Dringend nodig: Selfstandige onderwys wat oor onderwys gaan

onderwyser

Foto: Homeyesterday.com

Die misbruik van onderwys as politieke speelbal het net vererger sedert 1976, toe Afrikaans as aangeleentheid in swart skole misbruik is om die massa op te stook, skole en baie ander geboue af te brand en oor die algemeen verwoesting in goed en gemoed van die land te saai.

Afrikaans is steeds ’n speelbal in die hande van politici, en so ook word onderwys steeds mishandel in die magstryd in Suid-Afrika.

Dit word toenemend sigbaar dat grondwetlike regte, aansprake op die letter van die wet en regte daarin vervat en die ruimte vir betroubare onderhandeling nie juis beskerming bied nie. Berigte van verlede naweek dat die vermeende gematigde, Cyril Ramaphosa, in sy toespraak by die ANC Youth League pront gesê het dat die ANC hom nie deur die howe gaan laat voorsê nie, is ’n flitsende rooi lig wat ’n verskynsel nou na beleid opstoot.

Organisasies soos Fedsas, SAOU en AfriForum maak in hul optrede grotendeels op die howe staat om onwettighede, onregte en soms bloot administratiewe opsetlikheid wat Afrikaanse onderwys benadeel, en vryhede soos godsdiensregte aantas, aan te raak. Daar is redelike sukses in die uitsprake, maar hoe lank gaan die uitsprake die nodige invloed hê?

Die FW de Klerk-stigting het onlangs ’n artikel na aanleiding van die sogenaamde Luister-propagandavideo teen die Universiteit van Stellenbosch (US) geplaas, waarin daarop gewys word dat die huidige aanslae teen die gewese PUK en teen US aanslae op minderheidsregte is en oordrewe aandag gee aan swart studente se eise. Die artikel wys ook daarop dat hierdie onregmatige aanslae teen Afrikaanse universiteite gebeur ondanks groot toegewings wat reeds gemaak is, en dat dit “verreikende gevolge inhou vir die toekoms van Afrikaans-mediumskole”.

Die oorspronklike artikel is in Engels geplaas en stel die volgende: “… the debate at Stellenbosch will have far-reaching implications for the future of embattled Afrikaans-medium schools – and by extension for the future of any public education in Afrikaans (since in parallel-medium institutions Afrikaans would eventually be eclipsed by English).

Daar is dus ’n toenemende duidelikheid oor en bewustheid van die onbeskaafde en magsoorheersende werklikheid in Suid-Afrika, waar nie regte op papier en selfs howe nie, maar die sterkste mag en meerderheidsopsweping die botoon voer. Nogtans is die huidige strategie van die opsigtelike Afrikaanse instellings nog steeds ’n beroep op die howe. Meer as dit is nodig vir oorlewing, en dit laat die vraag hoe die strategie moet lyk.

Die ineenstorting van die normaal-beskaafde veronderstellings in demokrasie (dat kiesers uiteindelik rasioneel is en bewindsverandering realisties plaasvind na gelang van die vermoë van leiers en partye) en in die regstaat (dat howe se uitsprake eerbiedig word en ’n uitwerking het), noodsaak ’n verandering van strategie. Minderheidsregte werk nie.

Die saak is natuurlik breër as net onderwys, maar vir hierdie blog fokus ons op die onderwys en wys op die noodsaak van selfstandigheid in onderwys. Die huidige situasie is dat die onderwys in Suid-Afrika met klein uitsonderings alles onder die regering se voorskrifte staan: Wette is ingestel en word streng uitgeoefen waarvolgens tersiêre onderwys deur die regering geakkrediteer en geregistreer word, en dit strek selfs sover as dat voornemende predikante se graadkursusse regstreeks onder staatsvoorskrifte staan. Die wese van universiteite as ’n beskawingsbegrip dat dit akademiese soewereine eenhede in die samelewing is, is reeds in Suid-Afrika met wetgewing vernietig.

Die kragdadige wyse waarop universiteitstoelating en die oordrewe matriekeksamenbegrip aangewend word om alle onderwys van primêr tot tersiêr in gelid onder staatsbeheer te plaas, word ervaar, maar nog nie genoegsaam erken nie. Dit is hierdie sosialisties gesentraliseerde staatsinmenging wat dit in Suid-Afrika moontlik maak om rassekwotas bo akademiese vermoë en gesonde logika vir die voortbestaan van die samelewing se akademies geskoolde leierskap te stel. (Die wyse waarop toelating tot mediese en veeartseny-studies vir wit leerders baie moeilik gemaak word, is van die sigbaarste voorbeelde wat die gemeenskap tot vrees vir sy eie toekoms oor mediese standaarde behoort te lei.)

Hoewel die aanslag hoofsaaklik teen Afrikaans is en eintlik maar bedoel is om Afrikanerinstellings finaal oor te neem en af te breek, sal die aanslag teen gesonde akademiese selfstandigheid in die proses nie net Afrikaners nie maar die hele Suid-Afrikaanse samelewing benadeel.

Die hof-toe-hardloop-strategie het ’n susmiddel geword wat grootdoenerige aksie vertoon, maar weinig uitwerking het en nie bydra tot die langtermynopbou nie. Die strategie moet verander na selfstandigheid, na onderwys wat nie eerstens die wetlike raamwerk en staatsvoorskrifte nakom nie, maar bepaal wat is toepaslike en akademies verantwoordbare onderwys vir ons hedendaagse tyd, en dan die toekoms sowel as skole en alle ander opleidingsinstansies se doen en late daarvolgens bepaal.

Die hofsake is nie heeltemal sonder nut nie. Dit stel die onregte in die openbaar, wek openbare simpatie en kan dien om tyd te wen vir posisionering in die onderwyslandskap, maar dit is valse gerustheid om op hofsake te steun en dan agteroor te sit.

Met “selfstandigheid” word hier onderskei van die sogenaamde “onafhanklike skole” wat ook ’n fopspeen geword het wat die naam van onafhanklik dra, maar die staatskurrikulumvoorskrifte volg en deur die staat se “gehaltebeheer” (deur Umalusi) beïnvloed en gemanipuleer word. Dit geld vir instellings soos die IEB (Independent Examination Board), die BCVO (Beweging vir Christelik-volkseie Onderwys) en ICO (Instituut vir Christelike Onderwys). Van hierdie organisasies doen in die omstandighede wel goeie werk vir ten minste gehalte binne die regeringsraamwerk, maar steeds met die blok om die been van staatsvoorskrifte en Umalusi-sertifikate wat geloofwaardigheid knou.

Kapitaalkragtige instellings vir privaat onderwys soos Curro en AdvTech kan ’n bydrae lewer vir selfstandige onderwys, maar is ook nog te verknoop binne die regeringsraamwerk en betree toenemend die massamark, en sal dus ook aan die massamening uitgelewer bly. Die gebeure in die afgelope jaar by Curro se skool by Roodeplaat is ’n goeie voorbeeld hoe kultuurloosheid in ’n skool juis die skool aan eise vir politieke korrektheid blootstel; weer eens sonder dat die twee voorvalle met al die publisiteit en gevolge daarvan tot enige vooruitgang in akademiese onderrig gelei het.

Hierdie organisasies beskou hulself as onafhanklik, maar bly gebind aan die staatsvoorskrifte en benut inderwaarheid die raamwerk van die staatskurrikulum, en trek tog voordeel uit die gehaltebeheerbesoeke van Umalusi. Dit laat die vraag ontstaan of die vermoë om werklik selfstandig onderwys te bedryf, om jou eie standaarde, inhoude en werkswyses te ontwerp, beoefen, bedryf, meet en voortdurend aan te pas vir veranderings in kennis, tegniek en samelewing nog buite die departement van onderwys bestaan?

Die klem in die afgelope dekades was te veel op die nakom en byhou by veranderende regeringsvoorskrifte. Daar is baie min te sien van selfstandige onderwysnavorsing in Afrikaans wat oor akademie, vakkundigheid en tegniek gehandel het, maar boekdele vol wat in die debatte rondom regeringsmanewales soos Kurrikulum 2005 en toe weer die hersiene kurrikulum en KABV (Engels: CAPS) geskryf en bespreek word. Die sogenaamde onafhanklike onderwysinstellings word ook meer deur nakoming en werkswyses om onaanvaarbare regeringsinhoude te systap besig gehou as ware navorsing en vooruitgang in die daarstel van selfstandige Afrikaanse onderwys.

Die noodsaak vir selfstandige Afrikaanse onderwys is ooglopend: Die geskiedkundige verloop van Suid-Afrikaanse onderwys en die sukses wat staatsonderwys in die vorige eeu behaal het, het die samelewing verkeerdelik laat dink dat onderwys ’n staatsfunksie is, en dat die regering die reg het om dit voor te skryf. Dis ’n denkwyse wat nou tot verslaentheid en verwarring in Afrikaneronderwys lei, noudat dit opnuut sigbaar word dat die ruimte vir Afrikaneronderwys nie in die huidige regering en die meerderheidsparty, die ANC, se denke bestaan nie; en dat die howe hierdie ruimte nie oopgehou gaan kry nie omdat die regspraak self onder beleg is en deur die regering geminag word.

Die saak van hoe onafhanklik al dan nie onderwys is, word aangetoon deur die feit dat bykans al die onafhanklike onderwysorganisasies die regering se kurrikulumraamwerk aanvaar, en dat selfs organisasies soos die BCVO en die ICO ’n gewetensbindende en nie-akademies verantwoordbare “vak” soos lewensoriëntering as vak erken in hul skole en denke. Die enigste rede hoekom hierdie “vak” in hierdie organisasies se skole aangebied word, is omdat die regering dit voorskryf. Dit het nie uit eie geledere, eie inisiatief of akademiese noodsaak na vore gekom nie.

Dieselfde geld vir die “leerareas”, wat in die nadraai van Kurrikulum 2005 toe weer “vakke” gedoop is, maar tot groot mate dieselfde akademiese problematiek behou het van ’n saamgooi van vakke, byvoorbeeld geskiedenis en aardrykskunde, met akademies afbrekende gevolge vir vakwetenskap in die onderwys. Tog word dit gehoorsaam.

Die aanvaarding van hierdie verskynsels in die kurrikulum dui op onderhorigheid en ’n gebrek aan onafhanklikheid en aanvaarding van sosialistiese inmenging in vakwetenskap.

Die ANC-regering se greep op die volle spektrum van onderwys in Suid-Afrika is duidelik. Die feit van die oorneem en afbreek van Afrikaanse universiteite en die minagting vir Afrikaanse onderwys in minderheidsregte word uit verskeie oorde nou hardop erken, en die waarskuwing dat die Afrikaanse skoolwese die wanorde en afbreekproses nie gaan vryspring nie, moet nou gehoor word.

Die “privaat geld” in onderwys sal sy sentimente moet heroorweeg en besluit of dit kan bekostig om vasgevang te bly in die sentiment dat die PUK en US Afrikaanse instellings is, en of dit vasgevang kan bly in die sogenaamde “onafhanklike onderwys” op skoolvlak, wat egter reeds in die regeringsnetwerk vasgevang is en waar die inspan van opgestookte massas nie gaan wegbly nie. Waar staatsgeld die basiese koste betaal, soos in enige staatskool, selfs die vooruitstrewendes, moet die waarskuwings gehoor en betyds besin word of daar binne enige staatsbeheerde onderwysinstelling iets van Afrikaans gaan oorbly met die wette en regte wat platgestoot word.

Ons is tans te besig met te veel regte, en te min met onderwys. Die hofsaak oor godsdiens in skole, die hangende hofsake en in-uit-die-hof-verhouding tussen Fedsas en die Gautengse LUR vir onderwys, die onrus van die Roodepoortse skool wat dán gesluit en dán weer oop is, ure en koste wat in optogte en hofsake van die afgelope jare oor beheerliggame en toelatingsbeleide, vergaderings en allermins onderwys ingaan, is voorbeelde van ’n toestand waar onderwys voos gespeel word vir politieke doeleindes. Intussen moet die ekonomie maar klaarkom met ’n opkomende geslag wie se onderwys vol gate is; om van die individuele kinders se regte dan nou nie te praat nie – en dit terwyl die adjunkpresident vir ons sê dat die regerende party hom nie deur die hof sal laat voorskryf nie.

Selfstandige onderwys kan fokus – fokus op onderwys, en dan ook op die onbeskaamde uitoefening van Christelike onderwys en kultuur. Dit sal egter blootgestel, broos en weerloos bly as dit nie ten eerste sterk, akademies verantwoordbare onderwys is wat in die gemeenskap en die ekonomie erkenning en bewondering kry vir die uitnemendheid en opleidingsnut daarvan nie.

Die noodsaak vir selfstandige Afrikaanse onderwys is dringender as ooit. Dit het begin en is waar die volgende groot dinge wat nut het in onderwys gaan gebeur.

Leonard van der Dussen

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Sarel Strydom ·

My vraag: Hoelank gaan daar nog Afrikaanse onderwysers beskikbaar wees.

Hein ·

Solank kinders hulle ordentlik gedra en nie onderwysers as vyande maar opvoedkundiges te aanvaar. Ek dink dit is belangrik om van kleins af die belangrikheid van goeie skoolopleiding by kinders te vestig en wat se voordele geleerdheid vir hulle toekoms inhou. Baie onderwysers hou op skoolhou omdat hulle gatvol is vir die kinders se houding .

Polaris ·

ʼn Uitreksel uit die boek, “The Jewish centuary,” deur Yuri Slezkine. Rusland.
After the Revolution, not only were the Germans replaced, but there was
active suppression of any remnants of the older order and their descendants.
Jews have always shown a tendency to rise because their natural proclivities
(e.g., high intelligence) and powerful ethnic networking, but here they also
benefited from “antibourgeois” quotas in educational institutions and other
forms of discrimination against the middle class and aristocratic elements of
the old regime that would have provided more competition with Jews. In a
letter intercepted by the secret police, the father of a student wrote that his
son and their friends were about to be purged from the university because
of their class origins. “It is clear that only the Jerusalem academics and the
Communist Party members generally are going to stay” (p. 243). The bourgeois
elements from the previous regime, including the ethnic Germans, would have
no future. Thus the mass murder of peasants and nationalists was combined
with the systematic exclusion of the previously existing non-Jewish middle
class. The wife of a Leningrad University professor noted, “in all the institu-
tions, only workers and Israelites are admitted; the life of the intelligentsia is
very hard”

Fanie ·

Die skrywer se klem op selfstandige onderwys word ondersteun. Die goeie nuus is dat omvattende planne daarvoor reeds in werking gestel word deur die instellings van die Solidariteit beweging en hulle vennote en vriende. Die aanname dat daar hoofsaaklik op ‘n hofstrategie staatgemaak word is nie korrek nie, dis bloot deel van ‘n omvattende strategie. Hierdie strategie behels die bevordering van die magte van beheerliggame deur Fedsas, groot beursprogramme aan Afrikaanse Onderwysers deur die Solidariteit Helpende hand en die Rapport Onderwysfonds, opleiding van byna ‘n duisend onderwysers deur Aros, ‘n Christelike Onderwyskollege in Pretroria, die SAOU se programme om Onderwysers op te lei, die Helpende hand se omvattende bystandsprogramme soos kos- en skryfbehoeftevoorsiening in meer as 400 skole, studies en loodsprojekte oor bekostigbare privaatskole, en talle ander projekte.

Disselboom ·

Is onder die indruk dat AROS ‘n afdeling van die GKSA (Gereformeerde Kerke) is nie van Solidariteit nie? En die SAOU is mos ook iets op sy eie?

Leendert van Oostrum ·

Intussen is daar letterlik duisende werklik selfstandige, ongeregistreerde privaatskole regdeur die land, in feitlik alle gemeenskappe. Volgens Wits se navorsing presteer die leerlinge in hierdie “voëlvry” skole beter as in geregistreerde privaatskole as hulle met dieselfde toetse getoets word.

Baie van hulle is klein skooltjies, met van drie tot dertig leerlinge, maar daar is groteres met honderd of meer leerlinge. Hierdie mense gaan net aan en leer kinders, sonder die burokratiese las van onderwysdepartemente en Umalusi. Heelwat van hulle sluit teen ‘n geringe fooi aan by die Pestalozzi Trust se regsfonds vir tuis- en kleinskaalonderwys. Ek het verlede jaar ‘n artikel in ‘n Britse onderwysjoernaal oor hierdie skooltjies en tuisonderwys gepubliseer onder die titel “South Africa’s Outlaw Educators”.

Ek kan ook meld dat ‘n vereniging van wêreldwyd-bekende privaatskole wat “alternatiewe” onderwys aanbied, onlangs eenvoudig vir Umalusi in kennis gestel het dat hulle NIE die staatskurrikulum sal volg nie omdat dit strydig is met hul etos.

Die ongeregistreerde skole is van mening dat die afdwing van ‘n staatskurrikulum (soos “CAPS”) wat inhoud, metode en assessering voorskryf is nie net ongrondwetlik nie, maar strydig met die internasionale reg. Die “wettige” privaatskoolorganisasies (soos ISASA) is of uitverkoop aan staatsdoelwitte of te lamsakkig om hul eie regte en die van kinders af te dwing.

Die owerheid beskuldig ongeregistreerde skole daarvan dat hulle “onwettig” is. Die “voelvry skole” argumenteer, daarenteen, dat wette wat strydig met die grondwet is nie bindend kan wees nie, en daarom ignoreer hulle die hele dwangstelsel van die owerheid.

Dit is veelseggend dat die onderwysdepartemente bitter selde enige van hierdie skooltjies vervolg. Die enkele gevalle waarvan ek weet was werklik bedrieërs wat die publiek uitgebuit het. Hulle is dan ook nie onder die onderwyswette vervolg omdat hulle ongeregistreer was nie, maar vir bedrog.

Henry ·

Interessant.
Word die ‘voëlvry’ skole se kwalifikasies en leerlinge deur die Suid Afrikaanse universiteite erken/aanvaar?

Leonard van der Dussen ·

Kom ons vra die vraag andersom: is die onafhanklike tersiêre instellings selfstandig genoeg en akademies sterk genoeg en outonoom genoeg om na die vlak van opleiding en vermoë te kyk en nie in staatsertifikate en wetgewing vas te kyk om studente toe te laat nie?

‘n Praktiese voorbeeld: is Aros en Akademia se toelatingsvereistes net op staatsertifikate en die staatsvereistes vir tersiêre studie gebaseer, of laat hulle vrye studente op grond van inherente vlak van onderrig, kennis, vaardigheid en aanleg toe?

Leendert van Oostrum ·

Sommige van die skooltjies (net soos tuisleerders) skryf die gewone SA matriek deur medium van geakkrediteerde instellings soos Breinlyn, Nukleus of Volkskool Orania se “afstandonderwys”.

Verreweg die meeste trek egter lankal die neus op vir Umalusi se niksseggende papiertjie. Hulle doen buitelandse eksamens soos Cambridge, wat ‘n hoër standaard daarstel, of die Amerikaanse eksamens vir “school leaving equivalency” (“GED”) en universiteitstoelating (“SAT”). Hierdie eksamens is ook veel goedkoper as die buitensporige duur SA matriek.

Almal word hier plaaslik aanvaar as ekwivalent van die SA matriek vir toelating tot kolleges en universiteite. Maar hulle word ook sonder probleme by buitelandse universiteite aanvaar.

Veral die Amerikaanse eksamens word al meer gewild. Hulle is meer soos skolastiese toetse, wat nie “inhoud” toets nie, maar probleemoplossingsvermoëns. Dit beteken mens kan letterlik enige goeie kurrikulum volg om die kinders op die nodige vlak te bring – insluitende Afrikaanse materiale.

Ons het een van my dogters met die hulp van ou Afrikaanse handboeke uit die tagtigerjare tot op omtrent (daardie jare se) Graad 11-vlak onderrig. Daarna het sy ongeveer twintig uur gebruik om voor te berei vir die GED-eksamen en in die boonste een persent van die normgroep geslaag. Die sertifikaat gee haar die ekwivalent van SA matriek met kollegevrystelling. Om universiteitsvrystelling te kry kan sy te enige tyd net die SAT-eksamen bydoen.

‘n Ander voordeel van die Amerikaanse eksamens is dat die vraestelle uit meervoudige keusevrae bestaan. Dit beteken dat mens nie jou antwoorde hoef uit te skryf nie – dit vereis dus nie ‘n hoë standaard Engelsse uitdrukkingsvermoë nie. Jy moet wel ‘n kort opstel skryf, maar dit beteken dat dit jou geensins in vakke soos Wiskunde en Wetenskap benadeel as jy nie te goed Engels skryf nie.

Die GED-eksamen word driemaal per week by amper veertig sentrums regoor Suid-Afrika afgeneem. Dit word per rekenaar gedoen, so jy stap uit die eksamenkamer uit met jou resultaat. En as jy dop (of beter punte wil hê) kan jy dit soveel keer en so dikwels herhaal as wat jy wil.

Henry ·

Dankie sover vir die reaksie op my eenvoudige vraag.
Ongelukkig kan ek nog nie ‘n eensin antwoord op my eensin vraag opspoor nie, daarom herhaal ek weereens:
Word die ‘voëlvrye’ skole se kwalifikasies en leerlinge deur die Suid Afrikaanse universiteite erken/aanvaar?

Leendert van Oostrum ·

Beste Henri,

Ja , hulle is ook nie beperk tot die betekenislose Suid-Afrikaanse “kwalifikasies” nie en het ‘n veel groter verskeidenheid erkende kwalifikasies om uit te kies.

(Ek vertrou dat die “kwalifikasies” wat jy verwerf het jou in staat stel om ‘n sin met meer as een werkwoord te kan verstaan?)

Vriendelike groete,
Leendert van Oostru

Henry ·

Leendert van Oostru(?)

Ek wil glo dat jy nie gesig gestrem is nie. Siende dat jy nou sonder die ‘m’ aanmeld en my naam verkeerd spel.
Hoe ookal. My naam is Henry – die Engelse weergawe,

Gode sy dank. Ek was bevoorreg om nie my ‘kwalifikasies’ in ‘n ‘voëlvrye’ omgewing te behaal nie. Was gelukkig om in Afrikaanse skole, wat steeds uitstekende resultate lewer, myself in ‘n syferrigting te kwalifiseer. Tussen ‘n hele boel onderwysers en skoolmaats van wie ek soveel kon leer.

Nooit tyd of behoefte gehad om myself in ‘n taalrigting te kwalifiseer nie. Daarom strompel ek soms voort in ‘n poging om myself aan werkwoord-bemagtige siele soos jy te verduidelik. Waarom ek dit ook doen, weet nugter en sy oom…

Wat die ‘vrye gevogeltes’ waarna jy verwys, betref.
Ek het deur die jare heen van ‘n hele paar mense verneem hoe hul kjeenirs wat ook die ‘bevryde voël’ pad bewandel het, ‘n bloutjie by Stellenbosch en Pretoria geloop het. Die arme kjeenirs het oa vir studierigtings in ingenieurswese en medies aansoek gedoen het.

Hul gevleuelde vogel opleiding was blykbaar onvoldoende. Watter pampiere van watter instellings die arme bloedjies verwerf het en wat hulle gediskwalifiseer het, weet ek ongelukkig nie. Vandaar my vraag oor die erkenning van die bevryde voëls se ‘kwalifikasies’.

Sjoe! En nou is ek moeg om met jou te gesels. Om nie eers van die konsentrasie op die gebruik van al daai werkwoorde te praat nie!!!

Henry

Leendert van Oostrum ·

Beste Henry,

Hmmmmm……

Daar is natuurlik ook mense met “alternatiewe opvoeding” wat wel toelating tot medies en ingenieurswese (en aktuariële studies en….en….en….) gekry het.

En omgekeerd – soveel uit die beste Afrikaanse skole wat NIE sulke toelating gekry het nie.

Die ding van sinne met meervoudige werkwoorde is dat hulle nogal eise aan die logiese denke stel. Ek kan verstaan dat logiese denke jou moeg maak as jy meen daar is Afrikaanse skole wat nog uitstekende resultate lewer

Fanie ·

‘Disselboom’, ja natuurlik is almal wat ek genoem het onafhanklik, maar almal werk saam om selfstandige Afrikaanse onderwys te bevorder.

Disselboom ·

Fanie, hoe werk die gesamentlike strategie waarna jy aanvanklik verwys het? Is daar ‘n oorkoepelende bestuur êrens wat dit koördineer wat nog nie genoem is nie?

G'vol ·

CVO skole is vir die afrikaner….. hoekom word dit nie meer ondersteun nie.

Fanie ·

‘Disselboom’, daar is nie ‘n gesamentlike struktuur- wat wel ‘n leemte is. Daar is oor jare wel goeie informele bande gebou- meer van ‘n sentrale idee as sentrale strategie. In praktyk word selfstandigheid deur ooreenstemmende behoeftes ipv sentrale beplanning gedryf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.