Genoeg neustoedrukkers besorg Trump sy triomf

Donald Trump

Donald Trump is die VSA se nuwe president. Foto: AP Photo/Paul Sancya.

Deur Marisa Haasbroek

Sondag by die kerk, twee dae voor die verkiesing, kon ʼn paar geswore Republikeine daar dit steeds nie regkry om hulle neuse toe te druk en vir Trump te stem nie. Dié neustoedrukkery is ʼn Amerikaanse gesegde wat ek die afgelope twee jaar wat ons gesin in Amerika woon, leer ken het. Dit beteken jy stem maar ter wille van jou party of die groter saak vir ʼn onkiese kandidaat.

Die mense by ons kerk in Washington DC is meestal middelklassers met universiteitsopleiding, bestendige poste en twee jaar oue motors. Hulle vind Die Donald skurf en impulsief, ʼn grootprater met ʼn oranje gesig, eienaardige hare en ʼn rokjagter wat by sy derde vrou trek. Van ʼn wag voor sy mond sit, het hy nog nooit gehoor nie, om van sy onnadenkende twiets nie te praat nie. Vir hom stem? En Reagan se reine Republikeinse erfenis besoedel? Hulle kon net nie.

Of so het hulle gesê. Miskien het hulle tog, toe hulle alleen in die kieshokkie moes staan, anders besluit. Genoeg neustoedrukkende kiesers het verseker dat Donald Trump in Januarie as die 45ste president van die Verenigde State van Amerika ingesweer gaan word.

Die bykans $300 miljoen wat die Trump-veldtog gekos het, is genoeg om ʼn Suid-Afrikaner se oë te laat rek. Tog was dit maar die helfte van wat Hillary Clinton se veldtog gekos het.

Met verregaande uitsprake het Trump gesorg dat hy gedurig in die nuus bly. Partykeer het hy woer-woer met die media speel, soos toe joernaliste afgesit het na sy nuwe hotel in Washington DC, menende hy gaan iets kwytraak oor pres. Obama se omstrede geboortesertifikaat. Hulle moes sy hele toespraak deurluister, net om hom te hoor sê: O ja, vir dié wat gewonder het, Obama is in Amerika gebore, hoor. Hulle was woedend, maar het nietemin lustig daaroor berig en aan hom nóg publisiteit besorg.

Soos ʼn wafferse tiener het Trump ook sosialemediaplatforms soos Twitter en Facebook benut om die media te omseil en direk met sy ondersteuners te praat. Meer as 13 miljoen mense het hom op Twitter gevolg. Net tydens debatte het sy personeel sy Twitter-rekening behartig, andersins het hy self getwiet, spel-, taal- en feitefoute gemaak en nooit om verskoning gevra vir enigiets wat hy gesê of geskryf het nie.

Baie glo dit was juis sy sê-presies-wat-jou-kop-opkom-aanslag wat mense van sy opregtheid oortuig het. Fyn van nerf is hierdie wolkekrabbermagnaat nie, maar miskien is sy hardgebaktheid die enigste temperament wat die media-aanslag kon deurstaan.

Die beroepspolitieke ontleders was teen halftien Dinsdagaand stomgeslaan oor die uitslag. Met die aankondiging dat Trump die deelstaat Florida verower het, het die opwaartse rooi Trump-lyn Clinton se dalende blou lyn op grafieke verbygesteek.  ʼn Taai stryd tussen rooi Olifant (Republikein) en blou Donkie (Demokraat) is in veral Florida, Ohio en Pennsilvanië voorsien, maar niemand het regtig ʼn Trump-triomf verwag nie. Dis te sê niemand in die betaalde DC-gange nie.

Trump se lojaalste ondersteuners, wat Clinton “a basket of deplorables” genoem het, is ʼn ander storie. Op Twitter het hulle vir mekaar wyelensfoto’s van Trump-vergaderings gestuur waarvoor derduisende mense keer op keer opgeruk het, getooi in rooi Make America Great Again-pette. Hulle het uit hulle eie spotprente en video’s namens Trump gemaak en rondgestuur. Dis deur miljoene gesien.

Maryland, waar ons nou bly, is ʼn blouselbloue Demokraat-deelstaat, met van die hoogste gemiddelde inkomste in Amerika. Baie mense leef van die vettigheid van belastingbetalersgeld wat van ons buurman, Washington DC, se staatskontrakte en -aanstellings kom. In Pennsilvanië, noord van ons, is mense aansienlik armer. Fabrieke staan toe en ry ʼn mens deur kleiner dorpies, tref die stille desperaatheid jou.

Die terugbring van werksgeleenthede na Amerika was een van Donald Trump se groot verkiesingsbeloftes. Hy praat van invoerbelasting instel, ʼn teer puntjie in ʼn land wat hom beroem op vrye beweging van goedere en geld. Iets soos valutabeheer, soos ons in Suid-Afrika het, sal Amerikaners aan hulle ketchup laat stik. Ek verwonder my altyd dat nartjies uit Nieu-Seeland in my plaaslike kruidenierswinkel net soveel kos soos nartjies uit Kalifornië. Of dat ek topgehalte Franse Camembert kan koop en net soveel daarvoor betaal soos vir dié uit Wisconsin. Toe ons Amerika toe gekom het, het my man sy tande geslyp om goedgemaakte Amerikaanse gereedskap te koop. Moenie glo nie. Selfs in ʼn über-Amerikaanse winkel soos Sears, kry jy net Chinese tange, hamers en skroewedraaiers. Amerika se vervaardigingsbedryf, en daarmee saam derduisende werksgeleenthede vir veral blouboordjiewerkers, is tot niet.

In die IT-bedryf vervang werkers op H1B-visums uit veral Indië Amerikaners as eweknieë. Vir Amerikaanse burgers moet hulle werkgewer medies en pensioen verskaf, iets wat nie vir kontrakwerkers geld nie. Dit beteken Amerikaanse werkers kan nie met kontrakwerkers meeding nie. ʼn IT-werker by Disney het vroeër vanjaar tydens ʼn ondersoek aangedaan getuig hoe hy en sy kollegas hulle vervangers moes oplei voor hulle uitgeskop is. Donald Trump het hierdie aangrypende getuienis aan al sy ondersteuners getwiet.

Dis in hierdie verarmde deel van die Amerikaanse bevolking waar Trump ʼn ryk aar raakgeboor het. Maar hy het ander verrassende ondersteuners gehad. Soos die Amiese Doopsgesindes (Amish), wat meestal in Pennsilvanië woon. Danksy saamrygeleenthede van vrywilligers het hulle in hulle massas vir Trump gestem, waar hulle stemme skynbaar die knoop in Pennsilvanië vir hom deurgehak het.

ʼn Anonieme Amiese man het gesê hoewel Trump ʼn kandidaat vol foute is, is hy die beste verteenwoordiger van kwessies wat die Amiese gemeenskap na aan die hart lê. Soos die mense in my kerk, was die Amiese Doopsgesindes nog neustoedrukkende kiesers.

Een van Bernie Sanders se grootste aanhangers, wat Hillary Clinton later begin ondersteun het, is filmmaker Michael Moore. Hy was een van die min Demokrate wat voorspel het Trump sou wen. Omtrent so twee weke voor die verkiesing het hy ʼn video oor die Trump-verskynsel gemaak (waarskuwing: hy gebruik graag die f-woord). Dele van die video het soos ʼn veldbrand versprei en is al meer as ʼn miljoen keer gekyk. Moore sê met elke stem vir Trump het vergete, verarmde Amerikaners gebulder: “Middelvinger vir jou, establishment!”

Of Trump enige verskil aan hulle bestaan gaan maak, sal ons nog moet sien. Intussen loop die verdelingslyne hier in Amerika so diep soos die Grand Canyon.

  • Marisa en haar gesin woon die afgelope twee jaar in Amerika. Sy het hierdie kort verslag saamgestel van hoe sy die Amerikaanse verkiesing beleef het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

47 Kommentare

Ben Prinsloo ·

Ja ek het ook beleef dat Trump hom by sy eie land se probleme wil skaar en nie so baie in ander lande se doen en late wil inmeng nie. Ek het ook gesien hy is ook maar net mens met foute maar wat n baie goeie begrip van ekonomie het. Inteenstelling is hy nie so korrup of so oorlogbehep soos sy gewese teenstander nie.

Jakoba ·

Victor die beste besigheidsmense op hierdie aarde het almal mislukte besighede en bankrotskape agter hulle name. Groot name het almal so begin. Niemand is volmaak nie net God aleen is volmaak. So as hy dom was sou hy nie vandag ‘n magnaat gewees het nie. Kudos vir hom

Disselboom ·

Om te kies tussen Trump en Hillary Clinton moes ‘n interessante oomblik vir ordentlike Amerikaners gewees het. Die hoofsaak is dat daar ‘n keuse teen die status quo, die beroepspolitici gemaak is, wat saam met Brexit dui op ‘n verskuiwing in wêreldmening. Of naïewe kommentatortjies soos Jaco Kleynhans, wat net teen Trump se skurfheid aanhou vaskyk het en saam met die wêreldmening gedraf het met Hillary Clinton-wenvoorspellings, gaan agterkom dat die wêreld aan die skuif is, is vir ons plaaslik die belangrike vraag.

DewaldS ·

Naief is dalk ‘n harde woord – elkeen het sy beperkinge – ‘n buikspreker-pop kan nie regtig sy eie woorde uitdink nie?

Leendert ·

Ben Prinsloo en Disselboom, ek stem, is ook so van mening.

marie visser ·

Ek dank God dat Trump gewen het. Hy sal na sy mense omsien. Ons sal aanhou bid vir hom. God seën jou Trump!

Leonard van der Dussen ·

Laat ons maar versigtig wees met die Naam van God. Al is daar die hoop dat Trump ‘n paar dinge in die VSA vir die VSA en sy inwoners se belang gaan beter doen, en dat hierdie skuif terug na nasionalisme ‘n beweging in die regte rigting wêreldwyd is, moet dit besef word Trump leef nie die lewe van ‘n eerbiedige gelowige nie. Kom ons bedink tog die die derde gebod te alle tye en laat die wêreldgrotes maar raas sonder om hulle mag te verwar met goed wees.

Daan ·

Leonard : “Trump leef nie die lewe van ‘n eerbiedige gelowige nie. ” Maar die Bybel sê: “Was jy maar warm of koud” Nie lou soos Hillary nie wat sê ongebore babas het geen (lewens) regte nie,selfs sekondes voor geboorte.

Stan ·

Marie, ek stem saam jou. Hy is die regte ou wat sy land wil reg ruk. Hy en Putin is ysters. Lees gerus hoeveel kerke Putin herbou het in sy kort ruk aan beheer. Slim, besigheids mense moet ‘n land bestuur – nie prokureurs en skaapwagters nie.

Victor ·

Daan

Jy sê ” Hillary nie wat sê ongebore babas het geen (lewens) regte nie,selfs sekondes voor geboorte”. Hoe lyk dit met ‘n bewys vir jou stelling, veral die “selfs sekondes voor geboorte” – of suig jy die nonsens uit jou duim uit?

Therese van Schalkwyk ·

Marisa,
Baie dankie vir hierdie interessante stuk uit die VSA! Lekker gelees, jy mag maar weer!
Hoop regtig dat President Trump almal gaan verras en ‘n groot sukses van hierdie reuse taak maak. Hy is met skandes en al ‘n vars bries tussen die gladdebek, gepoleerde beroepspolitici. Met verstandige raadgewers wat hom ‘kalm’ en gefokus hou, behoort dit goed te gaan. :-)
Sou beslis, sonder om my neus toe te druk, ‘n Trump-stemmer wees as ek kon.

Merkur ·

Therese.
Jou kommentaar op die berig is net soos ek voel en dink. Elke woord sal ek onderteken. :-)

A3 ·

Stem saam Therese alhoewel dit niks met ons te doen het nie en ons ons eie belaglike politiek het, is ek bly dat hy gewen het – my man is ook ‘n groot aanhanger van hom en ek moet sê ek sou ook sonder om my neus toe te druk vir hom stem.

Theo B ·

En hier gaan die Bolsjewistiese agitasie alweer. Kan die media nie by die sg ingeligte Washington-NewYork groeperinge verby beweeg nie? Daar is soveel state in die VSA en as mens met die gemiddelde persoon praat-ongeag ras of voorkeure-is dit duidelik; mense se toleransie vlakke vir die Clintons en Obamacare het versadigingspunt bereik. Waarom die media – selfs die meer konserwatiewe groepe-hulle voortdurend teen Trump skaar, is eintlik verbysterend. Dit is duidelik die media dryf ‘n agenda. Waarom bestudeer niemand die doelstellings van die Republkeine (voorstaanders van ‘n grote mate van kapitalisme) vs die Demokrate (sosialiste/empiriese welvaart staats idee) nie?

Magaretha ·

Hoe verfrissend is dit nie om n goeie deurdagte kommentaar te kry nie. Ons woon al 15 jaar in die UK en is so moeg van mense wat net altyd lelike goed te se het oor andere. Ons is so dankbaar dat Trump gewen het ten spyte van al die lelike segoed oor hom. Ons het so baie Youtube videos oor hom en Hillary gekyk, Baie erkende profete in die USA het geprofeteer hy gaan wen en goed wen. Ons hou van sy siening van vrede eerder as oorlog. Hier kan jy gladnie glo wat die BBC en Sky nuus se nie. Ons kyk eerder RT nuus wat baie meer gebalanseerd is. Marisa goed gedaan

Victor ·

Wat van die nigeriese profeet, wat in dieselfde god glo, wat geprofeteer het Hillary gaan wen?

Jan ·

Victor daai profeet kon nie eens sy eie gastehuis se betondigtheid voorspel nie. Hy lyk vir my soos ‘n mammon man

Johnny ·

TB Joshua kon nie eens sy eie gastehuis se beton sterkte voorspel nie. Hy dien waarskynlik net Mammon.

JOHAN BESTER ·

Baie geluk aan die Amerikaners wat die moed gehad het om vir Mr.Trump te stem.
Baie geluk ook Mr Trump as u Afrikaans kan lees.
Daar is baie van ons wat u enige tyd sal ruil vir ons president.

Dup du Plessis ·

Theo B….stem saam – die media, ook by ons, het nog die hele tyd hierdie negatiewe veldtog teen Trump, kyk maar na die fotos van hom wat geplaas word teenoor Clinton s’n….en wat doen die opgevoede demokrate nou na ‘n DEMOKRATIESE verkiesing?…hulle wil nie die uitslag aanvaar nie. Is daar nie baie ooreenstemming tussen hulle optrede en ons #FeesMustFall groepering nie? As die “Amish” mense vir hom gestem het spreek dit boekdele….want daar sal ver gegaan moet word om meer opregte mense as hulle te kry op hierdie aardbol….

Rupert Ashford ·

Iemand het eendag gese die manier om die Linkses/Liberale te leer ken is om te luister wat hulle van hulle opponente se gedrag voorspel, want dit is presies soos hulle sal optree.

Pietman ·

Ek is uiters bly dat Trump gewen het. Dit dui daarop die die man op straat begin om vir hulself te dink en nie meer die links-liberale hoofstroom media blindelings navolg nie. Dit is ook wat ons met Brexit gesien het.

Hopelik skrik Afrikaners ook nou ‘n bietjie wakker en laat vaar hul media aangevuurde skuldgevoelens vir logiese denke en oorlewingswil.

jaco ·

Ek kry die volgende op Eye Witness News. Goed wat Trump al oor Suid-Afrika gesê het:

After former president Nelson Mandela died in 2013, the president-elect said that South Africa is a crime-ridden mess that is just waiting to explode

During the Oscar Pistorius trial in 2014, the controversial president-elect referred to Judge Thokozile Masipa as a total moron, likening the case to O.J Simpson’s trail.

As Solidariteit by die VN kon gaan kla oor die nadele van regstellende aksie EN nogal steun ook daar kon kry, behoort hulle direk by Trump ook uit te kom en hom te vra om Zuma behoorlik vas te vat. Draai net die sanksie-krane oop…

John ·

Sjoe, wie was aan bewind die afgelope 8 jaar: die Demokrate wat juis al die probleme waaroor die outeur kla laat voortstu het. Daar word neerhalend verwys na die doopgesinde Amies en net Trump het ‘n veelbewoe lewe, nie Clinton of Obama of Kennedy nie. Die Amerikaanse pers gelei deur Clinton se PR-joppie het duidelik geslaag. Wat sou Clinton as president anders gedoen het as Obama? Niks en daarom het sy net gehamer op Trump se glo swak kwaliteite. Met onbeperkte instroming van oraloor, sal dieselfde opgesmukte middelklas ‘n ander deuntjie sing as bomme in hul geliefde inkopiesentrum hul koffiedrinksessie onderbreek.

Leendert ·

Ek sien Steven Friedman van Universiteit Johannesburg, maak dit ‘n raskwessie in sy artikel in die M&G. Wittes, hamer hy op en dan vind hy raakpunte met wat in SA gebeur en die woede van swart mense, wat kwansuis nog nie ekonomies bevry is nie. Die ekonomie en die JSE is nog in die hande van wit mense. Jig, wanneer gaan mense/kommentators/rubriekskrywers ophou om dinge in SA te verdraai om hul eie agenda te pas of om ‘n sekere groep ter wille te wees. Gaan kyk na die regte oorsake waaroor dit gegaan het. Kyk ook na hoeveel werklik swart mense het vir Trump gestem, ook vrouens, ongeag sy uitlatings teen vroue, as jy dit dan aan die grootklok wil hang, net om raakpunte in SA te vind.

john annandale ·

neustoedrukkers?
maroelamedie klink nou net soos cnn.
leopold&kie het bewys dat hulle oningelig is
hoekom niks positief oor donald trump nie?
HY is n sterk leier en sal amerika regruk
clinton is verantwoorlik vir die gemors in libie maar dit is niks
wat van sirie?

DewaldS ·

Die fenomeen was meer die van kettingtrek en nie soveel van neus-toedruk nie. Die Amerikaners is maar net moeg vir die hele stinkende toilet van die hoofstroom-media en die establishment en het die ketting getrek soos wat self-respektetende mense behoort te doen.

Zumie ·

Vir diegene wat die internet deurkruis het voor die verkiesing en hulle minder gesteur het aan die gewone(gekoopte) media, was Trump se verkiesing glad nie so verassend nie. Die tyd het gekom dat ons vir ons self begin kyk en dink en nie die gekoopte media toelaat om dit vir ons te doen nie.

In opsomming oor die kandidte:
Hillary was ‘n duidelike geldmag marionet met ‘n DUISTER geskiedenis en dus ‘n definitiewe nee, nee.
Trump, indien ons hom kan glo dat hy onafhanklik van die geldmag is, en boonop kyk na VSA belange eerste maak dit in die rooitaal terme ‘n “no brainer”.

Disselboom ·

Dis gaaf dat Trump gewen het. Dis egter kommerwekkend hoe insigloos en kinderlik mense nou weer op ‘n wa klim en hoera skree vir iemand wie se swak punte en sondes weliswaar doelbewus deur die hoofstroom oorbeklemtoon is om die sinvolle dinge wat hy gesê het te probeer smoor, maar wat ook maar voete van klei het. Disselboom voel ook dis beter dat Trump gewen het, maar is bekommerd oor hoe vinnig ons mense hier in die kommentare kop verloor en dan hier, dan daar euforiese lofliedere sing en verwagtinge het. Laat ons koelkop bly.

Disselboom ·

Met erkenning aan ‘n paar ouens wat mens darem moed gee met meer gebalanseerde kommentare.

DewaldS ·

Ag, maar ons is baie bly vir jou bydrae hier as self-aangestelde konmentaar-resensent. Hoe sal ons tog ons denke en woorde balanseer sonder mense soos U?

Annie ·

Ons woon die afgelope 9 jaar in VSA en in die suid ooste deel van VSA. Trump se verkiesing was ‘n groot skok vir Amerika en die feit dat hy van die eerste setel wat ingekom het, voorgeloop het, het die mense na hulle asems laat snak. Die linkse media het selfs leuens vertel dat Hillary voorloop. Dit was ‘n opwinnende titaniese stryd. Die kiesers was gebombadeer met skandaal op skandaal en vuil moddergooiery. Dit is nou die 3de verkiesing wat ons beleef het, en dit is baie uitputtend. ‘n Mens kan nie glo tot watter uiterstes word “freedom of speech” gedryf nie. Die media het natuurlik die situasie gebruik, misbruik en tot die uiterste gedryf. Tegnologie en inligting maak dit vandag baie maklik om ou wortels uit te grawe. Trump het die beste visipredident gekies. Mike Pence is ‘n uitgesproke Christen wat baie vertroue in geboesem het en deurgans mense gemaan dat Trump nie ‘n professionele politikus is nie, maar dat dit hom juis geskik maak om dinge verander te kry. Hillary se fanatiese doelwit om die eerste vrouepresident te word, was ongekend. Almal sien uit wat Trump gaan doen en aangesien sy naam wêreldleier beteken, kan dit ‘n baie interesante gevolge hê. Mag God almal help in hulle belangrike take.

Victor ·

Ek dog die staat en kerk moet apart bly, so mens wil defnitief nie ‘n uitgesproke Christen as visie president hê nie!

Victor ·

Hoekom? Hy is ‘n slegte besigheidsman met ‘n spul mislukkings en bankrotskappe agter sy naam, wat met pappa se geld sy geld gemaak het.

Hy het ‘n gebrekkige verstaan van die wetenskap boonop alles, en dit lyk of hy in Putin se agtersak is

chrisp ·

Ja nee Victor karakter is as jy onder is en weer opstaan,nie waar nie?
Clinton het nog nooit vir haarself gewerk nie ook nie mense werk gegee nie,daarom ook nie bankrot gespeel nie. Tiperend van die moderne politikus. Meeste net parasiete en bloedsuiers wat met hul kontakte geweldig baie geld maak soos die Clintons oa.

Victor ·

chrisp,

Ek probeer jou al ‘n rukkie antwoord maar my plasings bly verdwyn

Ek hou nie van Hillary en die Clintons nie, en ja, hulle is tipies moderne politikus. Ek voel egter dat as jy belasting ontduik (soos Trump) is jy maar ook ‘n parasiet

chrisp ·

Daar was net twee keuses Victor , Hel – lery en Trump dws as jy nie vir Trump sou kies nie sou dit sy moes wees. Hillary is korrup,lieg eintlik as ‘n beginsel, verduister geld deur haar en Bil se “ Clinton Foundation”, is mede verantwoordelik vir die gemors in die midde ooste asook die dood van Amerikaners in Benghazi en so kan ek aangaan.

Die Amerikaners het die regte besluit geneem mits hy doen wat hy gese het. Ook wil hy geen salaris ontvang nie. Waar in die hele wereld gebeur dit? Al wat nou verkeerd kan loop is as hy sy deuntjie verander .Ek hoop en bid hy doen dit nie.

Rupert Ashford ·

So Victor is daar fout daarmee om die geld wat jy van jou pa kry sinvol te gebruik en te vermeerder eerder as dit uit te mors? Daar is ‘n reuse verskil tussen “tax evation” en ” tax minimisation”. Van lg kan mens niks se nie want dit is wettig – en soos Kerry Packer gese het geen regering spandeer mens se belastinggeld so goed dat mens meer aan hulle sal wil skenk nie. Groot geeste soos Warren Buffet, Soros en sulke snare doen dit verseker ook (skryf goed af teen belasting), en dan kom mens by die ander karakters wat hulle hele “besigheidsryk” bou op die rug van belastingtoegewings en ander simpelgeite.

Rupert Ashford ·

Trump was die beste opsie van die twee in hierdie verkiesing. Ek was in Junie in die VSA en ‘n stoere Amerikaner het vir my gese “Our choice is between a crook and a madman”. Die “madman” het gewen maar kom ons hoop hy is nie so “mad” soos die pers hom voorgehou het nie. En mag hulle daardie ontwykende Eerste Vrou kies wanneer daar ‘n kandidaat is wat dit waardig is (iemand soos Maggie Thatcher). Sterkte Mnr Trump en kom ons hoop hy kan “deliver”.

Henry ·

Soos meeste van my pelle in die VSA, is ek ook bly en verlig dat Trump vanaf Januarie die nuwe President sal wees. Soos alle siele wat die VSA se President djoppie al losgeslaan het, het hy ook oorgenoeg simpele opmerkings en uitsprake gemaak. Dat hy soos sy voorgangers ook ‘n paar geraamtes in die kas het, is ook waar.

Maar, dit gaan baie interessant wees om te sien hoe ‘n piet wat meer straatwys as enige van sy voorgangers is en met grondige kennis en ervaring van die besigheidswêreld kan spog, die pretensieuse politici en burokrasie in Washington gaan hanteer.

Hopelik sal hy voortgaan om die ou spulletjie leuenaars en strooipraters* verder aan te spoor om hul onderrokke flenters te trap.

*self gesensor

Michael Saayman ·

Victor is daar ‘n verskil tussen belasting onduiking en om die huidige VSA belasting stelsel te gebruik om nie belasting te betaal nie ? Wat ek tot nou verstaan kan jy vervolg word as jy belasting onduik . Niemand in die VSA het Trump al probeer vervolg omdat hy nie belasting betaal nie! Bring of wys vir my ‘n persoon wie meer belasting gaan betaal as wat hy nodig het om te betaal , sal jy ? Los maar vir Pence as uitgesproke Christen uit. Hy het tot nou nog nie sy politiek en Christenskap gemeng nie . Daar is niks fout om te erken dat jy ‘n Chrsten is . Die man is al jare in die politiek en en geliefd onder sy Staat se mense .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.