Lesersbrief: Hoe ernstig is die regering met die bekamping van korrupsie?

Argieffoto

Adamus P. Stemmet, die woordvoerder van AMAGP, skryf van Durbanville:

’n Mens wonder soms of die owerhede ernstig is met die bekamping van korrupsie.

Oor die jare waarin die Wet op die Voorkoming en Bekamping van Korrupsie No. 12 van 2004 op die wetboek is, is dit nog nooit toegepas nie. Daar was nog nie ‘n enkele hofsaak hieroor nie. ’n Mens kan net wonder waarom nie. Reg toegepas, kan hierdie Wet ʼn magtige en goedkoop wapen teen korrupsie wees.

Artikel 34 van die Wet bepaal dat iemand in ʼn posisie van gesag wat weet van korrupsie, ensovoorts, of dit selfs net vermoed, dit aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) moet rapporteer. Gebeur dit ooit ?

Die AMAGP, ʼn organisasie wat bestaan uit vrywilligers wat die pensioenfonds vir staatsamptenare (GEPF) en die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) monitor, vra al vir jare dat hierdie bepaling in die geval van die GEPF en OBK toegepas moet word. Stadigaan begin ander instansies ook vrae oor die toepassing van hierdie wet vra. Op 12 Maart 2019 het dit, byvoorbeeld, by die Zondo-kommissie ter sprake gekom.

Die AMAGP is van mening dat die gebeure by die VBS bank ’n gulde geleentheid vir die GEPF geskep het om hierdie wet toegepas te kry. Die OBK het miljoene daar verloor en moes sekerlik van die ongerymdhede bewus gewees of dit vermoed het. Die uitvoerende hoof van die GEPF is al ingelig van die bepalings van die wet en is versoek om op te tree, maar hy en die Raad van Trustees swyg, soos gewoonlik, soos die graf.

Die versuim om op te tree bring natuurlik die GEPF self in die gedrang. As hulle geweet het en nie gerapporteer het nie, het hulle die wet oortree en kan hulle aangekla word van oortreding van die wet. Iemand moet hulle net verkla. Indien hulle nie geweet  het nie, het hulle nie hul moniteringsfunksie uitgevoer nie en kan hulle aangespreek word vir die verlies wat die pensioenfonds gely het.

Is dit ʼn kan-nie-wen-nie-dilemma?

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

John ·

…. vra al vir jare… en die geldjies stroom na elders…. en hulle vra… Mens kan sien hulle is baie ernstig. Dan vra Adamus sowaar die weer vraag.

Gemaskerde Sopbeen ·

Hoe verwag jy nou wolf moet vir wolf aankla nadat wolf vir wolf aangestel het om die skape op te pas……….en daar is nog so baie van hulle oor om te vreet?

Erich ·

Hulle is nie ernstig nie. Hoe kan hulle die helfte van die parlement toesluit.
Daar gaan niks van kom nie. Hulle hoop net om die kiesers om die bos te lei.

Veritas ·

Al die sogenaamde kommissies van indersoek, is net ‘n blufspel. Al die ANC leiers is op ‘n manier verbind aan staatskaping of korrupsie. Die paar wat nie was nie is uitgeskop.
Hierdie ‘ondersoeke’ is net ingestel as ‘n rookskerm sodat die kiesers moet dink dat Ramaphosa dinge wil regruk.

honourable member ·

Hulle sal nie iets bekamp waarvan hulle deel van is nie. Hierdie mense word ryk in hierdie land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.