Ek het die bal geword

boer-boere-trekker-plaas-boerdery-landbou

Foto: Spencer Pugh/Unsplash.com

Deur Danie van Lephalale

My naam is nie Steve nie. Of Marius nie. Of Ernst nie. Gelukkig darem ook nie Max nie. Of Roelf nie. Of FW nie.

My naam is Danie.

Ek het nie ‘n verhoog waarvandaan ek kan praat nie. Ook geen rubriek nie. En nêrens volg kameras en joernaliste my om my nuutste gedagtes vir koerante neer te pen of op TV uit te saai nie.

Ek is geen aktivis nie. Het ook geen agenda nie. Speel nie politiek nie.

Ek is Boer. Ek is die bal in die politieke skrum. Ek is die geldmakertjie vir vele, maar nie vir myself nie. Om as Boer op te staan en my sê te sê en my hart op die tafel te sit, is om te vra vir elkeen wat ‘n mes het om dit daar, in my hart, te begrawe. Of hul penne. Dié vol gif, asook dié vol heuning.

As Boer was my stryd nog altyd edel. Man teen natuur. In die natuur. Saam met die natuur. Nie gedryf deur ‘n soeke na geld nie. Nie om iewers aansien te verwerf nie. Maar in antwoord op God se roeping waarvan ek nie kan weg nie.

God, Skepper, Vader. Hy wat my gemaak het, wat my siel ken. Wat verstaan wat dit is om Boer te wees. Wat ken van mielies plant op droë land, biddend dat dit hierdie seisoen net genoeg sal reën. Biddend dat die herfskommandowurms my sal mis. Biddend dat die bobbejane, ape, vlak-en bosvarke, tarentale, bosbokke, steenbokke, duikers, algar net sal vat van my oes wat hulle nodig het, sodat daar vir my genoeg sal oor wees om die lening te betaal en vir my gesin te kan sorg. Nie vir rykword nie.

God, Vader, Skepper, wat die knop in my keel ken wanneer die kalfie, sopnat en wankelrig op sy bene kom en dom tussen sy ma se voorbene gaan soek na die speen. Wat die verligting in my bors ken wanneer die nuwe aankomeling uiteindelik gulsig suip van die bies nadat sy ma hom agtertoe gehelp het met haar kop. Wat weet hoe duur die medisyne is waarmee ek vir nege maande daardie kalfie beskerm en behandel het vir bosluise, hartwater, rooiwater, galsiekte, sponssiekte, miltsiekte, lamsiekte. Wat verstaan van koeie en kallers en bulle wat name kry, nie net ‘n nommer nie. Want hulle is jou kinders. Al weet jy as Boer daardie kalf gaan veiling toe en voerkraal en slagpale en rooster en bord toe – solank hy by jou is, sal jy vir hom sorg. Nie om ryk te word nie. Maar omdat dit is wat Boere doen. Ons sorg.

God, Vader, Skepper. Wat verstaan dat ons Boere sorg vir elke aktivis aan elke kant van die spektrum. Wat verstaan dat ons Boere sorg vir elke politieke party wat Boere die tema gemaak het vir hul 2019-veldtog. Wat sorg vir elke individu wat sy kans na die vleispotte sien op die wa wat deur ons getrek word.

Elke rolspeler op hierdie verhoog, elke politieke party, elke sogenaamde landbou-organisasie, meeste aktiviste, speel vir geld met ons Boere as die bal. Almal wil iewers heen hardloop met ons onder die arm en daar ‘n drie gaan druk. Of met ons voor die voete om daaaaaar ver ‘n doel te gaan skop.

Niemand verstaan dat ons nie gekies het om bal te wees nie. Niemand luister as ons vir hulle sê ons stel nie belang in die spel nie. Hulle hoor nie as ons sê geld, die bedraggie bo die dun dubbellyntjie, is nie ons dryfveer nie.

Aan die aktiviste wat nou vír ons staan… Ons verstaan van God se genade. Ons verstaan van God se straf. Ons ken die resultate van geloftes maak en geloftes breek. So ook beloftes. Jy maak hulle nie goedsmoeds nie. Ons weet wat gebeur as jy kortpaaie vat met kunsmis, met water, met medisyne. Jy doen dit net een keer, dan weet jy. Dis duur skoolgeld. En ons Boere het dit al betaal. Dieselfde gebeur wanneer geloftes en beloftes vergete raak ter wille van nuwe gewin. Jy gaan skoolgeld betaal. Onthou dit. Ons Boere betaal nou hard skoolgeld oor ons verbreekte gelofte wat vandag bekendstaan as versoening.

Want my realiteit as Boer is: Hierdie is die laaste ronde van die spel met my as die bal. En ná die spel klaar is, ná die wedstryd gewen of verloor is, gaan niemand meer in die bal belangstel nie. Al wat gaan saak maak vir die meeste, is net die telbord wat wys wie het gewen, wie het verloor. Die wenspan sal dalk die bal iewers in ‘n vertoonkas langs die trofee wil gaan bêre, wie weet… Tot die volgende wedstryd gaan begin.

My naam is Danie. Ek is nie bereid om verder die bal in enigiemand se wedstryd te wees nie. Daar is nog Boere soos ek. Mens sien hulle daagliks. Jy hoor ons net nie, want ons stemme is sag, gewoond daaraan om met diere te werk, om diere meer te vertrou as mense. Ons skrik vir skielike nuwe kampvegters vir ons saak, maar ons bid dat hulle opreg is. Ons as Boere het lankal ophou praat met die spanne wat ons probeer rondskop vir eie gewin. Ons doen ons ding, sorg vir ‘n ieder en ‘n elk in hierdie land. Maar ons doen dit met ons oë oop. Ons doen dit met die oog gerig op God. Met een hand op die trekker se stuurwiel en die ander naby die skietding wat 24 uur elke dag binne tasafstand is.

Want die res van my realiteit is bloedspore deur plaashuise.

En ek smeek God, biddend, om die kelk by my te laat verbygaan. En ek belowe my Skepper om sy skepsels wat my sou teëgaan, menslik te dood. En ek kruip by my Vader weg en vertrou kinderlik dat Hy my sal beskerm. Want dis wat Boere doen.

Danie van Lephalale (Ellisras) in Limpopo het hierdie inskrywing op sy Facebook geplaas en dit is met sy vergunning op Maroela Media gepubliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Veritas ·

‘Danie’, as die boerdery dit nie maak nie, kan jy maar evangelis word. Treffende woorde wat oë oopmaak en denke aan die gang sit. Dankie vir die stukkie en sterkte vorentoe. Mag ons Hemelse Vader sy hand van bewaring oor ál ons boere hou.

GENADE ·

Waar jy is, moet ons almal wees. Ons oë op HOM. Die voleinder van ons geloof. Jes 30:15 gee vir ons die resep. So se die Here my God, die Heilige van Israel: ” As julle julle bekeer en tot rus kom, sal julle gered word. Julle krag lê in stil wees en vertoue hê.”

Anoniem ·

Pragtig geskryf deur ‘n diep mens. Mag ons almagtige Vader al die boere en hul liefmense bewaar.

Trien ·

Danie, jy’s ‘n doring. Jy het jou gedagtes (en hartsgevoelens) uitstekend verwoord,

Leonard van der Dussen ·

Dankie vir Danie wat ‘n belangrike saak stel. Niemand kan regtig politiek vermy nie; maar daar is baie misbruik van “goeie sake” (en mense, soos boere) deur politici wat agendas dryf deur voorbeelde te gebruik. Eers moet ek Danie om verskoning vra om sy artikel as verwysingspunt te gebruik, maar ek dink hy sal verstaan as ek ‘n soortgelyke pleit stel vir onderwys, dat skole nie as die bal gebruik moet word wat rondgeskop word vir “Afrikaans” en vir “christelikheid” vir politieke doeleindes nie. Ons kinders benodig opleiding om hulle roeping om te bewerk en bewaak te kan uitvoer en mag nie in die oorlog as stormramme gebruik word nie. Self is ek kniediep betrokke in juis dit, om Christelike Afrikaanse onderwys beskikbaar te stel en te hou, maar het ook soos Danie harde lesse geleer op die pad en raak toenemend gefokus om die eintlike doel van ‘n skool, naamlik onderwys, in ‘n skool te koester.

John ·

Hartroerend en waar, maar moed moet ons hou en nie voorspooksels maak van die uitkoms nie. Op plase is baie werkers wat, glo ek, hierdie grype in sy stink spore gaan stuit. Om kamma vir armes te wil help, maar werkers op plase nog armer te maak vir ‘n glo edele doel, is brute sonde. Die ANC se lidmate is eintlik ‘n paar duisend, maar baie stem vir die party omrede soveel beloftes gemaak word van beter dae. Die gewone mense, van alle kleure met ware liefde vir die land gaan die gruwelike staatslui met hul grypende kloue, laat vasval in eie bollies. Wag en kyk. En dis nie net die boere wat bedreig word nie, die res van die volk is al deur diep waters. Kyk verder as jou plaas se grensdrade.

ANNALIE ·

Danie, jou woorde vat aan my hart. Hy beskryf hoe baie van ons voel.

Vellies ·

Baie mooi en 100% die waarheid Danie! Ons waardeer ons boere meer as wat julle besef!

Koos ·

Danie. Jou Godelike verklaring uit jou hart skree na GOD en weet verseker dat GOD jou hoor. En HY staan nie onafhanklik daarvan nie, NEE!!!! HY is deel van SY kinders se STRYD. Dit is tyd dat elke Boer en elke Suid afrikaner begin bid vir sy mede in die nood en verlore Suid Afrikaner. Hierdie gebede moet ‘n lewenstyl wees, want GOD beskerm net wat aan HOM behoort (alhoewel) SY groot genade oor almal is. OFFER jou grond jou gesin al jou eindom aan GOD op en maak HOM die eienaar daarvan, En leef dit dag vir dag.
en die dan stem ek met jou saam dat Boere vereenigings net daar is om die maandelikse premie te neem, en ek se dit omdat ek sien hoe boere aangekla word en dan sie ek GEEN ander boer by die hof nie. Maar dit iemand anders is dan staan die skares voor die hof. EK VRA NET DIE VRAAG, ELKE BOERE VEREENINGING MOET MAAR SELF BESLUIT WAAR HY STAAN.

Corne ·

Danie, baie dankie. Ek dink baie van ons voel soos jy, ek kon myself nog net so goed verwoord nie. Dankie en sterkte vir jou, jy het weer iets in my hart bele.

Celtis Africana ·

Afrikaans, Boer, God almagtig!
Verruklike hartsverwoording!

All Things Are Possible ·

Laat die gereg jul beskerm, want dus die gereg wat die doodstraf weg geneem het.Stem All Things Are Possible en ons bring dit terug

Therese van Schalkwyk ·

Danie van Ellisras het beslis hope skryftalent en verwoord die hart en siel van ‘n boer op meevoerende wyse.

Na die lees van die treffende stuk sit híérdie leser egter met ‘n dringende vraag.

Danie skryf o.a.: “Almal wil iewers heen hardloop met ons onder die arm en daar ‘n drie gaan druk. Of met ons voor die voete om daaaaaar ver ‘n doel te skop. Niemand luister as ons vir hulle sê ons stel nie belang in die spel nie. Ek is nie bereid om verder die bal in enigiemand se wedstryd te wees nie … ens.”

Vra Danie dus dat aktiviste en instansies wat hul beywer vir die Suid-Afrikaanse plaaskwessie moet endkry en boere toelaat om hul eie probleme op te los?
Indien wel, verander dit op radikale wyse die situasie in SA, sowel as in die buiteland, betreffende plaasgeweld en grondonteiening.

Danie ·

Ek vra nie dat mense wat vir ons opstaan moet eenkant toe staan en ons uitlos nie, nee. Ek vra vir opregtheid in wat hulle doen. Dat wat hulle doen, nie vir eie gewin moet wees nie, of vir punte aanteken iewers nie, maar onvoorwaardelik vir ons saak.

Gerhard ·

Ek vra dat wanneer daar gevra word vir opregtheid, dit besef moet word dat dit nie net oor boere gaan nie maar oor ‘n hele volk. Ons kan nie net omgee vir sommige nie en ander vergeet wat lankal niks oor het om te verloor nie. Miskien moet almal van ons leer om na ons eie mense om te sien en hulle voor ander te stel wanneer dit kom by dinge wat van gemeenskaplike belang is. Soos bv. wie jy werk gee (selfs arm werkersklas Afrikaners), wie se besigheid jy ondersteun, watter organisasie jy ondersteun, ens. Dan sal dit met ons as volk beter gaan en daar sal nie rede wees om jou alleen oor jou probleme te bekommer nie want jou mede Afrikaner sal daar wees vir jou.

Therese van Schalkwyk ·

Dankie vir jou antwoord, Danie.

Sonder voorbeelde van mense wat “vir eie gewin” namens boere opgetree het, tas ons egter bloot in die donker rond. Kan persoonlik aan geen sulke gevalle dink nie, want die teendeel is eerder waar. Enige individu of organisasie wat hul nek vir die Afrikaner/ boer uitsteek, word behoorlik verguis.

Opmerklik hoe AfriForum bv. gereeld, en juis gister weer, deur bekende politieke kommentators valslik beskuldig word dat hulle presiés dit doen waarteen jy waarsku. Daarom my besorgdheid, want dit sal ‘n kwade dag wees as boere nou óók op die wa spring.

Ansie ·

Aan al ons boere en grond eienaars. Ek het vanoggend gedurende my stilltetyd ‘n boodskap van God uit die Bybel ontvang oor hierdie grondgrype. In Psalm 125 vers 3 se die Here duidelik dat hy nie sal toelaat dat enigiemand die gelowiges se grond van hulle sal wegneem en sodoende van die regverdiges misdadigers maak omdat hulle nie meer inkomste het nie. Ek kan nou nie die presiese woorde onthou nie maar gaan lees dit gerus self.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.