Lesersbrief: Hoërskool Driehoek geruk, maar nie oorwin nie

Mauritz Zietsman

Mauritz Zietsman skryf: 

Die tragiese ongeluk vroeër die maand by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark waarin vier kinders oorlede is toe ’n loopbrug ineengestort het, het dié skool landswyd onder mense se aandag gebring. Wat min mense egter weet, is dat hierdie hoërskool die afgelope vyf jaar ’n hele paar ander tragiese sterftes van leerders moes hanteer en verwerk. Carlia, Phillip en Zander is maar net ’n paar van die jongmense van dié skool wat die afgelope vyf jaar oorlede is.

Natuurlik is dit altyd vir almal betrokke ’n bitter pil as ’n jongmens sterf. Hoekom? wil ’n mens altyd weet. Die realiteit is egter dat daar gewoonlik nie ’n antwoord op dié vraag is nie.

As predikant kan ’n mens talle boodskappe preek met die tema “leef elke dag asof dit jou laaste is,” maar niks kan jou ooit voorberei vir die dood van ’n jongmens nie.

Foto: Verskaf

Maar hoekom lê die Hoërskool Driehoek my juis so na aan die hart? vra mense my dikwels. Dan deel ek graag my getuienis oor die mees ongelooflike skool waarmee ek al ooit te doen gehad het. Ek was nie self ’n leerling aan die Hoërskool Driehoek nie, maar ek was sowat vier en ’n half jaar as jeugpredikant by dié skool betrokke. As sulks kan ek met oortuiging sê dié skool se fondasie was nog altyd op God gebou, en is nog steeds.

Die skool se onwrikbare geloof in God is ’n besonderse inspirasie vir talle mense. As ’n mens daar instap, voel jy sommer vinnig tuis en welkom soos jongmense en onderwysers jou vriendelik groet. Ek glo in my hart dat ’n skoolhoof die atmosfeer en karakter van ’n skool bepaal, en daarvoor prys ek ’n man soos Driehoek se hoof, mnr. Hein Knoetze. ’n Skoolatmosfeer waarin God in woord en daad geëer word, is iets wat nog altyd vir dié hoof van kardinale belang was. Die kinders en personeel se toewyding aan die Here getuig daarvan.

Ek het geen twyfel dat die Hoërskool Driehoek sterker deur hierdie krisis gaan kom nie – trouens, dat hulle sterker aan die ander kant sal uitkom in enige moeilike omstandighede.

Foto: Verskaf

1 Februarie 2019 is vir seker ’n dag wat Driehoek nooit weer sal wil oor hê nie, maar dis ook nie ’n dag wat die skool ooit sal vergeet nie. Dit het ’n gemeenskap en selfs die land tot stilstand geruk. Reg oor die land het ander skole saam met Hoërskool Driehoek gestaan in gebed en ondersteuning. Mense van alle rasse en taalgroepe het ingespring en gehelp.

Selfs in en deur hierdie tragedie behou Hoërskool Driehoek hoop in hul harte. Niemand het sommer vinger gewys of verwyte rondgeslinger nie, en dit getuig sonder twyfel van die karakter van die jongmense en ouers. Die jongmense glo nog steeds in hul skool en maak die beste van elke dag.

Hulle verstaan op so ’n jong ouderdom reeds werklik die beginsel daarvan om elke dag te leef asof dit jou laaste is. Om eerste jammer te sê en eerste te vergewe, sal vir die res van hul lewe hul kreet wees.

Die skool mag dalk tydelik tot stilstand geruk wees, maar hulle sal nooit oorwin word nie. Die hoof, personeel en kinders kyk nou heeltemal anders na die lewe, en oor baie jare van nou af sal ons nog getuienisse hoor oor hoe Hoërskool Driehoek oorwin het ongeag die omstandighede.

Driehoek Hoërskool is inderdaad ’n skool met hart, gees en liefde.

Mauritz Zietsman is ’n jeugleraar by Every Nation-kerk se gemeente in Southdowns, Centurion. Hy was een van die beraders wat met die Hoërskool Driehoek-ramp die ouers, onderwysers en leerlinge van die skool met berading bygestaan het.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

wilma ·

Wat ‘n wonderlike getuigskrif vir die skoolhoof, personeel, kinders en lede van die gemeenskap. Dat ‘n skoolhoof wil terugkeer na sy aftrede om verder behulpsaam te wees, is ongelooflik! Baie, baie sterkte nogmaals vir julle almal.

TROTSE DRIEHOEK OUER ·

Baie dankie Mauritz vir die pragtige woorde! Vandag is hoeka onse hoof se verjaarsdag!
Baie geluk Mnr Knoetze! Mag daar nog vele geseënde jare vir u wees!
Baie dankie ook weereens aan ALMAL wat steeds die hoekies in jul gebede dra, ons waardeer dit vreeeslik baie!

Rooikop ·

Sjoe, wat n pragtige getuigskrif vir die Hoof van Driehoek Hoërskool en sy leerders…..

Heksie ·

Hierdie herinner baie aan die Westdene busramp jare gelede … en as ek dit nie mis het nie, het dit ook in Februarie gebeur ….
Sterkte Driehoek ons harte is saam met julle stukkend

Blom ·

Hi Heksie, dit is net so tragies soos die Westdene busramp. Terloops dit was op 25 Maart 1985.

lanie ·

Geluk aan die hoof vir sy leiding en geloof. n Groot dankie aan die ouers van die skool vir hulle opvoeding en liefde die God.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.