Hierdie vraag beantwoord homself

Andries Opperman skryf: 

Andries Opperman. Foto: Verskaf

Dit is net voor middernag. Jy skrik wakker. Iets is nie reg nie. Dit is ʼn warm Suid-Afrikaanse somersaand. Vir een of ander rede is die honde doodstil. Jou vrou langs jou in die bed draai onrustig om. Daar is ʼn krapgeluid by die kombuisdeur.

En weer.

Skielik is jy helder wakker. Dit is jou beurt. Jy weet dit sommer. In Suid-Afrika kom plaasaanvalle soos beurtkrag.

Daar sal heel moontlik vier aanvallers wees. Almal van hulle sal geweld gebruik of dreig om geweld te gebruik. Van hulle sal 97% heel moontlik vuurwapens gebruik. Van hulle het 30% reeds moord gepleeg of sal nie huiwer om dit te doen nie. Van hulle sou 67% heel moontlik al iemand aangerand het. Van hulle het 13% reeds iemand verkrag en 13% het heel moontlik reeds iemand gemartel. Volgens alle waarskynlikheid sal hulle jou vrou en kinders teiken as hulle iemand wil martel – met kookwater of ʼn ander item. Die doel sal wees om jou samewerking te verseker. Hulle het al jou huis vir so lank as twee weke voor die tyd begin dophou. Daar is ʼn 80% kans dat die inval beplan is met inligting wat vanaf jou huidige of vorige huis- en tuinwerkers verkry is.[1] Hulle weet.

Jy kan hulle dalk by die deur gaan groet; dalk aanbied om dit oop te sluit. As jy net kalm, behulpsaam en respekvol is, sal hulle jou gesin miskien nie só baie seermaak nie.

Of dalk gaan jy eers halfpad deur die inval besluit om terug te veg. Dalk wanneer hulle te kenne gee dat jou vrou verkrag gaan word?

Dalk gaan jy dit regkry om ʼn mes met jou kaal hande uit een van die aanvallers se hande te gryp, en terwyl die bloed van jou hande af drup, probeer om jou kinders te verdedig?

Dalk het jy genoeg tyd om die polisie te bel. Dalk antwoord hulle. Dalk reageer hulle vinnig en vang die aanvallers voor hulle wegkom. Dalk het Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, reeds in 2018 gesê dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens nie regtig hulle mandaat kan uitvoer nie[2].

Daar is ʼn klein kans dat jy jouself net oor die geluid by die kombuisdeur verbeel.

Maar …

Dalk ís jy nie verkeerd nie. Dalk is jy nie iemand wat opgewonde raak oor so baie “dalkies” nie.

Indien dit die geval is, het jy reeds vir hierdie en soortgelyke geleenthede voorberei.

Jy het reeds, as jy dit kan bekostig, ʼn goeie sekuriteitsfirma aangestel om jou te help veilig hou. Jy het definitief alreeds gehelp om die gemeenskap in jou omgewing met kommunikasienetwerke en gebeurlikheidsplanne te mobiliseer; jou bure, jou kinders se skoolmaatjies se ouers, die ouderling in jou kerk – mense wat vir jou omgee omdat hulle saam met jou leef en oorleef.

Jy het ook waarskynlik reeds wettig vir jouself ʼn vuurwapen bekom en geoefen hoe om dit te gebruik. Wanneer jou lewe of iemand anders se lewe bedreig word, praat jy reeds 9 mm vlot.

Navorsers in die Verenigde State het onderhoude met kriminele gevoer wat opgesluit was[3]. Hulle het die kriminele gevra wat hulle siening oor vuurwapens was. Die gevonnisde kriminele is gevra of hulle ʼn kans met ʼn slagoffer sou vat as hulle geweet het dat daardie slagoffer met ʼn vuurwapen gewapen is, waarop 66% gesê het hulle sal dit eerder vermy. Van die kriminele het 74% gesê dat een van die redes waarom hulle eerder sal besluit om nie ʼn huis aan te val terwyl die mense by die huis is nie, is omdat hulle bang is hulle word gedurende die inbraak geskiet. Van die kriminele het 57% gesê hulle is meer bekommerd oor ʼn gewapende slagoffer as vir die polisie. En dit is in die VSA!

Kriminoloog Gary Kleck bevestig[4]: “Victim resistance with guns is associated with lower rates of both victim injury and crime completion for robberies and assaults than any other victim action, including non-resistance. When citizens own and use guns to defend themselves, the amount of violent crime is reduced to a degree that could rival the effect of the criminal justice system.”

ʼn Suid-Afrikaanse studie bevestig hierdie gevolgtrekking[5]. AfriForum se afdeling vir gemeenskapsveiligheid het plaasaanvalle in 2018 ontleed. Daar is bevind dat die boeregemeenskap besig is om terug te veg en dat dit ʼn afname in plaasmoorde tot gevolg het. Alhoewel daar ʼn toename in aanvalle was, was daar ʼn afname in moorde. Mense word al hoe beter daarin om hulleself te organiseer en te verdedig.

In ʼn land waar die polisie oorweldig is en misdaad vrylik gepleeg word, is dit nie ʼn moeilike besluit om te neem nie. Koop ʼn vuurwapen en oefen daarmee. Georganiseerde, opgeleide, wettig bewapende gemeenskappe is ononderhandelbaar.

  • Andries Opperman is ‘n provinsiale koördineerder by AfriForum Gemeenskapsveiligheid. 

[1] Zinn, R. 2010 Home Invasion. Cape Town: Tafelberg

[2] http://www.sabcnews.com/sabcnews/police-mandate-is-overstretched-sitole/

[3] Wright, J. & Rossi, P. 1983. Armed Criminals in America: A survey of incarcerated Felons. Inter-university Consortium for Political and Social Research, ICPSR 8357.

[4] Kleck, G. 1988. Crime Control through the private use of armed force. Social Problems, Vol 35:1.

[5] https://www.afriforum.co.za/en/farm-attacks-increase-farm-murders-decrease/

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
groenboer

In Amerika skrik die idee van gewapende slagoffers die misdadigers dalk af. Hier nié: as dit bekend is dat jy ‘n wapen het, maak dit juis van jou ‘n teiken. Wapens is gewilde items om te roof. In ‘n ander berig vandag sien ek dat selfs ‘n polisiestasie nou van wapens beroof is. Dit beteken nie mens moet nie ‘n vuurwapen aanskaf nie. Inteendeel, ek weet nie hoe mens deesdae op die platteland kan woon sonder een nie. Maar dit beteken wel dat mens nie moet dink ‘n pistool is ‘n towerstaffie nie. Dit is soos Andries Opperman in die… Lees meer »