Lesersbrief: ‘Dit is soms al wat ons oor het’

kokerbome

Foto: Verskaf.

Charné Kruger van die plaas Brusselsput buite Kenhardt skryf:

Ek ag myself nog nie as ‘n volwaardige Boesmanlander nie. Wanneer ek die 10 jaar-merk haal, sal dit hopelik verander.

Ek is wel ‘n gebore en getoë Noord-Kapenaar, en wanneer jy grootgeword het met Vaalrivier- of Oranjerivierwater, sukkel jy maar om iets anders te drink.

Maar wanneer jy leer brakwater drink in die Boesmanland, sit jy met ‘n heel ander probleem! Jy sien so baie mense wat met hul kanne gekoopte water reis of kombuise met suiweringstelsels.

Nou ek is een van daai mense wat my kan brakwater saamry, want het jy al ooit geproe hoe lekker is koffie met brakwater?

Met my tuisbedryf wat uit sy nate bars, kry ek soms komplimente soos, “Hoe kry jy ‘n gewone dis so lekker?”

“Brakwater!”

Maar soos die reënwolke ons jaar ná jaar verbygaan, so ook het ons water onder die grond al minder begin raak – jy kry soms die idee die waterare het begin stol. En waar daar nie water is nie, is daar nie meer hoop nie.

Of so het ek gedink.

Twee maande terug het hier ‘n jaloersbui reën geval (ons noem dit so, want dit was nie eens die moeite werk om die reënmeters na te gaan nie), dit is nou hier waar die wonders van ons Almagtige Vader in kom.

Die kokerbome blom in April, maar weens die droogte het hulle al ‘n jaar of twee oorgeslaan.

Nou, om terug te kom by die jaloersbui. Ons is dankbaar vir elke druppel, maar dié wat die hardeveld ken, weet ons het ná agt jaar ten minste ‘n duim nodig om ‘n verskil te maak.

So het ek ook die vaal kokerbome staan ek kyk en besef hulle gaan weer nie blom nie.

Tot my uiterste verbasing, staan ek een oggend, vroeg in Mei, buite en hoor hoe zoem die bye, en waaragtig! Die kokerbome het bloeisels! ‘n Week of wat later en hulle is in volle blom, vaal blare en al.

Nou vra ek jou, is ek en jy ook so dankbaar vir so “klein” seëning soos ‘n paar druppels vars water wat ons ontvang, of het ons selfsugtig geraak, soos ons is met ons kanne water?

charne-kruger

Charné Kruger. Foto: Verskaf.

Met die skryf van hierdie stuk, het die Here vir my bly sê: Gaan leer by Habakuk. En so het ek weer en weer Habakuk gelees, en natuurlik het die bekende verse 17 tot 19 vir my uitgestaan. Ek het soveel insig in die paar verse gekry dat ek ook mý weergawe wou skryf:

Al sou die kokerboom nie blom nie

en die waterare uitgeput wees,

al sou die ooie hul lammers wees laat

en hulle omkom van honger en dors,

al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie

en die springbokke hul laaste pronke pronk

nogtans sal ek in die Here jubel,

sal ek juig in God, my Redder.

Die Here my God gee vir my krag.

Hy maak my voete soos dié van ‘n ribbok,

op hoë plekke laat Hy my veilig loop.

Ek is g’n profeet nie, maar ek wil graag deel wat die droogte ons tot dusver geleer het. Bly jubel, bly juig, want soms is dit al wat ons oor het.

Dankbaarheid.

Habakuk 3:17-19 – 

Al sou die vyeboom nie bot nie

en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie,

al sou die olyfoes misluk

en die lande geen oes lewer nie,

al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie

en die beeskrale sonder beeste wees,

nogtans sal ek in die Here jubel,

sal ek juig in God, my Redder.

Die Here my God gee vir my krag.

Hy maak my voete soos dié van ‘n ribbok,

op hoë plekke laat Hy my veilig loop.

 

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Ronell ·

Merkwaardig hoe dankbaar die natuur so dikwels is. Ek het dieselfde verskeie kere op ons eens pragtige plaas
(nou verlore…) ervaar.
Baie dankie vir jou mooi positiewe skrywe Charné. Tref diep en bring mens weereens tot die besef hoe wonderlik ons Heer se skeppingswerk is en hoe baie ons as mens, die kroon van Sy skepping, daaruit kan leer. Mag ons Vader ons genadig wees en waters laat uitstort waar dit so broodnodig is. Baie sterkte aan alger wat in hierdie droogte stryd moet oorleef.

Amelia ·

Jisliaak!!! Ek hou van jou skrywe,dit raak aan my hart.Behou jou blydskap en vertroue die reen sal virseker kom….

Stephan de S ·

Wat n pragtige artikel vol geestelik waarheid en insig. Dankie Charnè. Mag die Vader ryklik in die omstandighede voorsien en ook oorvloedig uitkoms bring(selfs in die winter) vir al die verstommende vasbyters in daai pragtige wêreld.

Jerry ·

Die kern begrip van jou skrywe – Dankbaarheid teenoor ons Skepper wie weet wanneer ons net n bietjie nodig het en wanneer ons baie nodig het. Jou skrywe bied lafenis vir die siel. Mag daar asseblief n paar ekstra jaloersbuie daar doer op Brusselsput uitsak!

Maria ·

Ek hou van jou skryf stukke… Dit voel of mens langs jou staan / sit as jy dit lees en die mooi beleef

Christine ·

So waardeer, baie dankie dit het net weer insig gegee in die dankbaarheid van God gegewe genade.

Peter Rau ·

Dis nou ntsjaa! gekrywe. Kry jou griffel en lei en krap nog juwele uit en deel hulle met ons.

Jan ·

Nee wat julle lewf in jul eie droomwerelde.doen eerder iets prakties soos om n paar groot damme in die oranjevier te bou dan kan ten minste die water wat verdamp weer uitreen in dieomgewing…dis mos nou n slim boereplan..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.