat nie “dit… kan vat nie”, nie die skoolbaadjie verdien nie, moes ek my kop in skaamte namens HJS en namens ons wyer gemeenskap laat sak.

Vir die eerste keer het ek werklik besef waarvan mense praat as hulle van hierdie “giftige manlikheid” praat. Meet ons regtig hoe manlik ons is aan hoe goed ons ’n pak kan vat? Of aan hoeveel strepies ons op ons dasse het? Is dit ’n toonbeeld van die algehele gebrek aan volwassenheid en emosionele beskawing binne ons samelewing?

Die kultuur wat binne ’n instelling geskep word waar oudskoliere sulke opmerkings maak, moet ook bevraagteken word: is dit regtig ’n kultuur van respek of is dit net nog ’n tentoonstelling van die machomentaliteit wat die Afrikaner al vir eeue lank kniehalter? As daar na sulke opmerkings gekyk word, voel dit regtig asof die horlosie teruggedraai word en al die vooruitgang wat oor die afgelope paar jare gemaak is, ongedaan gemaak word.

Ter afsluiting

Of mens nou ten gunste van die toediening van lyfstraf in skole is of daarteen, bly die beoefening daarvan teen die wet.

Indien u is, doen uself ’n guns en gaan lees na oor die “effektiwiteit” daarvan. Die Amerikaanse Vereniging van Pediaters het in 2000 die volgende stelling gemaak: There is no benefit to spanking, we know that children grow and develop better with positive role modelling and by setting healthy limits. We can do better.

Ek hoop van harte dat die skool ’n sorgvuldige ondersoek sal doen en dat oudskoliere wat so gretig is om hul stories op sosiale media te deel, ook betrek sal word. Indien hierdie praktyk al vir so lank plaasvind soos wat dit uit die kommentare blyk, hoop ek van harte dat die skuldiges aan die pen sal ry, want dan was dit vir hopeloos te lank onder die mat gevee.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Koos ·

En ek dag dis afgeskaf omdat in die nuwe SA hulle in skole wou verhoed dat een kleur lyfstraf aan ‘n ander kleur uitdeel.

Fanie ·

Snaaks dat iets wat vir eeue al deel van die mensdom is, nou ewe skielik “boos” is. En alhoewel ons voorouers aan hierdie “bose” behandeling onderwerp is, hulle niks daarvan oorgekom het nie. Inteendeel. Dekades gelede was daar minder moord, verkragting, ens. Nee wat, my “gutt feel” sê vir my die manlike geslag kan nie meer die “punch” vat nie. My gutt feel sê ook vir my dis die rede hoekom die lewe hulle so maklik onderkry.

Schalla ·

O ja, en hierdie hele “toxic masculinity”-beweging irriteer my grensloos! Ek wens dit wil nou einde kry.

As James Bond (Pierce Brosnan) eers oogroom begin adverteer dan weet jy daar is ‘n skroef los in die wêreld! G’n wonder ons leef nou in ‘n samelewing waar party mense hulle kinders so deurmekaarmaak en wil wysmaak dat hulle op een of ander manier hul geslag kan “kies” as hulle oud genoeg is nie!

‘n Vrou is ‘n vrou en ‘n man is ‘n man. Hy is “rough around the edges” maar is ook sterk en as sy pa hom goed grootgemaak het dan sou hy hom nie net geleer het dat hy sy pak soos ‘n man moet vat nie maar dat hy ook nog ‘n deur vir ‘n dame oopmaak of ‘n stoel vir haar uittrek, nie oor hy dink hy is beter as sy of dat sy te swak is om dit self te doen nie maar uit respek. Maar vet weet hy gaan nie sy wenkbroue pluk en terselfdertyd jou kar kan regmaak as hy breek nie – dis of die een of die ander dames – kies watter een julle eerder wil hê.

Akker ·

Schalla, dit is belangrik om die begrippe apart te hou as mens daarna verwys. Geen mens ‘kies’ ‘n geslag nie. Jy word gebore met een en of dit nou saamstem met die uiterlike of nie is ‘n ander saak. Ek kan aan geen enkele rede dink hoekom iemand dit aan hulself sal wil doen om deur al daardie trauma te gaan nie. Kan jy jou voorstel jy moet vanaand ‘n dokument teken om jou liggaam te skaad in ‘n poging om dit wat jy elke dag in die spieel sien minder te haat? Nie vir al die geld of aandag in die wereld nie.

Respek het niks met geslag te doen nie. Kom ons begin met laasgenoemde: ‘n Man wat na homself kyk gaan nie skielik onhandig raak nie, nes ‘n vrou wat haar hare kort dra nie skielik haar vroulike sagheid verloor nie. Wat respek betref, dit kom van binne – die dop is irrelevant. Dis wel so dat daar ‘n korrelasie bestaan tussen selfrespek (en uiterlike versorging) en respek vir ander.

NS: Vir die rekord, ek steun matige lyfstraf as gebalanseerde vorm van dissiplinering.

R Lombard ·

Ag shame aan die skrywer van hierdie artikel. Gaan kuier in die klasse waar skool gegee word en sien hoe onskuldig hierdie kinders is. Partykeer moet jy die boompie buig om hulle te wys daar is gevolge vir jou dade. En dan kry jy slapgat ouers wat die skole wil aanvat, ipv vra wat het aanleiding gegee dat die pakslae.

Danny ·

Ja as al die skrywers en kenners tog net vir my kan se waar in die wereld het billike lyfstraf al ooit n kind skade aan gedoen sal ek graag van die geval wil weet .
As die Amerikaanse pediaters dan so goed kan doen waar is die resultate, ek praat nou van die beter resultate van voor lyfstraf en daarna. Ek moet seker nie vergeet om te se dat die voorstaanders van geen lyfstraf sal se, maar ek het nooit pak gekry nie en ek het nie so sleg uitgedraai nie of hierdie of daardie een het ook nie lystraf gekry nie en kyk waar is hulle vandag dan, wil ek in dieselfde asem se ek was goed gefoeter en dit het my beslis nie terug gesit nie ek koester ook geen haat teen enigiemand a.g.v die lyfstraf wat ek gekry het nie, en as julle ander voorbeelde soek daar is miljoene
Ek het drie kinders groot gemaak en hulle gefoeter as dit nodig was en nie een haat my nie, inteendeel ons is n hegte Famielie en kan ure heerlik debateer en van mekaar verskil. ek moet erken party kinders hoef baie minder gestraf te word as ander, maar n goeie pak op sy tyd is soos brood en konfyt. Nee wat die skole sukkel maar met dissipline en die pediaters kry nie veel reg nie
Groetnis

Netso ·

Puik artikel. Ek stem 100% saam.
Hoe regverdig jy die volgende:
Man slaan man = verkeerd
Man slaan kind = reg
En verder: Jy hoef net die landswette te gehoorsaam as dit jou pas. Regtig?
Geweld is onaanvaarbaar, punt ! Ons leef nie in die Middeleeue nie. Dissipline & respek word in elk geval in jou ouerhuis geleer. ‘n Sadistiese onderwyser met ‘n rottang gaan dit nie in ‘n kind inslaan nie. Wat ‘n verwronge samelewing keur dit goed ?
Terloops, Boishaai se akademiese resultate is maar baie middelmatig. Pleks die onderwysers hulle daarmee besig hou om dit te verbeter. En om redelike sport resultate te behaal koop hulle rugbyspelers in. Wat ‘n grap.

madels ·

Die Amerikaanse Vereniging van Pediaters moet maar stilbly, kyk hoeveel verkragters, pedofiele, moordenaars, skizophrene, boelies, seks slawe, massa moordenaars ens ens kom UIT DIE VSA… hmm… dan wonder ek waarom? Hoeveel van hierdie mense was ordentlik gedissiplineer in hul ouerhuise? Meeste massa moordenaars in die VSA is nog jong seuns…… Daar is absoluut NIKS verkeers met so nou en dan n pakslae wanneer kinders handuit ruk nie….. laat elke ouer besluit wat is die beste vir hul kind/ers. Hoekom moet n regering besluit hoe n kind groot gemaak moet word? Die regering wil heeltemaal te veel beheer he oor wat in huise gebeur.

Die Skrywer ·

Hi Madels. Ek het spesifiek die Amerikaners aangehaal omdat die Vereniging teen lyfstraf uitgekom het in n omgewing (Amerika) waar lyfstraf wyd toegepas word. Indien u na n voorbeeld wil kyk van hoe n ordelike gemeenskap sonder lyfstraf geskep word, kyk gerus na die Duitsers.

P.S. Meeste massa-moordenaars was aan geweld aan hul ouerhuis blootgestel: laat mens dink ne?

Erica ·

Ag asseblief…rerig? Die artikel kan dalk goed “geskryf’ wees, maar in die praktyk is dit bewys dat pakslae op sy tyd doen wondere. En om die Amerikaners se navorsing as voorbeeld voor te hou is lagwekkend. Die lot se kids word van kleins af geleer om nie respek te he nie. Ons almal wat nog pakslae gekry het makeer absoluut niks nie….inteendeel. As jy jou kind liefhet sal jy hom dissiplineer en pakslae gee. Die Bybel se so. Spreuke 23:13. Ek is by n kleuterskool en glo my..stoute stoel werk nie… Gaan sit by die omkrappie werk nie. Party kleuters word deur hul ouers gelos om te doen net wat hul wil. N wiks op sy boud sou hom regruk maar nou mag jy nie. Vandat lyfstraf afgeskaf is het dissipline op alle terreine van die lewe net n duik gevat. Dis hoekom ons land in sy moer is….just by the way. Lekker grootmaak aan julle brats sonder pakslae mense. Gehoorsame ouers…ai shame…kinders wat vir ouers voorskryf….kry vir julle. Bybel praat mos nonsens…carry on camping!

Hennie Theart ·

Dit is agv die wet dat kinders deesdae dink hulle is groot as hulle 13 is. Lyfstraf is goed vir disipline. Kyk maar hoe goed opgevoed en gedisiplineerd deesdae se kinders is. Steek mekaar dood met messe, neem videos van aanrandings, aanrandings van ander leerlinge en ‘n ellelange lys.
Dit is agv die wet en lyfstraf dat die wereld is waar hy is.
Kinders is kinders en moet so wees tot hulle eendag groot is.

Pediatet ·

ń Kind is vanaf een jaar af ontvanklik vir lyfstraf ten einde sy gedrag te moduleer.In my praktyk moedig ek ouers aan om die houtlepel te gebruik vir hierdie doeleinde.ń Mens kies ń enkele onaanvaarbare gedrag bv.die kind slaan aan volwassenes.Jy verduidelik vir die kind dat hy ń baie mooi en liewe kind is en dat jy baie lief vir hom is maar dat om te slaan aan ń grootmens ń verskriklik lelike ding is en dat dit nie pas by so ń mooi kind nie.Daarom gaan hy elke keer as hy dit doen 2 houe op sy boud kry.
Dan moet mens net volhou-eers vererger die gedrag-die kind slaan al meer -en kry natuurlik elke keer 2houe.Die gedrag eskaleer tot die kind besef dit werk nie meer dan verdwyn dit.Te pragtig om te sien hoe hy sy hand nog ń laaste keer lig en dan homself bedink!
As die gedrag uitgewis is dan sit jy weer met jou kind en bespreek die volgende gedrag wat jou pla-selfde resep.
Mens slaan nooit ń kind uit woede nie.Die kind leer om verantwoordelikheid vir sy dade te neem.ń Eenjarige kan onderskei tussen reg en verkeerd.Die kind kies as’t ware die pak slae deur die verkeerde daad te doen.Die geheim van hierdie proses is dat die straf onmiddelik beskikbaar is en baie sterk gekoppel is aan die gedrag.Daar is ook geen kans vir onderhandeling na die daad nie.

Viv ·

Ek stel voor jy meld sommer jouself aan by die mediese raad ook, miskien sal hulle ook lyfstraf uitdeel. N volwassene wat n eenjarige slaan in n poging om aan die kind te verduidelik hoe verkeerd dit is – besef jy nie hoe uiters onvolwasse dit is nie? Kan jy aan geen ander manier dink om gesag en respek aan te leer nie? N eenjarige het geen begrip van reg of verkeerd nie – dit is n begrip wat oor jare aangeleer word. Hulle reageer slegs op die pyn wat jy veroorsaak, nie omdat hulle die verskil tussen reg en verkeerd verstaan nie

Die Bybel ·

Hennie… Volgens die Bybel is n kind nie meer n kind nie op 13…die wet sê eers op 18

Fox ·

Sommige mense in die samelewing het n verwronge uitkyk wat dissipline aanbetref. Die beste ding is n goeie hou of twee op die sitvlak en die ore gaan sommer skielik oop. Ekt drie seuns grootgemaak en wanneer nodig het ons hulle gedissiplineer met lyfstraf. Niemand se rand aan of slaan dood nie. Ons het ook op skool lystraf gehad. Vandag is ek beslis nie dood nie dit leer definitief om te luister jou ore oop te maak en respek te he vir jou onnie en ook om ander mense met respek te behandel. Meeste tieners het nie eens respek vir die ouers of ander mense nie. Hulle kan hulle nie gedra nie praat terug en vloek en drink en het geen maniere nie. Dit begin in die ouerhuis om dissipline toe te pas. Ouers van vandag laat kinders bo-oor hulle loop hulle het nie beheer oor hulle nie want die dissipline word nie toegepas nie. Gepraat help net nie kyk hoe gaan dit in die skole vandag. Voorbeeld word deur ouers gestel.

Attie. ·

‘n Bord kos en ‘n pakslae doen wonders, net elkeen op sy regte tyd. Ek was gelooi op skool, want ek was onhebbelik, maar indien my pa dit sou hoor sou hy my weer bygekom het. Daarna was ek grens toe en het geen sielskade daar opgedoen nie. Vandag se kinders klim nie eens meer boom nie….

Frans C ·

In sit met ‘n probleem omdat daar geen onderskeid meer gemaak word tussen afwykende
gedrag en kinders wat net stout is.Kinders wat stout is en bv ‘n brandslang sal oopdraai en
ander papnat onder groot toejuiging spuit verdien ‘n pak slae.

Kinders wat bv genot daaruit put om bv diere te skop en te slaan het hulp nodig van mense wat die gedrag kanm odereer en vasstel hoekom die kind so optree.
Indien ‘n weermag se dissipline so swak is soos party skole kan hul net sowel afgeskaf word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.