Só help ek die taal leef

Hier sing die skoolkoor van die Afrikaans Hoër Seunskool in Pretoria "Land van melk en heuning" tydens die feesviering en boekbekendstelling. Foto: Susan Lombaard, Maroela Media

Hier sing die skoolkoor van die Afrikaans Hoër Seunskool in Pretoria “Land van melk en heuning” tydens die feesviering en boekbekendstelling. Foto: Susan Lombaard, Maroela Media

Jan-Anton Theron*, 18-jarige onderhoofseun van die Afrikaanse Hoër Seunskool, het die volgende toespraak tydens Taaldagvieringe op 14 Augustus 2014 by die skool gelewer.

As 18-jarige jongman vereenselwig ek my volkome met die skrywer Lizette Murray wat sê dat jy nie maklik mooier, lekkerder en lewendiger as Afrikaans kry nie!

Dit is 14 Augustus en ons het genoeg van die geskiedkundige deel gehoor [verwysend na die bekendstelling van die boek ‘Ons gaan ʼn taal maak’]. Ek wil dus graag uit ʼn waardegedrewe jongmens se oogpunt die volgende onder u aandag bring.

Afrikaans is ook Boekevat-taal – daar was oupa se gebede, in keurige Afrikaans, met ʼn skeutjie hoog-Hollands by. En dan sing ons Sondae uit die Liedboek, moderne berymings van Lina Spies en TT Cloete.

Ons taal se woorde sing. Hulle duikel en slaan bollemakiesie. Hulle rondomtalie, wieg, bekoor. Jy kan hulle wegblaas in die wind of naderhark om ʼn storm los te praat in die ATKV se debats- en redenaarskompetisies of die splinternuwe blinkpennie-kompetisie Dink of Sink van AfriForum.

Ons taal is prakties. Sonder nonsens. Ons timmer en werskaf nuwe woorde aan mekaar, want ons is woordmakers. Ons gee name vir verskeie aksies: hysbakkies vir “face lift” en vooskoos vir “nerd”. Ons het raaksê-plekname soos Verkeerdevlei, Boegoeberg, Pakhuispas, Noenieput, Pofadder.

Ons ken ons mense uit – Jan Wynwa, Jan Boel, Mooi-Fanie, Ou-Fanie, Rooi-Fanie – alles gebeur sommer tjoef-tjaf. Ons name is ook vol klanknabootsing soos tjienkerientjee, kelkiewyn, bokmakierie, piet-my-vrou!

Ons taal is ook pure musiek. Verskeie Afrikaanse gedigte word getoonset en in liedjies omskep. Wie se hart word nie geroer met Coenie de Villiers se raaksê-lirieke nie:
As die nag sy baadjie toeknoop oor die veld
en die diereriem sy blink tot teen die skerpioen laat lê…
ruik jy katbos en kambro
as dit reën in die Klein-Karoo…

Ons taal is soos die aarde. Hy sê wat hy moet sê. Kort en klaar. ID du Plessis sê:
Vanaand eet ons in die Roosstraat
snoekentjies en ywe…

En Adam Small in ons graad 12 voorgeskrewe drama: “Hulle vat jou nie so nie! Hulle kan sién waarvandaan jy kom – jou history is op jou arms, jou lyf, op jou nek, op jou gesig… alles!

En Marthinus Versfeld skryf oor pampoen: “Mooi woord, pampoen. Dis so pammerig en poenerig…

Ons waak oor ons keurwoorde wat in Engels of Frans of Duits futloos en afgewater anderkant uitkom. Pure vaal eier sonder spek!

Waar het jy nou in enige ander taal al lekkerder gehoor as eina, hoekom, sommer, bakkie, grondboontjiebotter, driepootpot? Laat diegene wat ons universiteite so verengels kennis neem van ons liefde en trots vir hierdie taal en, ja, dit strek tot ver oor ons grense, want word ons taal dan nie juis akademies aangebied in Rusland, Engeland, België en Frankryk nie?

Ons taal is ook bidtaal en wanneer Hans du Plessis in Griekwa-Afrikaans Psalm 121 vasvat, wéét ons dié woorde is ʼn karos om ons skouers. God sorg. Hy hou wag oor ons in die taal van ons hart.
Sonner lat jou voete klippers raak
is Hy skoene agterie skaap…
Sontyd is Hy hoed op jou kop.
Innie nag hou Hy gevaarlikheid dop.
Hy’s mos nou da om jou op te pas,
jou siel hou Hy tissen jou ribbes vas…

*Jan-Anton Theron is onderhoofseun van die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria. Hy het dié toespraak gelewer by die viering van Afrikaanse Taaldag by dié skool. Tydens die geleentheid is Kraal Uitgewers se boek “Ons gaan ʼn taal maak” deur prof. Jaap Steyn ook bekendgestel.

Let daarop dat geen van die standpunte in hierdie stuk of op Die Groot Debat noodwendig Maroela Media se mening weerspieël nie. Klik hier om Die Groot Debat se waardes en beleid te lees.

Lees ook:
Jongmense kan nou ook hul stuiwer in die armbeurs kom gooi
Ja, God bestaan en ek ken Hom
Taalmoord ons voorland as ons nie baklei nie
Basson se argumente rondom Steve se Stem tas mis

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Theresa Papenfus ·

Party mense kan dinge waar droom.
Presies een eeu gelede, net ná Afrikaans die groen lig gekry het as onderrigtaal, is die doelstellings van die Afrikaanse Taalvereniging só verwoord:
“Die A.T.V. wil dit moontlik maak vir die Afrikaanse kind om syn moedertaal te bemin en aan te leer. Hy praat dit alreeds met lus. Die A.T.V. wil ’n eie Afrikaanse kultuur en letterkunde aankweek en bestendig, sondat ons ook ‘n ereplaas onder die ry van kultuurvolke kan inneem. Die A.T.V. is dus niks anders nie dan ‘n nasionale beweging van ‘n positiewe aard …
“Die A.T.V. wil ‘n monument vir syn taal oprig, nie ‘n grafsteen uit klip of graniet vervaardig nie, maar ’n monument bestaande uit ‘n lewendige literatuur … Op dié monument is uitgebeitel: Ek leef en sal lewe, my doodkry is min!”
(Uit die toespraak van G.C. Tomlinson by die stigting van ‘n tak van die Afrikaanse Taalvereniging op Caledon, 15 Augustus 1914. Ons Moedertaal, Deel 1, No. 3; 15 September 1914.)

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.