Einde van slepende ‘oorlog’ in sig

johan-smit

Johan Smit. Foto: Verskaf.

Johan Smit van Bellville skryf:

Die ANC se sukses het heelwat daarmee te make dat dit deurlopend ná 1994 ʼn strategie gevolg het van geleidelike oorname terwyl wit mense ʼn geleidelike oorgawe maak.

Dis is ʼn moeilike proses om teen te staan omdat wit mense, wat baie het om te verloor, eers gedreig en dan gerusgestel word om verdere toegewings te maak.

Nieteenstaande is daar ʼn groeiende minderheid wat ingrawe en weerstand bied.

Alhoewel die ANC sukses behaal het by swart kiesers met voorgaande strategie, begin die gevolge hiervan egter sigbaar raak en swaar weeg op die prestasie van organisasies, instellings en die ekonomie. Die oorsaak van die ekonomiese verlamming is juis die “stadige oorlog” wat kundigheid en kapitaal vervreem van geleenthede om dit aan te wend.

Dit beteken dat die ANC al meer gaan sukkel om inkrementele voordele vir swart kiesers te genereer of selfs net die status quo te handhaaf. Daar is byvoorbeeld minder werk en swakker of geen dienste nie, terwyl lewenskoste styg.

Die oplossing is om transformasie in te perk of te staak sodat kundige mense hul bydrae kan maak en Suid-Afrikaanse beleggers nie die geleentheid ontsê word of nie genoeg vertroue het om te belê nie. Maar dit beteken die ANC moet erken dat dit misluk het, en dis nie ʼn opsie vir magsbehepte politici nie. Wat dus uitgehou word na kiesers, is dat politici nie aanspreeklik is vir hul eie mislukkings nie, maar dat dit inderdaad wit mense se skuld is dat swart mense swaarkry. Hieruit vloei rassepolarisering van die samelewing en die morele regverdiging vir radikale ekonomiese transformasie en radikale beleide, soos grondonteiening sonder vergoeding.

Alhoewel voorgaande klink soos slegte nuus vir Afrikaners, is dit nie. Soos ek hierbo uitgelig het, is dit feitlik onmoontlik om die “stadige stryd” te wen. Om die volgende redes het ons egter ʼn beter kans om met ʼn “vinnige stryd” die oorhand te kry.

Eerstens: radikale optrede soos die ANC-beleid van onteiening sonder vergoeding maak dit makliker vir minderhede om die hoër morele grond te handhaaf en steun van redelike individue, partye en organisasies (plaaslik en in die buiteland, soos die Verenigde Nasies) te werf. Dit werp reeds vrugte af soos toe die Nederlandse parlement onlangs ʼn mosie teen grondonteiening sonder vergoeding aanvaar het.

ʼn Tweede (dalk die belangrikste?) rede hoekom ʼn versnelde stryd teen wit mense goeie nuus is, is dat dit Afrikaners vinniger gaan saamsnoer. Ek lees onlangs ʼn berig van die pragmatiese Tim du Plessis in Rapport en sien duidelik die skuif wat talle Afrikaners besig is om te maak. Alhoewel baie ongemaklik is met identiteitspolitiek, is daar eintlik nie ʼn alternatief as jy hier wil oorleef nie. Miskien was ons in elk geval, nes die res van die Weste, heeltemal naïef hieroor.

Derdens is dit so dat dit ongelukkig eers slegter moet gaan voor dinge kan verbeter. Alhoewel ons so graag die ergste wou vryspring en daarom die stadige stryd ondersteun het, stuur ons nou af op ʼn krisis omdat die ANC en EFF gaan aanhou vasklou aan die ideologie van transformasie as die enigste manier om op die kort termyn swart kiesers se stem te verseker. Dit beteken onafwendbaar dat korrupsie, misdaad, werkloosheid, onbevoegdheid, staatsinstellings wat enorme verliese ly, al swakker dienslewering, disinvestering, begrotingstekorte, krimpende inkomste, en groeiende staatskuld net erger gaan raak.

Vierdens gaan swakker lewensomstandighede aanleiding gee tot ʼn vinniger versplintering van die swart politiek en gevolglike koalisiepolitiek wat die staat gaan verswak en só die deur vir goed georganiseerde gemeenskappe sal oopmaak om (meer) onafhanklik van die staat te funksioneer.

Die finale rede hoekom voorgaande goeie nuus is, is omdat ʼn gemeenskap net soveel kan verduur voordat daar ʼn draaipunt moet kom. Ons speel teen tyd en hoe langer dit neem om ʼn onderste draaipunt te bereik, hoe moeiliker sal dit raak vir ʼn goed georganiseerde gemeenskap om die kritiese massa te behou om dit te deurleef.

Hoewel die situasie vir Afrikaners in Suid-Afrika donker lyk, is die geskiedenis nooit verby nie en draai die wiel beslis. Dink maar aan die groot omwenteling in ʼn kort tyd weens die handelsoorlog tussen die VSA en China. Vir hoe lank het kommentators vas geglo dat China se opkoms onstuitbaar is? In ʼn kort tydjie het die Amerikaanse ekonomie egter versnel met die gevolg dat Amerika die laagste werkloosheidsyfer in meer as 50 jaar het, terwyl China se groei tot die laagste in 27 jaar teruggesak het. Dan is daar ook Brexit wat ʼn heeltemal onverwagse skuif in die teenoorgestelde rigting is as die lang proses van konsolidasie binne die Europese Unie.

Die toekoms is dus selde ʼn reglynige projeksie van gebeure tot op hede en alles is beslis nog nie verlore vir Afrikaners aan die suidpunt van Afrika nie.

Veral nie vir dié wat glo nie.

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Charles ·

UITSTEKEND, DANKIE JOHAN, PRESIES MY GEDAGTES.

HIERDIE ARTIKEL= VERPLIGTE LEESSTOF!!!

WIL JY NIE ‘N RUBRIEKSKRYWER VIR MAROELA MEDIA WORD NIE?

GROETE :)

Jerry ·

Alles is beslis nog ver van verlore vir die Afrikaner daarom dat die Afrikaner nie gaan wag vir die draaipunt nie en vroegtydig emigreer. Vir die Afrikaner wat sy geliefdes en sy nageslagte in ag neem en wie weet wat die boosheid van de-kolonisasie behels en wie dit beleef het, ervaar het en ken, is dit om te red wat te redde is voordat die draaipunt kom. Om te wag vir die draaipunt van wanneer niemand meer iets het om te verloor nie, is om te wag om verswelg te word deur n golf van boosheid wat reeds te veel spoed opgetel het! Om by die draaipunt te wil saamstaan omdat mense geforseer word en wanneer mense in n ongunstige stand van weerstand bied is, gepaardgaande met moedeloosheid, wanhoop en n geknakte gees, is blote wensdenkery en n getuie aan arrogante meerderwaardige onkunde! Hierdie meerderwaardige houding het gelei tot kolonialiste se ondergang in die res van Afrika en sal ook lei tot n klein groepie meerderwaardige Afrikaners se ondergang in SA! Sterkte vir julle!

Akhenatha ·

Dankie Johan vir ‘n puik, positiewe artikel. Ek stem saam jy moet meer skryf.
Vir Jerry: Die Afrikaners wat bly is nie meerderwaardig nie. Maar hulle is ook nie bang, soos jy nie. Ek is getroud met ‘n Amerikaner en kan enige dag vlug as ek wil; maar ek doen dit nie. Ek het lank genoeg oorsee gebly en in verskillende lande gewerk om te weet dat ek hier wil wees. Sterkte vir die banges wat hardloop. Die gras is nie altyd groener aan die ander kant van die draad nie.

Jimmy ·

Dis nie “banges” wat hardloop nie. Die dae van “vlug” is lankal verby. Met jou bewese ervaring in die buiteland weet jy dit vra guts om te verhuis en die vreemde aan te durf. Met ‘n gesin is die onsekerheid nog erger. Maar nou ja, indien die paw paw die fan slat het jy opsies. Niemand sal vir jou sê jy is bang nie, net realisties.

Christo ·

Ek het lank gedink oor immigrasie. Wat doen mens omtrent mens se ouers wat agterbly, skoonfamilie, susters, broers en al hul kinders? Ek het baie navorsing gedoen oor hoe om hulle by te staan want immigrasie kos geld. Ek het besluit om te bly en om te ondersteun. Sterkte vir almal wat gaan.

Francois Fouche ·

Ou Jerry. Jy is seker verskriklik eensaam en alleen daar in jou nuwe land waar jy nog gaan agterkom dat daar ook reuse probleme is. Jy kan maar net op een snaar tokkel. As dit so wonderlik is in daardie nuwe Westerse Afgrond, kry n lewe en doen iets anderste as om ons Afrikaners wat in Afrika bou te probeer keer. Of voel jy eensaam daar???

J van Rensburg ·

Ek stem meestal saam met wat ek lees, goeie werk. Ek sien wel ń groot gat in hierdie doughnut. Dink jy regtig die ANC gaan die uitslae van ń verkiesing aanvaar wat hulle nie wen nie? Ek kan nie sien dat dit sal gebeur nie, ek dink in teendeel dat die minderheid eerder geteiken sal word as die oorsaak van alles wat plat geval het.
Die ander punt wat ek nie nee saamstem nie is die “hulp” uit die buiteland. Ek sal verbaas wees as daar enigsins druk kom uit die buiteland, of as die regering van die dag hulle gaan steur aan enige instruksies vanaf enige organisasie of liggaam.
Waar ek 100% saamstem is dat mense begin agter kom ons Boere word gespeel soos ń viool, en ons begin ons kuite styf trek. As ek kyk na die Boere se hele geskiedenis is dit gewoonlik die voorganger vir harde tye wat op pad is.

Lou ·

Dankie Johan ons het wragtigwaar bietjie positiewe denke en planne nodig om uit hierdie onhoudbare situasie te kom. As iemand net ‘n werkbare plan het om swartmense se koppe te draai sodat hulle ophou afbreek en verstaan dat die party wat hulle aanhou ondersteun verantwoordelik is vir hulle eie swaarkry, dan kan dinge vir almal begin beter raak.

Hennie de Bruin ·

Puik opiniestuk!
Met die neiging van behoudende Afrikaners, om saam te snoer en hulself te verplaas en betrokke te raak by volkseie ontwikkeling, sal die werksgeleenthede vir ander volke spoedig verminder.

Die Afrikaner leer nou op die harde manier om sy eie werk te doen en volkseie aan te stel. Multikulturalisme is ń doodsfonnis in enige gemeenskap en ook die werksplek.

Kallie ·

Jy grap seker!!! Daar is wetgewing wat jou verplig om ander groepe aan te stel, tensy jy wittes soek om slote te grawe.

Salomé Malherbe ·

Uitstekend, helder, waar en positief .. of is dit positief waar ! Dankie vir denkers met visie sowel as liefde vir volk en medemens. Getrouheid oftewel lojaliteit is n waardevolle kommoditeit wat harseer mense nuwe hoop gee. Dit word waardeer.

Chris ·

Inderdaad ‘n verhaal van sukses met inagneming dat vanaf die stigting van die nasionale party (NP – 1948) tot en met die begin van die einde van vorige bedeling (26 jaar) soos voortydig ooreengekom en vervat in die Mahlabatini deklarasie van vertroue in 1974, het dit daarna ‘n vermoeiende 45 jaar geneem vir die regering om die “verouderde” Republiek van Suid Afrika uiteindelik te verander na die vooruitstrewende “nuwe” Suid Afrika en gesogte land van die “rainbow nation”.

Carl ·

Hoe lank het dit geneem om westerse ontwikkeling in Rhodesia / Zimbabwe geheel en al te verwoes? Het buitelandse hulp opgedaag vir boere wat alles verloor het? Hoeveel Afrikaners leef reeds in plakkerskampe en kyk in ander mense se oe vir n stukkie brood? Die padda in water wat stadig warm gemaak word spring nie uit nie maar sterf. Ongelukkig is die water reeds te warm vir duisende Afrikaners. Ek mag negatief klink maar is n realis.

George in Bloem. ·

Almal weet diep in hulle harte waarna hierdie dinge op pad is en dit is stryd ,soos ons voorouers gedwing is om te doen,talle kere in ons bloedige geskiedenis. Ons beurt le om die draai. Dit kom of mens dit nou wil weet of nie en elke dag wat verby gaan raak die vyand sterker en ons eie posisie swakker. Maak gereed daarvoor want elke dag raak dit ook al hoe duideliker dat versoening op die agtergrond geskuif is en dat konfrontasie politiek nou ons voorland is.

Mike ·

Ek kan met wat Johan hier geskryf het saamstem en veral oor die saamstaan noudat dinge lelik begin skeefloop in SA maar’ daar is een ding wat my pla WAT GEBEUR DAARNA. Afrikaners is nie te vertroue nie en sodra hulle DALK uit die gemors kan kom gee hulle alles daarna net so weer weg. Die hele situasie wat Johan hier beskryf en waarop dit gaan afstuur gaan enorme probleme veroorsaak finansieel, sosiaal en maatskaplik en dit gaan dekades neem om daaruit te kom. As ek die geld gehad het en ek was jonger sou ek eerder die land verlaat het ter wille van my kinders. Ek waarsku my kinders teen wat ek hierbo gesê het en ek raai hulle aan om eerder ‘n beter toekoms in ‘n ander land te gaan soek.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.