Eelte op my siel

Rosa Duvenhage.

Deur Rosa Duvenhage

Ek loer onderlangs na my seun se growwe hande terwyl hy besig is met sy oggendkoffie.

Net ʼn paar maande terug was hy nog ʼn kind op die skoolbanke. ʼn Kind met ʼn skooltas en ʼn kosblik en vakansies, nou is hy ʼn vakleerling wat gate grou en in dakke klim en bars van trots oor sy handewerk.

Terwyl my mamma-hart protesteer oor my arme kind se handpalms, bewonder hy en sy pa elke aand sy splinternuwe wonde asof dit ʼn gesogte trofee is in ʼn glaskas. Stories word uitgeruil oor pikke en grawe, bedrading en stroombane en groot woorde waarvan ek nog nooit gehoor het nie. Week na week het die blase op my kuiken se hande minder geword. Die stukkende plekke op sy vel het verdik en eelte gevorm. Al teken van vroeër se swaarkry is die growwe hande wat om sy koffiebeker gevou is.

Sommer so op ʼn Maandagaand sit ons en lag en kuier om vriende se tafel. Die op die ingewing van die oomblik kuiers is altyd die beste. Die volmaan kom goudgeel op oor die see en gooi ʼn silwerblink streep oor die water. Dis snoesig binne-in die huis.

Die tafel kreun onder warm huiskos en alles ruik na liefde. Ná ete gesels ons oor die bittersoet van die lewe.

Ons wyse vriend wat almal soos ʼn iemand laat voel, kry ʼn vêr kyk in sy oë as hy praat oor die seerplekke in ʼn mens se siel. Daardie seerplekke wat net deur vasbyt, deurdruk en uithouvermoë later ʼn eelt vorm wat jou sterk genoeg maak om met die seer saam te leef.

Sy woorde laat my dink aan die woord “veerkragtigheid”, wat deesdae al hoe meer gebruik word. In fisika is veerkragtigheid die vermoë van sommige materiale om hul oorspronklike vorm terug te kry nadat dit aan vervormende druk blootgestel word. In sielkunde is veerkragtigheid die vermoë om stresvolle en traumatiese gebeurtenisse te hanteer, dit te oorkom en ʼn mens se lewe weer op ʼn positiewe manier aanmekaar te sit.

Victor Frankl wat ʼn psigiater was in ʼn konsentrasiekamp tydens die Tweede Wêreldoorlog se gevolgtrekking is dat die man wat opstaan, selfs sterker is as die een wat nooit geval het nie.

Die veerkragtige persoon vind sy krag in teëspoed. Vir my klink dit soos vasbyt en deurdruk en aanhou probeer tot daar eelte op jou gees is, wat jou help om kans te sien om weer die graaf op te tel al maak hy seer.

Die probleem met die moderne samelewing waarin ons woon, is dat daar nie tyd is om trauma, emosionele seer, verwerping en verlies te verwerk nie. Behalwe ʼn gebrek aan tyd is daar ook ʼn gebrek aan konneksie met mense wat jou arms in die lug kan hou terwyl jy probeer om sin te maak van jou omstandighede.

Veerkragtigheid beteken nie dat ons nie die seer voel of deur die trauma moet werk nie. Dit beteken dat ʼn mens die pyn in die oë moet kyk en deur die fases van rou moet gaan. Dit beteken dat ʼn mens soms die monster wat jou lewe verwoes en jou verhoudinge steel ʼn naam moet gee. Dat jy ʼn plan moet beraam oor hoe jy hom gaan verslaan. Dit beteken dalk dat jy woorde moet soek wat jou pyn, verlies of vernedering vir iemand anders verstaanbaar maak. Dit beteken soms dat jy moet vergewe, veral jouself.

Ek glo ons het elkeen ʼn eiland in ons gees waar net jy en God kan kom. Dis ʼn eiland waar ʼn mens se rou wonde, blase en eelte naak lê. Dis ook ʼn plek waar God saggies in jou oor fluister dat jou naam op Sy handpalm geskryf staan en dat jy het wat nodig is om op te staan en aan te gaan ten spyte van jou omstandighede.

Daar is net twee redes hoekom ons op aarde is, en dit is om lief te wees vir God en mense. Binne hierdie verhoudings het ons alles wat ons nodig het om veerkragtig deur die lewe te gaan.

Ons almal kort iemand wat saam met ʼn mens die volmaan oor die see sien opkom. Iemand wat op ʼn Maandagaand saam met jou lag en gesels om ʼn tafel wat gelaai is met kos en liefde. Iemand wat gereeld saam met ons kyk na die blase op ons hande en weet wat kos die eelte op ons gees. Iemand wat ons hande in die lug hou terwyl ons probeer sin maak van die bittersoet van die lewe. Iemand wat elke niemand soos ʼn iemand laat voel en op wie se handpalm jou naam geskryf staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.