Hier sit ek in die verte

afrikaans_

Argieffoto.

Dalet Spies van Austin, Texas in die VSA skryf:

Hier sit ek in die verte. Meer as ʼn dag se vlug weg van die huis. Sewe uur verskil tussen my en my mense. Oseane skei my van alles wat ek ken en styf teen my hart vas hou.

Hoekom, sal jy vra? Hier is my antwoord.

Ek het gekom vir die ondervinding en die avontuur daarvan. Vir die droom van ʼn jaar in ʼn ander land. En om aan myself te bewys dat ek kan. Ek het gekom oor ek inspirasie verloor het in my alledaagse lewe. Ek het niks gehad wat my gemotiveer het om méér te probeer wees nie. Ek was besig om te “settle” vir minder as wat ek wil hê. En daai stemmetjie binne-in my wou nie laat gaan nie: Sy het aanhou knaag vir iets anders, iets nuuts. En sy kry gewoonlik wat sy wil hê.

Ek het inspirasie kom soek om my kreatiwiteit ʼn hupstoot (of ʼn skop onder die gat) te gee. Ek was oortuig ek sou dit hier kry. In ʼn nuwe land met nuwe dinge en nuwe kulture met nuwe tale en nuwe kleure en geure.

Ek is nou al twee maande hier en ek het my inspirasie gekry. Nie in die ongelooflike somerhitte van Texas of in die mooi van die Meksikaanse aksent of in die ongelooflike en oorweldigende vriendelikheid wat die mense hier in Austin uitstraal nie. Dis nie in die lekkerlag kuiers saam met nuwe vriende of ʼn koue bier ná werk met ʼn bietjie “live music” in die agtergrond nie. Al hierdie dinge maak die verlange huis toe meer draagbaar, dis wel waar. En ek geniet elke oomblik daarvan.

Maar ek het my inspirasie gekry in Afrikaans. In die tye wat die verlange huis toe te erg maak sit ek met Afrikaans wat in my ore blêr terwyl die trane teen my wange afloop soos “memories” wat ek nie heeltemal kan onthou nie. Dis die woorde en lirieke van ons land se talent wat my inspireer hier ver. Die mooi van ons taal saam met snare van ʼn kitaar. Dis waar ek my inspirasie kry. Die heimwee skop seker nou in. Dis die nostalgie van Karen Zoid se “Engel” en absolute gevoel van ek kan enigiets doen wat Fokofpolisiekar se eerste album in my wakker maak. Dit vat my terug na my hoërskooldae; en terselfdertyd maak daai woorde direk kontak met my 28-jarige hart. Elke woord, elke liriek, elke emosie agter elke reël van elke liedjie maak my opgewonde om nog tien maande in Amerika te wees, maar dit maak meer opgewonde om huis toe te gaan en by te dra tot die ongelooflike kuns wat Afrikaans is.

Ek sit dalk hier ver, en voel gereeld alleen, maar ek weet Afrikaans en Afrika is in my bloed en met dít in gedagte is ek reg om enigiets aan te vat wat my kant toe kom.

Baie liefde hier uit Austin, Texas.
My hart vir jou, Suid-Afrika.

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Tray ·

Dis so mooi gestel en presies hoe so baie van ons voel oor ons pragtige land en herkoms. Is nog trots Afrikaans. Baie groete, Kanada.

Ken2 ·

Groete daar virjou ook. Terwyl jy daar is, maak jou vriende daar bewus van wat hier aangaan. Ons gaan binnekort die internasionale gemeenskap se hulp nodig kry want ons regering beplan lelike dinge.

Sarie ·

Dalet
My dogters is ook tans in Texas, dalk kan julle kontak maak? Gedeelde verlange is soveel makliker

SkarrelKind ·

Hello, ek het jou skrywe geniet. Ons voel ook so. Sterkte daar en sing maar saam met daai tunes!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.