Het ons God verloën?

bekommernis

Argieffoto.

Terwyl Suid Afrika brand, verval witmense toenemend in selfbeskerming en selfbeskikking ten gunste van hulself en ten koste van Jesus se opdragte. Sy opdragte is om Sy dissipels te wees, om in liefde en eenheid te wandel, om nie te oordeel en veroordeel nie, om selfopofferend te leef, om sout en lig te wees, om versorgend en genesend op te tree, asook om dissipels te maak. Jesus het ons met Sy bloed oorgebring van die mag van duisternis na die koninkryk van God (Kol.1:13) en aldus sy opdrag –  ‘soos die Vader My gestuur het stuur Ek julle ook’ (Johannes 20:21).

Hoe word ons as witmense se leefstyl vereenselwig met dit wat God in hierdie tyd na die voorbeeld en opdragte van Jesus, tot stand wil laat kom? Deur weg te kruip in ‘veilige hawens’ agter doringdrade met die valse gerustheid van beleggingsfondse en allerlei finansiële dienste? Deur sinies en meerderwaardig na ander rasgroepe te verwys? Deur met ‘gospel’ liedjies in luukse voertuie by die nood van die wȇreld verby te ry? Deur in kerke debat te voer of sondige gedrag inderdaad sonde is? Deur ons leefstyl wat so deurdrenk met Mammon is dat ons geen idee het waaroor die koninkryk van God gaan nie? Deur selfsug, hoogmoed en liefdeloosheid? Jesus se woorde in hierdie verband slaan hard – ‘En wat noem julle My Here, Here! en doen nie wat Ek sȇ nie.’ (Lukas 6:46).

Hier, waar ons aan die einde van die jaar is en binnekort weer begin kersliedjies sing, moet elkeen van ons onsself voor God verootmoedig. My vraag aan individue, gesinne en veral kerke is: was julle gehoorsaam aan Jesus se opdragte? Die feit is, indien jy aan Jesus se opdragte ongehoorsaam is, het jy sy liefde en werk aan die kruis verloën. Jy kan kersliedjies sing dat die trane rol, maar indien die liefde van Jesus nie deur jou lewe sigbaar is nie, het dit geen substansie nie.

Nie elkeen wat vir My sȇ: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van My Vader wat in die hemele is’. (Matt. 7:21).

Kom ons hou op met sinnelose debatte en bely voor God dat ons ongehoorsaam is aan Sy woord en wil, kom ons draai na mekaar en neem hande en bid saam vir ons land en sy mense, kom ons benader die kerstyd as werklike gestuurdes van Jesus, as Sy dissipels van liefde en lig. Kom ons begin binne ons huisgesinne, werksplekke en kerke herbesin oor Christen wees, oor die rol van die kerk, oor ons lewens en waarde as kinders van God. Kom ons begin gesprekke en sosio-ekonomiese prosesse om in hierdie tyd ʼn positiewe invloed op ons land te hê. Kom ons begin met ʼn dialoog van hoop. Kom ons benader 2016 as dissipels van Jesus Christus.

Hugo van der Walt

Pretoria

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

51 Kommentare

Winston ·

Hugo ek dink jy het die kat aan die gat beet. Jy het geen idee hoeveel WITMENSE juis gee ten opsigte van behoeftiges nie. Gaan praat met jou regering en vra dat hulle ook n slag GEE en nie net vat nie. Daar is duidelike redes hoekom WITMENSE in veilige hawes bly. Want WITMENSE kan Hugo. Dis oor snert wat jy kwyt raak wat my de m..r in maak. Wie is jy Hugo om te veralgemeen. Gaan eerder op jou kniee en se dankie dat die WITMENSE nie moed opgee nie Hugo. Se dankie dat hulle met oop hande loop en gee waar hulle kan. Verdomp man hoekom vra jy nie die SWARTES om ook te gee nie. Ons ALMAL in die land het n plig om te gee Hugo. Wat gee jy?

Henry ·

Ek sal volstaan deur allie pad met jou saam te stem Winston.
Waarom?
Jou kommentaar is veel hofliker en sagter gestel, as dit waarmee ek sou wou laat waai het.

hugo ·

Winston – dankie vir jou inset.
Jammer indien die opiniestuk jou ontstel het, maar ek is van mening dat dat ons tot besef van die Koninkryk van God moet kom. Ons lewens moet nou daarvan getuig en met Jesus se wederkoms sal dit vir almal sigbaar wees. Regdeur die evangelies verduidelik Jesus die Koninkryk deur gelykenisse en leringe. Net voor Sy hemelvaart is Hy weer daarmee besig (Handelinge 1:3 ). Daar is na my mening nie meer ruimte vir ‘lou’ lewens nie. Kom ons bid en bepeins verder.
Hugo.

Johann ·

En hierdie is PRESIES waarom die Afrikaanssprekende blankes in hierdie land hulle in die posisie bevind waarin hulle is. Hoekom vra jy “Hoe word ons as “witmense” se leefstyl vereenselwig met dit wat God in hierdie tyd na die voorbeelde en opdragte van Jesus, tot stand wil laat kom?” Hoekom vra jy nie ‘n slag dieselfde vraag en sit “swart mense” daarin nie? Ek kruip nie in ‘n “veilige hawe” weg omdat ek dit WIL doen nie? Maar as ek nie my Godgegewe intelligensie en breinkrag aanwend om vir my en my gesin ‘n veilige hawe te skep nie, was ek nie meer hier nie? Ek verwys NET sinies en meerderwaardig na ander rassegroepe as hulle daarvoor vra, en hulle dienooreenkomstig so gedra. As jy my met respek behandel, en met my eerlik is, en vir my wys jy lewer OOK ‘n inset, dan behandel ek jou presies dieselfde. Maar as jy in die nag van 16 April my “veilige hawe” binnedring en my en my gesin seermaak en jouself help aan goed waarvoor jy nie gewerk het nie? Dan forseer jy my om my gedrag dienooreenkomstig aan te pas. En moenie vir my kom vertel die persone wat dit gedoen het, het dit gedoen omdat hulle geen “keuses” gehad het nie, of omdat ek wit is nie, of omdat hulle geskiedkundig agtergeblewe is nie? Hou op verskonings soek…..want hulle doen dit omdat hulle skelm en geweldadig is, vir geen ander rede nie. Ek ry nie met my voertuig by die “nood” van die wêreld verby nie……….want die “nood van die wêreld” kan vir hullself sien dat daar nie genoeg kos, water, werk, behuising, elektrisiteit vir almal is nie…….maar hulle bly aanteel soos hase?…en skielik is dit MY verantwoordelikheid? Ek voer geen debat in die kerk nie, ek vra maar net….waarom word my bydrae nie bestee aan MY soort nie, maar aan ‘n spul onwettige immigrante, wat hulle eie land opgedonder het, en nou op my nek kom lê, GEEN bydrae tot die ekonomie maak nie, en alles vernietig sover hulle gaan? Ek verootmoedig my gereeld voor God, en JA…ek is gehoorsaam aan sy opdragte. Ek versorg my gesin, ek voorsien vir my ou dag sodat ek nie vir iemand anders eendag ‘n las is nie, ek leef en laat leef, ek help enige iemand wat WYS dat hy ook ‘n bydrae maak en nie net bakhand staan…en selektief versies uit die Bybel aanhaal om my te laat sleg voel nie. HA! Jy is so naïef…”Kom ons begin ‘n dialog van “hoop”, sê jy? Ek stem. Kom ons begin ‘n dialoog van “hoop”…..en ons “hoop” dat die ANC en sy regering ophou om miljarde Rande wat iemand anders deur harde werk verdien het, te vermors en aan te wend vir hulle “eie” veilige hawens agter rolle draad. Kom ons “hoop” hulle begin om hierdie land se infrastruktuur wat besig is om te vergaan, te herstel en te onderhou (dit was oorpronklik waarvoor ons belasting bedoel was). Kom ons “hoop” hulle begin om hulle volgelinge menswaardig te hanteer, en hulle te leer van beskaafde gedrag, hardwerkendheid, sonde, vergifnis, en al daai punte wat jy so lekker opnoem as jy met my praat. Kom ons “hoop” dat ons volgende jaar nog leef. Kom ons “hoop” dat die regering nie nog ons “veilige hawens” en “rolle draad” ook vat nie…..hulle’s besig om alles anders te vat, ter wille van magsbehoud. Kom ons “hoop” vir ‘n toekoms vir ons kinders…..wat onder “transformasie” besig is om in ‘n proses te ontaard waar ons slegs kan “meedoen” aan ons ondergang. Kom ons “hoop” dat die regering begin verstaan al die mense van hierdie land is “gelyk” as ons almal ewe veel geleenthede het…..nie as ons almal ewe veel NIKS oor het nie. Het jy vir Jesus gaan vra of Hy happy is met wat in hierdie land aangaan? Wat dink jy is sy opinie oor die verkragting van ‘n blanke minderheid deur ‘n swart meerderheid…….deur wetgewing wat deur dieselfde blankes so sogenaamde “leiers” geskryf en “onderhandel” is, en waarna hulle van hulle verantwoordelikhede weggehardloop het toe dinge nie meer so lyk as wat hulle verwag het nie? Ek, en my gesin…..is Afrika versadig. As ons 20 jaar terug wou verhuis het, kon ons, maar ons het nie. Nou is ons so verarm deur dieselfde mense na wie ons uitgereik, aangepas, opgehef, saam gewerk, gedeel, dissipels wou maak, ge-ubuntu, in ons kanon in toegegee en getransformeer het…..dat ons nie meer kan nie, al wil ons. Daar is ‘n spreekwoord wat lui: Moenie my gedrag en my karakter verwar nie. My karakter is wie ek is, my gedrag (teenoor jou) word bepaal deur JOU karakter. Dus, deur terug te kom na jou vraag toe…”Het ons God verloën?” JA. Ons het. God het vir ons ‘n pragtige land en pragtige talentvolle mense met potensiaal gegee……..en ons het gekies om dit weg te gee aan iemand wat dit nie verdien nie, nie kan hanteer nie, nie kan bestuur nie, nie kan ontwikkel nie, nie kan onderhou nie…maar dit slegs verwoes, vertrap en vernietig….en nou bid ons dat HY moet ingryp? Hy kan seker nie meer teleurgesteld wees as nou nie. Mag jy in 2016 alles doen wat jy hier skryf…..sonder om so voorskriftelik te wees vir ander mense wat dit nie doen wat jy dink gedoen moet word nie. Ons sal OK wees….

Jean ·

Interssant wat jy noem van hoe verarm ons is dat ons nie eers kan verhuis nie. Ek weet presies wat jy daar sê. Ek dag ek is die enigste een wat dit ervaar. Mense koop nuwe Ford Rangers asof dit goedkoper as brood is, seker op skuld, maar ek vind dat ek met my goeie salaris skielik te arm is om te trek. Kan net so wel ook ‘n vlugteling word. Wonder net waar is dit beter?

Ek glo die Here pas my en my gesin op, maar ek het nogsteeds hoë mure, want hulle (Dink dis die buurtwag want ek het nie ‘n alarm nie) hou aan inbreek. Dit hang maar af hoe lus die inbreker is vir klim hoe effektief die hoogte is.

Snaaks hoe nuwe wette elektriese heinings skielik onpopulêr maak.

Ek het hierdie gevoel. Seker baie onosel van my. maaar ek twyfel dat ‘n inbreker ‘n veer vir God se wet voel.

Sou Johannes sy kop behou het as hy Herodus oor die foon berispe het? Of oor facebook? Ja dis inderdaad nie so eenvoudig as wat Hugo dit maak klink nie.

Kersfees is anyway ‘n heidense fees…

hugo ·

Johann – dankie vir jou inset.
Indien jy jouself as Christen en volgeling van Jesus Christus ag, wat sou jou voorstel in die verband wees?
Hugo.

Danie ·

Met als stem ek saam behalwe, die gedeelte oor self beskerming en selfbeskikking. As God my die intellektuele vermoë gegee het om te besef dat ek nie op die regering kan vertrou vir dienste en dies meer nie ( baie eenvoudig gestel) mag ek dan nie my God gegewe talente gebruik om vir myself te sorg nie? Kanse is goed ek sal in die proses my buurman / mede landsburger ook help.

Gert ·

Ek stem saam Danie. Ek glo ook dat die Israeliete nie getrek het omdat hulle n’ rasse probleem gehad het nie, maar as gevolg van die soort bestuur waaronder die land was. Ons het fouteer en gaan weer moet Trek na waar ons die nasie weer bymekaar bring en God se waardes volg.

Frans ·

Misdaad in al sy vorme en ‘n slapgat regering is die grootste oorsaak dat mense veral witmense veral soos hul ouer word hul almeer aan die samelewing onttrek.Verby is die dae
dat ons as ‘n familie die middestad van die stad kon besoek en vensterinkopies doen,na nuwe modelle van voertuie kon kyk ens.

Jy kon daarna rustig ‘n koppie koffie en ‘n versnappering in ‘n buitelugkafee geniet en seker wees jou voertuig is nog daar waar jy dit parkeer het.Die dae is voor goed verby.
Vandag as jou kinders jou besoek het dan verlaat hul jou en laat jou agter met ‘n hart vol beklemming want misdadigers is gedurig op loer na nog ‘n geleentheid.

Misdaad is een van die hoofredes waarom veiligheidsoorde en beheerde gebiede soos paddastoele in Suid Afrika opskiet omdat dit darem ‘n mate van beskerming bied.

Lewe ons nou in die toestand omdat ons ongehoorsaam is aan die woord van God.Natuurlik nie dit is ‘n onsinnige argument.Die terugkerende banneling het Jerusalem se mure herbou
met die Bybel (ou testament) in die een hand en die swaard in die ander.

Die groot vraag is nou waarom verkeer Suid Afrika in die misdadige staat en is dit nou God se straf? Nee die toestand waarin Suid Afrika verkeer is die gevolg van menslike optrede?

Wat ek nou skryf is my persoonlike mening en ‘n mens is vry om daarvan te verskil.Suid Afrikaanse leiers het lam in die knieë geword en kon nie meer die binne en buitelandse druk
hanteer nie en is al protesterend na die ondehandelingstafel gesleep, terwyl die man wat leiding moes neem sy toevlug en troos in die arms van sy gasheer se vrou gaan soek het.

Enigeen wat al boeke soos ‘After the party’ en F W de Klerk se outobiografie gelees het
sal opmerk dat die onderhandelaars wat die Afrikaners en ander verteenwoordig het redelik die wind van vooraf gekry het.

Die Bybel as bron en norm waar volgens ‘n Christen sy lewe inrig is eenkant gestoot omdat hoofsaaklik staatgemaak is menslike ondehandelingsvermoëns en die volke verskeidenheid in die slag gebly het en almal in ‘n smeltkroes van ons is almal mense gegooi is sonder inagneming van elke volk se kulturele agtergrond,taal en kultuur.

Is taal,kultuur en geskiedenis belangrik.Ja en ook by die verkondiging van die Evangelie
omdat moedertaal onderrig die beste onderrigmiddel is.Dit is dan ook om die en geen ander rede dat ons in die Bybel lees, dat die mense van die groot dade van God in hul eie taal gehoor het nadat die Heilge Gees oor die gelowiges wat byeengekom het uitgestort is.

Vandag pluk ons die wrange vrugte van onderhandelinge met mense met ‘n kommunistiese gedrewe agenda wat wegdoen met volke se taal, kultuur en geskiedenis en sien ons hoe die een na die ander bastion van die Afrikaner verdwyn en sy taal,kultuur en geskiedenis op die altaar van nasiebou opgeoffer word terwille van ‘n valse volkseenheid.

Is dit nou God se straf ? Nee dit is ook ‘n uitvloeisel van mislukte menslike denke.As ons dan die Evangelie wil verkondig laat ons dit dan doen eers onder ons eie mense want die kultuur van humanisme is ook besig om ons kerke oor te neem en word meer en meer gelowige mense vervreem van die bevryding van die genade wat alleen te vind is in ons Verlosser Jesus Christus deur wie alles tot stand gekom het ook die bevolkingsdiversiteit van ons land.

Eers as ons elkeen elke volk se taal kultuur en geskiedenis erken en eerbiedig kan ons begin om ‘n samelewing te bou wat vry is van die bose invloed van ‘n kommunisties gedrewe agenda en elke volk op sy eie besondere manier en volke gesamentlik ‘n bydrae
lewer tot ‘n nasie wat sy knie buig voor sy Skepper en sy almag erken en verkondig,elkeen op sy besondere manier.

Dan miskien mag vrede op aarde in ons land ‘n werklikheid word maar dan moet almal eers verlos word van die ANC-albatros om die nek, wat besig is om Suid Afrika oor die afgrond te sleep.

hugo ·

Frans – dankie vir jou inset.
Moeneie met my argumenteer nie. Ek stel voor dat jy deur die evangelies lees en indringend studie maak van die leringe en opdragte van Jesus aangaande die Koninkryk van God.
Hugo.

Frans ·

Beste Hugo
Ek stel voor dat jy dieselfde doen en dan meer as een vertaling lees.Onthou dan ook dat toe
Jesus gepreek het was die mense vir wie Hy gepreek het nie eers bewus van die bestaan van die ander kontinente en volke nie en was die ‘aarde’ dit wat aan hul bekend was.

Onthou nou jy kan nie sendingwerk doen as jy nie die mense se taal kan praat nie.Daarom begin ‘n mens by jou eie mense soos Jesus inderdaad ook gedoen het. daar was ‘n besondere rede waarom mense met die uitstorting van die Heilige Gees veeltalig geraak het want dit was onderrig in die moedertaal van die volke verskeidenheid.

Sê my hoeveel tale is jy vlot magtig?

Frans ·

Enige rede waarom my antwoord op Hugo se kommentaar verwyder is?

Stephanie ·

Kom ons wees eerlik met ons self. Dis waar wat hier bo staan en dis nodig om te luister, maar as mens is ons almal swak. Daarom glo ek, ek moet eerstens die Here vra om my sterk te maak en asseblief my swakheid te vergewe. Dan moet ek begin om daadwerklik my beste as mens te doen om die Here se wil uit te lewe. Here wees ons almal genadig en help ons asseblief om U te gehoorsaam en n lewe van liefde en hoop te lei. Laat ons ophou om net aan ons self te dink en ook aan ander n plekkie in die son gun.

Annwen ·

Die regering gun my as blanke nie ‘n plekkie in die son nie…Begin by eie huis eie volk…

mariana ·

Hugo…jy het dit nie verwag nie nê ! Wys jou net hoe voel die “witmense”

hugo ·

Mariana – ek is nogal verbaas maar nie uiteraard nie.
Dit is inderdaad ‘n moelike onderwerp – bid en besin asseblief saam met my oor hoedanig God wil dat ons in hierdie tyd vanuit Sy Koninkryk en nie vanuit eksterne druk nie, moet leef.
Hugo.

cynthia ·

hoekom moet die witmens altyd verander, wat van die ander bevolkingsgroepe kan hulle nie ook verander nie, so siek om te hoor, net die witmense moet verander of dinge doen, is ons die enige bevolkingsgroep wat verkeerd is?

hugo ·

Cynthia.
My verwysing is as ‘wit mens’ en kan nie regtig namens ander bevolkingsgroep praat nie. Ons as kinders van God en dissipels van Jesus moet binne die verwysing van die Koninkryk van God, ons antwoorde vind. Rondom ons is dit chaos en selfs die kerke sukkel om voort te bestaan en om relevant te wees. Tog se Jesus ‘aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.’
Hugo.

Sarel Strydom ·

Daar is drie element wat ‘n volk nodig het om te bestaan en dit is: Geloof, Hoop en Liefde, en ons is besig om dit te verloor. Die vyand se taktiek is om die moraal af te breek en daarin slaag hulle baie suksesvol, so dat ons mekaar al begin aanval en mekaar wil vernietig. Ons Voorvaders he gestry op hulle kniee met roer in een hand en bybel in die ander. Maar ons is besig om ons God te versaak en daardeur ons self te vernietig. God gaan nie saam met Haat en Bitterheid nie, dit vernietig alles in en om die mens. Maar ons wil dinge self reg maak.

Theresa ·

“Selfbeskikking en selfbeskerming ten gunste van hulself en ten koste van Jesus se opdragte”. Nog nooit so daaraan gedink nie. Sou nie kon indink dat die Here ons met ‘n gesonde verstand sal skape om dan nie na onsself om te sien nie. Wie sou oorbly om Sy Woord uit te dra? Die sogenaamde brullende leeu se kop kan nie gekrap word nie – hy moet beveg word. Deels van so ‘n proses sal beteken jy moet jouself beskerm. Selfbeskikking is nie so vreemd nie. Mense het nie juis (volgens my leke kennis) baie deurmekaar geleef in die Bybelse tyd nie – ook maar meestal soort by soort. In teendeel daar was hewige strawwe en verbanning indien daar met sommige volke ondertrou was? (Hoop ek onthou dit reg?). Ek voel weer dat ons as volk saam die Here moet vra om ons genade te betoon vir enige sonde. Enige sonde. Om ons op te hef en te red uit die kloue van genadelose wreedaards. Nie omdat ons dan sogenaamd “eenkant” is nie – maar omdat ons voorheen in ons geskiedenis ook so gehelp was na werklike belydenis en werklike, opregte, vaste geloof. Ons sit met ‘n monster van ‘n vyand. Maak die somme van wat elke dag gelees word. Verootmoediging en vaste geloof kan ‘n verskil bring. My beskeie mening: Iemand wat die voluit die Vader volg – sal in elk geval nie brullend rondloop om te verslind nie. Moet asb nie die witmense laat pa-staan vir die Suid-Afrikaanse gemors nie.

Jean ·

Met al my hoë heinings, leef ek nie onder die wanindruk dat die Here my nie beskerm nie. Van kapings, inbrake en plaas aanvalle, en winkel sentrum roof en net ‘n motor ongeluk, kan dit enige oomblik stop, maar nietemin is Hy in beheer. Daar is altyd iemand oor. Ons wen aan die einde. Ek dink die afrikaanse woord hier is volhard.

Ek weet dat baie swart mense en bruin mense onder dieselfde gevare deurloop. Ek kyk na die stakers oorkant die pad en gaan deur hulle gesigte. Een of meer van hulle is ‘n moordenaar. Want hulle het ‘n mede werker wat terug wou werk toe dood gemaak.

Ek lees gereeld christiannews.net . Christene oor die hele wêreld (nie almal wit nie) loop deur, maar ek sou nie een oomblik hulle aanraai om hulle mure af te breek nie. Jesus waarsku ons dat ons (christene) uitgemoor gaan word omdat ons ‘n merk weier.

Ek het ‘n vae vermoede dat Hugo iets met ‘n kussing wil smoor wat groter as hy is en dit nogal met kersfees. Dis nie Jesus se geboorte wat oorwinning bring nie maar sy opstanding uit die dood.

Dood! Waar is jou angel is eintlik die slagspreuk hier. Nie “het ons God verloën?” nie.

hugo ·

Theresa – dankie vir jou inset.
Jy is reg ons is opgestel teen ‘n magtige viand wat baie goed georganiseer is en wat soos ‘n brullende leeu soek wie hy kan verslind. Ons kan alleen staande bly in die Naam van Jesus Christus en vanuit Sy inwonende teenwoordigheid binne ons. Daarsonder en daarbuite sal ons vernietig word. Na my mening moet ons hande vat en ons saam voor God verootmoedig en uit ons harte smagtend bied – ‘laat U koninkryk kom.’
Hugo.

DB ·

Hugo, praat weer as jou vrou en jou kind voor jou dood gesteek word met n mes

hugo ·

DB – sjoe dit is geweldig.
Op aarde is ons nie gevrywaar van verdrukking en ellende nie en sulke tye weet ek uit ondervinding, God sal nie jou hand los nie, al voel dit soms so.
Hugo.

Jean ·

Hugo,

Interessant dat jy blykbaar nie besef dat daar bekeerde christene onder swart mense is, en ongelowiges onder wit mense nie. Maak eintlik die hele artikel skielik net stof in die wind. Skryf dit maar oor. Gaan na ‘n veelrassige kerk. Dink weer daaroor. Arme bruin mense sit alweer in die middel :)

Elke mens is uniek. Met eiesoortige sondige giere. Almal het bekering nodig. Van ons is al daardeur. As jy iemand sien kerk toe gaan met sy gospel gevulde BMW, sien jy nie altyd ‘n bekeerde christen ook nie. As jy ‘n vrot boemelaar sien, sien jy nie noodwendig ‘n goddelose ook nie.

Dankie vir die herhinneringe aan Jesus se opdragte.

Pasop vir pêrels rondgooi. En Baal altare omstoot. Afrikaner trots is al ‘n geloof op sy eie, met standbeelde, liedere en “geloofs” (trots) helde. Woorde soos witmense en swartmense help niemand nie… :)

Almal het hulle prioriteite lys. Sommige goed is belangriker as ander goed. God soek sy goed eerste. ‘n Dienaar dien sy meester. As jy vergeet van al die veralgemenings is daar seker net een vraag oor: Wie is jou meester? Take me to your leader.

hugo ·

Boeta – goeie punte dankie.
My leier is Jesus Christus en te midde van al my foute en gebreke is Hy genadig en leer Hy en rus Hy my toe om ten spyte van myself, Sy dissipel te wees.
Hugo.

Dirk ·

Hierdie artikel is seker die walglikste aanslag nog wat ek gelees het inskake die gesprek witheid en wit skuld!

Nooit gedink iemand sou so laag daal om deur middel van ‘n paar Bybelversies die aanslag te voer nie. Deur ‘n paar aanhalings word daar niks bereik behalwe om afstoot te kweek nie. Dit is nes die belhar – skrif niks anders as om humanisme met versiersuiker toe te smeer nie.

Daar moet ‘n duidelike onderskeid wees tussen humanisme en ware geloof. Sien was almal ware beleidende gelowiges in die land sou ons mekaar die foute van die verlede vergewe het sonder om die een die ander te verwyt en sonder benadeling van enige reg. Dit is egter nie die geval nie.

OM DUS ‘N PAAR BYBLEVERSIES BUITE KONTEKS AAN TE HAAL IS DIESELFDE AS OM UIT MARX EN ENGELS SE LEERSTELLINGS AAN TE HAAL.

Die enigste verkil is daar word ‘n bybel versie gebruik om die ware betekenis te verdoesel. Die Woord is bedoel om die geheel verstaan en uitgelê te word. Elke versie het ‘n versie wat dit voorafgaan en ‘n versie wat daarop volg.

Die enigste verloëning wat plaasvind is die blatante verdraaiing van die Woord soos die skrywer hier doen. Vir 21 jaar het ons, ons “offer” gebring. Dit het net bloed op bloed tot gevolg gehad. Dit was dus nie ‘n suiwer “offer” nie . Dit was ‘n Kain offer. Dit moes nooit gewees het nie!

Dit moet duidelik verstaan word dat alle nasies ‘n gelyke begin gehad het. Is dit dan die witnasie se skuld dat sy vermoë hom bo ander uitgelig het. Afrika en Amerika het baie natuurlike hulpbronne gehad – seker ver meer as Europa. Dit is egter die onvermoë van die eertydse inwoners om dit te kon gebruik tot hulle voordeel. Daar was niemand wat hulle gekeer het om dit te gebruik nie.

Waarom dan nou ooit beweer dat daar ‘n ding soos witbevoorregting bestaan. Met al die bome en metale tot die beskikkinng van die sogenaamde benadeeldes kon hulle nie eers ‘n skip bou nie. Dood eenvoudig om dat hulle nie oor die vermoë beskik het om dit te kon doen nie. Niemand het hulle dit ontsê nie.

Wat ons getref het is ‘n Goddelike straf omdat ons met die vyand – lees die boosheid – vrede gesluit het. Dit is daarom geagte skrywer nooi ek jou lees in konteks die hele boek van Jesaja. JY SAL OOK MERK DAT JESAJA 26:20 ‘N OPDRAG IS VIR DIE WARE GELOWIGE OM UIT DIE TEENSWOORDIGE WêRELD TE ONTTREK.

Daat is dus geen verloëning nie. EN NOG MINDER OM SKULDIG TE WEES AAN MY WITHEID.

hugo ·

Dirk – dankie vir jou perspektief.
In die skrywe deel ek bloot my besorgdheid en vra ‘n vraag. Dit is ‘n opiniestuk en om so buite konteks en met soveel emosie te reageer is na my mening onvanpas. Kom ons hou by die inhoud van my skrywe (opinie) en bepeins saam oor hoe God wil dat ons in hierdie tyd as dissipels van Jesus leef en optree. Indien jy jouself as dissipel van Jesus ag moet jy besin of jy aan Sy opdragte gehoorsaam is. Jy hoef niks teenoor my te verantwoord nie. Hy het ons met Sy bloed gekoop en ons behoort nou aan Hom. Paulus noem dan ook dat vir hom die lewe Jesus is en die sterwe wins (Fil. 1:21). Ek bid dat jy leiding en blywende vrede sal ontvang – vrede wat alle verstand te bowe gaan.
Hugo.

rietrot ·

Wat baat dit die mens om heeldag en al dag argumente te skep en fout te soek. Mense word oor sensitief, en kan mens hul werklik verkwalik? As jou hart werklik liefde ken en werklik Jesus volg sal jy nie net heeldag en al dag n ander in die bek ruk nie. As dit jou doel is stel dan selfondersoek in, en hou op om die fout by ander te soek.

Jean ·

Snaaks dat jy dit noem. Die artikel is seker presies dit. Self ondersoek.

mmm.

Sure. Die skrywer ken nie ‘n enkele bekeerde swart mens nie. Ook nie ‘n wit mens met lae mure nie. Hy moet inderdaad bietjie uitkom :)

rietrot ·

“Terwyl Suid Afrika brand, Verval witmense toenemend in selfbeskerming en selfbeskikking ten gunste van hulself en ten koste van Jesus se opdragte.” Ek wonder net HOE moet mens die woorde opvat? Hugo, ek dink jy skuld die mense hier ʼn verskoning. Jy soek sensasie en wil kwaad stook. Waarheid is ons sien reg-deur-jou en jou ware motivering om rusie te skep.

Jan ·

Hugo.

Dit is agv met die bybel onder die arm loop dat ……..

Ek daag jou vandag uit! Verkoop jou Wit besittings, ALLES, stop jou ADT lidmaatskap en gaan loop dan in swart buurtes rond soos Jesus jou beveel het. Stuur asseblief vir ons bewys hiervan soos bv fotos, ‘n Blog sal selfs beter wees.

Onthou dat jy jou Wit kar en selfoon asook geld all

Hugo ·

Jan – dankie vir jou inset en bereidheid om saam te besin.
Dalk is ‘n blog ‘n goeie idee sodat ons saam gal kan braak oor al die teleurstellings en onsekerhede, maar ook in biddende afhanklikheid saam verenig voor ons Hemelse Vader vir Sy guns, genade en wysheid (insig) t.o.v. lewe in hierdie werklik veeleisende tyd. Die koninkryk van hierdie wereld wat gebou is op die Babiloniese stelsel gaan volgens Bybelse profesie vernietig word (Openbaring 17 en 18). Ons het nog tyd om opnuut te besin oor ‘n lewe binne afhanklikheid van God en vanuit Sy Koninkryk. Jesus noem dan ook dat ons nie van hierdie wereld is nie (Johannes 17:14).
Hugo.

Gert ·

Moes die Israeliete eerder in Egipte gebly het Hugo? Ek verstaan wat jy probeer se en ek is lief vir God. Ek probeer ook altyd om geen mens oor te sien indien dit in my vermoe is om hom te help nie…wit en swart. Die land se regering is Goddeloos en God gaan sy woede op die land nog uithaal. Ek is trots op mense soos die in Orania.

vermeende ·

Hugo, ek hoop jy lees hier.
Wat jy eintlik se is, ek moet my veilige huis los en in die lokasie in ‘n shak gaan bly, my luukse kar verruil vir stukkende skoene en werk toe loop. My pensioen wat ek al aan al die jare spaar verruil vir ‘n SASA toelaag as ek oud is. Die mense wat my roof en wil vermoor met aardigheid behandel en op hemel.

Kom ek haal gou vir jou so ‘n paar verse aan.
As jy by ‘n stad kom en nie goed ontvang word nie, skud dan die stof van jou voete af en gaan daar weg en kom nie weer terug nie.
Jy mag nie jou voete onder die tafel van ‘n heiden in stoot nie.
Jy sal jou brood op die sweet van jou aangesig verdien.

Hugo vertel nou vir ons, as ek oor die grag beskik om hard te kan werk en steak te kan eet hoekom moet ek minder werk om met ‘n sny brood tevrede te wees, ek glo jy ken self die gelykenis van die talente?
God het vir almal verstand gegee hoe jy dit gebruik is jou saak. Ek verkies om myne te gebruik tot voordeel van my en my naaste nou wil jy vir my se dat Filemon wat al sy geld uit suip die vrug van my harde werk meer verdien as ek en my mense (Naaste)

hugo ·

Vermeende – dankie ook vir die moeite gedoen om jou opinie te deel.
Die punt vir my is dat ons, as ons dit reg verstaan en in gehoorsaamheid uitleef, deel is van die Koninkryk van God. dit beteken dat wat om ons aan die gang is nie ons verwysing is nie, maar ons verwysing is die Woord van God – ons is nie van hierdie wereld nie. Dit beteken dat ons biddend sal moet besin oor wat God wil dat ons doen. Ek weet van talle Christene wat reeds die geloofsprong geneem het. Ek wens ons kon saam ‘n koppie koffie drink.
Hugo.

Kobus ·

Dit is maklik om te praat, ons doen. Jesus het gese wie My dien doen wat Ek gedoen wil he.

Kobus Barnard ·

Praat beteken niks. Jesus het gese wie My dien doen my wil. Tusen praat en doen is n groot kloof. Ons moet dien

Adele ·

Hugo
Om te veralgemeen dink ek is ‘n groter sonde as om met ‘n blink kar rond te ry en Gospel-musiek te luister.
Jy stel jouself op ‘n troontjie en kyk af op ander.

Ek dink jy moet miskien eers weer mooi gaan dink oor hoe jy mense benader het in jou skrywe.
Spreek dit van liefde vir die ontvangers van die skrywe of nie?
Was jou motief vir die skryf daarvan gegrond om op te bou of af te breek? Want moet ons nie alles wat ons doen tot Sy eer doen nie?

Het Jesus nie juis gese om eers die balk uit jou eie oog te haal, voor jy die splinter uit ‘n ander se oog wil haal?
Ek reageer sleg op jou skrywe omdat ek glo dat daar in sekere van jou aantuigings wel Bybelse waarheid steek, maar ek het vir jou bitter slegte nuus,!
Niemand gaan nou meer na jou luister nie!
En glo ek jy het diegene wat kultuur tot elke prys aanhang, soms ten koste van naasteliefde, lelik die josie in gemaak, in soverre dat die uitbouing van Sy Koninkryk baie laag op hul prioriteitslys gaan verskyn.

Verder verwys jy na debatvoering in kerke oor of sonde sonde is.
Wel, my vriend, daar staan ook dat ons of vir Hom of teen Hom is. Die Woord was God en die Woord het Mens geword. Dus as mense dit wat in die Woord staan verdraai om hul eie sondige leefwyses te regverdig, dan glo ek nie dit is sinneloos nie! Want dan is daar vir God gekies en nie teen Hom nie.

Hugo ·

Adele – dankie vir jou inset en dat jy bereid is om dit in Bybelse konteks te beskou. Dit is ‘n opinie stuk waarin ek bloot ‘n vraag vra. Die reaksie is aanduidend daarvan dat ons baie diep sal moet besin oor die Koninkryk van God teenoor die koninkryk van die wereld, wat getipeer word deur al die leuens en gierigheid. Ek is jammer indien ek jou in die verband verwar het – Jesus se woorde in Matt. 6:33 moet ons ernstig opneem – ‘soek die koninkryk van God en Sy geregtigheid….’
Deur vrae en stryd heen is dit my opregte strewe om daarna te soek, nou in onvolmaaktheid en met Jesus se wederkoms in volmaaktheid.
Hugo.

bloubefoeterd ·

Hugo
Die kommentaar wat hier gelewer is is in die kol!

Lees dit aandagtig en ruik die rose…..

Hugo ·

Al die emosie en irrasionele gedagtes is moeilik om te verstaan. Het die druk van ons omstandighede inderdaad die inwonenende en inwerkende werking van die Heilige Gees geblus? Die werking daarvan behoort sigbaar te wees in liefde en verdraagsaamheid. Die punt ter oorweging is dat daar geen fout te vind is met selfbeskikking nie, maar dit nie kan wees ten koste van ons opdrag om as dissipels van Jesus Sy liefde, lig en waarheid te verteenwoordig nie; asook om dissipels te maak nie. Beredeneer die punt asseblief vanuit die Woord van God en nie op grond van emosie nie.
Hugo.

Pieter ·

Paulus het in Efese in die arena teen wilde diere geveg; – en uiteraard oorwin, want hy van sy ondervinding geskryf.
As voormalige Romeinse soldaat het hy darem n swaard kon gebruik.

Na die veg teen die wilde diere, het Paulus sy sendingreise voortgesit.
Hugo; met alle respek, soms is die mens gewikkel in ‘n oorlewingstryd, en ‘n volksmoord, wat sy aandag vereis.
Ons as blankes in Suid Afrika, is in ‘n arena in ‘n stryd om die dood gewikkel teen hongersnood wetgewing, munisipaliteite wat ons dakke oor ons koppe wegvat; hospitale wat ons vermoor met onbekwaamheid, polisie wat moordenaars vrylaat en onskuldiges toesluit wat hulself verdedig; en ‘n regering wat die woord ‘plundering’ met ‘belasting’ verwar.
Dan sit ons met n regering wat ons mede swart Christen ‘gladiators’ in staatspropaganda vertel dat ons blankes deel van die vyand in die arena is. Daar is n kunsmatige verdeling van Christene deur die staat.
Ons as blankes moet eers die doodsgevare in “Arena 2015” oorwin, voordat ons weer evangelie doen, praat of skryf soos Paulus.

As jy skryf moet nie ‘n Utopiaanse skryfstyl volg nie, want dit is ‘n skisofreniese droomwêreld, as jy die gevare in die arena miskyk, waarteen die res van ons, ook jou swaard namens jou moet swaai.
Rol op jou moue en raak deel van die realiteit.

hugo ·

Pieter,
Dankie vir jou bereidwilligheid om saam te bepeins oor ‘n baie moeilike en sensitiewe onderwerp. Indien jy jouself as dissipel van Jesus Christus ag, hoe sou Hy dat ons in hierdie tyd optree. Jy hoef nie teenoor my te antwoord nie, maar maak dit ‘n gebedsaak – ek doen. Ons is reeds besig om in netwerkverband met die koninkryk van God as verwysing, daarwerklik na praktiese oplossings te soek. Ons kan nie net stilbly en wegkruip en uiteindelik verdwyn nie. Dit is nie waarvoor Jesus aan die kruis gesterf het nie.
Hugo.
Hugo.

Frans ·

Die vers soos opgeteken in Kor. 15.32 het heelwat vertaalprobleme opgelewer.As jy die Engelse vertalings nagaan sal jy sien dat in Engels gebruik gemaak word van die woord ‘If’ gebruik gemaak word, wat dan aandui dat Paulus dit as ‘n vergelyking gebruik, soos bv.
If ifought wild beasts in Ephesus with no more with human hopes,what have I gained.

Of :’What do I gain if, humanly speaking,I fought with beasts in Ephesus.?

In die King James Bible is dit vertaal met: ‘If after the manner of men I have fought with beasts at Ephesus, what advantageth it me, if the dead rise not?

Dit is dus duidelik vir my altans, dat Paulus aan sy lesers probeer verduidelik dat al sou ‘n mens bereid wees soos dit die gewoonte in tyd was, as jy gevonnis word, met wilde diere in die arena te veg en so jou lewe verloor, terwille van jou geloofsoortuigings,dit jou niks gaan baat as die dooies nie opgewek word nie,want dan was selfs Jesus se kruisdood verniet.

Dit is om die rede dat ek vir Hugo aanbeveel het,dat ‘n mens so veel as wat moontlik is,ander vertalings moet lees.Baie is op die internet beskikbaar.

Omdat ons groot geword het met slegs Afrikaanse vertalings is dit beslis die moeite werd.om ‘n vertaling soos die Boodskap -Die Bybel in hedendaagse AFrikaans te lees.

Daar het vertalers weggedoen met die ou geykte vertaling -geskape na die Beeld van God-wat al tot soveel verkeerde afleidings gelei het met:Gen. 1 vers 27.
God het toe die mens gemaak.En die mens het iets van God in hom gehad.God het ‘n man en ‘n vrou gemaak.

In die Vatikaan word daar baie navorsing gedoen en het die oorlede (vorige Pous) tydens besprekings opgemerk dat daar in Genesis eintlik van meervoudvorme gebruik gemaak word waar dit by die skepping van die mens gepraat word soos met die diere en dat ‘n
beter vertaling sou wees in Engels ‘And God created humanity’ Male and female He created them.Adam and Eve.’

Dit maak mi meer sin want dit verklaar dan ook die teenwoordigheid van ander mense en is ook meer in lyn met wetenskaplike navorsing wat wys op die onstaan van die mens eerder in ‘n struik as ‘n enkel ‘boom’ vorm.

Frans ·

Pieter
Veskoon maar die herhaling van sinsnedes, maar daar is nie ‘n wysigknoppie soos bv by Netwerk 24 se forum. Daar kan jy lees en regstel waar nodig.

hugo ·

Die saak waaroor ons moet besin is die Koninkryk van God, in sover dit ‘n praktiese leefwyse behels. Indien enigeen belangstel in ‘n redelike uitgebreide dokument aangaande die Koninkryk van God, kan ‘n e-pos aan my gestuur word by [email protected]. Ek sal dan per kerende e-pos die dokument aanstuur.
Hugo.

LS ·

Opmerklik dat die venyn waarmee sommige van die kommentare Hugo probeer “uithaal”deur hom in kalme liefde hanteer word. Uit dié kommentare word heelwat meer van “ek” en “my” gepraat asof dit die belangrikse punt is wat Hugo wil maak. Hugo verwys na Jesus Christus se wil en nie witmense, regerings, swartmense en enige ander vorm van “gevaar” se wil nie. Ons almal behoort met ‘n gesindheid van bekering van hierdie gesprek af weg te stap?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.