Lesersbrief: Het my tradisies, taal en identiteit nog ʼn plek in ons land?

Afrikaner

Argieffoto: Adéle Changuion

Henko Pienaar van Centurion skryf: 

Hierdie vrae word al hoe moeiliker om te beantwoord. Is ek as Afrikaner ʼn bedreigde spesie?

Ons as Afrikaners se identiteit, taal en kultuur word bedreig. In die skole word ons nie geleer van ons geskiedenis nie. Ons word geleer Zoeloes is by Bloedrivier vermoor. Ons hoor nie van Piet Retief nie. Die Groot Trek word beskou as ʼn intog en aanval op Suid-Afrika. Ons geskiedenis word uitgebeeld in die slegste lig moontlik.

Met die aanbreek van demokrasie was ek nog nie eens op skool nie, maar ek word vertel dat ek “White Privilege” het. Dat alles wat ek gekry het, ek nie verdien het nie. My pa was ʼn polisieman. My ma is ʼn onderwyser wat koekies gebak het om ons deur universiteit te kry. Ek het self van 15 jaar oud gewerk. Hard gewerk vir enige iets. Niks word gegee nie, maar alles word gevat.

Die jaar het sommer afgeskop met die hele Hoërskool Overvaal-debakel. Die nie-so-eerbare-nie Lesufi het hier ʼn geleentheid gesien en volstoom die skool aangeval. Die hof se hamer nog nie eens geslaan nie toe begin dit al. “Ons sal die reëls verander om by ons te pas, kom ons ‘betoog’ voor die skool.” (“Betoog” beteken “breek alles af en intimideer mense kleiner en swakker as jy om jou sin te kry”.) Voor die skool het dit soos ʼn oorlogsone gelyk en elke dag het die Afrikaner-gemeenskap maar net skoongemaak om net weer die volgende dag vernietig te word.

Ons taal is nie eens veilig op akademiese vlak nie. RAU was die eerste wat geval het, Tukkies, Maties en Kovsies was volgende. Die hof het self beslis dat die Universiteit van die Vrystaat se raad reg was om Afrikaans basies in alle opsigte te skrap. Die laaste sogenaamde Afrikaanse universiteit het hierdie jaar ook geval. Prof Dan Kgwadi (van die Noordwes-Universiteit) se wens het waar geword. Die Puk is amper nie meer nie. Die Puk se identiteit is weggevat met die unitêre model. Die stem van die student en alumni is geïgnoreer en die kleur is na pers verander en koshuisdrag mag nie op kampus gedra word nie. Die naam “Puk” word nie eens meer gebruik nie en die jaar was tien teen een die laaste jool wat die Puk gesien het. Geen identiteit, geen kultuur, geen Afrikaans.

Quo vadis Afrikaans? Waarheen nou Afrikaans? Dit is nie meer ʼn vraag nie, dit is ʼn uitroep: ʼn kreet van jong Afrikaners wat op soek is na ʼn identiteit. ʼn Kreet van jong Afrikaners wat wil weet waarheen gaan ek nou? Ek is gebore in Suid-Afrika, maar ek word ʼn “immigrant” genoem. Ek is lief vir die land, maar ek weet regtig nie wat om te doen nie. Ek is trots om Afrikaans te wees, ek is trots om ʼn oud-Puk te wees, maar alles waarop ek trots is, word afgebreek. My trots word saam met my identiteit, taal en kultuur vernietig.

Ons moet nie meer stilbly nie. Jy moet trots wees om Afrikaans te wees. Ek is trots om Afrikaans te wees en alles wat ek kan doen om my identiteit, taal en kultuur te beskerm en te bevorder. Ek wil nie meer stilbly nie. Ek wil nie meer sien hoe alles waarop ek trots is, vernietig word nie. Ek is ʼn Afrika-kind.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Casper Labuschagne ·

Ons sal baie mooi moet besin hieroor. Vir my is die les wat ons hieruit moet leer dat enige instansie wat deur die staat besit word ten gunste van die meerderheid aangewend sal word en nie ten gunste van Afrikaans nie. Merk my woorde, Afrikaans op skoolvlak sal binnekort wegval, dit kan eenvoudig nie anders nie. Dus moet ons, ons eie instellings stig en onderhou, dit kan ook nie anders nie. Ons geskiedenis sal aanhou verdraai word, net Afrikaans en die Afrikaner kry die skuld vir die verlede en Britse imperialisme kom skotvry daarvan af. Dit kan net reggestel word deur middel van die waarheid en dit begin by ons – maak werk daarvan om jou eie geskiedenis te leer, met ander te deel en om Afrikaans te lees, te praat en te dink. Ondersteun jou gemeenskap, bou op bowenal moet nie dat standaarde en gehalte in die slag bly nie. Wees trots op wie jy is en jou herkoms, ons het geen rede om skaam te wees nie.

Jacques Labuschagne ·

Stem 200% met jou saam Casper. Dis die enigste manier. En om ons ware geskiedenis te leer en te deel met ons kinders, familie en vriende is ongelooflik belangrik. Kennis (waarheid) is mag.

Henk ·

Daar is NIEMAND anders wat die Afrikaner se taal en sy geskiedenis bedreig soos die Afrikaner homself nie. Voer ‘n gesprek met ‘n persoon en daai persoon weier om Afrikaans te praat, dan praat die Afrikaner maar engels. Hoeveel ouers en voorouers vertel aan hulle kinders die verhale van die Afrikaner, die Groot Trek en wat aanleiding daartoe gegee het, die “grens oorloe van die 1800’s tot 1994” Gesprekke gaan eerder oor wat die ANC verkeerd doen. Gesprekke gaan eerder oor hoe verkeerd apartheid na 20 jaar steeds is, en GEEN Afrikaner volksverhale word aan ons kinders oorgedra nie. Ouers dra nie eens hul familie geskiedenis met hulle kinders nie. Inteendeel, hulle veroordeel eerder hul voorvaders as wat hulle geskiedkundige oomblikke oor hulle deel. So, wat het ons kinders om op trots te wees?

JC ·

Dankie Henko, jou denke is wonderlik, en maak my bitter trots.
Ons sal nie gaan le nie, ons sal nie terugstaan nie.
#AFRIKAANSE KINDERS IS ONS

Theresa ·

Die Afrikaner kan so maklik kerm dat hulle van hul tradisies en identiteit ontneem word. Maar eintlik is onsself ook te blameer in sekere opsigte.

Hoor net hoe praat ons die taal waarvoor ons so baklei . Soms meer engels in een sin as Afrikaans. Op TV-programme word ons as sukkelaars uitgebeeld en word blanke mans voordurend verkleineer. Om nie eens van die swak Afrikaans in party programme te praat nie. Dan praat ek liewers nie van die biersuipkultuur nie.

Taal is gelyk aan kultuur. Ek gee om vir my taal en die toekoms van my taal want my kleinkinders moet dit ook kan praat en trots wees daarop.
Maar belangrik. Waarom sal die regering ‘n taal en kultuur wil beskerm as die Afrikaners nie eens self vir hul eie taal en kultuur omgee nie?

JC ·

Dankie Theresa, jy slaan die spyker net daar op sy kop.
Ons moet van binne genees word, indien ons nie eers selfrespek toon en uitleef, en positief is nie, hoe op aarde gaan die ander groepe ons respekteer ? Nooit nie!
Afrikanerkind, staan op !

Gerhard ·

De rede waarom so baie Afrikaners Afrikaans met Engels meng is juis omdat Engels so op jou afgedwing word.

RP ·

Gerhard is reg, orals sien ons produkte met Engelse name. Toe ek jonk was het alle produkte uitgekom in twee tale. Nou praat ons maar van baby marrows, want niemand gaan jou verstaan as jy murgpampoentjie sê nie. Dit is een van menige probleme, natuurlik is daar baie meer wat fout is.

Akademi Buktu ·

Selfs Afrikaanse rugbykapteins speel nie meer wedstryde nie – hulle speel nou games.

lizl ·

Die behoud lè by onsself. Gaan ons toelaat dat als verdwyn ? Of gaan ons begin om ons kinders die regte geskiedenis te leer ? Kinders van vandag ken nie die geskiedenis van hierdie land nie. Afrika het seker ontstaan saam met Mandela ! want dis mos al wat hulle geleer word. In jou elke dag se lewe… gaan kyk maar hoe spel die mense ! As dit is hoe ons spel en skryf, dan verdien ons mos om ons taal te verloor ! Gaan leer jou kind om reg te skryf, en help sommer jou vriendin op Facebook reg as sy soos `n wafferse maplotter wil skryf en spel. A nee a! Ons het dan so pragtige taal, waar is ons trots heen ? Miskien is dit die fout. Selftrots.

Albaster ·

Witmense van regoor die wereld word almeer van white privilege beskuldig. Waarom sukkel hie mense dan om ook tot op white vlak te kom, selfs in lande waar daar nog nooit kolonialisasie of enige vorm van white was nie? Wat is die rede?

Paul ·

Dit hier bo geskryf is die realiteit, maar daar is nie ‘n manier hoe ek my so laat intimideer deur daaglikse propaganda en die skole se leerplanne wat die wit mense se geskiedenis misken nie, oor die swart mense …. , die skrywer het dit klaar hier bo genoem. Die blanke was vir die vooruitgang van ons land verantwoordelik, dit het in effek al voor Van Riebeeck se tyd begin toe Da Gama om die Suidpunt geseil het.

Dit wat gevolg het, die voorsienigheid was onafwendbaar, die groot trek, die ontdekking van grondstowwe wat oor die wêreld in fabrieke benut word, landbouprodukte, kundigheid wat die jongste tye die wêreld in gestuur is om dit ‘n beter plek te maak, op elke gebied. Die swart man het, in dieselfde tyd toe ons eerste voorvaders aan die suidpunt geland en groot kundigheid op verskeie gebiede saamgebring het, vanuit die noord-ooste getrek, en deur Zimbabwe die land binne gekom, na Natal en die Oos-Kaap beweeg.

Met die jare het die swart mense na die stede agter werk aan getrek, dorpe, die myne, op plase begin werk, ook sou hulle ‘n klomp dekades gelede na die Wes-Kaap toe trek.

Laat ons moue oprol, planne maak, dit ten uitvoer bring soos Solidariteit en Afriforum, die werk wag al weer.

Veritas ·

Paul, jy is doodreg. Om jou moedertaal te praat is die lekkerste manier om uiting aan jou gedagtes te gee. Ek het dit al menigmale, op hierdie forum, genoem en ek gaan weer. Die Afrikaner word net om een rede uitgesonder as sondebok en dit is ‘jaloesie’. Dit was ook die rede vir die Engelse aanslag teen ons voorouers. Engels was in hul kele afgedruk op skool, in winkels en in die howe. Ons almal weet wat die gevolg hier an was. Die Afrikaner het net sterker geword totdat hy die land regeer het. Dieselfde gaan weer gebeur. Dalk eers oor vyftig jaar maar gebeur, gaan dit gebeur. Ons Afrikaners het maar die manier om ons kans af te wag en dan toe te slaan. Ons bekommer onsself onnodig oor ons voortbestaan. Die Afrikaner sal nie gaan lê nie en ook nie almal emigreer nie. Ons is van Afrika en dit sal altyd in ons bloed bly. Die vyand moet maar verlief neem hiermee.

lizl ·

Albaster, jy is so reg ! Dit lyk my sommige mense het wette nodig om hulle gelyk aan blankes te kom. Affirmative Action kon blykbaar nogsteeds nie dit regkry nie.

Struggler ·

Die ewige strugglers, struggle hier, daar en oral, nog altyd.

Te Laat ·

Tydmors. Hou maar op met kleuterskool-droompies droom en wees vir ‘n slag realisties. Dis nou te laat om te huil en te kerm. Die (linkse) Afrikaner het laaankal verraad teenoor sy eie volk gepleeg en dit voltrek, en vandag sien mens die wye resultate daarvan. Die skade is lankal aangerig en dit is onomkeerbaar. Die skrif is lankal teen die muur vir die wittes in SA en net die mense met wysheid kan dit lees. Daarom verlaat hordes mense die land elke jaar, want hulle weet watter toekoms daar in Afrika vir hulle en hulle kinders voorlê: Geen.

JC ·

‘n Belangrike punt ter byvoeging is dat dit wat tans plaasvind te die SA staatsuniversiteite; ‘n spieelbeeld of ten minste analogies is aan wat gebeur by staatsuniversiteite wereldwyd.Die vreemdste onverdraagsame houding heers tans jeens konserwatisme en derhalwe konserwatiewes,wat gekenmerk word deur die haat vir die eie(oikofobie),opgeblaasde skuldgevoelens(waarvoor dan?) en ‘n gees van vingerwysing, beskuldigings(vernaam aan blankes) en die uithaler spel van die rol van slagofferskap, sonder dat rekenskap gegee word betreffende eieverantwoordelikheid, eie verantwoordbaarheid en hand-in-eie-boesem steek. Die tipe gedrag is natuurlik direk in kontras met Afrikaners se psige. Geen wonder dat ons geen uitsondering is nie, en dat daar ‘n kultuur van onverdraagsaamheid teenoor ons jeug heers by staatskampusse nie.
Die sameloop van omstandighede en uitdagings voorspel ek, indien gekyk word na die geskiedenis van die Afrikaner, sal hy suksesvol die hoof gebied.

Kom ons wees dus net onsself, en probeer die wat v/d pad afgedwaal het weer daarop kry.

Daar is so baie betroubare Afrikaner organisasie en mense WAT GOEIE WERK doen, en ook veg vir korrekte Afrikaanse taalgebruik (let wel: NIE die nuutste AWS nie-dit is deurspek van anglisismes-nie net wat betref woordeskat nie, maar ook uitdrukkkings, frases en hoe persepsies gestel word). Ons waag nie ons unieke Afrikaanse manier van dinge stel m.b.v. ons skatkis van spreekwoorde en idiome tot niet laat gaan nie.
Daar le baie werk voor…taalaktivisme en taalbewegings isnievirsissies nie, maar weet julle wat, dis lekker en lewegewend,beter as suurstof,soos moedersmelk !

Paul ·

JC, ek stem 100% met jou. Ek was van meet af meer as baie knorrig vir die taalkommissie wat vir die nuutste uitgawe van die AWS verantwoordelik was. Kyk na die lede waarvan Gerhard van Huyssteen een is. Ek het in effek ‘n groot renons hierin begin kry tot so ‘n mate dat ek verby krities is, ‘n ongelooflike afkeer ontwikkel het.

Wys mens bv vir Maroela op daardie woorde ens waarna jy verwys, wat hulle in hul artikels en skrywes gebruik, verwys hulle jou eenvoudig net weer na die AWS waarin die voorkom.

Die 2017-uitgawe van die AWS (die elfde uitgawe) verskyn honderd jaar ná die eerste uitgawe en staan daarom bekend as die eeufeesuitgawe. Weens die kleur van die omslag van die boek staan hierdie uitgawe algemeen bekend as die “Rooi Boek”. Pharos Woordeboeke was weereens die uitgewer, en die 2017-AWS is daarom op 3 Augustus 2017 amptelik in die Naspersgebou in Kaapstad bekendgestel.

Baie teleurstellend, om die minste daarvan te sê.

dejager ·

Ek het 4 seuns.Die oudste is in 1994 gebore.Hulle is nie gebreinspoel deur dstv nie.Hulle is tuisonderrig.Hulle het geen skuldgevoel vir iemand anders se verbeelde onreg van die verlede nie.Hulle weet dat ń mens in ons land rassediskriminasie sal beleef maar hulle weet as hulle hard werk
en geloof behou sal hulle die hoogste sport bereik.
Die wêreld het aanbeweeg en die muwwe denke van die huidige regime begin soos melaatsheid oral op hom uitslaan.
Die Afrikaner het ń baie blink toekoms in hierdie land.
Dit is tyd vir al my volksgenote om te besef:jy is verantwoordelik vir jou kinders se toekoms.Stop jou dstv.Hou huisgodsdiens.Haal jou kind uit die skool.In vandag se skole word jy van kleinsaf geleer om die onderdrukker van jou volk lief te hê.Jou kind word geprogrameer om tot sy sterwensdag om verskoning te vra.
Op skool leer kinders om net so slapgat te wees soos ons landgenote.Almal wil als verniet hê.Op tersiêre vlak blink my kinders uit.Hulle kan buite die boks dink.
In hierdie land is daar om eerlik te wees geen maar geen kompetisie vir die boerekind wat bereid is om te werk,berekende risikos te neem en innoverend op te tree nie.
Ons kinders het die wêreld aan hul voete.
Dit is so:My kinders is bevoorregd….maar apartheid het niks daarmee te make nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.