Lesersbrief: Hoe sosiaal is sosiale media?

chris-smal

Chris Smal. Foto: Verskaf.

Chris Smal van Worcester skryf:

Ek het meer as ʼn jaar gelede my Facebook-rekening gedeaktiveer omdat ek te veel tyd daarop gemors het. Ek het dit nog nooit gemis nie. Desember was ons in die Sederberge waar daar genadiglik min tot geen selfoonsein was nie. Ek besluit toe ook om op te hou om Instagram te gebruik en mis dit ook glad nie. Die inhoud wat ander op sosiale netwerke plaas, dra niks werklik by tot my lewe nie. Hul menings oor dit wat ek geplaas het, beteken ook nie veel nie. Dit is te maklik om ʼn plasing te like of iets moois daaroor te tik, so hoeveel waarde het sulke kommentaar regtig?

Niemand stel waarskynlik werklik belang in wat ek in my vrye tyd doen nie, en kommentaar wat iemand op sosiale media lewer oor ʼn foto wat ek daarvan neem, gaan ook nie maak dat ek dit meer of minder geniet nie. Ons het byvoorbeeld die afgelope naweek met ons twee kleuters besoek gebring aan die Kaapstad Waterfront en Kirstenbosch Botaniese tuin, en ons gate uit geniet ten spyte daarvan (of dalk ook as gevolg daarvan) dat ek niks daaroor gedeel het op sosiale media nie. Ek het ook gevind dat ek meer in die oomblik lewe aangesien ek nie genoop voel om foto’s te neem met my slimfoon nie. Ek spandeer ook meer gehaltetyd met my gesin omdat ek nie tyd mors met my neus in my slimfoon se skerm nie.

Sosiale media is hier om te bly en as my kinders dit begin gebruik, sal ek weer deel moet raak daarvan. Ek hoop egter dat ek deur my voorbeeld vir hulle kan leer dat werklike interaksies baie belangriker is as dié op sosiale media, en dat hulle nie hulself moet verknies oor ander se menings oor hulle op sosiale media nie.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Veritas ·

‘Sosiale media ‘ behoort eintlik ‘Asosiale media’ genoem te word. Spandeer gerus tyd in die geselskap van ‘n Twitter- of Faceboekverslaafde, en let op hoe sy/haar lewe daardeur regeer word. Diesulkes sukkel naderhand om ‘n normale vriendskapsverhouding aan te knoop. Medici sal aanstons begin praat oor die abnormale hoë getalle pasiënte met vingerprobleme. Gee net ‘n rukkie kans

Henry ·

Uitstekende besluit.

Verstommend hoeveel onnodige pyne mense vir hulself en andere via sosiale media op die hals haal. Foto’s, onnadenkende, kwetsende kommintare ens ens ens.

Wil of kan siele dan nie besef dat allerlei sogenaamde veilige groepe, ‘oulike’ foto’s of vervelige ‘wyshede’, bloot gestel is aan wanvertolkings en uiteindelik van weinig tot geen nut vir mens of dier is nie???

ANA ·

Toe ek nog op facebook wás,tot so 6 mnde gelede,hét ek tóg ñ GOEIE kant gesien en tóg ook op possitiewe LEERSAME dinge,óók afgekom
Maar 8 jaar was nou lank genoeg vir my, nadat ek al hoe méér VALS illusies van VOORGEE en photoshop gesien het en die JAAG en BEGEERTE na vreemdelinge se LIKES vir í me and myself se foto’s en sê goedtjies…
HANG SEKER AF,HÓÉ MENS DIT BENADER…??
Raak facebook jou LEWE..? neem dit WARE persoonlike interaksie oor of nié?

Dalk meer vir tieners,ERNSTIGE BESIGHEDE en erge eensames bedoel?
NEEE,EK MIS FACEBOOK NIE 1’DAG NIE EN MY DATA HÓÚ NOU LANGER ?

JMC ·

AMEN! AMEN! AMEN! Is al amper drie jaar sosiale media loos, het selfs WA gelos. Ons kyk al vir baie jare ook nie TV nie. Vroulief het dieselfde pad geneem met my voorbeeld, en nou het ons meer tyd vir gesels, diere versorg en lees, en durf ek dit sê, intimiteit. Ek slaap ook baie rustiger en beter as gevolg van geen bloulig effek nie.

Groen Ertjie ·

Ek gebruik FB om van nuusgebeure op verskillende groepe and blaaie te lees
Nuus is meestal vars en hoef nie subskripsie te betaal op koerante en tydskrifte nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.