Lesersbrief: Fauresmith se waterkrete val op dowe ore

Foto: Wire.africannewsagency.com

Annerie Pieterse van die Vrystaat skryf:

My daaglikse werklikheid, die reuk van sweet, rook en wie weet wat nog klou aan kinderlyfies.

Wie sou kon dink dat ʼn kind buite homself sal wees oor die skoon reuk van ʼn wetwipe wat ek vir hom gee om sy pousekoshandjies af te vee! Iemand wat dink hy is vreeslik slim sal nou by homself dink, maar hoekom was julle nie net julle hande nie?

Dis nogal moeilik om hande te was by ʼn skool wat meer as 200 kinders het en daar is nie water nie. Die water wat daar wel is, word gebruik om die voedingskemakos te maak en toilette te spoel. Wie gaan nou kies tussen skoon hande en kos?

Wat is water? Wel, so ʼn jaar gelede is daar ʼn veldtog begin om mense daarvan bewus te maak om water spaarsamig te gebruik en skoon te hou. Die leuse van die veldtog het gelui: “Water is life!”

Water is beslis lewe, ek aanskou dit wanneer ek die 5 liter water wat ek koop, uitgooi vir my kinders en hulle dit afsluk sonder om asem te skep. Of as jy hoor: “Juffrou, ek het gister laas tee gedrink, mamma kon nie kos maak nie, want ons het nie skoon water/geen water nie …”

Die reuke wat in my klas opslaan? Word deur die bogenoemde stelling verduidelik, want wie gaan nou bad en klere was as jy die bietjie water wat jy het, gebruik vir tee en kook?

Waarnatoe gaan ek met my storie? Direk na die dorp Fauresmith. Pragtige Vrystaatse dorpie, met hope geskiedkundige waarde. Tuiste van die Fauresmith-uithourit. Ook ʼn dorp wat gebuk gaan onder die stank van ʼn korrupte munisipaliteit en ongespoelde toilette.

Op 9 Augustus 2017 is daar vir die eerste keer vanjaar melding gemaak van die waterkrisis in die Volksblad hoewel dit al vir jare so gaan! Ons moes maar weer lees van die swak finansiële bestuur van die munisipaliteit en die nog swakker optrede van die raadslede. Net mooi 16 dae. Ja, 16 dae wat daar laas ʼn druppel water in my krane was. Diegene van ons wat kan, ry 80 km of meer om wasgoed te gaan was. As jy gelukkig is, kan jy darem iewers in die week by iemand wat ʼn boorgat het ordentlik stort, anders staan jy maar met jou emmertjie in die bad en bid dat jy nie vergaan van die koue nie!

En jy kan maar seker wees daardie rekening (vir die water wat jy nie het nie) daag op aan die einde van die maand.

Wat van ons basiese menseregte wat hier geskend word? Om maar net ʼn paar te noem:

  • Die reg op menswaardigheid: Hoe voel daai kind wat so stink en jy kan sien die maatjies wil nie naby hom sit (al het hulle self ʼn klankie)? Die oumensies wat in die koue met ʼn ou waslappie moet afvee, want hulle sien nie kans om uit daai emmertjie te was nie.
  • Die reg op ʼn gesonde omgewing: Dink aan ʼn skool waar 200+ kinders moet toilet toe gaan, water word met emmertjies aangedra en gehoop dit is genoeg. Kan net dink watter kieme broei daar uit, weereens oor daar nie water is om skoon te maak nie. Skottelgoed wat moet staan, want jy moet jou bietjie water so spaarsamig moontlik gebruik.
  • Die reg op gesondheidsorg, voedsel, water en sekuriteit: Wel, die staatsgesondheidsorg is elk geval in sy watsenaam. Nou is daar nog die feit dat mense nie water het nie en in onhigiëniese omstandighede moet bly.

Dit is maar net ʼn paar basiese feite, en dan stem die meerderheid nog steeds vir die politieke party wat hulle so lekker in die steek laat!

Moet ons nou wragtag wag totdat nog ʼn stadsaal brand? Ek hoop nie so nie, want daar gaan nie eens water wees om daardie vuur te blus nie!

Wie gaan verantwoordelikheid neem vir hierdie gemors waarin ons sit? Ek kan nie verstaan dat daar mense is wat eenvoudig dink een vergadering gaan die probleem oplos nie.

En nou? Ná die artikel van 9 Augustus 2017 kry ons vir ʼn dag water. My tenk is nie eens tot by die helfte opgevul nie. Was dit ʼn manier om ons te paai? Wel, ek is jammer, dit maak geen verskil nie. Totdat iemand daadwerklik met ʼn oplossing na vore kom, gaan daar beslis moeilikheid wees. Vandag is dit weer ʼn week sonder ʼn drupel water. Die water wat vir ons in gemeenskaplike jojo-tenks beskikbaar gestel word, is so vuil … ek sal dit nie eens vir my vloere gebruik nie uit vrees dat dit my vloere nog vuiler sal maak!

Dankie, Bloemwater, vir julle medemenslikheid om vir ons daardie water beskikbaar te stel; ek kan sien julle dra ons belange glad nie op die hart nie.

Ons gemeenskappe steier in elke moontlike afdeling onder ons land se politieke korruptheid. Iewers gaan iemand moet intree en verantwoordelikheid neem. Die vraag is net: Is daar nog mense met inbors? Is daar iemand daar buite wat met alle eerlikheid sy medemens se belange op die hart dra?

Ons sal maar moet sien. Tot dan hoop ek dat ons ou plaaslike gemeenskappie kan oorleef om darem nog ʼn beter toekoms te sien.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

A3 ·

Ai my hart gaan uit na ieder en elk van julle. Kan my nie eers voorstel hoe dit moet wees om so te leef nie. Sterkte

JPD ·

Ken julle dorpie so goed. Het skoolvakansies in Fauresmith se slaghuis gespeel en baie met die ou stoomtrein gery van Jagersfontein af. Hoop die regte mense sien jou brief en dat daar uitkoms gegee word.
Verder bid ek dat julle geseën word met mildelike reën uit ons Vader se hand. Sterk wees vir daardie kindertjies *HUG*

Mien ·

Sjoe, ‘n mens sien nie altyd die groter prentjie nie. Julle het regtig ‘n krisis. Baie sterkte. Afriforum ???

Elmaré Schulz ·

Die feite is Bloemwater was gevra om onbevoegde mense te help om die water te bestuur. Nou het Bloemwater ons water gekaap. Kopanong skuld R190 miljoen en kan net by R500 000 n maand uitkom om te betaal. Bloemwater is nie daarmee tevrede so ons krane word toegedraai. Op die stadium gee hulle vir Fauresmith 4% van ons kwota water. Hulle het sover gegaan om die dorp se boorgate wat aan die dorp behoort en op die dorp se meentgrond is se toerusting te ontkoppel dat ons nie dalk water het nie. Die topografie van die dorp is so dat huise wat hoër geleë is as ander NOOIT water kry nie en is letterlik vir maande sonder water. Water word van plase aangery en die met boorgate help ander. Druk is so swak water kan nie oral uitkom en wasmasjiene ens. kan nie werk. Water in dorp-Jojos is nie geskik vir drink. Arm mense kan nie bekostig om elke dag R15 se water te koop nie. Oumense en siek bedlêende inwoners kry die swaarste. Ons is gatvol. Afriforum sê van einde Junie af hulle wag vir Kopanong se prokureurs om te reageer. Terwyl almal wag op beter dae sit ons elke dag met die werklikheid. Ons Kalkfonteindam was dolleeg ons het gebid vir reen nou het ons reen gekry maar ons mag dit nie gebruik nie. Die water in die dam is 13% en is genoeg om Fauresmith en Jagersfontein vir n hele tyd aan die gang te hou.

Therese van Schalkwyk ·

Annerie Pieterse se beskrywing van die situasie in Fauresmith, asook Elmaré Schulz se kommentaar, laat ‘n mens sprakeloos. Water is lewe en daar kan mos nie van mense verwag word om só te leef nie! Ek is saam met julle woedend.

Annerie vra: “Is daar iemand daar buite wat met alle eerlikheid sy medemens se belange op die hart dra?”

Goeie vraag, en die gebrek aan leserskommentare hier , in teenstelling met vele ander onbenullige berigte, spreek m.i. boekdele.

wilma ·

Is daar moontlik ‘n versamelpunt in Pretoria-omgewing waar ons water vir die mense kan afgee?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.