Lesersbrief: ’n Verklaring aan my kinders op stemdag

Carli Labuschagne. Foto: Verskaf.

Carli Labuschagne van Pretoria skryf:

My sewejarige seuntjie word in die oggende wakker en neuriesing Nkosi Sikelel’ iAfrika. Die héle Stem, in Xhosa, Zulu, Sesotho, Afrikaans en Engels wat hulle elke week by die skool sing. Op stemdag het ek vir my kinders, sewe en vyf jaar oud, ’n verklaring geskryf om na terug te verwys in tye van twyfel:

Vir my kinders op stemdag, 8 Mei 2019:

Ek sien julle. Julle het nie ’n benul wat vandag behels nie. Die lewe is ’n lied wat julle moeiteloos sing – solank julle kan speel, in drome ook. Julle is saam maatjies, en hoe hulle lyk, traak julle niks. Julle wil nêrens anders wees as hier nie.

Wat is po-li-tiek? Dis een lettergreep te veel. Ek wil net speel, Mamma. Sal ons daar kan speel, by die stemplek? Ramaphosa en Malema en Hofmeyr is net name, té moeilik om uit te spreek vir my kindertong. Daar is meer belangrike dinge. Ek wil nêrens anders wees as hier nie.

My kinders… Dis makliker om kind te wees en nie te weet wat vandag behels nie. Om nêrens anders te wil wees as hier nie. Deesdae voer ons grootmense ingewikkelde gesprekke. Ons hoor: “Dis beter vir ons kinders se toekoms om in ’n ander land te gaan bly.” Een na die ander, kosbare familie, vriende en maatjies gaan bly op plekke te ver vir jul begrip. Ons land is leër… Gapende wonde groter as Kimberley se Gat word gelos. Dit word nie weer gevul nie. Dis maar die aard van hartsbande…

Vandag wil ek vir julle sê, nee, ek wil verklaar (!), saam jul Pa, hieroor stem ons saam: Ons wil in hierdie land bly. Ons wil nêrens anders saam met julle wees nie. Ons maak die keuse om te glo in Iemand wat groter en magtiger is as die po-li-tiek. Iemand wat ons in sy hand hou, hier en nou, in ons families en in generasies. As ons dan naïef genoem word, is dit goed so. Julle is goeie leermeesters vir ons.

Julle is Afrikaans, wit. Twee huise van ons af bly ’n dogtertjie. Sy is ’n Xhosa, swart. Julle speel saam.

Daar is meer belangrike dinge. Die doemprofete kan ons na luister, ons almal is tog geregtig op ons opinie. Dis goed om na mekaar te luister. Maar ons hoef net te luister. Dit hoef nie ons waarheid te wees nie.

Ek sien julle en jul maatjies in skole en tussen huise. Ek is trots. Julle dra in julle die hoop wat oortref. Julle is veerkragtig. Julle sien moontlikhede raak. Probleme bestaan nie. Julle leef instinktief met die gesindheid dat daar soveel meer dinge is wat ons saambind as wat ons skei. So eenvoudig soos dit. Julle sien nood raak in mense langs die pad en maak planne om te help. ’n Bal op die speelgrond, vroegoggend, is die beste gelykmaker, so ook ’n aanbiddingsessie in die saal. ’n Brandwurm en sokkerkaarte gedurende pouse vorm kringe waar koppe saam gesit word. Julle daag op. Julle leer die waarde van harde werk en om deel te wees van die groter prentjie. Julle leer om mekaar ’n plek in die son te gun. Julle behoefte om bande te smee hang nie af van aangeleerde grense nie. Daai tipe dinge is mos vir grootmense. Julle leer van wedersydse invloed wat met die grootste verantwoordelikheid benader behoort te word. Invloed wat begin en eindig deur te dien. Julle gaan na skole waar pa’s by busse wagstaan en op sportvelde bid wanneer die oggendson breek en waar ma’s en juffies hande vat rondom die kinders wat in hul harte is.

My voorneme as ouer is die volgende: Ek sal leef met die gesindheid dat daar meer dinge is wat ons saambind as wat ons skei. Daaroor sal ek eerder praat. Terselfdertyd sal ek julle leer om trots te wees op jul herkoms. Ook om respek te hê vir ander en julle te vertel dat Lindiwe, ons huishulp, eintlik ’n engel op ons pad is. Ek sal die eerste een wees wat dien.

My kinders, laaste, maar nie die minste nie. Die lewe is onregverdig. Niemand het gesê dit gaan maklik wees nie. Inteendeel. Daar is egter Iemand wat groter is as die dinge van die wêreld. Onthou dat ons in die wêreld is, maar nie van die wêreld nie. En dat po-li-tiek, soos meeste wêreldse dinge, met ’n knippie sout geneem behoort te word. Hou aan om die moontlikhede raak te sien. Hou aan verbind, hou aan dien en liefhê. Hou aan opdaag. Maak nie saak hoe oud julle word nie.

Dus, kom ons maak vir julle ook merkies op jul duime. Ons is mos saam in die ding. Ek verklaar wéér (!): Ek wil nêrens anders saam met julle wees as hier nie.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Expat ·

Moenie vir kinders lieg nie. As jy lief is vir hulle, trek voor dit te laat is.

Jerry ·

Ek respekteer jou skrywe en opinie. Al wat ek kan se is dat jy vir jou eie en jou kinders se onthalwe toelaat dat jou kinders op TV sien wat in SA aan die gebeur is en vra dan vir jou kinders of hulle nog hier wil bly en dan herskryf jy en vertel jou storie weer. Dit gaan nie in SA net meer oor wat mense kwytraak nie, maar ook oor die gruweldade wat daaruit voortspruit en misdaad wat niemand ontsien nie wat aan die toeneem is. As meer as twee duisend witkruise net van boere, ons praat nie eers van ander mense hier nie, jou nie kan oortuig om Loftus vaarwel toe te roep nie, glo my dan sal niks jou oortuig nie. Sterkte vir jou gesin, hulle gaan dit ongetwyfeld nog nodig kry!

Petrus ·

Dame, skuif die emosies opsy. Die land is oor die afgrond. Jy is jonk, jou kinders is nog klein. Gaan bou ‘n nuwe toekoms in ‘n ontwikkelde land. Jou kinders sal vir ewig dankbaar wees. Jy wil tog nie eendag hier oud word terwyl jou kinders en kleinkinders êrens in die buiteland woon nie. Baie van die “baby boomers” hier is nou in daai boot, met baie hartseer en verlange.

Gys ·

Ek neem kennis van al die mense wat dink immigrasie is die beste opsie.
Ek ken nie julle omstandighede nie. Wil dit ook nie regtig ken nie.
Ek bly net hier.
Dalk het dit iets te doen met halfvol en halfleë glase.

Dirk ·

Gys, tereg soos jy se is emigreer nie die beste opsie nie, dit is eintlik die enigste opsie. Hoe meer teenstand die ANC gaan kry en hoe minder die ANC hul sin gaan kry hoe onstuimiger politieke klimaat gaan die ANC skep om die sogenaamde wil van die massas af te dwing! Dit ou Gys, kan ek jou Virseker waarborg!

Pieter ·

Die landverlaters en hulle mee praters moet maar hulle goedjies vat en trap. Hulle volg die maklike pad. Hulle ken die Afrikaner geskiedenis nie, het dit nooit geleer nie. Ons vir wie dit nie moontlik is om die land te verlaat nie sal maar die golf ry..
Ons was verlede naweek by n lewendige uitsending waar mense van alle groepe saam was en dit was n openbaring on the sien hoe verdraagsaam en vriendelik almal teenoor mekaar was. Net n groep mense wat hulle gunsteling jong kunstenaars wit of swart aanmoedig om te presteer en te wen.
Daar is hoop, ons moet net van die die opstkers en gespuis ontslae raak.

Dirk ·

Jy dink met jou hart Pieter. Daardie verdraagsaamheid verander blitsvinnig tydens politieke onstymige tye. Gee kans, jy sal dit nog vorentoe beleef in SA. En dan sal jy ook beleef dat die huidige doeners, dapperes met hulle idee van n sakeryk nie meer die doeners en dapperes sal wees wanneer die popo die fan behoorlik tref nie. Dit het ons regdeur ons geskiedenis gesien, beleef en ervaar. Wees dus versigtig om te emosioneel te raak oor kritiek teen die huidige doeners en dapperes wie hulle suksesse teen die ANC vier terwyl die stryd in der waarheid nog nie eers begin het nie! Wanneer wetgewing en die howe ons nie meer ten gunste is nie, dit is dan wanneer die stryd gaan begin, dit is dan wanneer ouens soos jy die Afrikaner in die buiteland gaan nodig kry en waardeer!

Kallie ·

Een van die lesers het by ‘n vorige geleentheid genoem dat die meestse emigrante vandag is swartmense. Dit laat mens dink. Sien hulle iets wat ons nie wil of kan raaksien nie?

L ·

Dis waar ons almal wil hier wees en ons wil ons kinders groot maak in n veilig Godelike land. want dis ook ons land en ons praat ook afrikaans. My probleem is ons volkslied…. Ons bid vir die voor vanders….. So ons roep n voorvaders n gees op… Waar is ons Godsdiens. Dis hoekom ons God ons straf want ons aanvaar dat dit OK is om vir die voorvaders te bid. Die begin van ons nuwe volkslied is verkeerd!!!!! Ons aanbid Aba Vader en nie n voorvader! Ons het slap geraak en aanvaar alles. Die Here sal ons straf tot ons terug keer. Gaan kyk wat ons volkslied beteken en besluit Dan of dit is hoe ons, ons kinders wil groot maak…..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.