Lesersbrief: ‘Hulle het vir my gestremde kind gelag’

mense-met-gestremdhede

Foto: PublicDomainPictures/Pixabay.com

Annelize Jansen van Rensburg skryf:

Gestileerd-verveeld sit en sweet die klante, oënskynlik ongeërg oor die diens wat nie juis ʼn toekenning regverdig nie. Te ordentlik om te kla, sien. Die adres is immers só reg. Die koffiewinkel is ingerig volgens ʼn spesifieke tema in ʼn poging om die uitverkore bestemming van die oomblik te wees. Die argitektuur en dekor weerspieël die gees van die klante se finansiële gemak.

Die dopamien, van die klante sowel as die eienaar, vloei in ooreenstemming met die gesing van die geldlaai. Die mensspesie raak toenemend vinniger versadig in ʼn goedvoel-vir-die-oomblik-kultuur. Môre-oormôre word daar na blinker bestemmings met ʼn groter dopamien-aanbod gesoek.

Ons sit buite onder die tent-afdak van die koffiewinkel. My 19-jarige gestremde seun wil die badkamer besoek. Ek stap saam, kastig omdat ek ook wil gaan, maar eintlik net om hom te help kyk waar dit is. Die plek is vir ons vreemd; netnou sien hy nie die aanwysings na die badkamers nie. As jy ʼn gestremde kind het, is jy altyd aan diens, waaksaam, bang, beskermend. Die ironiese paradoks is dat jy ’n gestremde kind méér wil beskerm terwyl jy hom terselfdertyd meer doelgerig moet leer om op sy eie klaar te kom omdat jy nie altyd daar kan wees nie.

Hy stap voor my by die twee trappies op binnetoe. Ek het nie presies gesien wat gebeur het nie; sy voet het dalk vasgehaak en hy het effens skeef getrap. Nie te opvallend nie. Net genoeg om die jong blasé paartjie wat daar naby gesit het se aandag te trek. Hulle het vir hom gekyk, toe na mekaar en toe gelag. Vir hom, mý kind.

Warm en koue skokke het deur my bors geruk en my momenteel verlam. Uit die diepste binneste van my moedermenswees het ʼn onbeheerbare dier ontwaak, rasend van woede en pyn, ontnugter deur die verraad van my naaste. Die psige van ʼn moeder met ʼn gestremde kind kan binne ʼn oomblik na ʼn toestand van waansin verander. Kortasem en bewend het ek in die jong vrou se oë gekyk, doelbewus te lank. Maar daar was op haar gesig net die totale onbegrip en onverskilligheid van iemand wat tot dusver ʼn gerieflike lewenspaadjie in gemaklike skoene gestap het.

Beelde van ʼn bekende fliek waarin die vrouehoofkarakter ʼn pyl en boog met besondere vernuf hanteer, het by my opgekom terwyl ek verstom na die paartjie staan en kyk. Iewers in die psige van ʼn moeder met ʼn gestremde kind is ook selfbeheersing van staal. Ek het my kind badkamer toe gelei sonder dat ek enigiemand in hierdie paar oomblikke verskree of leed aangedoen het.

Maar ons moes weer verby die paartjie loop om by ons tafel te kom.

Laat ek my skandes vir myself hou. Ter wille van my kind, wat gelukkig niks van die hele petalje agtergekom het nie, het ek my gedra. Maar die beeld van daai pyl en boog …

Die hart van ʼn ma met ʼn gestremde kind is ʼn weerlose, verskrompelde, onsekere en wispelturige orgaan met ʼn wil van haar eie. Sy kry maklik seer, moet baie teleurstellings en terugslae hanteer en baie oorloë voer – meestal stil-stil. ʼn Ma van ʼn gestremde kind wens soms dit was wettig om ʼn pyl en boog te mag gebruik om die seer van die lewe van haarself en haar kind weg te hou. Die moederhart leer egter, teen wil en dank, om hierdie dinge te absorbeer en mettertyd bêre jy maar die pyl en boog.

Onthou, 3 Desember is Internasionale Dag vir Mense met Gestremdhede. Raak vir ʼn oomblik stil en waardeer dit wat jy het.

As daar ʼn huis of skool vir gestremdes in jou omgewing is, neem vir hulle ietsie lekkers om te eet; ʼn bietjie van jou geduld om te luister na ʼn onsamehangende geselsie; ʼn bietjie van jou simpatie oor ʼn seerplek; ʼn warm hand op hul skouer; ʼn oomblik uit jou bestaan om aan hulle menswaardigheid te betoon.

Sal jy?

En sit asseblief ekstra versiersuiker op die kolwyntjies wat jy vir hulle neem.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

A ·

Baie sterkte, ek verstaan jou uiterste woede en bewonder jou selfbeheersing. Ongelukkig besef min dat fisiese gestremdheid nie ‘n keuse is nie. Hulle besef nie hulle eie gestremdheid van absolute ongeskiktheid en gevoelloosheid nie.

Melt Olckers ·

Ek is Outisties, en kan uit persoonlike ervaring getuig van die diskriminasie wat ons as Outistiese mense met onsigbare gestremdhede elke dag moet ervaar. Ons word op skile geboelie, in die publiek beledig, gevloek en ook voor gelag oor ons “onaanvaarbare” gedrag.

Ek vra vir aanvaarding. Om ook deel van die gemeenskap te wees. Regte vir gestremdes is menseregte.

Se maar net ·

As n ma met n gestremde kind weet ek vandag presies hoe jy voel… Dankie dat jy so uit my gedagtes uit gepraat het !! Ek wens soms dat die mense wat lag en agter af praat maar net sal weet dat ek en jy 100 keer meer geseend is as wat hulle is want ONS is gekies om baie baie special kids groot te maak .. nie hulle nie !!

Cornelia ·

Wie ookal vir gestremdes lag of hulle spot, bewys maar net hulle swak opvoeding!

M ·

Ek is bevoorreg genoeg om ‘n gestemde stiefseun te hê – bevoorreg ja – want hy gee onvoorwaardelike liefde – hy vra ook net onvoorwaardelik liefde en aanvaarding. Ek glo dit is ‘n frustrasie om in ‘n liggaampie te wees wat fisies so erg gestremd is dat hy nie kan sit of loop nie – hy kannie praat nie, en dra ook nog doeke. Maar vir ons is dit elke dag ‘n voorreg om hom te sien wakker word – want more oggend kan hy dalkies net bly slaap. Ek glo dat ons as ouers (al is ek nie sy bloedmamma nie) gekies word om hulle groot te maak – die grootste seën wat die Here ons kan gee – dit hou ons “humble” – en laat my opreg besef hoe kosbaar die lewe is.

Rina ·

Ai so jammer Annelize! Onopgevoede mense kry jy oraloor. Ek verstaan presies hoe jy voel – ek het nie gestremde kind nie dog my liefste suster wel. Ander kind superslim! My suster sal elke woord wat jy geopper het absoluut beaam – so ‘n mamma is altyd aan diens en het arendsoe oraloor – veral vir mense om haar in winkels/sentrums/eetplekke. Die te hard lag van Sussa, die aanhouvra van dieselfde vraag en onophoudelike: maar Mamma! Sterkte vir julle – ek ken ook so ‘n Mamma en glo my sy is ‘n Yster en ek dink jy en al sulke mammas inderdaad – julle is met die hand uitgesoek! Seenwense!

Ina ·

En sit ek nou en huil oor soveel waarheid wat niemand in die gesig wil staar nie. Gestremd of nie my Here het ons almal geskape na Sy beeld. Nie die buite beeld nie, die binne beeld van liefde, geduld, goedheid, lojaliteit, meer liefde, genade, geloof, vertroue. Dankie Here vir Annelise se ope brief. Solank ons dit sien, God se kinders, kan die blasé paartjie maar met hulle leeg en doellose lewe aanbeweeg.

PIKET ·

Ina, so waar!
Annalise, jy is n moeder duisend, soos iemand tereg gesê het, met die hand uitgesoek.
Mattheus 23:23 ou vertaling. LIEFDE, GEREGTIGHEID en DEERNIS.

Stormrider ·

Ons samelewing lewer al hoe meer oppervlakkige, ongekultiveerde mense sonder basiese integriteit in ons midde. Waardebeginsels soos respek vir onsself en minder bevoorregtes begin by die opvoeding in die ouerhuis. Ek het self ‘n erg gestremde broer. Ek kan darem se dat meeste mense, veral ouer garde, hom met deernis en soveel liefde behandel. Ek het geleer om my af te vee aan die vlak tipes – hulle geniet dieselfde minagting van my af as wat hulle uitstraal. Daar is darem nog baie ongelooflike fantastiese mense op wie ons kan fokus! Grootste groet

M ·

Ek is bevoorreg om ‘n stiefmamma te wees van ‘n gestremde seuntjie van 13 – ja – bevoorreg. Want al wat hy voor vra is net onvoorwaardelike liefde en sorg. Elke daggie saam met hom is vir ons ‘n voorreg – want more oggend kan ons dalk wakker word en die Here het besluit om ons engelseuntjie te kom haal. Ek is wel nie sy bloedmamma nie – maar is net so lief vir hom. Ons is werklik geseën om gekies te wees om sy ouers te wees. Hy hou ons humble en op ons knieë. En sy pappa is die beste pappa in die wêreld om die paadjie aan te durf om hom alleen groot te maak. Hy is wel in dagversorging in ‘n tehuis – maar pappa gaan haal hom elke tweede week wanneer dit sy beurt is vir toesig en vat hom elke aand huis toe. Dankie Here vir die voorreg om so ‘n engel te kan grootmaak. Mens weet nie wat dit is tot jy self in daardie posisie is nie.

Tannie ·

Liewe Annelize, terwyl ek lees van die paartjie se reaksie, en die gevoelens wat dit by jou veroorsaak, VOEL ek jou ontsteltenis en daar skiet ‘n prentjie voor my in: om die paartjie se koffie op hulle skote uit te gooi. Jy is ‘n beter mens as ek – ek het nie soveel selfbeheersing as jy nie. Ek dink jy het jouself juis “gedra” ter wille van jou kind – om nie ‘n “scene” te maak en dit vir hom moeilik(er) te maak nie. Jy is ‘n wonderlike ma en mens, stérk gebrei deur omstandighede, presies wat jou kind nodig het. Ek is BAIE trots op julle albei.

John ·

Annelize, dis moeilik om te doen, maar hou op om onbelangrike mense in die omgewing raak te sien… die paartjie wat lag bv. Hoekom omkyk? Dis soos om brood te gaan koop. Stel net die doel voor oe en doen net dit. Jy stel jou bloot vir pyn. En jou kind voel jou reaksie aan. Die feit dat jy die’ hartseerskrywe rig, se dat jy seergemaak is. Hierdie is nie ‘n onnatuurlike situasie nie. Die paartjie wat lag, lewe in ‘n kokon; ‘n droomwereld. Eintlik vrees hulle die werklikheid. Jy en jou seun leef, hulle droom…

Griet ·

John, ek stem nie saam nie. Mens gaan nie met oogklappe deur die lewe nie. Sy het nie omgekyk nie, hulle was reg in haar gesigsveld. Sy het haar gevoelens weggesteek, haar kind het nie haar woede aangevoel nie. Ek het ‘n gestremde kind – en ek praat nie van fisies gestremd nie, ek praat van ‘vertraag’ soos hulle in die ou dae sou sê. Ek sien as mense na my kind staar. Ek sien as mense lag. Ek kyk terug, en ek glimlag saam en dan gee ek haar ‘n drukkie, sodat almal kan sien ek is lief vir haar net soos sy is. Kyk gerus, wees dankbaar vir wat jy nou het, want jy weet nie wat die toekoms vir jou inhou nie.

Henry ·

Griet ek dink dat jou antwoord aan John, ene is wat alle siele met of sonder gestremde kinders, gerus van kennis kan neem.
Wat ‘n skitterende oplossing vir ‘n pynvolle en netelige ervaring!

Wil graag weet ·

Ek het ‘n vraag vir die ouers van gestremde persone en ook vir persone met gestremdhede. Ek het vanoggend uit hoflikheid vir ‘n kollega in ‘n rolstoel die deur oopgehou sodat sy makliker die gebou kon binnegaan aangesien die deur taamlik stram is. “Ek kan dit self doen, ek het nie jou bejammering en hulp nodig nie” het sy my toegesnou. Hier is my vraag: hoe verleen ek hulp aan’n gestremde persoon sonder dat hul aanstoot neem? My aksie vanoggend was nie uit bejammering nie, dit was net goeie maniere soos my ma my geleer het.

Melt Olckers ·

Baie gestremdes voel dat hierdie tipe aksies aandui dat die gestremde hulpeloos is. Ons kan baie dinge self doen, en sal vra as ons hulp nodig het.

katryn ·

Mmmm, ek dink jy moet aanvaar as iemand hulp aanbied, ek dink dit kom min genoeg na enigiemand se kant toe. Moet sê, ek is te skaam om te vra.

Ek verstaan ·

Daar is vir Maria gesê: “‘n Swaard sal deur jou siel gaan.” Hierdie jongmense besef nie hulle het op daardie oomblik ‘n swaard in jou moederhart gesteek EN dit dwars gedraai nie.

Maryna ·

As mamma van 23 jarige serebraal gestremde engel seun, verstaan ek. Mens kry boeke vir babas, tieners ens. – ‘n basiese riglyn. Ongelukkig is daar GEEN boeke vir ons nie, dit word self geskryf… ‘n Spesiale kind is ‘n reuse verantwoordelikheid! Baie emosioneel uitputtend, en jy kan niks daaraan doen nie. Jy vat die houe dat dit op jou reen, en nog jou eie wat in elkgeval na jou kant toe sou kom. Dit is ‘n dubbele dosis! Dan tel jy ook die stukke op van jou ander kind/kinders as hulle seerkry as bv. maats stil-stil wegbly, so asof gestremdheid aansteeklik is. Alle voorspoed met die lewenspad vorentoe, bly net lief vir jou engelkind, en weet dat die seer wel eendag sal weg wees as jy by die voete van die Here sit. Tot dan is dit jou liefdestaak om ‘n wesentjie van God tot die beste van jou vermoë deur die lewe te vat.

JK ·

Ek voel so jammer vir daai kinders en hulle mammas. Ek is ‘n gedeeltelike gestremde persoon en volwassenes moet jou altyd aankyk asof jy van ‘n ander planeet af kom. Hulle dink nie ons het ook soos hulle – harte, siele, verstand en trots in die lewe nie. God het ons almal geskape nie net die gesonde tipe mense nie, so ons kom nie van ‘n ander wereld af nie. |Wat sal hulle doen as ‘n onverwagte ongeluk hulle tref? kan ons dan vir hulle kyk en lag?

Griet ·

Presies, aan die wat staar en lag: wees dankbaar vir wat jy nou het, jy weet nie of jou eerste kindjie dalk so gaan wees nie, dalk gebeur iets met jou, en is jy die gestremde.

Heidi ·

Puik geskryf! Dankie vir die plasing Maroela Media! Neem hulle ook asb vir ‘n koppie koffie, melkskommel en daai kolwyntjie met ekstra versiersuiker. <3

Penellope Jones ·

Ken dit SO goed en het so baie gehuil omdat mense, wie se kinders openlik vir ons gestremde kind gelag en getart het,, dit net geignoreer het wanneer hul kinders op en af spring, jil en tart – dis hartverskeurend en ook vernederend, so asof ons iets verkeerd gedoen het, met opset.

Ons het so baie gehuil omdat volwassenes kyk, vinger wys, agter hul hande praat, voor ons!

My kind het vrae gevra en wat antwoord ‘n Mamma wie se hart net so seer is, wat bied jy as troos aan anders as om te probeer verduidelik, te troos, vir my kind te bid?

Ons het daardeur gekom, geleer om wanneer dit gebeur, volwassenes en kinders absoluut net in die oe te kyk sonder enige reaksie en die tergendes en jillendes dan uiteindelik besef wat hul besig is om te doen, omdraai en wegloop.
Ons het immers niks verkeed gedoen as om, soos hulle en hul kinders, in die winkelsentrum of openbare plek met ons gesin te ontspan nie!!!

‘n Ma se hart wat gebreek word, het die vermoe om te herstel met die gom van vergifnis, liefde, gebede, met probeer verstaan, met die Genade van Bo.

Alle, alle voorspoed aan hierdie mamma – dankie vir die artikel, dat jy jou hart en ondervindings gedeel het.

Speedguard ·

Die pad het ons ook geloop, my broer is “Upsyndrome” hy is nou 51 en kyk hy met uiterste deurnis en sorg na my Moeder wat nou 90 jaar oud is, meeste van die wat destyds agter hul hande gelag geskerts het is van die wat nog met ons is baie spyt, hul kan nie uitgepraat raak oor hoe wonderlik en behulpsaam my broer is nie, my Ma het ‘n ewige onvoorwaardilke kind,vriend, lewensmaat, vermaaker, vertrooster, versorger en is daar nie genoeg om hom the beskryf nie. Hy is onbeskryflik, Die Here het geweet wat hy doen toe hy Willem vir ons gegee het!!

Bossie ·

My hart gaan uit na hierdie “laggendes” wat geen begrip het dat HULLE gestremd in hul denke is nie. Jou IK moet naby aan nul wees om vir gestremde persone te lag. Gestremdes is van die opregste mense op aarde. Ek skaam my morsdood wanneer ek sulke verskriklike goed lees. ‘n Drukkie aan alle gestremdes daar buite. Julle is pragtig en perfek in God se oë…

Katryn ·

Sjoe my oë is vol trane, maar trane van dankbaarheid. Ek ervaar nie dieselfde van Pretoria Waverley se gemeenskap nie. Ek het ook ‘n gestremde dogter – down sindroom in ‘n erge graad. Sy is my hemelkind. Sy loop moelik, praat moeilik maar het geen skaamte nie en wanneer ek haar saam neem winkels toe, begin sy sommer met enige een te gesels. Ek wil uit my hart dankie sê vir elke persoon wat haar met soveel liefde en geduld hanteer. Julle vriendelikheid en aanvaarding en die drukkies en glimlaggies wat sy ontvang is so kosbaar. Dankie dankie dankie.

Bossie ·

My hart gaan uit na die “laggendes” wat nie begryp dat hulle self gestremd is in hul denke nie. Hoe laag moet ‘n mens se IK nou werklik wees om vir gestremdes te lag. Van die mooiste voorbeelde van menswees het ek by gestremdes geleer. So opreg en hartlik. ‘n Drukkie aan elke gestremde daar buite. Julle is pragtig en perfek in God se oë. Aan alle ouers van gestremdes, julle is BAIE spesiaal want God het geweet net julle kan so mooi na sy spesiale kinders op aarde kyk. Baie dankie vir die liefde wat julle vir julle gestremde kinders bied. Dit word so waardeer deur alle opregte mense daarbuite maar nog baie meer deur God…

Chris Ws ·

Ons sal eerder net by die die huis bly.Ons was in ‘n botsing van agter af betrkke en my vrou is gestremd as gevolg daarvan.Ek het intussen ,omdat my vrou op haar rolstoel moet staatmaak ,agtergekom hoe rolstoel onvriendelik ons besighede en land in geheel werklik is.Dis skrikwekkend!Ons is gevolglik baie kieskeurig waar ons heengaan vir besigheid of inkope.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.