Lesersbrief: Helpmekaar Kollege en die ‘regte’ wêreld

helpmekaar-kollege

Helpmekaar Kollege. Foto: Tak.co.za

Dirk Scheepers van New York skryf:

Ek lees vandag ʼn meningstuk raak wat ʼn vriend van my gedeel het op Facebook. Gewoonlik blaai ek by Media24 se artikels verby, tog sal ek nou en dan hul Engelse blaaie trotseer in die hoop dat die eendimensionele narratief dalk afgeskaal is. Maar helaas, hierdie stuk was geensins anders nie.

Aan die een kant dink ek dit is net geskryf om klieks te dryf en verkeer na die blad te lok. In daardie opsig is dit suksesvol. Die artikel is al klaar wyd gedeel op sosiale media en die adverteerders op die blad kry waarde vir hul geld.

Maar kom ons bestee tyd om sommige van die belaglikhede in die artikel uit te lig. Sonskyn is tog die beste ontsmettingsmiddel.

Die skrywer, mnr. Rams Mabote, begin deur te noem dat hy jammer voel vir die Afrikanerseuns wat vir Helpmekaar Kollege teen sy seun se skool rugby speel.

Helpmekaar Kollege berei kamstig nie hul leerders voor vir die “regte” wêreld daar buite nie. Die hoeveelheid Afrikaners wat in skole soos Helpmekaar Kollege was én uiters suksesvol op globale vlak is, is legio. Miskien praat hy van ʼn ander “regte” wêreld?

Dan word daar beweer dat die sogenaamde kokon van Afrikanerdom die leerders nie sal toelaat om in “swart” universiteite tuis te voel nie. Hoe word daar in hierdie “regte” wêreld van die reënboognasie nog verwys na universiteite as “swart” of “wit”?

Is die insinuasie self nie dalk ʼn aanduiding dat Rams se eie rassistiese onderrok uithang nie?

Verder, hou hy vol, is Helpmekaar Kollege met sy “ras-eksklusiewe studenteliggaam” vrugbare grond vir rasisme en vooroordeling. Dit terwyl die tuisblad van Helpmekaar Kollege ons groet met die glimlag van ʼn swart Helpmekaar-student netjies uitgevat in sy skooluniform. Miskien verstaan ek die definisie van eksklusief verkeerd?

Terloops, wat was die eindtelling van sy seun se rugbywedstryd?

Buiten die tekort aan feite, oningeligtheid, wanbegrip en subtiele rassisme is daar dalk wel ʼn lewensles vervat in die ellendige tirade.

Moenie ʼn swak verloorder wees nie….

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JC ·

Briljant!
Baie dankie Dirk. Ons moet ons ingordel, die geveg teen Afrikaners EN ONS TAAL, ook met behulp van en by wyse van die media IS NOU VOLSTOOM AAN DIE GANG.
Gelukkig kan ONS dit elke liewe keer weerle EN ONS BOONOP goed verdedig en die ander kant op hul neus laat kyk!
Helpmekaar=BEVONK!
Ons is jammer HSM(hoofstroommedia), julle gekonkel en manipulasie werk nie met ons nie!!
Ons het geleer by die nou-oplettende burgers van die VSA.

Dereck Le Roux ·

Helpmekaak Kollege of soos hy voorheen bekend was Helpmekaar Seuns Skool en Helpmekaar Meisies Skool was twee Hoerskole van uitnemende gehalte wat top klas leerlinge opgelewer het, ek was nooit in Helpies gewees nie maar al die omstreke van Johannesburg het altyd deeglik kennis geneem van Helpies.

Martin ·

Helpies Bo! Top skool en goeie waardes. Goeie rugby en goeie gees. n Afrikaanse skool in die middel van Johannesburg. Waar anders?

Andre ·

Ha, ha. Kan iemand asb vir die man laat weet dat Helpmekaar ‘n Afrikaner “Safe Space” is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.