Lesersbrief: Hoekom ’n privaat vervolgingseenheid onontbeerlik is

natasha-venter

Natasha Venter. Foto: Verskaf.

Natasha Venter skryf:

Stel jou voor dat jy die ouer van ’n gemolesteerde kind is, maar geen mag het om hierdie gruweldaad stop te sit nie, want die persoon wat dit pleeg, het genoeg geld om vervolging vry te spring en om die kind ook van jou af weg te hou. Tot watter remedie sal ’n raadop, magtelose ouer hom/haar in só ’n geval kan wend?

Dít is waar AfriForum se privaat vervolgingseenheid onder leiding van adv. Gerrie Nel intree om te verseker dat reg en geregtigheid geskied. Die scenario wat hierbo beskryf is, is soortgelyk aan ’n saak wat dié eenheid tans aanpak nadat die ma van ’n minderjarige kind adv. Nel en sy span genader het oor haar kind se welgestelde oupa wat die kind na bewering verkrag het en nie deur die staat daarvoor vervolg word nie.

Adv. Gerrie Nel. Foto: Reint Dykema

Vir enige persoon wat hom/haar in só ’n situasie bevind, kan dit voel asof daar geen uitkomkans is nie. Enigeen is ingevolge die Strafproseswet by magte om privaat vervolging in te stel waar die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) versuim om te vervolg, maar dit is ’n baie duur en ingewikkelde proses vir die gewone mens op straat om aan te pak.

AfriForum het dié leemte in die strafregstelsel geïdentifiseer en daarom in 2017 ’n privaat vervolgingseenheid onder leiding van adv. Nel op die been gebring. AfriForum is bekommerd oor die persepsie dat die NVG geneig is tot selektiewe vervolgings en dat almal klaarblyklik nie voor die reg gelyk is nie.

Die privaat vervolgingseenheid bied die geleentheid om vanuit die burgerlike samelewing te help verseker dat almal, ongeag posisie, gelyk is voor die reg en dat mense soos die bogenoemde oupa in hierdie saak teregstaan vir hul beweerde misdade.

Die privaat vervolging van persone wat soveel mag en geld het om vervolging deur die NVG te ontduik, waarborg nie net gelykheid voor die reg nie; dit beskerm ook weerlose slagoffers teen gewetenlose misdadigers.

  • Natasha Venter is veldtogbeampte vir navorsing en inhoud by die burgerregte-organisasie AfriForum.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Alida ·

Dit is wonderlik. Kry net asb die nodige sertifikate en vervolg al die skelms wat nou so voor oom Zondo verskyn. Asseblief daardie mense moet gestraf word vir die skade wat hulle aangerig het.

willem Botha ·

Ek sou graag wil sien dat hulle ook die polisie,staat,Escom ens dagvaar vir die verliese gely deur wetsgehoorsame burgers.

Johanna Botha ·

So is dit die teenwigte waarvan fwdeK gepraat het ..want lyk my teenwigte andersins skop nie in nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.