Lesersbrief: Huldeblyk ter ere van prof. Christo van Rensburg

Prof. Christo van Rensburg. Foto: Afrikaans.com

Hendrik Thys, ‘n genoot van die Afrikaanse Taalraad (ATR) en Ria Olivier, programbestuurder van die ATR, skryf: 

Die ATR betreur die heengaan van een van die grootste Afrikaanse taalstryders.

Op sy kalm manier het hy diep spore getrap in die stryd om die erkenning van Afrikaans met al sy variëteite. Ons is telkens ná sy referate opnuut genoop om onbevange te kyk na al die vertakkinge van Afrikaans.

Hy het sy standpunte oor die ontstaan van Afrikaans onverskrokke gestel, en dit gewoonlik met vers en kapittel bewys. Daar was weinig, indien enige, standpunte wat die inhoud van sy nougesette wetenskaplik nagevorsde werke kon weerlê. Sy passie om die status van al die variëteite van Afrikaans deur die breë Afrikaanse gemeenskap erken en aanvaar te kry, was ooglopend. Sy verbintenis daartoe behoort ons almal aan te spoor om ons daadwerklik vir ʼn soomlose Afrikaans te beywer.

Ons sal sy innemende persoonlikheid mis. Ons sal sy spitsvondigheid mis. Ons sal sy vriendelikheid mis. Ons dank die Almagtige dat ons toegelaat is om aan die voete van so ’n Gamaliël te sit. By die Herkomsseminaar later vanjaar sal sy stem stil wees. En by die bekendstelling van die bygewerkte weergawe van So kry ons Afrikaans later vanjaar, tesame met die vertaalde weergawe Finding Afrikaans, sal sy plek leeg wees.

Prof. Christo, die ATR gaan u ongekende bydrae tot die handhawing van ʼn taal, gebore uit die some van vele nasies, altyd koester wanneer ons praat, dink en skep in hierdie mooi taal van ons.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.