Dit is ook ons kinders se reg om klas toe te gaan en te studeer

tuks-studentebetogings-1

Betogings op die Universiteit van Pretoria se Hatfield-kampus (20 September 2016). Foto: Twitter via @afriforumjeug

Geagte prof. Cheryl de la Rey

Vir ons was dit net Tuks – die Universiteit van Pretoria.

Trots het ons die eerste dag na jou geluister, dit is vier jaar gelede.

Ons was nie net trots op Tuks nie, maar trots omdat jy vir ons die Universiteit Pretoria versinnebeeld het.

Trots omdat jy met soveel entoesiasme vertel het watter waardige instelling Tukkies is. Die puik navorsing, die studente wat gesog is by werkgewers.

Ons het die 200 kilometer terug huis toe met vertroue en geloof aangepak. Ons student was in goeie hande, het ons geglo.

Die duisende rande elke maand vir studiegeld, verblyf, tolhekke, studiemateriaal, selfoonkontrakte, kos, gimnasiumgeld en petrol word met ’n glimlag betaal.

Jou kind word mos voorberei vir sy toekoms!

Al is ons gewone salaristrekkers is elke Universiteit Pretoria-rekening ten volle vereffen, maand vir maand, jaar vir jaar.

Daar was vele frustrasies van rekeninge wat jy nooit kry nie, dreigende SMS-boodskappe wat foutiewelik aangestuur word.

Maar betaal het ons betaal, elke sent, elke verpligting.

Al het die veldtog gesê FeesMustFall het ons steeds betaal.

Om die waarheid te sê, jaar na jaar meer en meer.

Nou is die Universiteit gesluit.

Die trotse prof. van vier jaar gelede lyk verslae op Beeld se voorblad.

Ons krimp ineen om te lees hoe jy uitgeskel is.

Ons kinders stuur WhatsApp-boodskappe wat ons laat sidder.

Ons slaap nie in die aande nie, ons is bekommerd oor hulle.

Jy as pa gee opdrag: “Bly weg, dink aan jou toekoms.”

Dan kom die boodskap terug: “As ons nie nou baklei nie, het ons nie ’n toekoms nie!”

Dit is kinders wat ’n sorgvrye studentelewe moet geniet wat bou aan ’n toekoms.

Die Born Free-geslag.

Wat kleurblind gebore is.

Onder ’n nuwe vlag, ’n nuwe volkslied.

Wie se ouers nie weggevlug het oorsee nie, maar hier ’n verskil wil maak in Madiba se land.

Ons gaan steeds dié maand betaal.

Maar ons het woede, ons het bekommernis.

Prof., jy kan ons geld vat, maar moet nie aan ons kinders vat nie.

Want nou vat julle aan ons kinders.

Ons kinders het geweldige vrese.

Vrese oor hulle toekoms.

Vrese oor hulle toetse.

Vrese oor eksamens.

Vrese oor vele ander verpligtinge.

Vrese van wat volgende?

Vrese oor die onsekerheid.

Vrese oor die vraestelle wat stukkend geskeur is.

Vrese oor die Desember-verpligtinge wat dalk nie kan plaasvind nie.

Vrese oor hulle eiendom.

Vrese oor hulle lewens wat in gevaar is.

Ons is nie onsimpatiek teenoor mense wat gratis onderrig wil ontvang nie.

Dit is hulle reg om te veg daarvoor.

Maar dit is ook ons kinders se reg om klas toe te gaan en te studeer.

Dit is nie die ongelukkiges se reg om ons kinders se vraestelle op te skeur nie.

Dit is nie hulle reg om klasse te ontwrig nie.

Dit is nie hulle reg om karre aan die brand te steek nie.

Ons sien AfriForum wil selfverdedigingsklasse vir studente aanbied by Tukkies.

Ons kinders wil nie selfverdedigingsklasse hê nie, hulle wil studeer.

Ons sien by die Pukke gaan studente steeds vreedsaam klas.

Wat is die verskil tussen die universiteite prof. De la Rey?

Ons wil nie in jou posisie wees nie.

Maar ons vra mooi: Jy sien die oproerige studente se optrede, maar asseblief prof., kyk ’n slag in die oë van ons kinders wat wil studeer, sien hulle vrese, sien hulle bekommernis.

Maar ongelukkig sal jy nie kan nie want hulle is tuis, besig om te bekommer wat oor twee weke gaan gebeur?

Gaan dit Tuks wees?

Of niks?

Van ’n ouer

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

35 Kommentare

Connie ·

Ouer jy het my simpatie. Ek kry julle en julle kinders so so jammer. Ek sien rooi as ek daai molesmakers so kyk en dink aan die kinders wat wil leer om klaar te kry en ‘n lewe te kan begin. Ons dink aan julle.

DD ·

Beter kan ek dit nie gestel het nie. As weduwee ma deel ek my tweedejaar kind se bekommernis, vrese en stres. So kan dit nie aanhou nie.

Annalie Roux ·

Briljant gestel. Ek kan die “Tuks” net vervang met “Kovsies”. Verder wil ek elke woord beaam!!!

MvS ·

Dankie vir die waar woorde namens al ons bekommerde keelvol betalende ouers van TUKS studente

Basson ·

My dogter WAS vuur en vlam, vol opregte entoesiasme en opgewondenheid om Januarie by UP aan te meld vir die volgende fase van haar lewe, haar bestaan en haar toekoms ideale. Alas – dit het omgesit in senuwees, trane, stress ens, want sy sien en hoor die boodskappe van haar vriende wat reeds Tuks studente is.
Hierdie drome is verpletter deur kriminele en EFF hansworse, wie se dade nou mense se toekoms daardwerklik en direk beinvloed. (En informeel hoor ek van kennise (dosente) dat daar niks juis gebeur tussen nou en 10 Okt, en dat mens maar ‘n plan B moet he vir 2017. Ek glo dit nogals, want daar is geen terugvoer oor vordering nie.)

Lizanda ·

Ek skud my kop in ongeloof, betalende, gewillige jongmense die toekoms van ons land, wat smeek en hulle aksies probeer reverdig in ‘n land waar total anargie heers,

Ouma ·

Nou vra ek jou met trane in my oë wat moet die arme Prof maak???? Hierdie is nie net ‘n Tuks aangeleentheid nie maar ‘n nasionale ding! Haar hande is net soveel afgekap as wat jou arme kind is. Dit is die gespuis daar buite wat aangespreek moet word. Sy het al hoeveel keer gepraat, gesmeek, gedreig, ge-als, maar dit help nie. Dis ‘n ander ouer se kind wat die probleem is = waar le die antwoord – by jou as ouer! Voed jou kind reg op om die waarde van dinge te besef en hul sal nie so optree nie! Dus – begin by die ouerhuis!

Basson ·

Toesien dat die wet uitgevoer word.

Ouma as jy die wet oortree word jy vervolg, wat maak hierdie groep kriminele spesiaal om vervolging vry te spring?

Ouer ·

Ag dis nou regtig waardeloos, jy preek vir die verkeerde ouer. Gaan preek vir die amokmakers se ouers, nie vir die ouer wie se kind wil studeer nie. Jy vra wat moet die Prof doen? Wat moet die ouer doen wie se kind daar is wat hy reg opgevoed het? Prof de la Rey moet ‘n ruggraat groei en besluite begin maak wat haar dalk nie so gewild gaan laat nie, maar wat die studente gaan toelaat om verder te studeer. Hulle hou orals stemmings, sy sit by die huis en teedrink want dis nie haar toekoms wat daarvan afhang nie. Hoe voed jy nou die klomp brandstigters in ‘n week op en maak asof dit die oplossing is?

Ook 'n Ouma ·

Julle ouers dink almal julle kinders is engeltjies – ons werk elke dag met hulle en ek kan jul verseker baie van die studente is onopgevoed wat geen respek vir dosente en mede studente het nie! Julle sal heeltemal ‘n ander deuntjie sing as julle op kampus is. By die huis kan botter nie in Boetie en sussie se mond smelt nie, maar sodra hul in ‘n groep is ontaard hul in ander wesens.

Andrea ·

Nee, Ouma, die prof kom nie haar verpligtinge na teenoor alle studente nie. Dit het begin met die Afrikaans MustFall veldtog. Sy het baie vinnig toegegee, want dit was al vir n ruk in die pyplyn. En het dalk ooreengestem met haar persoonlike opinie?
Sy hey dis n atmosfeer gekweek vir dít wat nou gebeur. Of soos ons in goeie Afrikaans sê, n lat vir haar eie gat gepluk. Jammer dat ons kinders wat WIL studeer, ongeag die koste, met daai lat gefoeter word.

James ·

Die probleem is dat ‘n mens nie met gespuis kan praat nie. En hulle verkies die anargie want dit gee hulle die wanopvatting dat hulle in beheer is.

Jakobus ·

James, ek dink die antwoord lê in hul kultuur van betogings om dmv die massas te mobiliseer om ‘gehoor’ te word, vir der jare, sedert 1994. Dit gee hulle ‘n spreukbuis, dit werk mekaar op. Dit is hoe die vakbonde dit hanteer om hul griewe te lug. Dit is nou ook soos die kinders dit doen, by die ouers en die vakbonde geleer het om te organiseer en te mobiiliseer. Ongelukkig sien mens elke keer waar dit opeindig.

Disselboom ·

As jy ‘n amp aanvaar, soos om rektor van ‘n universiteit te wees, dra jy die verantwoordelikheid. Prof Cheryl de la Rey is afwesig vir die studente wat wil studeer; maar toegegee, ons openbare universiteite is maar reënboognasie-karakterlose a-kulturele identiteitslose plekke. En daarom ‘n oop teiken, want daar is nie ‘n rektor wat soos ‘n pa omgee vir die regte studente, met hulle saamsit en planne maak, hulle troos, onderrig en net gewoon omgee vir hulle nie. Nee, sy sal met die oproeriges gaan praat, maar van ‘n vergadering met die werklike ernstige studente, geen sprake nie.

chrisp ·

Nee wat die antwoord le in verskillende instellings dit is net so eenvoudig soos dit. Ek onthou baie goed waar ek op Maroela geskryf het toe die begin het dat dit glad nie oor geld alleen gaan nie.’n Tuks student het my sommer aangevat deur die “griewe “ te verstaan.Ek wonder wat se hy nou?
Toe ons op universiteit, technikon en kollege was was daar nooit eers sprake hiervan nie.
Die blaam moet voor die proffie se deur gele word.Indien sy daadwerklik opgetree het in die begin sou dit dalk heel anders gewees het. Ek verstaan ook haar swak optrede.Sy sou as ‘n rassis gebrandmerk word, nie dat dit enigsins ‘n verskil op die einde maak nie.
Bou ons eie instellings dit is al oplossing. Solank mense dink jy kan al die verskillende kulture meng sal ons met die probleem sit. Elkeen kan maar eerlik homself/haarself die vraag afvra. Sou hierdie gemors gebeur het op ‘n Afrikaanse instelling? Indien nie is die oplossing mos voor die hand liggend.

Dup du Plessis ·

chrisp. Dis juis waarvoor ons Afrikaanse ouers baklei om PUK se kultuur van hoofsaaklik Afrikaanse studente te beskerm/behou. Alles funksioneer hier nog 100%, selfs verlede jaar ook. Die hartseer is egter omdat hierdie kampus funksioneer soos wat dit moet, word dit jaarliks doelbewus en stelselmatig d.m.v. demografiese (taal) verandering gedwing om ook maar soos die ander in die toekoms te word. Terwyl ons as ouers voel dat daar eerder hier juis vir Afrikaanse studente voorsiening gemaak moet word – ouers en studente is bereid om te betaal vir hul studies ( hetsy met swaar verdiende geld of lenings ens. ) Die PUK kampus sal nie naastenby aan die Afrikaanse vraag kan voldoen nie. Tog is dit asof die regering eerder AL die universiteite disfunksioneel sal wil sien, eerder as wat daar darem EEN is wat normaal funksioneer. Maar ek dink nie ek kan myself indink aan die teleurstelling van ouers en ware studente by die ander universiteite nie

Heinrich ·

Ek is ook ‘n ouer wat twee jaar gelede gesit en luister het na hoe fantasties alles by Tukkies is. In twee jaar het hoër onderwys instellings my respek totaal en al verloor. Nie net is my taal by die venster uitgesmyt nie, maar my kind se reg om te studeer word negeer sodat fandale hulle reg mag uitoefen om af te breek. Julle is veronderstel om die slim mense te wees; maar toe draai julle uit as die ruggraatloses!

Johann ·

‘n Vriend en vriendin van ons se kind is 1 ste jaar op Tuks, swot meg. ing. Hulle het dit ook nie breed nie, sit maar kop neer in hierdie geharwar, probeer die kind die beste van hul vermoë bystaan. Hulle en ook die kind is nie geharde mense wat vorentoe sal kom en ‘demand’ (aandring op hul reg nie), is maar beskeie en saggeaarde mense. De la Rey en die ander visie rektore versaak hierdie mense, hulle word blootgestel aan dinge wat geharde mense sal skok, selfs die ouers het nog nooit so iets ervaar nie, skokgrante, die geweld, geboue wat brand, skote wat klap, van rubberkoels wat geskiet word, baie van hulle het nou persepsies en ‘n vertroue wat geknak is. Hulle sien nou hoe die ‘ander’ mense optree, hulle het geweldig empatie, maar dit verander nie die persepsie van sekere medestudente se optrede nie. Hulle is bang, bevrees. Hulle moet daarmee en die tonele wat hulle op die kampus ervaar saam dra die toekoms in.

Theresa ·

Die prof moet haar verpligting nakom en die opstandige vernietigers laat toesluit. Hul optrede word deur die meeste mense as veragtelik beskou. Sy moet ‘n veilige, ordelike omgewing skep vir die betalende, ernstige studente. Geen mens behoort te vrees vir werk of studie aan ‘n universiteit nie. Dis regtig nie moeilik nie. Standpunt inneem is wel moeilik, as jy bloot popular wil wees. Basta met ‘n rector wat deur polisiemanne beskerm moet word omdat daar ‘n handvol argwaan-gevuldes rondspring. Vat die spul vas en hou hul weg van die kampusse af. Indien hul maniere en ordelik kan saamwerk, is dit hulle wat moet waai, niemand anders nie.

Theresa ·

My laaste sin moet lees: Indien hul nie maniere bekom en ordelik leer saamwerk nie, is dit hulle wat moet waai en niemand anders nie.

CL ·

Aan Ook ‘n Ouma: jy het die verkeerde platvorm beet. Ons praat oor die amok makers. Dit lyk asof jy onder die indruk is dat ons kinders dit verdien omdat hulle sulke swerkaters is. Alle studente is nie ongepoets nie. Ek sien baie van hulle. Dalk net met jou. Ons kinders verdien die situasie op kampusse nie. En ‘n oud rektor het hierdie week gesê hy sien hoe alle studente in SA hierdie jaar dop. SE VOET! Straf almal vir die min se manipulasie?

Johann ·

Ek sal graag wil sien waar die universiteite/regering die geld gaan kry om die kinders/studente gratis die jaar oor te laat doen, want verseker kan hulle nie die studente weer laat betaal nie.

Dan moet mens onthou, nou praat mens nie van verhoogde gelde nie, mens praat van Rnul vir een volle jaar, en dit vir alle studente wie nie die geleentheid gegee is om te studeer en eksamen te skryf nie.

Johann ·

Kom ek vra by, wat maak die universiteite met losies vir die mense, met inaggenome die innames vir die volgende jaar, dit gaan een kollosale rippeleffek afgee, chaos. Klasse ? Ek die studente wat privaat loseer, hulle sal verseker nie verniet by daardie mense kan tuisgaan nie, en wat van die wat in woonstelle bly?

Grotman ·

Identifiseer eerstens die amok makers wat klip gooi en brand.Laat die wat vreedsaam betoog voortgaan solank hul wil, dis mos hul reg in die nuwe SA sedert wetgewing dit magtig. Ouers van kinders wat wil studeer en verhinder word deur fandale wat veroorsaak dat instansies sluit en dus moontlik hierdie akademiese jaar sal moet herhaal, hou rekord van alle finanasiele uitgawes, gebeure met tye en datums ,koerant berigte, fotos ens.

Moontlik is daar n organisasie soos bv. ” Solidariteit” wat later n gesamentlike ‘ klas aksie’ teen die regering kan instel wat versuim om die wat wil studeer se regte te beskerm.

Die vraag ontstaan indien n persoon n klip of voorwerp in iemand se rigting slinger, is die idee tog om daardie persoon te beseer of om eiendom te beskadig. Die redelike mens sal weet dat indien jy n voorwerp na n persoon slinger , jy so persoon ernstig kan beseer of selfs dood. Selfs al word die voorwerp bv. na jou motor geslinger, moet die redelike mens toets voorgehou word. Dit is moontlik om met bv. n klip n persoon binne in n motor ernstig te beseer of te dood.

Wanneer mag ek dan my lewe of my eiendom beskerm?

Ek is geen regskenner nie, net n bekommerde landsburger wat sien wat gebeur in hierdie pragtige land van ons.

Sterkte aan alle studente wat graag hul studies wil voortsit en hul kwalifikasies wil verwerf.

Susan ·

Ek stem saam. My seun studeer ook by Tuks. Ons ou Tuks studente. So trots op ons univetsiteit. My seun vra aan my: ma wat gaan gebeur. Ek wil net swot. Ek wil my graad kry. Ons betaal al vir 3 jaar gereeld al ons rekeninge. Ons is bekommerd. Op ons knie vra ons, asb Vader kyk na ons kinders. Gee die bestuur van die universiteit die krag om die regte besluite te neem.

AFP ·

Ek wil vra wat gebeur met studente wat plagiaat pleeg. Sover ek weet word hulle op ‘n swartlys geplaas en kan vir 5 jaar by geen Universiteit gaan studeer nie. Is hierdie nie erger as plagiaat nie. Is daar nie beeldmateriaal wat die skuldiges uitwys nie. Plaas hulle op ‘n swartlys en as hulle weer so reageer sit nog 5 jaar by. As hulle opvoeding daaronder gaan lei sal die meerderheid dalk twee keer dink.

Francois du Preez ·

Maroela Media, ek sal graag wil weet hoekom word die verwoesting oral op die voorblaaie van koerante en die media gewys, maar die noodkreet van ander studente wat wil studeer nie?

Is dit omdat die kreet van die ander student nie genoeg sensasie sal veroorsaak vir die liberale pers nie?

Moulder ·

Dis presies hoe ons voel ….ook net Kovsies!! Ons kinders is verward en sommer totaal lusteloos. So siek vir die klomp kommuniste!! Wens so daar was ander opsies!

Niccy ·

Hoe is dit moontlik dat ‘n minderheid klomp barbaarse studente alles net so kan omverwerp! Waar is ons polisie, sluit hul toe en maak voorbeelde van hul met vervolging. Hou hul weg van die Universiteits terreine en koshuise af. WAT SOEK HUL NOG DAAR Dit is almal kinders wat so aangaan en hul het geen respek vir hul mederes nie. Theresa ek stem saam met jou, stuur hul huis toe!!

Puk - ma ·

Ek wil net graag weet hoekom nie een by prof Fika van die Puk aanklop vir raad nie. Sy Potchefstroom kampus is dood rustig en klasse gaan daar normaal voort. Na 2 kovsies is dit heerlik.om n Puk in die huis te he.

Elsabe ·

Ek betaal al 5 jaar my kinders se studiegeld ten volle. Moet my tekort doen om hulle ñ toekoms met goeie werk te kan gee maar doen dit met liefde. Dan kom sulke goed op hul pad en veroorsaak stres met baie onsekerheid. Ek dink hulle moet prestasie koppel aan afslag dan sal die wat wil leer daar wees en maak die kreteria / kering van % hoër om daardie een wat nie wil leer uit te hou. Dis hulle wat so moles maak en geen ruggraad het om iets te word nie maar alles verniet hê en niks waardeer. Las v d samelewing en belastingbetaler

John ·

Hierdie betogers is die kinders van terroriste wat nou die base van Suid-Afrika is. Wat verwag ons? Ons geagte destydse Britse regeerders se rol in die aanvuur van die sg agtergeblewenes se regte, word deesdae geignoreer. Hoekom? En die uitlanders wat nou ook ons ID’s dra. Hulle rol kan nie ontken word nie. Ons kinders… wie gee vir ons kinders en hul toekoms om?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.