Hoekom het jy ʼn dokter geword?

dokter

Foto: DarkoStojanovic/Pixabay.com

Ek kan klagtes indien by die betrokke hospitale of Mediese Raad om van my frustrasie ontslae te raak, maar ek weet daar sal net mooi niks van kom nie. Daarom spreek ek maar my misnoeë uit op dié manier. Miskien sal een van ons goeie dokters dit raaklees en, net miskien, sal daar ʼn liggie begin flikker.

My ouma is 85 jaar oud en haar gesondheid (vanselfsprekend) is nie wat dit moet wees nie. Sy is in ʼn bekende hospitaal opgeneem met erge hartversaking. Ná ʼn dag in die waakeenheid het die dokter haar na ʼn gewone saal oorgeplaas met die opmerking, “dit is oumense soos jy wat net heeldag lê wat so siek word” (hoewel sy in daardie stadium nog baie aktief was en haarself versorg het). Hy het vir haar fisio gereël sodat sy ’n bietjie meer kon loop. Sy het so sleg en verneder gevoel.

In die saal het sy op haar eie probeer regkom, al voel sy sleg, en as gevolg hiervan het sy met haar kop teen die muur geval. Sy het harsingskudding opgedoen en vir ʼn week het sy nie geweet waar sy is nie. Sy kon nie slaap nie, want die drogbeelde wat “uit die mure kom”, het haar gejaag. In plaas daarvan om haar miskien iets te gee om haar te laat slaap, het die verpleegpersoneel haar by hul diensstasie laat sit sodat sy nie die ander pasiënte pla nie. Ons het met die dokter in verbinding getree en sy antwoord was: “Sy moet dit maar net afslaap.” Sy is net so ontslaan …

’n Paar maande later is sy weer in dieselfde hospitaal opgeneem met erge blaasontsteking en sy kon nie wakker bly nie. Sy het self na die rolstoel geloop sodat hulle haar in ʼn ambulans kon laai om na die hospitaal te vat. Sy was vir ’n paar dae regtig siek, maar het stelselmatig beter geword. Die een dag het sy nog regop gesit en met die volgende besoektyd het sy ons nie herken nie. Sy was soos ʼn bondeltjie opgerol, en kon nie loop nie.

Ons wou die dokter laat weet, maar sy beantwoord toe nie ons oproepe nie. Ons los briefies vir haar op haar lêer – geen antwoord nie. Ons los vir haar boodskappe op my ouma se selfoon – geen reaksie nie. Ons vra die verpleegpersoneel wat gaan aan en hulle antwoord is: “Vra die dokter.” Ons vra my ouma wat was die dokter se terugvoer – as weens haar ouderdom kan sy nie onthou nie en sy verstaan nie wat sy sê nie.

Nadat die ontsteking genees is, ontslaan die dokter haar. My ouma kon loop, praat, sit, lag toe sy hospitaal toe is. Toe ons haar sewe dae later huis toe vat, kan sy nie loop nie. As sy regop sit, val sy agteroor – sy moet doeke dra, want sy kan nie haar blaas voel nie. Sy kan nie self eet nie, want haar arms wil nie werk nie. Sy kan nie praat nie en trane loop net oor haar wange …

Ek bel die dokter om te hoor wat gaan aan. Daar is glo nie ernstig fout nie, dis dalk net haar natrium wat laag is (nee, dit is nie). Ons moet haar maar net weer terugbring! (O nee, ons sal nie.)

My ouma is hospitaal toe met hartversaking – sy kom huis toe met ʼn breinbesering. My ouma is hospitaal toe met blaasontsteking – sy kom huis toe as ʼn invalide. Ons as familie is in trane elke liewe dag, want ons het my ouma oornag verloor. As dit vir ons as familie so traumaties is, wat van daardie arme 85-jarige vrou.

Daar is regtig goeie dokters en hulle weet wie hulle is, maar vir daardie dokters wat nie tyd het vir die sorg van hulle pasiënte nie, wat ons mensies so behandel – ek weet nie hoekom het julle al daardie jare aan die universiteit deurgebring nie. Kyk ’n bietjie in die spieël vanaand en vra jou af: Gee ek regtig my beste vir daardie siek mensie (en familie) of gaan dit net oor die getalle?

Daar is ʼn gedeelte in die Bybel wat sê: Dit wat jy aan die geringste van My doen, doen jy ook aan My.

Volgende keer, as jy nie tyd het vir daardie oumens nie, weet dit is nie net ʼn mens wat jy in die steek laat nie, maar ook vir Jesus.

Debbie Zaayman

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Gesondheid, Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

alida ·

Ek stel voor jy noem die hospitaal se naam asook die Dr s’n sodat ander mense nie deur dieselfde pyn en lynding moet gaan nie. Sterkte

Vicky ·

Ek sou ook graag wou weet wie so harteloos is, maar mens mag ongelukkig nie name noem nie. Dis naamskending. Dit is so hartseer dat daar sulke dokters en verpleeg personeel bestaan. Jy vertrou letterlik jou lewe toe aan daai mense. En dan kry jy nou sulke gevalle van idiote wat net nie omgee nie. Hoe hartseer.

Alicia ·

My hart voel stukkend vir hierdie arme ou mens wat in ander se genade oorgelaat is! Debbie, daar is baie hospitale en baie Dokters om van te kies. Hoekom is julle nog steeds by hierdie Kwak? Skrik wakker!!!! jy is in ‘n groef

Debbie ·

Jong, dit was dieselfde hospitaal maar twee verskillende dokters. Dit is wat dit so sad maak – jy dink daar is net een vrot appeltjie en dit breek dan mens se hart as daar nog een is wat mens so hanteer….

Sarel Strydom ·

Mediese beroep hetsy Dokter of Verpleer, Onderwyser en Polisiediens, moet nie ‘n beroep wees nie maar ‘n roeping. Indien dit nie vir die person ‘n roeping is nie,gebeur dinge soos die. Ek verstaan dat ons almal moedeloos raak en redeneer ‘ daar sal niks van kom nie” maar al word die Dr. of Hospitaal nie skuldig bevind nie, sal dit wel op record kom. baie van problem by hospitale, volgnes my mening, is swak Bestuur.

MissDemeanor ·

Sarel, die hele roeping ding is ‘n pot beesmis. Slim mense wil nie onderwysers word nie want dit betaal te flippen min. Dan studeer hul eerder iets anders. Onderwysers, verpleegsters, welsynwerkers en polisiemanne moet beter salarisse verdien, dit sal vaardige mense lok na daardie beroepe toe, en die wat nie “competent” is nie sal nie teen hul kan kompeteer nie. Roepings is vir die voels. Ek het in die 12 jaar wat ek op skool was seker net een 3 onderwysers gehad wat iets werd was, die res van hul het almal universiteit toe gegaan en onderwys geswot want hul kon seker nie vir iets anders toelating kry nie.

Elizabeth ·

Ek kan gruwelstories, wat ten sterkste ooreenstem met dié in die brief, vertel oor my eie ma van 91 in een van die duurste privaathospitaalgroepe – sowel in Kaapstad as in die Noorde van die land. My ma is as ‘n aktiewe akademikus opgeneem en het, na die een vernedring en belediging op die ander, mishandeling deur personeel, verbale aanranding deur verpleegsters en dokters ens., ens., ens. as ‘n gebroke, skaam, afgetakelde oumens gesterf. Sy was ‘n egte Victoriaan, maar wanneer die personeel haar doek moes ruil, skree hulle kliphard: “Haai sies Ouma!!!” Die naakte vrees in haar oë as die luidrugtige, onsimpatieke personeel die saal binneskrum, sal my lewe lank by my spook, die manier waarop sy haar gesig probeer wegsteek, haar teen die kopkant van die bed probeer plat maak, met haar laaste kragte veg teen die rowwe behandeling wat haar brose vel op talryke plekke pikswart kneus … En dit het haar derduisende en derduisende rande gekos … én haar lewe.

Alicia ·

Kyk nou net hoe vinnig oordeel mens. Skies Debbie. Dit het my so ontstel en ek voel so magteloos om te dink dat ons ouers wat so hard gewerk het en so baie vir ons opgeoffer het, oud en siek word en dan uitgelewer word aan gewetenlose ongevoelige siele soos die – Ek pleit Jesus se bloed oor jou Ouma en wens julle alle sterkte toe.

Jeanette Visser ·

Amper dieselfde met ons gebeur. My moeder is ook in ‘n hospitaal in Brakpan opgeneem met longontsteking 82jaar oud. Eers moes ons R5000 kontant betaal (alhoewel daar ‘n medies was) sy is toe opgeneem die saterdag, net met ‘n gewone drip in die hand. Geen pynpille of enige iets anders wat haar dalk sou help. Maar nee daar was net gese ons kan niks doen nie, dit sal nie help nie sy is al te oud. Die sondag middag is sy oorlede. Ons moes ook die verpleeg personeel roep om haar bietjie gemaklik te maak ens. Nee vandag is dit net die syfers wat tel geen etiese beroep meer nie. Daar is sekerlik nog erens dokters en verpleers wat dit waarvoor hulle opglei is uitvoer maar dis in die minderheid.

Ben ·

Ek is ook ouerig (66), maar wel redelik gesond en kan steeds myself help. Hier van 55-se kant af, in my opinie, word mens stelselmatig ongesien (invisible) en min mense beskou jou as ‘n medemens, baie dokters ook. Dit is asof hulle jou in hulle gedagtes afskryf en aan hulself dink as verhewe bo jou stand. Ontleed dit en ek kom elke keer uit by ‘n liefde vir geld en elke minuut is potensiaal nog ‘n bron van inkomste om nie op oues te “mors” nie. Nie almal nie, maar wel ‘n groot meerderheid van kamstige sorggee-ers.

Elizabeth ·

Wat die ergste is, is dat die hospitaal in Kaapstad my ma op 91 met longontsteking so gou as moontlik wou ontslaan omdat hulle bang was sy sterf dalk daar en dit sal sleg op hulle statistiek reflekteer. Sy was vir hulle ‘n “geval” – niks menslik aan haar nie, geen vorm van simpatie, geen verligting deur pynstillers nie. Ek sidder om te dink ek land dalk in hierdie land iewers in ‘n duur privaathospitaal!!

Ella ·

Hoekom word hulle dokters? Vir die geld en die mag en die status.

Neville Vlok ·

Ek is self n dokter tans in staatsdiens en lees die verhaal met aandag. Dit gril my om te weet ander kollegas behandel familie so. Ek kan net myself indink hoe hulpeloos julle voel.
Net n opmerking; moet nie n tekort aan kommunikasie met n tekort aan omgee verwar nie.
My innige simpatie met jul swak ervaring, kan julle belowe nie almal is sulke kommunikeerders nie.

Frik ·

My pa 92 jaar oud is 24Aug verlede jaar by n privaathospitaal in Pretoria opgeneem nadat ek die aand vanaf Vryburg met hom deurgejaag het Hy het drie ure lank op n trollie by ongevalle gele voor hy opgeneem is terwyl daar geen ander pasiente was nie Hy is in intensief opgeneem waar hy by tye nakend onder n koue lugversorger gele het Met een besoek tyd het hy gesmeek vir water wat hom geweier is Sy arms was pik swart en vol stukkende plekke soos hulle hom hanteer het Hy is in n privaatkamer gesit waar ons hom verder versorg het vir n week en toe ontslaan is na my suster se huis waar hy die 2 de Okt gesterf het As jy oud en hulpeloos is is daar vir jou geen genade nie Hy is oud hy kan maar sterf

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.